SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Hennie Aucamp se tweede verslag
André P Brink se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Die roostuin

Hanni van den Heever

Ek was daardie somer nege jaar oud.
    Ons het in ’n kleinerige huisie duskant die houtbruggie gebly. Sondae het ek en my suster vrolike tuisgemaakte rokkies kerk toe gedra. Ons helderkleurige gebreide truitjies was vir die winter met borduurwerk versier. In die kombuis was altyd varsgebakte brood en karringmelkbeskuit en in die voorhuis het Ma elke dag geoefen op die klavier wat Oupa nog vir haar gegee het.
    My broers het stories opgemaak vir toneelstukkies. Saam met die buurkinders het ons voor ouers en kuiermense ou lakens om ons skraal lyfies gedrapeer om giggelend en skamerig konsert te hou.
    Op soel someraande as die honde aanhoudend geblaf het vir gedaantes en dinge wat nooit met die blote oog gesien kon word nie, is spookstories vertel. Styf teenaan my ma het ek gesit en luister na die grootmense se “ware” ondervindings van verskynings. Die bang gevoel was nie onaardig nie want die warmte van my ma se ligaam was gerusstellend en die grillerige staaltjies ver verwyderd van my eie veilige werklikheid.
    Op vaal, stofverwaaide dae was my pa se winkel ’n halfwegstasie tussen skool en huis. Onder die toonbank, tussen die stapel afvallappies van oorwegend somber bruin, swart of donkerblou, het ek my arms diep in die bondel gesteek om rond te soek vir die besondere oorskietstukkies van geruite wolstof of die enkele repies sagte grys. Die reuk van tabakrook en kleremakerskryt was skerp en maatbande het tussen swaar skêre rondgekrul. Halfklaar pakke met lang wit rygsteke het sonder moue langs die muur gehang, gereed vir gesette ooms om te kom aanpas. Buitekant het klein dwarrelwindjies ou papiere teen die draadheining vasgewaai.
    Ek het nooit kon dink dat die wêreld soos ek dit toe geken het, nie vir ewig sou bestaan nie.

