Gert Vlok Nel , die "hartseer troebadoer" van die Afrikaanse musiekbedryf, het al kultusstatus verwerf onder die alternatiewe Afrikaanse gemeenskap. Sy eerste, en tot nou toe enigste, poësiebundel, Om te lewe is onnatuurlik (1993), is in 1995 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Hierdie bundel is 'n skets van sy grootwordjare in Beaufort-Wes, waar sy pa 'n spoorwegwerker was. Verskeie gedigte daaruit is ingesluit in die Groot Verseboek en Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in 'n duisend enkele gedigte.
Om te lewe is onnatuurlik is opgevolg deur die CD, om beaufort wes se beautiful woorde te vergeet. Hierdie CD bevat 'n versameling van sy enigmaties getoonsette gedigte, waaronder "Beautiful in Beaufort-Wes" en "Rivier". In 1997 het Gert begin opslae maak met sy gelyknamige vertoning die KKNK.
Gert het deel van die algemene musiekpubliek se bewussyn geword
toe Theuns Jordaan sy "Beautiful in Beaufort-Wes" in 'n verwerkte
vorm op sy debuutalbum opgeneem het. |