Valiant Swart het homself geleer kitaar speel toe hy elf jaar oud was. Hy het kort daarna liedjies begin skryf en in sy hoërskooljare in 'n hele paar bands gespeel. Na sy studentejare is hy weermag toe. In hierdie tyd het hy saam met Koos Kombuis in die rokerige kroeë van Hillbrow begin optree en hom in alle erns as Afrikaanse liedjieskrywer begin bekwaam. Sedertdien het Valiant Swart landwyd 'n bekende en gewilde gesig op verhoë en in die media geword.
Valiant het al elf CD’s die lig laat sien. Sy eerste,
Mystic Boer, is in 1996 vrygestel. Hy was ook die produksieleier
op verskeie albums van ander kunstenaars, en het talle gasoptredes op
ander albums gelewer. Van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, soos Laurika
Rauch, Theuns Jordaan en Piet Botha, het al van sy liedjies opgeneem.
In 2001 het kykNet hom op 'n blues-reis Amerika toe gestuur. Die resultaat was die dokumentêre TV-reeks Veertig dae deur die Delta, waar kykers getrakteer is op Valiant se blues-avonture in Tennessee, Mississippi en Louisiana. Die sukses van hierdie reeks het gelei tot sy akteursdebuut in die hoofrol as dr Jinx in kykNet se Song vir Katryn-trefferreekse. Tesame met die klankbaan-album, wat goue status verwerf het, het Katryn van Valiant 'n huishoudelike naam gemaak. |