|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Goldfinger
Liza Louw
Ons sit al drie voor in my oom se bakkie, ek en my splinternuwe eggenoot; skouer aan skouer met my in die middel tussen die twee mans, die lenige jong man en die effe gesette middeljarige man. Dis warm en bedompig in die kajuit. Daar is wasem teen die voorruit. Natal ná 'n reënbui - die lug is koel. Ek is half spyt dat ek my halternekrokkie aangetrek het vanoggend. Wat 'n mens nie alles sal doen net om in die mode te wees nie!
Die rooi grondpad slinger tussen die piesangbome deur. Die dik stamme stoot op uit die rooi aarde. Die klam blare vee geurig teen die voorruit soos ons deur die geil plantasie ry.
" 'n Boom lewer net een tros piesangs per jaar," vertel my oom. "Daarna moet die hele plant afgesny word en die nuwe uitloopsels vorm weer die volgende jaar se boom."
Daar is poele modderwater opgedam in die holtes van die grondpad. Die bakkie se wiele plas daardeur, die skarniere kraak terwyl ons stadig oor die oneweredige plaaspad wieg. "Alles is so vars," adem ek. Die bobbels van my plastiekoorbelle bons teen my nek.
Dis 'n heel ander wêreld as die grote Johannesburg waaruit ons kom. Die grou stad met sy betongeboue en warm teerstrate. Massas mense, gedrang, verkeer, geraas en rook. Die twist en die juke box in die koffiehuise.
My oom Lukas kyk sydelings na my met sy diepblou oë, my oorlede pa se oë. "Ja, dit is baie mooi hier, veral party tye van die jaar. Hier is 'n kuil verderaan en in die somer is dit oortrek met waterlelies, te pragtig." Ek verluister my aan sy outydse Afrikaans.
Hy lag innemend met my, die plooitjies om sy oë kreukel permanent op. Hy het sy hoed op wat skaduwee gooi oor sy oë, soos ek hom leer ken het van kleins af.
Sy hoed skei sy gelaat in twee duidelike dele: daar is die bleekwit plooitjies-voorkop wat oorgaan in die middeljarige bles, teenoor die rooi gesig soos die son hom piets bedags. My oom was nog altyd 'n plaasboer. Hy lag, sy bekende stem onverwags melodieus.
"Daar hou ook 'n krokodil; ons weet nie hoe hy daar gekom het nie, seker maar met 'n sy-aar toe dit opgestoot het nadat dit baie gereën het." Goedig vertel hy van die landmeter wat hy eendag op 'n bootjie uitgeneem het op die poel; hoe groot die man geskrik het toe die krokodil se kop skielik verskyn het bo die water naby hulle waar hy gedryf het.
"Hy sal niks doen vir 'n mens nie, hy is maar net nuuskierig." Hy lag sy lekker lag waarmee ek grootgeword het. "Maar jong, het daardie knaap geskrik!"
Langs my begin Ben saamgesels, vra uit. My oom vertel van hulle lewe hier in hierdie streek. Hulle kweek hoofsaaklik piesangs en avokado's. Pynappels ook en tamaties. My oom boer nog sy hele lewe lank met subtropiese vrugte.
"Dit is die vroulike blomme wat die vrugte dra," vertel hy verder. Hy hou stil en wys met sy arm by die bakkievenster uit na die opvallende donkerpers manlike blom wat onderaan die lang tros groen vingers hang. "Ons plant hoofsaaklik die variëteit Goldfinger aan," voeg hy by.
Skielik begin 'n fyn misreën uitsak te midde van 'n flou sonnetjie. "Haai, kyk, Jakkals trou!" wys ek opgewonde soos 'n kind en soek tussen die bome na die reënboog.
"Met wie se vrou?" terg Ben en vat my hand vas.
Ek betrap my oom dat hy my lyf sydelings bekyk. Sy oë glinster toe hy sê: "En hoe behandel die getroude lewe jou, Marietjie? Sommer nou die dag nog was jy nog 'n klein dogtertjie. Nou het jy sommer al jou eie man!"
Ek dwing 'n laggie uit en probeer my skielike ongemak verberg. Ek keer dat my skouer nie onnodig teen syne skuur nie en wens my minirok sit nie so hoog nie.
"Ongelukkig sê die Bybel dat 'n man net een vrou mag hê," gaan my oom voort. Hy lag afgetrokke en klem die stuurwiel stewig vas met albei hande, breë werkershande, met barsies oor die kneukels. Sy verweerde trouring glim dof.
