SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat is SkryfNet
SkryfNet I SkryfNet II SkryfNet III

Rachelle GreeffTerugvoer deur Rachelle Greeff

Tweede verslag

(.) in f8 deur Pierre du Toit
Skaapkop deur Hannes Lotter
Oom Willem en die skottel vrugte deur Madelein Smit
Drie lewens deur Ilse van Wyk
Fontein Marchelle van Zyl

’n Algemene opmerking

“Vir Afrikaanse kortverhale, romans en gedigte geld ander oorwegings,” skryf ’n mede-outeur in Skryf Afrikaans van A tot Z (@ Dalene Müller, Pharos, 2003) oor die gebruik van woorde van vreemde herkoms in Afrikaans. Dit geld alle taalreëls en -riglyne. Sonder om afstand te doen van ’n eie, moderne en vars stem (wat taalgebruik en styl impliseer) behoort alle nuwelingskrywers te boer by naslaan- en woordeboeke. Die beste en mees deurwinterde skrywers van oor die wêreld sê oor en oor dít is en bly een van die hoekstene van hulle werk. Dis nie ’n teken dat jy dom is nie, inteendeel. Dié vyf stories gaan almal mank aan ’n gebrek aan konsekwente en helder taalgebruik. Soos ek tevore gesê het. Dié spesifieke boek, asook Stylboek, riglyne vir paslik skryf (@Piet du Toit & Wanda Smith-Müller), kan help.

Ek behandel die verhale in die alfabetiese volgorde van die skrywersvanne.


Vasgevang in f8 deur Pierre du Toit

Die titel is wel meer verhelderend, maar kan dalk met verdere karring aan die verhaal selfs beter. Dalk. Sommige lesers en/of redakteurs mag die ontknoping steeds as duister ervaar. Ek hoop ek verstaan dit reg.

Daar’s nou net enkele stilistiese haakplekke. “Wat ook al kommunes ...” Sou “wat-ook-al” nie beter wees nie? Ek weet nie, maar ’n redakteur sal, hopelik, weet.

En wat is die betekenis en/of doel daarvan om nie kommas tussen werkwoorde te gebruik nie? Indien dit wel in dié konteks funksioneel is, mis ek dit heeltemal en dan my verskoning.

“... en jy proe-proe en hap soos die kurpers in Vaal.” Die skrywer stel die haphandeling van een mens gelyk aan die haphandeling van baie kurpers? Is dit reg so? En wat is “Vaal”? ’n Dam of ’n rivier of wat?

“Minwetend dat hy op so een gebore was ...” Tog eerder: “gebore is”.

As “instapyskaste” een woord is, moet “modedasse” seker ook een woord wees.

Myns insiens is die persoonlike voornaamwoord in die laaste sin (“sy”) onnodig.


Skaapkop deur Hannes Lotter

Dit lyk asof die skrywer in ’n bepaalde mate nie met die kommentaar van die eerste verslae saamgestem het nie, of dit nie kon toepas nie.

(Terloops, ’n bogemiddelde kan in ’n selfs hoër liga speel as die skrywer die geduld, insig en kreatiewe intelligensie het om buite-voorstelle reg te gebruik. Dis wysheid wat kom met tyd. Of met genade. Solank die skrywer ook die onderskeidingsvermoë het om kafkritiek van koringkritiek te skei.)

Die eerste paragraaf is myns insiens te lank en oorlaai.

“Ingekerkerd”: Is dit die regte woord?

Hoekom die komma voor maar telkens weglaat? Mis ek iets?

Pasop vir die herhaling van woorde. Sien “bekyk” in paragraaf 12.

Wat is ’n “oorredende knie”?

“Hy gee grootmoedig vir Beula ’n trek wat op haar beurt dit sensueel in haar mond rol.” Eerder: “... Beula ’n trek wat dit op haar beurt sensueel ...”

Is dit nodig dat speurdersersant Osman as ’n “kleurlingman” voorgestel word? Sy uitspraak vertel die leser alles wat nodig is.

“Die pynlike wond” van die mond, is, wel, pynlik pap.

Mens word “fisiek” naar en nie “fisies” nie. Hoewel dit hier nog gaan oor naar voel voordat die verteller later naar word.


Die val van oom Willem deur Madelein Smit

Die storie haal nou beter asem.

Maar ek’s onseker of dié nuwe titel die regte een is. Die skrywer moet die verhaal ’n bietjie laat lê; dalk kom ’n ingewing met die tyd. Dis, vir my, te eksplisiet. En ook verkeerd, want al val oom Willem letterlik, ervaar ek hom nie as ’n gevalle man nie. As die skrywer nie met iets beters vorendag kom nie, sou ek terug na die vorige titel. Ek is huiwerig om self iets uit die teks voor te stel - hoewel dit vir my duidelik daar staan - omdat dit Smit se storie is.

