SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Om te kan deel

Riekie Lombard

Hulle het kort duskant aandete eers klein Annie se gille uit die hoek van die plaaswerf gehoor. Dat die seuns, eerder as reënweer, by die buitetoilet se deurvassittery betrokke was, het duidelik geword. Pa het teen daardie tyd al 'n goeie halfduim van die deur afgeskaaf en Annie het 'n heilige vrees gehad om in donker plekke opgesluit te word.
              "Was maar net 'n ou grappie, Ma!" het Ouboet geproes. Bertie en Frans se borselkoppe het heftig saam geknik; Annie het steeds gesnik.
              Ma het geweet sy was heeltemal te sag met die kinders en het onrustig die staldeure deur die kombuisvenster dopgehou. Melktyd was amper verby en daar moes nog tafel gedek word. Die kabaal moes einde kry voor Pa inkom. Katriena het tussen die duiwel en die tokkelos bedags die werf met 'n ysterhand regeer - sy het nie sulke nonsens geduld nie - maar sy was reeds huis toe. Sy het probeer paai; naderhand gevra wat hulle kon doen om op te maak.
              "Sondagskool," het 'n piepstemmetjie uitgekom.
              Die Sondagskoolstorie het al 'n lang pad geloop, vandat Katriena se oudste, Welcome, vir Annie vertel het dat die Levins se Sondag eintlik Vrydag is; dat hulle en Ismail-hulle baie meer Sondae as almal nodig het vir al hulle gebruike; en dat die hemel aan hulle almal behoort. Welcome was die oudste van Katriena se kinders en moes sedert Annie in die kuilvoergat geval het, smiddae 'n ogie oor haar hou. Die ouderling het tydens sy lang, formele besoeke weer iets anders gesê. Annie wou eintlik net vir die Sondagskooljuffrou gaan vra wat nou eintlik waar is en aan wie die Hemel dan behoort, maar dit kon sy nie vir Ma sê nie.
              Dit was vir Ouboet reeds erg genoeg dat hulle die hele week met haar opgeskeep sit en hy wou eers nie kopgee nie. Toe Pa egter sy nommertiens by die agterdeur afskud, het hy teësinnig ingestem en 'n pak slae net-net vrygespring.
              Die volgende dag het sy nie soos gewoonlik saamgegaan toe Ma by Nana gaan brood oplaai nie. Die trekpleisters daar, die gekuier voor die koolstoof, Janneman se teeslurpery uit 'n piering en Nana se lekker lag, was vergete. Sy wou eerder by die rivier gaan dink. Sy was later seker sy kon stukkies van almal se hemel deur die wilgers se blare sien en Nana in die water hoor. Nana se lag kon, soos haar aartappelsuurdeeg, alles wat kluiterig was oplig en beter maak.
              Tant Margaret was anders.
              Haar grou Victoriaanse sinkhuisie het, net na 'n lappie kosmos, tussen die wilgers by die drif gestaan. Haar pragtige roostuin was haar heiligdom en niemand behalwe Ma mag naby dit gekom het nie. Die skool se Damesklub en die Vrouelandbou-unie het jarre lank gegis oor wat presies in dié beddings was - kleigrond alleen was dit beslis nie. Maar tant Margaret het nooit haar geheime gedeel nie, nie eens teenoor Ma as sy elke jaar haar gaan help snoei het nie.
              Sy het Ma gewoonlik vroegoggend al met haar stywe bollatjie en oprygsteweltjies by die hekkie staan en inwag. Daar gekom, het sy kersregop oor die ryp geknars tot by die rose, hande gewring en met 'n stemmige gekopknik vir Ma presies beduie wat sy gedoen wou hê. Die stekelrige takkies is, soos Ma snoei, dá-dé-lík opgeruim. Sy het nie 'n morsigheid op die werf verdra nie.

