Alexander
Strachan bring sy jeug deur in Ladysmith, Noord-Natal. In die Weermag
word hy gekeur vir die verkenningskommando, algemeen bekend as die recce's.
Hy neem deel aan verskeie Weermagoperasies, onder andere in Angola.
Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuurwetenskap aan Unisa) word hy professor in Afrikaans aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Sy eerste boek is 'n kortverhaalbundel, 'n Wêreld sonder grense, waarvoor hy die Eugène Marais-prys ontvang. Hierdie boek maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Die Jakkalsjagter is Strachan se debuutroman en wen die De Kat/Potpourri-prys. Daarna volg die romans Die Werfbobbejaan en Agter die suikergordyn. Hy is 'n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied. |