*

Die reën het weggebly en toe die somer kom, was daar nie genoeg skaduwees onder die peperbome nie. Ek het by Ma in die kombuis gaan sit waar sy kraletjies ingeryg het vir haar hekelwerk.
    “Ma, hoekom stap ons altyd oor die brug as daar nooit water in die rivier is nie?”
    “Eenkeer was daar ’n groot storm”, het Ma begin, “die mense het toe gesê dis ’n wolkbreuk. Die bruggie het amper weggespoel. Maar dit was lank gelede, my kind. Nou hoop en bid ons maar altyd vir reën. Ai, arme Oupa,”, het sy gesug. Sy onthou nou hoe die boere sukkel omdat daar nie genoeg water en voer vir hul skape is nie, het ek gedink en ek was nie kwaad vir haar omdat sy vergeet het om te vertel hoekom ons nog oor die bruggie stap as daar nie meer ’n rivier is nie.
    In Ma se tuin het die plantjies pap gehang en vinnig verdroog. Net die stinkafrikaners en jakob-regops het skralerig in die stof geblom.
    Aan die bokant van die dorp was die Viljees se huis en sinkplaatdam onder die groen koelte van wilgebome.
    Die Viljees was “anders”, het die mense van Rooikraal graag gesê. Op hulle erf het die windpomp vars water diep uit die grond gepomp en daar was meer as een tenk vol opgegaarde reënwater.
    En dink nou maar aan hulle dogters se name. Nie vir hulle die Gertruidas en Magrietas of Johannas en Jacobas wat dominee Basson so gereeld op doopsondae uitgelees het nie. Nee, hierdie pragtige kinders se name was Michelle, Monique en Jeanelle.
    Verder was meneer Viljee en sy vrou albei “geleerde” mense. Mevrou Viljee het ’n universiteitsgraad gehad, maar watter een kon die Rooikralers nooit onthou nie. Dat meneer Viljee ’n “regsgeleerde” was, sou hulle nie sommer maklik vergeet nie. ’n Prokureur verleen mos status aan ’n dorp.
    Die blink gepoleerde bronsplaatjie op sy kantoordeur met die inskripsie: “J M de Villiers, Prokureur/Attorney” het my pa so beïndruk dat hy op die muur bokant sy werksplek se deur in swart letters geverf het: “Coenraad Nel, Kleremaker”, met sy eie tikkie elegansie in blinkrooi letters onderaan: “Tailor”.
    Die mense van Rooikraal was oor die algemeen “minder gegoed” en sommige was werklik arm, maar die dorp het tog sy rykes gehad. Daar was oom Rooi Willie wat omtrent al die erwe op die dorp opgekoop het en by wie selfs die munisipaliteit nou en dan om ’n leninkie kom aanklop het; die prinsipaal het ryk getrou; die dokter was redelik welaf al moes hy soms maar lank wag vir sy geld en dan was daar natuurlik ’n paar wolboere wat die droogtes kon oorleef en wat Sondae hulle blink motors spoggerig op die kerkplein kom inryg het.
    Nee, geld was dit nie wat die stempel van aansien so duidelik op die familie Viljee afgedruk het nie.
    Heelwaarskynlik, so het ek jare later daaroor gedink, was hulle taalgebruik, uitspraak en houding die nadraai van ’n bepaalde agtergrond en opvoeding wat ver in die verlede sy oorsprong in ’n groener wêreld as die barre veld van ’n Rooikraal gehad het.
    Soms het ma gaan help as mevrou Viljee die dames van Rooikraal uitgenooi het om in haar stoepkamer, onder haar toesig, ’n handjie te kom bysit vir liefdadigheid. Nuwe klere is gemaak om te verkoop; oues is gebring om weg te gee; kosmandjies is gepak om onder die siekes en “minder bevoorregtes” uit te deel en daar is gereël dat die jonger vroutjies Saterdagmôres vroeg-vroeg voor oom Izak se winkel sal gaan staan om die boere met skommelende geldbussies in te wag.
    Een bloedige warm agtermiddag het ek en my ma, op mevrou Viljee se uitnodiging, by haar gaan tee drink. Sy het ’n punt daarvan gemaak om al die vrouens wat haar so geredelik help, om die beurt uit te nooi. Niemand het ooit die uitnodiging durf van die hand wys nie.
    Toe ons oor die houtbruggie stap, het Ma my hand in hare geneem. Ons hande het gesweet. Dit het nie saak gemaak nie; ek was baie lief vir my ma. Sy was so jonk en so mooi in haar beste somerrok van geblomde voile. My rokkie was vol valletjies en kant en in my blink geborselde hare was ’n helder geel sylint.
    Mevrou Viljee was nog in die roostuin toe ons, effens vroeg, daar opdaag. Oor haar arm het sy ’n langwerpige vlak mandjie gedra. Sy was besig om blomme te pluk. Een vir een het sy die rose in die mandjie gesit, versigtig, om nie die fyn blaartjies met dorings te kneus nie. Deur die breë rand van haar strooihoed het skaduwees op haar goedopgemaakte gesig gedans. Sy het ons met ’n koel glimlaggie verwelkom:
    “Ek is so bly dat jy kon kom, Lettie, en hoe gaaf dat jy die ou kleintjie kon saambring”.
    Sy het my naam vergeet.
    Ons het so tussen die rose deur beweeg. Somige bome was hoër as my kop. Daar was trosse geel, ligpienk, oranje, spierwit en bloedrooi blomme en daar was enkele rose op lang stele. Die miniatuur rosies was in twee kleure en het vir my die lekkerste geruik. Gleufies kleur het deur groen knoppe gebeur. Die heel mooiste rose was die wat half oop was. Hulle blare was donkerder naby die stingel en het ligter boontoe oopgekrul. By die groot opes kon ek die geel korreltjies stuifmeel duidelik sien. Bye het gretig gesuig en die los blare versteur sodat hulle grond toe geval het. Ek wou nie op die stukkies kleur trap nie.
    “Watter is vir Ma die mooiste, die geles of die bloedrooies?”
    Ek het opgekyk om haar gesig te sien. Omraam deur haar ligte hare was haar gesig in ’n kring van lig. Sy het geglimlag. Sy was net so mooi soos die rose en ek het met my hele hart gewens dat dit ons roostuin was.
    In die sitkamer is die tee geskink — die gordyne effens toegetrek om die son uit te hou. In die halflig het silwer teelepels en vurkies op die bordjies geglinster. In ’n plat bak op die tafel het oop rose gedryf. Deur die kristal kon ek die kort steeltjies sien en hoe die blare dieper in die water sak.
    Op Rooikraal was dit die gewoonte om melktert of sjokoladekoek of koeksusters, of al drie, op teepartytjies te bedien. Die ritueel het van gasvrou tot gasvrou net gevarieer wat betref aanbieding en sukses, of nie, van die tekstuur van deeg of skilferkors, of stroperigheid van die koeksusters. As die geld maar skaars was, is daar nog altyd ’n plan gemaak vir ’n “lekkergytjie”. Daardie agtermiddag het ek vir die eerste keer die sagte, groen mousse van avokadopeer op deursigtige snytjies witbrood geproe.
    Mevrou Viljee het Ma bedank vir haar hulp en uitgevra oor my broers en my suster.
    “Dankie, dit gaan goed met die kinders. Hulle is nou almal op skool. Dié enetjie wil maar altyd saam met my kom” en haar stem was so sag ...
    Ek het ophou luister en my verkyk aan die wit gesigte van outydse figure in yslike rame teen die mure. Die vol-geplooide gordyne, gefraiingde matte wat deurmekaar patrone van donkerrooi, fluweelblou en stippeltjies wit op die donker houtvloere versprei, was vreemd vir my — gewoond soos ek was aan die songebakte voorhuisies van Rooikraal.
    “Speel vir ons iets op die klavier, Lettie. Jy speel tog so pragtig.”
    Die woorde het in die lug gehang.
    Ek kon aanvoel hoe my ma huiwer; hier in die Viljees se huis was sy net so skaam soos ek. Toe begin sy speel. Een vir een het die mooi dogters stilweg binnegekom. Met hande gevou in haar voorskoot het Leentjie, die huisbediende, ook in die deur kom luister. In hul hok op die stoep het die kanaries skielik ’n eie trillende begeleiding begin.
    Ek was weer gerus.
    Die son was laag toe ons huis toe stap.
    “Het jy darem die middag geniet? Sy is eintlik ’n baie gawe vrou,” het my ma gesê, so asof sy mevrou Viljee wou verdedig.
    Ons was ’n gelukkige paar in die laatmiddag op pad huis toe.