Die kinders moes buite bly as sy en Ma in die skemer voorkamer tee drink, ongeag wind of weer. 'n Vensterloerdery deur die swaar fluweelgordyne, of 'n gehardloop naby die All Gold-stroopblikvarings is ook nie geduld nie. Die sterk, bitter blaartee met net twee klontjies suiker was vir Ma die swaarste, die fyn Engelse porselein ten spyt. Dié stywe affêre is gewoonlik kort duskant Oggendgodsdiens beëindig en dan is almal weer terug hekkie toe gemarsjeer.
              Dit was by een so 'n geleentheid wat een van haar kleinseuns Annie iets in die donkerte van sy rondawel wou "wys". Simon is, na sy pa se ongeluk, deur die welsyn by sy ouma geplaas - sy ma het gesukkel om kop bo water te hou met vyf kinders en die spaghetti en tamatiesous kon nie altyd ver genoeg rek nie. Annie het in die sonnetjie op die stoep gesit en wag. Die stilsit was nie maklik nie.
              Hy het haar eers deur die vyeboom staan en betrag en toe langbeen nader gestap. "Hei! Wil jy iets sien?"
              Haar kop het opgeruk van skrik. Sy moes haar oë op skrefies skroef om te kon sien wie dit is. Sy ligblou trui was te klein en 'n skurwe elmboog het deur een gat gesteek.
              "Wat?" het sy gevra.
              Simon het nie geantwoord nie, net met sy kop rondawel se kant toe beduie. 'n Elviskuif het oor sy een oog geval. Die oog wat wel haar blik gevang het, was ouwêrelds, amper soos in die prentjies van die Kinderbybel: iemand wat al 'n ver pad deur die woestyn geloop het.
              "Kan nie sê nie. Kom kyk self," het hy weer probeer toe daar geen reaksie kom nie.
              "Meisies mag nie in seuns se kamers ingaan nie," het sy snipperig gesê en uit sy skaduwee geskuif. Die oggendluggie het nog gebyt.
              "Dis nie 'n kamer nie. Dis 'n rondawel," het hy vinnig geantwoord en omgedraai. Annie het stram opgestaan en versigtig agter hom aangedrentel.
              Die drif se koue het met die intrapslag uit die sementvloer opgeslaan. Sy het onseker vasgesteek. Reg oorkant haar het 'n ysterkatel strak onder 'n ou kerkalmanak gestaan. Die koedoevel voor die bed was feitlik sonder hare. Langs die bed was 'n bliktrommel met 'n Bybel en gaslamp daarop. 'n Paar verslete skoene het voor die hangkas gelê. Sy het rondgesoek na speelgoed of boeke, na wat hy dan wou wys, maar daar was niks. Alles het droewig in die muwwerige vertrekkie gelyk. 'n Groot spinnerak het tussen die balke reg bokant haar gepryk en sy het vinnig 'n tree vorentoe gegee. Die deur het vinnig agter haar toegeslaan. Sy dog eers hy terg net, soos Ouboet, maar toe sy gordel met 'n klapslag op die sementvloer val, toe sien sy wat hy wou wys. Sy het teruggemik deur toe, maar die sleutel was weg; sy was vas.
