Koos Kombuis skryf reeds in die laat 70's en vroeë 80's as André Letoit. Hy publiseer verskeie digbundels en romans by die destydse Perskor. Sy roman Somer II word beskou as die eerste punk-roman in Afrikaans. Hy is ook bekend vir sy "little magazines" in die 80's.
In 1987 begin sy loopbaan as sanger met 'n demokasset, Ver van die Ou Kalahari, wat by Shifty Records verskyn. Saam met Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand onderneem hy die Voëlvry-toer op verskeie kampusse en ander venues regoor Suid-Afrika. Hierdie revolusionêre beweging laat hom in die sop beland by die destydse Veiligheidspolisie en die ou regime, maar bevestig sy kultusstatus. Saam met Ver van die Ou Kalahari het Koos Kombuis al tien CD's die lig laat sien, waarvan 'n Jaar in die Son (saam met Valiant Swart) en Equilibrium die jongstes is.
Hy het reeds 'n outobiografie - Seks en Drugs en Boeremusiek - die lig laat sien. Die omstrede The Secret Diary of God en Raka – die roman is van sy mees onlangse romans. Hy het ook reeds twee rubriekbundels agter sy naam. Koos se songs is 'n versameling van sy lirieke en akkoorde.
Deesdae is Koos Kombuis 'n bekende sanger en rubriekskrywer vir Rapport, LitNet en verskeie ander publikasies. |