*

’n Paar weke later het ek vir die eerste keer ’n eienaardige gevoel van bedreiging ondervind.
    Tant Hettie, ons posmeester se vrou, het vroegaand vir ’n rukkie by Ma kom inloer.
    “Kom ons stap so ’n entjie saam met tannie Hettie terug huis toe,” het Ma my ook saamgenooi.
    Ek het speel-speel agter hulle aangetrippel, verby die ooms wat rustig op hul stoepe sit en rook. Dit was ’n aand soos baie ander someraande op Rooikraal.
    Ons groepie het luiweg in die rigting van die Viljees se tuin beweeg. Ek kon die huis, wilgebome en die windpomp duidelik sien. Die volgende oomblik het ek verwonderd stil gaan staan, want die prentjie het skielik verander. Bokant die swart massa van dak en bome en tussen die windpompsirkels deur het die volmaan onnatuurlik groot gerys. Alles was doodstil. Daar was geen beweging of geluid nie — net die vreemde, onheilspellende verskyning.
    Ek was bang. Waar was my ma? Toe gewaar ek hulle op ’n afstand, soos hul stadig straatop loop. Ek kon nie ’n geluid uitkry om haar te roep nie. Toe draai sy om, steek haar hand uit en wag vir my. Ek het vinnig die entjie na hulle toe gehardloop. Styf teen haar vasgedruk, was die geur van rose oral om ons.

