SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die eerste weergawe van dié storie
Lees die tweede weergawe van dié storie

Vasgevang in f8

Pierre du Toit

Links voor staan sy wat van die lente hou en van lemoenbloeisels wat ruik soos haar ouma se toilet freshener en sy haat ongeskikte mense op die snelweg. Sy kan dit nie verhelp om wasem teen die trein se ruit te blaas op koue wintersoggende nie, en sy mis die berg en daardie massiewe donderwolke soos dié wat voor jou hang op die grootpad en jy sommer die musiek afdraai en stadiger ry.

Net agter haar staan hy wat lief is vir sy ma se lensiesop, die bosveld vanaf klipkoppies en hy kap altyd te veel fynhout want dit help om hom te laat dink. Hy haat haastige winkelassistente en mis alternatiewe Afrikaanse chicks wat met geboë koppe swaai-draai in groepies van drie terwyl Valiant tunes maak in ’n agterplaas êrens in die oopte.

Hy staan effens nader aan haar wat gereeld sommer alleen uitgaan en dan miskien te veel drink. Sy gee vaal mannetjies by die werk onnodiglik baie probleme omdat sy kan en sy kan nie genoeg kry van volroom-vanillaroomys nie en sy mis kaalgat plaasdam swem en groot kremetarte anderkant Vivo daar waar die son jou neuk.

Skuins voor haar staan hy wat slegs volkome langs die see ontspan of wanneer hy rotsklim. Hy is bang mense vind uit dat hy nog nooit seks gehad het nie ten spyte van die ditsies onder sy arm en hy mis ou Datsun-bakkies en staalplaat-Mazdas en eentonners en double cabs en Isuzu-diesels en die agterkap laat sak en sit en ’n stok vashou en strepe trek in die grondpad en afspring in die ry en nerwe en bloed.

Langs hom staan hy wat met sy scooter die plek plat ry en hy kan, nes ’n kleuter, nie stil sit vir ’n oomblik nie. Hy jaag resies teen afleweringsmanne en neem dan gevaarlike kanse. Hy soek tekstuur in als en mis arm en vrot en wat ook al kommunes waar elkeen wat daar bly of vry of hang se bietjie kennis en verstand en vernuf in die groot poel van sulke dinge gegooi word en daar staan ’n groot cowboy met ’n tarentaalveer in sy hoedband en roer die sop en jy proe-proe en hap soos ’n kurper in die Vaal.

Reg voor hom hurk hy wat hou van lekker lelik oopbek sing in die stort. Hy skrik gereeld as sy toaster die brood uitskiet, maar kompenseer deur hard te gym in die aande ná werk. Mense wat sonder gevoel vloek irriteer hom en hy mis doringbome, maar nie dié wat jou vang waar jy agterop die bak vir ’n oomblik konsentrasie verloor nie, dié waaronder leeus lê as hulle nie bokke jaag nie.

Skuins agter hom staan sy wat allergies is vir katte en daarvan hou om bier uit die bottel te drink. Sy mis volgepropte vollas en trekkers in linie vêr weg op ’n mielieland so groot soos ’n voorstad met ’n stofwolk wat jy myle kan sien en groot tandwegsink, geel geelperskes en taaigeit in die nek en vingers en voorarms van al die sous en sap en dis blerrie lekker en sy staan langs die bóóm en as twee nie genoeg is nie dan eet sy drie.

Agter haar gebalanseer op die punte van haar tone staan sy wat van haar frustrasies ontslae raak deur hardop in die wind in te skel as die weer opsteek op die strand en sy laat haar metgesel ongemaklik voel omdat sy altyd vergeet om sag te praat in kunsmuseums. Sy het eenkeer ’n lover se sportmotor gespuitverf as straf vir sy ontrou en sy mis plaasboere met harde stemme en kakieklere met sterk selfgeloof en ’n God wat nie kak vat nie.

Langs haar staan hy wat nog steeds skelm rook. Hy hou daarvan om vêr ente pad te bestuur met die venster oop, wind in die hare, musiek wat blêr. Sy hero is Kerkorrel en hy is ook nie lief vir BMW’s nie. Hy kam sy hare vorentoe vandat hy sewe is al, maar Vrydagaande as hy die naweek inwy, eksperimenteer hy met style. Hy mis moedige ou 70’s Peugeot-stasiewa’s, gelap en gesweis en toegelaai onder groente of meubels of sinkplaat op die dak êrens op die N1 noord.

Hy staan en luister na haar wat sonder ophou, altyd en oral te veel gesels. Ou swart-en-wit flieks is haar beste Sondagaand-tydverdryf en sy verlang na rowwe domvat vry agter die pawiljoene. Sy haat vragmotors en sou graag die BP op die hoek wou opblaas ter wille van die osoon. Sy mis rooigrond-sypaadjies en die nederige selfrespek van minder gegoede gesinne op droë uit die weg uit dorpies wat in die winter die lelikste plekke op aarde is.

Minwetende dat hy op so een gebore was en al is hy vandag bedees beland hy gereeld in die moeilikheid weens sy uitbundige drang na vryheid. Hy haat misreën en mis instapyskaste op die platteland waar die koue jou tref soos ’n skinny-dip wanneer jy lafenis soek teen daardie son wat brand en die horison laat dans en blink poele maak doer op die teerpad.

Langs hom staan hy wat ooms mis wat ná kerk met jare uit die mode uit se dasse en twee slae omgevoude hempsmoue stadig terugloop kar toe terwyl hulle die Rapport-voorblad lees met ’n klos kindertjies wat aan hulle hang en soebat vir nog swiets wat so lekker lyk in die glasbottels onder die kafeetoonbank.

Hy staan voor hom wat sonbesies langs die Natalkus en voetebrand op die sand mis en die bekende nie-verstaantale as jy toustaan in die poskantoor of vir die water en ligte en skuins agter hom glimlag sy wat die oomblikkie stilte mis voor die dominee se amen en teenaan haar staan sy wat maplotters mis al is dit nie altyd maklik om nie neer te kyk nie met die ou karre en tyres en hoenders en rolle ogiesdraad en brakke en snotterige kindertjies en goeie harte ten spyte van die bokswyn en links voor haar staan sy wat Putco-busse op stofpaaie in Venda mis wat haar laat voel of sy diep in Afrika is en sy word gevolg deur hom wat induik onder watervalle en opkyk boontoe met warm oë,
en soutlug proe,
en windpompe,
en al die pa’s,
en die duisende ma’s,
en die roepe van die visarende al is dit ook net in TV-advertensies,
mis.

En hulle almal kyk vir die
voëltjie
in die hand van
die klipkoning, voorste voortrekker en amptelike fotograaf en hy sê “sê kaas” (gespel liefde) maar hulle dink — statistieke, ongevalle, sekuriteit, lojaliteit en vooruitsigte terwyl hy die spoed verstel vir langer blootstelling en hoop daar’s genoeg grein. Môre is, wie weet, dalk net ’n mik-en-drukdag.

Dan beduie hy stadig “volgende” met ’n bewerige hand, vee die sweet van sy bles af met sy baadjiemou en knik instemmend na eenoog wat daar eenkant staan voordat hy kop insteek onder die doek en verlig sy asem uitblaas.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.