Coenie de Villiers word allerweë erken as een van die belangrikste stemme in Afrikaanse musiek. Veral Coenie se lirieke gryp die luisteraar aan, maar as sanger, pianis, komponis en verwerker/produksieleier het hy insgelyks sy merk gemaak.
Sy jongste album, Handgemaak, het in 2004 verskyn. Hy het reeds twaalf albums vrygestel, en Zen het die SAMA-toekenning ontvang as beste Afrikaanse album van 2003. Die album Amper Alleen is in Griekeland en Siprus opgeneem. Coenie het 'n verskeidenheid toekennings ontvang, onder meer 'n Artes-toekenning, 'n Scotty-toekenning en verskeie SARIE-toekennings.
Bekendes wat saam met hom op die verhoog of op van sy albums opgetree het, sluit in Jonathan Butler, Sibongile Khumalo, Sipho Gumede, Gloria Bosman, Leslie Rae Dowling, Steve Newman en Amampondo, asook 'n rits Afrikaanse kunstenaars soos Amanda Strydom, Laurika Rauch, David Kramer en Lucas Maree. Coenie is reeds 20 jaar aktief by die musiekbedryf betrokke.
Coenie werk voltyds as bestuurder van 'n bemarkingsmaatskappy in Gauteng, en is ook die aanbieder van die KykNET-program Kwela.
|