              Haar gedreig oor wat Ouboet alles met hom sou aanvang as hy nie oopsluit nie, het niks gehelp nie. Sy het, rug teen die deur, desperaat blý praat: van die perde wat Ouboet inbreek, die gespring oor die diepste kuilvoergat, tot by die boelie by die skool wat hy vir eens en altyd goed opgefoeter het. Toe sy by die storie kom van die wilde buurseuns wat met windbukse op die Boy Scouts geskiet het - daar was darem eens op 'n tyd 'n Boereoorlog in dié geweste - het sy hande gestop. Daar was skielik 'n uitdrukking in sy oë wat sy nie mooi kon plaas nie.
              Sy het moed geskep en sommer verder aangedik: "Die een … die een is … is in … in sy maag … so … so oor die rivier geskiet." Sy was nie seker of dit gepas was om daaroor te spog nie, maar het nogtans deurgedruk. "Sy derms het tot op die grond uitgehang en dit het die hospitaal eh … eh … die hele nag geneem om … om … alles weer terug te sit … Ja-a." Haar woorde was op. Sy kon nie meer asem kry nie.
              Hy het lank met sy hand teen die deur gestaan. Haar hart het in haar keel begin klop. Uiteindelik het die stram slot stadig teen haar oor oop geklik-klik. Sy het uitgesteier en blindelings koers gekies huis toe; eers begin huil toe sy deur die laaste doringdraad klim en sien sy is in die kwaai bul se kamp. 'n Duif het oopgevlerk langs haar dood gelê in die veld.
              Ma was baie kwaad. Sy was met die Pontiac daar en hulle het haar lank gesoek. Tant Margaret het haar Oggendgodsdiens gemis en was ewe ontstig. Simon het in sy rondawel weggekruip.
              "Maar waar was jy, kind?" het Ma bly vra, maar Annie het nie woorde gehad nie. Alles in haar was, soos Simon se rondawel, net dood. Sy het net geweet dat Simon ook bang was, al kon hy dit nie sê nie.
              Die Susters was daarna maar stywerig met Ma by die Kerk. Die kwessie van Die-Ontwrigting-van-Tant-Margaret-se-Oggendgodsdiens is selfs by Pa se ouderlingsvergadering ter tafel gelê. Dit het Pa 'n goeie deel van die aand geneem om die item van die agenda geskrap te kry sodat die Broeders kon aangaan. Hy het dié nag eers kort duskant melktyd ingekom en moes toe nog 'n koei gaan help kalf. Hy was ook vir lank daarna nog vies, maar het niks gesê nie.
              "Julle pa het te swaar grootgeword om hom met kleinlikhede op te hou," het Ma altyd Pa se stiltes verdedig. "Die Depressiejare was nie maklik nie, hoor. En dan nog die SAP-NAT-bakleiery en die Ossewa-Brandwag-nonsens wat Pa sy graad gekos het in die oorlogsjare … en die afbetalery van die plaas oor hy onterf is. Pa is soos hy is: net homself, gestroop van fieterjasies. Dis omdat hy so 'n rots is dat ons almal, Katriena-hulle ingesluit, goed versorg is. En daar is nie lêers oor hom onder die tafels van die poeliestasie vasgespyker nie. Hy loop sy pad reguit, al sê hy niks … en daaruit kan julle spannetjie baie leer," het sy afgeëindig.
              Vir Annie was die ge-in-en-uitsluitery en die ding van Simon egter nie kleinighede nie. En wat as die hemel te stukkend raak van alles en inval?
              Sy is weg koshuis toe, sonder dat hulle ooit weer regtig kon praat.