Toe ons tuiskom, is my tannie besig voor die stoof. 'n Zoeloevrou help haar in die kombuis. "Makosi is my regterhand," verduidelik my tannie. Ek groet en die vrou slaan haar hande saam; sy dra borde aan eetkamer toe en daarna nog hout in. "Ntombi!" roep sy oor die bodeur.
Ek staan in my oom en tannie se gesellige plaaskombuis. In die koolstoof brand 'n vuur. 'n Pot sing en daar is stoomdruppels teen die muur. Ek merk op dat die kombuiskaste groen geverf is, die tafel en stoele ook. Deur die oop spensdeur sien 'n mens afwisselend rye en rye bottels glansende koejawels en glimrooi tamaties agter glas op die rakke staan.
Oor die werf kom 'n jong meisie aangedrentel, sy kou aan 'n stuk soetriet. Daar loop sap teen haar ken af. Met die agterkant van haar hand vee sy dit ongeërg af en stoot die onderdeur oop. Haar groet is 'n glimlag met spierwit tande.
Die ouer vrou praat hard met haar en haar gesig word skaam. Sy begin werskaf by die opwasbak. Getrou aan die tradisie van die mense op die platteland het sy 'n bedrukte bont doek styf om haar onderlyf gedraai. Die patrone bestaan uit ryp pynappels; die donkergroen lowwe reik uit na bo soos oopgekelkte hande.
Aan die eetkamertafel word eers 'n tafelgebed gedoen voordat ons begin eet. My oom en tannie hou hande, soos altyd. Sy sê amen agterna. Die geur van skaapboud en braai-aartappels stuif om ons. In my gedagtes sien ek die gemeste kalf wag op die verlore seun. Die gaslamp suis gerusstellend en gooi sagte lig oor ons vier se koppe; die koesterende vertroudheid wat ek ken vandat ek 'n dogtertjie was.
Daar is varsgebakte plaasbrood. My stadsman kan dit nie weerstaan nie.
"Probeer hierdie avokadosmeer," bied my tannie gulhartig aan. "Dit is hoe ons geleer het om groot hoeveelhede avokado te preserveer. Dit is mos 'n ding wat verkleur, nou meng 'n mens dit met suurlemoenjellie voordat jy dit vries." Sy gee die potjie met sy groen inhoud aan. "Kom, Marietjie, skep vir jou man nog kos in …"
My tannie behoort haar hele lewe lank nog aan die plaaslike vroueverenigings.
Daar het sy al die geheimenisse van boervrouwees geleer: om allerhande konfyte te kook en subtropiese vrugte te verwerk tot enige moontlike produk. Om spaarsaam te wees en nooit te mors nie. Sy plaas 'n opskepbak voor my. Die kaneelsuikerstroop hang soos donker trane van die pampoenkoekies af.
Ná ete gesels die mans nog in die voorkamer. Ek help die tafel afdek. Ntombi is weer doenig in die kombuis. Sy het die sierlike lyf van 'n jong vrou wat nog nie 'n kind gehad het nie. My tannie wissel 'n paar woorde met haar en sê dan vir my: "Kom, Marietjie, ons gaan sit binne by ons mans."
Sy en my oom vertel van hulle kinders, almal nou getroud en reeds met 'n hele spannetjie kleinkinders. Agtuur luister die mans intens na die nuus oor die radio. In 'n beklemmende stilte hoor ons president Kennedy se aantygings oor die missiele in Kuba aan. Dan sug my oom, skakel die radio af en begin vra Ben uit oor sy werk.
"Wat van daardie lekker koekies wat jy gebak het nou die dag, vroulief?" laat hoor my oom Lukas. Hy kyk ondersoekend na Ben. "Sal ons nog iets warms drink - wat wil jy graag hê, Bennie? Koffie, tee?"
Ben verkies warmsjokolade, ons ander drie tee, en saam met dit verskyn 'n bord gemmerkoekies, vars uit die spens. "Jou ouma se resep," voeg my tannie trots by. "Sy het my geleer om 'n skyf appel in die blik te sit saam met die koekies om hulle so lekker sag te kry." Ons vergryp ons aan die gemmergenot. Die mans gesels nog politiek en wêreldsake, ek kyk na foto's van die nuutste kleinkinders, vind familietrekke en memoriseer voorname. My tannie sit en brei aan 'n kindertruitjie. Dit het 'n ingewikkelde knobbelpatroon, die wol donsgeel. Vir die jongste kuikentjie, besef ek.
