SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die tweede weergawe van dié storie
Lees die finale weergawe van dié storie

Fontein

Marchelle van Zyl

Die bries het my hare laat bewe. Die brom het begin grom en die bries het begin wind. My hart het gaan staan en my longe teugloos laat saamtrek. My tone het oor die rand van die platform gekrul. Die gegrom van die trein het al hoër begin brul en die ligte het vinniger nader gesnel. Ons oë het ontmoet. Al nader, groter, harder. Hy het my geroep, my probeer verlei. My spiere het saamgetrek, gereed vir die sprong tot ons ontmoeting.

Nou. Amper.

Groter die ligte. Hulle knipoog.

Nou!

NOU!

My hart het wild begin hamer, ek het die bries ingeasem en omgedraai.

Ek kon nie. Soos alles in my lewe kon ek nie doen wat ek wou nie. Al roep my hele wese: Nou!

Spring! Jy het ’n keuse om weg te kom. Gryp die lewenslyn en ontsnap. Ek kon nie.

Net soos die keer toe Bets de Wet gesê het ek kan soggens in die apteek gaan werk.


Dit was Augustus. Ons het net in Varsfontein in die spoorweghuis met die afgedopte rooi dak ingetrek. Basie is in sy derde skool daai jaar ingeskryf. Die skoolhoof het in die klerebank gaan grawe en Basie het met ’n versuip-skoolbaadjie en ’n knypbroek probeer om standard sewe dié keer deur te kom.

Ek het vir Barend gesê ons kan nie die kind só skool toe stuur nie. Hy gaan skool klaarmaak (só het ek elke aand gebid en gesmeek) en dan gaan hy ons altyd kwalik neem vir die armgat-look. Die seun kry hormone en stel belang en als. Maar wie sal twee keer kyk na die boytjie met die skifbaadjie. Niemand wil gesien word met iemand wat ál wat skool in die republiek is, ge-sample het nie. Kinders is wreed. Grootmense ook, mind you.

Barend het by die huis gelê.

“Ek’s wit, ek’s ’n man en ek’s gekrôk. Niemand sal my employ nie.”

Sy famous line, elke keer as ek vra waar dié maand se rent vandaan gaan kom. Sy gat ingewikkel in die enigste gemakstoel in die sitkamer. Het ook net sy gat gelig om die ding op die ashoop te gaan red. Die ander meubels is deur al die trekkery verloor. Party is sommer net agtergelaat omdat dit te groot was. Soos ouma se stinkhoutspieëltafel. Maar ons moes dié nag vinnig skuif. Dink dit was die keer in Garsfontein. Barend het weer kak aangejaag en toe moes ons net verdwyn. Kon nie eers vir Dina of dominee Koorts se vrou gaan baai sê nie. Hulle was so goed vir ons.

Noudat ek daaraan dink — ons het ook op elke blêssitse fontein in die land gebly. En ek kan nou vir jou vertel: fonteine spel net trouble. Kamstig water en lewe en al daai bull, maar die reality is anders. Okay. Nie almal nie. In Bloemfontein het ons darem ’n tuin gehad en ek kon tot die lente bly om my bolle te sien blom.

Varsfontein. Ja, ek dink die probleem met Varsfontein was die groot sipres langs die voorhekkie wat nie wou toe nie. My ma het altyd van die ‘grafnisboompies’ gepraat. Dit was soos om die dood op my voorstoep te hê.

My buurvrou, Bets de Wet, het altyd so met ’n sigaret in die bek oor die draad gehang en my die hele dorp se skindernuus vertel terwyl ek in die bedding voor ons kamervenster skoffel. Bets het in die apteek gewerk. Ek was nog nie eers ’n maand op die dorp nie, toe weet ek al wie naai vir wie, en wie het nou weer ’n morning after-pil kom koop. Sy sou babbel en babbel en dan haar sigaretstompie aan my kant van die draad gooi, diep sug en vir die sipres sê: “Sipres, jy maak my depressed.” Dan sal sy haar lekker rook-koggellag uithoes en met ’n “Baai, buurvrou” die aand se kos gaan opsit.

So het ons maar aangesukkel. Basie moes maar sy battles by die skool fight. Ek myne by die huis. Barend het al stiller geword en gesit en broei. Skuldjagters was al weer op ons spoor.

Een middag het Bets weer so oor die draad gelê, stompie doodgetrap, “sipres, jy maak my depressed” gerym en ge-“baai, buurvrou.” Sy was al op met die trappies kombuis toe, toe sy omdraai.

“Buurvrou, Mank Mienkie moet weer Kaap toe vir ’n operasie. Jy wil nie dalk soggens in die apteek kom uithelp nie?”

Ek het net so gebukkend oor die bedding gehang. ’n Erdwurm het kop uitgesteek om te groet. Ek kon nie roer nie.

“Ek dog ek vra maar net. Jy is mos my buurvrou en als. Stap maar later om en kom sê.”

Sy is weer die trappies op. Ek dink sy het nie gebodder om te wag nie. Sy het seker die trane op die vars grond sien drup. Daardie aand het ek die koskaste leeggemaak vir ’n feesmaal. Basie het selfs huis toe gekom en kom sê hy is genooi na ’n party die naweek. By een van die cool kinders se huis. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het ons weer gelag in die spoorweghuis met die afgedopte rooi dak. Nie alle fonteine is sleg nie, het ek besluit.

Barend het by die huis ingesukkel. Ek het ’n soen op sy wang geplak. Hy is ook nie só bad nie, het deur my kop geflits.

“Ek het goeie nuus ...” het ek begin.

Hy het my weggestamp.

“Gaan pak! Die trein trek oor ’n uur.”


My tone het oor die rand van die platform gekrul. Kon ek nie net hierdie slag nee gesê het nie? Ek en Basie kan vir onsself sorg.

Die wind van die trein het om my bene begin fladder.

Nou!

Ek kon nie.

Ek kon net nie.

“Kom hier, vroumens! Moet nie vir jou simpel hou nie. Díe keer gaan dit anders wees. Ek promise. Leliefontein, hier kom ons!”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.