*

“Ek voel nie lekker nie,” het sy ’n paar dae later gesê.
    Ons was in die kombuis waar sy besig was met stryk. Ek was altyd vroeër as my broers en suster by die huis en Pa was by sy werk. Dit was baie warm. Ma se voorkop was natgesweet.
    “Ek wens dit wil reën,” het sy gesê.
    Sy’t vir ’n rukkie by my op die kombuisbankie kom sit. Ek wou iets vir haar doen, maar ek het nie geweet wat nie.
    “Wil jy ’n ietsie eet?” het sy gevra, maar ek was nie honger nie.
    “Nouja, dan gaan ek maar kamer-toe. Jou pa-hulle moet maar vanaand self sien kom klaar.”
    Die dae het weke geword. Dokter Martin het met ’n vreemde erns gekom en gegaan.
    Pa was bedruk as hy saans huistoe kom en het by Ma gaan sit. My broers en suster het stil hulle huiswerk gedoen. Ek wou nie hê hulle moet my raaksien nie.
    As ons alleen was, het ek by my ma gaan sit en haar hare gestreel.
    “Bid vir my,” het sy gesê.
    Ek was nou die een wat haar gerus moes stel en ek het nie van die omruiling van rolle gehou nie.
    Sop, vleis, jellies, boboties en allerlei tuisgebak het voortdurend by ons huis aangekom. Die draers van die eetgoed het bekende gesigte geword. Onder die bekwame leiding van mevrou Viljee is daar goed gesorg vir die gesin wat so swaar getref is. Sy het haar werk geken, maar daar was ’n leemte binne-in my wat nie deur die kosvoorraad gevul kon word nie. Ek was nog te jonk om net deur goedhartigheid getroos te word en die geskenke van die mense van Rooikraal en hulle gebede kon nie die behoefte aan my ma se arms stil, of my ma se liefde vervang nie.
    Die tyd het verbygegaan. Ek het baie agtermiddae op die stoepbankie gesit en wag vir my ma om gesond te word. In die glimmende hitte het gedaantes van weldoeners verby my gesweef. Ek het my kop weggedraai. Ek wou nie die meegevoel op hul gesigte raaksien nie. ’n Mens se ma gaan nie dood nie. Dit het ek geweet.

*

Hoekom huil my pa in die middel van die nag? het ek gewonder en hoekom hoor ek so baie mense op en af in die gang hardloop en deure wat oop en toe klap?
    “Dis nie waar nie, dit kan nie waar wees nie” ... en my pa wat ek nog nooit hoor huil het nie, huil nou in my droom.
    My suster huil ook en my broers praat sag en sê aanmekaar,“sjuut, sjuut”.
    “Ons moet dominee Basson laat kom”, het ’n nuwe stem gesê. Mevrou Viljee?
    Die deurmekaar gefluister hou nie op nie. Waar is my ma? het ek uitgeroep, maar in ’n droom hoor niemand ooit as jy roep nie.
    In my bed het ek toe myself so klein en onopsigtelik as moontlik gemaak. Ek het my bene opgetrek tot onder my ken. Ek wou nie wakker word nie.
    Net my ma sou my kon help om die onderskeid tussen skrikwekkende droom en nog skrikwekkender werklikheid te maak. Net sy sou my gerus kon stel. En in die donker wou ek wag tot my ma my kom wakker maak.

*

“Kom saam, my kind, jy kom vir ’n rukkie by ons kuier.”
    Mevrou Viljee het my kom haal.
    Nog steeds vasgevang in my eie skemerwêreld waar werklikheid net op die rand van bewussyn huiwer, kon sy my lei waar sy wou.
    Op die houtbruggie het sy my hand in hare geneem.
    Op die skoolterrein het grys gedaantes lusteloos in die hitte van die speeltyd in stowwerige groepies rondgedraal. Hier en daar het gesiglose figure in die klein koeltekolle van die peperbome neergehurk.
    By die roostuin verby het daar, soos ’n landskap wat geleidelik duideliker omlyn word deur die eerste lig van die vroeë môre, ’n beeld in my geheue vorm begin aanneem: dit was my ma met haar fyn voilerok waarop kolletjies kleur verander in verspreide bossies blomme; die ligkring om haar mooi gesig was haar blonde hare wat ligglansend op haar skouers losswaai en in die prentjie wat aldeur duideliker word, het haar oë afgekyk om gerusstellend in myne te lag. Ek kon nie ’n tree verder loop nie. Ek het my hand losgeruk uit mevrou Viljee se hand.
    Rondom ons het dorpsgeluide skielik deurgedring: in die verte het die gelui van die skoolklok die speeltyd beëindig en die gekreun van die windpompe was digby my ore. Die son het warm op my arms gebrand en mevrou Viljee se rok was van skelblou sy.
    In die skroeiende Namakwalandse somerdag was daar geen teken van my ma nie.
    Ek het die verskriklike implikasie uiteindelik begryp. Ek het my oë styf toegeknyp om die trane te keer, maar die vreeslike verdriet het reeds oorgeneem en pyn het later sy eie verdowing geword.
    Toe ek weer van mevrou Viljee bewus word, was haar arms om my en die blou sy was nat teen my gesig. Mevrou Viljee lei my toe meewarig, maar met ’n ferm hand die roostuin in.
    Soos iemand wat lank siek was en huiwerig vir die eerste tree, het ek haar wankelrig van roosboom tot roosboom gevolg. In haar welluidende stem het sy die vreemde roosname soos trooswoorde geïntoneer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.