Die huis word uiteindelik rustig in die soel somernag. My oom gaan buitentoe om die kragopwekker af te skakel. Ben stap ywerig saam. Hulle stemme raak weg in die donker. Die dieselenjin raak stil. Iewers roep 'n naguiltjie.
Daar brand reeds 'n lamp in die gastekamer. Die kamer ruik na rose. Op die laaikas is daar 'n lampetbeker met 'n emaljeskottel. Op die bedkassie 'n kraffie met water en 'n glas. My tannie dra besorg nog komberse aan. "Ons nanagte kan soms onverwags koel raak," verweer sy laggend, "al is dit so warm bedags."
"Marietjie het 'n man wat haar warm kan hou," terg my oom agter haar breë rug uit die gang, op pad kamer toe.
"Kom, vrou, los nou die kinders dat hulle kan gaan slaap," gebied hy speels waar hy vir sy vrou in hulle kamerdeur wag. "Lekker slaap, julle twee!" Agter hom teen die muur blink die portret van homself as jong man in 'n ou, dowwe raam. Hulle bed lyk groot en breed in die karige slaapvertrek.
"Ek moet nog gaan deeg knie vir môre se brood, Loekie," maan sy gedemp.
Toe ons uiteindelik alleen is, kruip ek langs Ben in.
"Hulle doen baie moeite vir ons," laat val hy en gaap. "Sjoe, hierdie plaaslug maak 'n mens moeg." Hy gooi sy arm lankuit oor die beddeken.
"Ja, hulle het my lanklaas gesien," beaam ek.
Ben draai op sy sy na my toe. "Maar jou tannie moet nou tot rus kom," mompel hy met toe oë.
"Sy was altyd so - toe die kinders nog almal in die huis was, het sy hulle klere ook nog self gemaak, moet jy weet," brei ek uit, maar Ben dommel reeds weg. Op my elmboog bestudeer ek hom - sien hoe sy ooglede onrustig roer soos hy wegdryf van my af. In die kombuis hoor ek nog my tannie werskaf.
Die nag droom ek van die krokodilpoel, maar dis nie die ongedierte wat my onrustig maak nie, dis die missiel aan die oorkantste wal wat my onkant vang - so naby en tog so ver. Dit stu op uit die grasse en glim onheilspellend in die maanlig.
Die son vang die kamergordyne skrams die volgende oggend toe ons met die geur van koffie ontwaak. Daar is tuisgebakte mosbolletjiebeskuit op die skinkbord. Ek en my nuwe man nestel knus in mekaar se arms en luister na die voëls in die mangoboom voor die venster.
Geluide uit die kombuis dui aan dat die dag se werksaamhede begin het - die geklingel van emmers, 'n stoof wat gestook word, vroemôreskottelgoed.
Toe ek later die skinkbord terugneem kombuis toe, tref ek vir Ntombi voor die opwasbak aan. Sy staan met haar rug na my toe, verdiep in haar werk, en sien my nie raak nie.
Sy dra 'n verweerde dun katoenbloesie wat te klein is vir haar. Daar steek 'n stukkie van haar rug uit, donker soos bittersjokolade.
Die volgende oomblik praat sy enkele woorde in Zoeloe. Voor ek tot verhaal kan kom, hoor ek my oom se stem vanuit die spens. Die woorde is monotoon en onverstaanbaar - vir my as oningewyde niksseggend.
Dan tree hy te voorskyn en sien my. 'n Skielike skrik vee oor sy oë.
"Môre, Marietjie, my kind," sê hy vinnig. Sy leë koppie rinkel verskrik op die piering, sy vingers krul om die rand. Ntombi kyk onrustig om.
"Het julle goed geslaap? Hoekom is jy dan so vroeg op, jong?" vra hy verleë. Agter hom staan die rye gebottelde vrugte van vorige jare. Die rosige vrugpitjies vorm geheimsinnige patrone van hul eie in die halfskemer. Vanuit die voorhuis speel The lion sleeps tonight saggies oor die radio. Ek voel die koue van my eie vingers.
Uit die pakkamer op die werf waar die kratte varsgeplukte tamaties wag, praat my oom se vrou met die paksters. "Buja lapa," organiseer sy energiek. "Kom hier, bring nader …"
Deur die venster lê die plaaswerf bedrieglik skoon in die oggendson.
LitNet: 10 Augustus 2005
Klik hier en lees haar eerste weergawe
Klik hier en lees haar tweede weergawe
Klik hier en lees Herman Wasserman se verslag
Klik hier en lees Kirby van der Merwe se verslag
Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe
|