|
Eerste verslag deur Rachelle Greeff Eerste verslag deur Henning Pieterse Tweede verslag deur Rachelle Greeff Tweede verslag deur Henning Pieterse
Lees die eerste weergawe van dié storie Varsfontein: 8:59pm Perron 2Marchelle van Zyl
Haar tone krul oor die rand van die platform. Die bries laat haar hare bewe. Die gegrom van die trein begin al hoër brul en die ligte snel al vinniger nader. Hulle oë ontmoet. Al nader, groter, harder. Hy roep haar, probeer haar verlei. Haar spiere trek saam, gereed vir die sprong tot hulle ontmoeting. Nou. Amper. Groter die ligte. Hulle knipoog. Nou! Hy hou haar blik gevange. Haar oë onknipbaar, brein dinkloos, die seer weggeadrenalien deur die vooruitsig van ontvlugting. Nog n sentimeter vorentoe. Die geraas van remme op metaal onhoudbaar. NOU! Haar hart begin wild klop, sy asem die bries in. En draai weg. Sy kan nie. Soos alles in haar lewe kan sy nie doen wat sy wil nie. Al roep haar hele wese: spring. Nou! Jy het n keuse om weg te kom. Gryp die lewenslyn en ontsnap. Sy kan net nie.
Net soos die keer toe Bets de Wet gesê het sy kan soggens in die apteek gaan werk. Dit was Augustus. Marie, Barend en Basie het net in Varsfontein in die spoorweghuis met die afgedopte rooi dak ingetrek. Basie is in sy derde skool daai jaar ingeskryf. Die skoolhoof het in die klerebank gaan grawe en Basie het met n versuip-skoolbaadjie en n knypbroek probeer om graad nege dié keer deur te kom. Barend, het Marie gemaan, ons kan nie die kind só skool toe stuur nie. Hy gaan skool klaarmaak, (só het sy elke aand gebid en gesmeek) en dan gaan hy ons altyd kwalik neem vir die armgat-look. Die seun kry hormone en stel belang en als. Maar wie sal twee keer kyk na die boytjie met die skifbaadjie. Niemand wil gesien word met iemand wat ál wat skool in die republiek is, ge-sample het nie. Kinders is wreed. Sy het oorgebuk en die bord rys met aartappels en Oxo-sous voor n ongeskeerde Barend neergesit en omgedraai na die venster toe. Grootmense ook, mind you, het sy gefluister. Wat sê jy? Is daar weer moeilikheid by die skool? Ek sal Basie se gatvelle aftrek as ek weer moet skool toe gaan en verneder word deur n snotkop-onderwysertjie wat vir my wil kom loop vertel hoe ek my kind moet grootmaak. Hyt vererg gesnork en minagtend na die kos op sy bord gegluur. Is daar nog rys? Sy het kombuis toe gesukkel. Die landlord het kom vra oor die rent! het sy uit die kombuis geroep. Dit was veiliger om op n afstand oor dié dinge te praat. Geen antwoord nie. Ek hoor hulle adverteer vir n job by die minisipaliteit ...? het sy na n rukkie gewaag. Minisipaliteit se moer. Eks wit, eks n man en eks opgefok. Niemand sal my employ nie, so whats the use? Los dit nou, dêmmit, vrou! Marie het niks gesê nie, net nader gestap en nog rys in sy bord geskep. Sy het baie om te sê, maar sy het lankal uitgevind Barend se vuis en sy kop is harder as haar slim redenasies. Solank as wat sy lip byt en hom gelukkig hou in sy gemakstoel, is sy veilig. Het ook net sy gat gelig om die ding op die ashoop te gaan red, vertel sy die ander dag vir Bets de Wet, haar buurvrou. Die ander meubels is deur al die trekkery verloor. Party is sommer net daar gelos omdat dit te groot was. Soos my ouma se stinkhoutspieëltafel. Maar ons moes dié nag vinnig skuif. Dink dit was die keer in Garsfontein. Barend het weer nonsens aangejaag en toe moes ons net verdwyn. Kon nie eers vir Dina of dominee Koorts se vrou gaan baai sê nie. Hulle was so goed vir ons. Marie