Die verhaal wen aan trefkrag ná die skrywer gesny het aan die oorvloed bywoorde en byvoeglike naamwoorde. Maar daar is steeds stilistiese lomphede. Kyk na die herhaling van “hier” in die eerste paragraaf. Is albei werklik nodig?

Nog iets: “Hy stop met sy vingers nuwe twak in die pyp en stamp dit vas met sy duim.” Sou die volgende nie dalk makliker lees nie: “Hy stop nuwe twak in die pyp met sy vingers en stamp dit vas met sy duim.” Of nog beter: “... stamp dit met sy duim vas.”

“Hop” vlekke bo ’n hond se oë?

“Ek soek die skottel wat die minste gate in het.” Dink woordekonomies: “Ek soek die skottel met die minste gate.” Net so: “... en vra stom met net sy oë ...” Die “stom” is onnodig.

Wees bedag op die uitspel van dit wat reeds geïmpliseer is. So is die sinne “Ek weet die huil gaan oor dit. Oor die vreeslikheid. Wat op die stoep gebeur het.” onnodig.
“Ek ruik Vicks en twak ...” ’n Goeie plek om die handelsnaam, ook ter wille van balans, van die twak te noem.

En net tog asseblief nie “die bang in sy kykers” nie. Daardie “kykers” is ’n uitgediende tydskrifwoord.

Wanneer oom Willem die verteller teen die einde vlugtig nader trek, mis dié leser die verteller se sintuiglike waarneming. Sy neem haar omgewing in besonderhede waar, maar waar is die paar pennestrepe oor hoe oom Willem ruik, byvoorbeeld, nou?

“Hy gee my ’n tandvleise-glimlag.” Sny, dis naar en lomp.

En die hele laaste sin van die verhaal wat begin met “En ek weet: al weet ek nie mooi ens. ens.” is onnodig. Dis reeds geïmpliseer.


Drie lewens te koop deur Ilse van Wyk

Ek het min kommentaar. Die verhaal het ongetwyfeld vorentoe geskuif en die skrywer het nie by die natuurlik slot verbygeskryf nie. Dis veral vir ’n nuwelingverteller moeilik om te weet wanneer om te stop. Say what you have to say and then stop, het Raymond Carver destyds gesê. Makliker gesê as gedaan.

Maak die teks skoon van mindere hinderlikhede soos “eilandavontuur” wat ook “eiland-avontuur” is. Taalreëls is net riglyne binne kreatief skryf, maar dan verwag die leser dat die skrywer konsekwent moet wees. Kan mens werklik steeds nie iets anders met daardie lomp “gemompelde dêmmit” doen nie? Dis so onbeholpe, so mompelend. Nes die “gemompelde dankie” in die laaste paragraaf van die vorige weergawe was.


Fontein deur Marchelle van Zyl

Die verhaal het veel gebaat by my eie, maar ook Henning Pieterse se kommentaar en werk nou veel beter. Tog, ek voel steeds dis nie voltooi nie. Hier is nog ’n hele hand vol storie wat nie vertel is nie. Of word dit in verdere verhale vertel? Anders gestel: ek wil meer. Dis dalk maar net ’n persoonlike waarnemer.

Stilisties: mis ek ’n voornaamwoord (“haar”) tussen “probeer” en “verlei” in die laaste sin van die eerste paragraaf?

Die skrywer moet haar uitroeptekens spaar vir wanneer daar werklik geen ander metode as leestekenhulp oor is om “uit te roep” nie. En hoofletters moet met groot versigtigheid, en rede, gebruik word. Die eerste snit van die verhaal werk met komplekse gegewe, en ek dink die skrywer moet weer terug na die werkbank. Dit tref nie soos dit kan, en soos die res van die vertelling, nie.

“Grootmense ook, mind you,” het sy gefluister. Dis ’n sin wat ’n mens nie wil los nie. Wat my geliefde en holrug geryde teksvers van less is more bewys.

Ek weet darem nie of suiplap-gatsitter-verloorder Barend die woord “gekrôk” sal gebruik nie? Iets meer kru?

“Basie het selfs huis toe gekom en kom sê ...” Eerder: “Basie het huis toe gekom en selfs kom sê hy is ...”

Drank “in” of “op” sy asem?

Wanneer Marie in die laaste snit op die perron staan, voel sy iemand langs haar. “Dis Basie.” Moet dit nie Barend wees nie? Mis ek iets?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.