Baie jare later het Annie weer een vakansie kom kuier; ná Welcome op besoek aan sy tante in Soweto spoorloos verdwyn het en ná Ouboet en Janneman se dood op die Grens.
             'n Harde reënbui het haar en 'n paar ander tussen die saadsakke, komberse, driepote en emmers in Jopie se Winkel vasgekeer. Die reuk van seep, twak en paraffien het haar tot in die hart van die klein gemeenskappie ingetrek. Sy het langs mooi Lilly van die bure gestaan en kyk na die reëngordyn voor die stoep. Hulle kon die rivier onder die brug hoor dreun. Sy het geweet dat hulle al twee aan Simon en die ander dink, maar nie een van hulle het gepraat nie. Sy het 'n knop in die keel gekry toe sy brokkies van hulle kinderjare onthou:
              Ouboet-hulle het kort na Simon se pa se begrafnis vir dae lank wilgerlootvermommings en rietpype by die rivier gemaak. Hulle wou kyk wie die gevaarlikste kon lyk en die langste met 'n stopsel riviermos kon uithou. Die hele operasie was 'n groot geheim.
              Welcome het hulle op 'n veilige afstand dopgehou, kop geskud oor die potsierlike figure en siek gesigte, en Annie probeer wegkeer. Die wilde buurseuns het, soos gewoonlik, stry gekry en mekaar met modder begin gooi. Simon wou op daardie punt ook saamspeel en het opgewonde agter sy boom uitgekom.
              "Voertsek! " het een geskree en die vreemde kind weggestamp. Hul broederskap was geslote.
              "Hô! HÔÔ! Is die nuwe kind!" het Welcome nog probeer keer, maar Simon was reeds in die rivier en die seuns skoonveld.
              Eers toe sy kop die derde keer onder die water verdwyn, het Welcome besef dat hy ook nie kon swem nie. Hy het skreeuend rivieraf gehardloop, 'n hand vol wilgerlote hoog bokant sy kop. Die honde se histeriese geblaf het hom deur die bure se jong worteltuine gevolg, tot waar hy Simon by die draai kon uittrek - ook net betyds. Hulle al twee het 'n groot loesing gekry oor die skade.
              Welcome het darem weer geglimlag nadat die seuns vir hom 'n meelsakkie vol soetkoekies uitgesmokkel het. Hulle het goed geweet dat hy hulle almal se baste daardie dag gered het.
              En Simon? Wel, dis van toe af dat hy hom net by sy rondawel en later ook by die kinders op sy ouma se stoep gehou het. Niemand kon ooit daaroor praat nie. Almal het net bitterlik gehuil by tant Margaret se graf.
              Annie het skielik al die kattekwaad van die seuns en Welcome se slimmighede gemis. Sy kon ook nie help om te wonder oor Simon en sy koue, donker rondawel daar by tant Margaret nie; oor sý groot gemis, lank voordat hulle self met verlies kennis gemaak het; oor hulle almal se onverskilligheid. Geen geleerde debat, teologiese standpunt of morele oordeel kon die feite van die saak verander het nie, het sy besef. Die waarheid gee hom soms aan jou oor soos Pa - gestroop van alle pretensies en toedigsels, net soos dit is.
              Die reënbui het opgehou en hulle kon weer koers kies huis toe. Sy en Lilly het net pynlik gegroet.
              Na die welkome reën was die hele dorpie die volgende dag in 'n blinkskoon blaartapyt uitgelê. Pa was met sy krom, stywe lyf met die hark doenig voor die agterdeur. Sy het hom in stilte gehelp blare opvee en alles in die komposgat gaan gooi; hom daarna 'n lang, stywe druk gegee en vir oulaas tot in die holte van die dorp gestap.
              In die verte het 'n groepie ou bekendes voor Nana se tuisnywerheid gestaan, party soos knoetsige eikebome teen die helderblou lug afgeëts. Hande het beduie en 'n uitbundige gelag het sporadies opgeborrel. Grootborstige vroue het, met koeke en ander gebak omhoog, bedrywig tussen almal deurgeskuur. Iemand het Nana se rolstoel oor die straat gestoot en haar kenmerkende laggie het bo alles uitgestyg. Die geur van varsgemaalde koffie het nog mense nader gelok.
              Buite dié stukkie geborgenheid het 'n stom sekelmaanman sy trollie stadig straataf gestoot, al langs die 4X4's verby. Sy een oog was leeg op die pad voor hom, die weerlose eensaamheid in die ander agter 'n pap Elviskuif verskans. Sy nat jas het teen die oggendson opgewasem. Hy het meer as ooit tevore soos 'n gloeiende figuur uit die Kinderbybel gelyk, maar steeds het niemand hom raakgesien of binnegenooi nie.
              Een ononderbroke hemel het oor alles gespan.



LitNet: 10 Augustus 2005

  • Klik hier en lees haar eerste weergawe
  • Klik hier en lees haar tweede weergawe
  • Klik hier en lees Herman Wasserman se verslag
  • Klik hier en lees Kirby van der Merwe se verslag

    Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.