het in die tuin geskoffel en Bets het oor die heining gehang, sigaret in die mond. Noudat ek daaraan dink ons het ook op elke blêssitse fontein in die land gebly. En ek kan nou vir jou vertel: fonteine spel net trouble. Kamstig water en lewe en al daai bull, maar die reality is anders. Okay. Nie almal nie. In Bloemfontein het ek darem n tuin gehad en kon ek tot die lente bly om my bolle te sien blom. Bets het in die apteek gewerk. Marie was nog nie eers n maand op die dorp nie, toe weet sy al wie naai vir wie, en wie het nou weer n oggendregmakertjie vir gisteraand se glips kom koop. Bets sou babbel en babbel en dan haar sigaretstompie aan Marie se kant van die draad gooi, diep sug en vir die sipres langs die huis sê: Sipres, jy maak my depressed. Dan haar lekker rook-koggellag uithoes en met n Baai, buurvrou die aand se kos gaan opsit. Marie het altyd gemeen die fout met Varsfontein was die sipres in die voortuin. Haar ma het altyd van die grafnis-boompies gepraat. Dit was asof sy die dood op haar voorstoep gehad het. Dit was maar die roetine in die ou spoorweghuis. Basie moes by die skool sý stryd stry. Marie hare by die huis. Barend het al stiller geword en gesit en broei. Geld was skaars en skuldjagters volop. Een middag het Bets weer so oor die draad gelê, stompie doodgetrap, sipres, jy maak my depressed gerym en ge-baai, buurvrou. Sy was al óp met die trappies kombuis toe, toe sy omdraai. Buurvrou, Mank Mienkie moet weer Kaap toe vir n operasie. Jy wil nie dalk soggens in die apteek kom uithelp nie? Marie het net so gebukkend oor die bedding gehang. Sy kon nie roer nie. Ag Heretjie, kan dit wees? het sy gebid. Jy ís toe al die tyd daar. Ek dog ek vra maar net. Jy is mos my buurvrou en als. Stap maar later om en kom sê. Bets is weer die trappies op en het nie eers die moeite gedoen om te wag nie. Sy het geweet. Daardie aand het Marie die koskaste leeggemaak vir n feesmaal. Basie het huis toe gekom en selfs kom sê hy is genooi na n partytjie daardie naweek. By een van die cool kinders se huis. Vir die eerste keer in n lang tyd is daar weer gelag in die spoorweghuis met die afgedopte rooi dak. Nie alle fonteine is sleg nie, het sy besluit. Barend het by die huis ingesukkel. Marie het n onverwagse soen op sy wang geplak. Hy is ook nie só bad nie, het deur haar kop geflits. Ek het goeie nuus ... het sy begin. Hy het haar weggestamp. Gaan pak! Die trein trek oor n uur. Drank op sy asem, skuld in sy stem. Marie se tone krul oor die rand van die platform. Kon sy nie net hierdie keer nee gesê het nie? Sy en Basie kan vir hulleself sorg. Die wind van die trein ruk aan haar bene. Amper. Nog net n klein entjie. Ek kan nie. Die spore nooi; die trein skreeu uitnodigend. Die wind trek aan haar klere. NOU! Sy voel iemand langs haar. Dis Barend. Hy staar gefassineer na die spore wat sy vryheid gaan verseker en luister verlief na die hoë gekerm van die drade. Barend hurk en gooi n tweesentstuk op die spoor. Mis. Die trein is binne sig. Sy rug is groot en breed. Haar hande klein en skraal. Doen dit! Barend staan op. Die trein se fluit gil die frustrasie van haar bestaan. NOU! Barend draai om. Die trein stu kwaad verby en laat haar terugsteier teen Basie. Sy kyk op in sy oë en sien verwyt. Ek kon net nie, fluister sy. Komaan, girls! roep Barend. Hy gryp n tas en mik in die rigting van wa C. Dié keer gaan dit anders wees. Ek promise. Leliefontein, hier kom ons! |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |