|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
Terugvoering deur André P Brink
Tweede verslag
Algemene opmerkings by die herskrewe verhale
Ons versameling deur Merle Grace
Lig deur Jaco Jacobs
Kranskop deur François Loots
Gisteraand deur Susan Samuel
Die roostuin deur Hanni van den Heever
Ek is werklik beïndruk deur die deeglikheid, die insig, en die keurigheid waarmee al vyf skrywers die hersiening van hul verhale aangepak het. Dit is duidelik dat hulle nie maar klakkeloos die wenke nagevolg het nie, maar werklik gaan besin het oor WAT hulle wil sê en oor HOE dit die beste gesê kan word. Daar skuil tog waarheid in die ou cliché oor 10% inspirasie en 90% perspirasie; en vir my was een van die kardinale verskille tussen die skrywer wat dit ernstig bedoel en die persoon wat uiteindelik nie die pas kan volhou nie, nog altyd die bereidheid om weer en weer en weer te werk, te skaaf, te beoordeel, te probeer. In hierdie opsig is dit duidelik dat Merle Grace, Jaco Jacobs, François Loots, Susan Samuel en Hanni van den Heever name is wat almal nog vorentoe gehoor kan word.
boontoe
Watter verskil klein veranderings aan n verhaal kan maak, is hier dadelik duidelik. Met die weglaat van die vroeë sin oor die sussie se doofheid, is die verhaal nou uit die staanspoor pakkend. Die styl is nog verder gestroop, wat n dwingende vaart aan die geheel verleen; die gevoel van n onheil wat oor ales broei is behendig volgehou, en die onkeerbare opbou na n klimaks laat die leser nie n oomblik verslap nie. Al wat eintlik nog in n laaste polering gedoen hoef te word, is enkele klein stilistiese versorginkies: die spelling van skilpadjie, die ietwat lastige herhaling in Ons neurie sag ... Ek begin sag huil. En moontlik die invoeging van n woord in die slotsin: Die tuingrafie hang slap in my sussie se hand (Op die oomblik klink dit of die grafie self slap is) wat terselfdertyd n laaste verlammende werklikheid onderskryf. Nog n klein vragie: Juis omdat alles so gestroop is, val dit dadelik op as iets oorbodig voorkom: is daar SIN in dat die eerste paragraaf sê: Ons huis is nou by die pad. Vroeër was dit nie so nie. As die bedoeling is om iets betekenisvols daarmee te belig, kan dit m.i. net n iets skerper geskied. Vir die res kan dit gerus gepubliseer word.
boontoe
Lig deur Jaco Jacobs
n Besondere verbetering van taal en styl maak die hele verhaal veel fyner en skerper. In dié opsig bly net enkele klein stoornisse oor: nog steeds die vraag of die liederlike diep stront gerym kan word met so n vrome, sedige ou mens soos Grace; die herhaling van snags twee keer na mekaar in die paragraaf naby die einde oor die stories wat hulle versamel het, en die suggestie van n cliché in die glimmende engele van dieselfde paragraaf.
Maar die interessante is dat die verstrakking en versobering in die styl, wat vroeër nogal die leser se aandag afgetrek het, nou vir my n paar strukturele probleme opvallender maak: veral die feit dat die verhaal eintlik in twee sleutels vertel word: enersyds die vreemd, bekoorlike, maar tóg ietwat geforseerde komiek van die twee ou vroue op reis (n soort Thelma & Louise meet Arsenic and Old Lace), andersyds die amper-magiese dimensie van hul soektog na, ja na wát??, na n onbeskryflike dieper, anderster iets wat die alledaagse wêreld kan deurstraal met n bonatuurlike lig. Die komiek knabbel eintlik aan die rande van die ernstiger soektog, en maak dat mens dit minder ernstig wil opneem. Maar as die komiek nié daar sou wees nie (m.a.w. as dit maar net twee ou tannies op reis is), ontstaan die vraag of die leser dan genoegsaam geboei sou wees om end-uit te wil lees? Hier sal dus besin moet word oor twee verskillende registers van vertelling: elkeen geldig en bekoorlik in eie reg, maar met n konflik tussen hulle wat tot dusver nog nie opgelos is nie. Behoort daar nie êrens iets meer van n suggestie (maar ook niks meer as net n suggestie) te wees oor die twee se geskiedenis nie? wát het hulle überhaupt op so n rare sending laat vertrek? Is hulle ontsnaptes van êrens? Is hulle sommernet twee wat na n lewe van ordelikheid en ordentlikheid uitgebreek het? Net iets om my as leser aan te anker. En daarin kan dan tegelyk die sleutel lê van die soort lig waarna hulle soek die onverwoordbare antwoord op n raaisel.
Daar is iets opwindends in die vreemde tekens van hulle vondste n soort soek na die geheime agter die oppervlak van hierdie land en sy geskiedenis wat m.i. VERDIEN dat die verhaal weer deurgewerk word sodat dit kan word wat dit kán word.
n Laaste vraag: hoewel ek die vele implikasies van Lig as titel waardeer, wat van Soek as n alternatief ...?
boontoe
Kranskop deur François Loots
Wat n merkwaardige verskil het hierdie verkorting en hersiening nie meegebring nie! Nie net is die sentrale gang van die geheel geweldig versterk deur die manier waarop die motief van die ontsnapte moordenaar nou gehanteer word nie (gelaai met die krag van n metafoor wat al die verteller se vrese en onsekerhede oor en uit sy eie lewe saamvat), maar omtrent alles wat oorbodig en versiersel was, is weggesny om aan die geheel n pakkende noodwendigheid te verleen. Dit lê veral ook aan die styl wat werklik veel beter versorg is as tevore.
Maar juis omdat soveel nou uitstekend is, verdien die verhaal dit m.i. dat die skrywer dit aan nóg n hersiening onderwerp kleiner as die vorige, maar steeds belangrik.
Daar is byvoorbeeld nog n klompie stilistiese lastighede: die gebruik van weens (wat altyd n pejoratiewe wending aandui) waar vanweë of as gevolg van bedoel word; die verwarring wat ontstaan vanweë die dubbelsinnige gebruik van hom in die sin: Moes ek hom sê dat ek al weer in n verhouding is waar ek hom begin verneuk het? (Soos dit staan, kan dit óf die pa óf die minnaar wees wat verneuk is.); die lastige sin: Ek staan stil sodat hy met my reuk kan vriende maak; die te nadruklike uitspel van bedoeling in n tydlose vloei wat my stadskooi opeens nietig laat voel; die lastige stippels in maar ... nou is hier n werkstafel; Verbaas kom ek regop te sit (oorspronklik was dit soveel beter en netter: ... sit ek regop; Die hitte het my in sweet toegedraai (eers was dit beter en nugterder: nat gesweet); die omslagtige: Sluit maar jou deur, raai hy my aan soos hy sy kep weer opsit; (Hierdie soos ...-konstruksie, eintlik direk aan die Engels ontleen, word n paar keer gebruik, elke keer irriterend); die te-veel van: juis dié moeras van onbetrokke betrokkenheid wil ek vir n paar dae ontsnap (afgesien van die on-sin van onbetrokke betrokkenheid!); rivierbed ipv -bedding of loop; Ek deurwerk die huis ...; Ek wys die radionuus van die hand (niemand het hom dit tog aangebied nie!); skierlik ipv skielik; stop ipv stilhou, ensomeer.
Naas uitmuntende inkortings (vgl die kort paragrafie wat begin met: Vroegmiddag is ek by die naambord ...; of die passasie wat begin met: Terwyl ek op die radionuus wag ..., en heelkwat ander voorbeelde), is daar egter ook n paar gevalle waar die herskrywing verswakking meegebring het: Dit was m.i. byvoorbeeld veel sterker toe konstabel Pieterse met hulle eerste ontmoeting net gevra het: Oubaas se winkel? en nie Oubaas de Wet se winkel? nie, want dit het n vertroulikheid en direktheid geopenbaar wat sterker slaan. Terwyl die ski-prent nou sterker gemotiveer is, neig dit tog plek-plek tot n té eksplisiete uitspel van betekenis. Die verteller se nagtelike vrees vir die moordenaar was m.i. sterker toe dit net hy was, en nie die Christiana-boer se moordenaar. En die Wolmaransstad [nie Wolmeransstad nie!] sn nie. Hanna se oorspronklike verwysing na die konstabeltjie het vir my ook meer gewig gedra as die hersiene julle jong mense. Die gebruik van n vraagteken na: Te klein vir Oubaas, een van sy tweede vrou se kinders sn was vir my ook ryker aan betekenis as die blote punt in die nuwe teks (in n kortverhaal, soos in n gedig, is letterlik elke punt en komma belangrik). Naby die einde (en hoeveel sterker en meer gelade is die slot nie nou nie!) vind ek dit jammer dat die vroeëre veelseggende verwysing na Klasie nou uitgebrei is tot: Klasie, konstabel Klaas Pieterse.
Ek vind die hersiening aan die verwysings na die verteller se liefdeslewe oor die algemeen goed gehanteer omdat dit sy karakter en gemoedstemming beter verantwoord; maar af en toe is dit tog effens te veel uitgespel. In die geheel egter, opnuut: n voortreflike hersiening wat die verhaal tot op die rand van publikasie bring.
boontoe
Die versigtige aandag aan die verteller se styl om deurgaans n samespel te verkry van die letterkundestudent en die tog hardegat-en-verlore jong vrou het die verhaal verder verstewig en dit nog meer oortuigingskrag verleen. (n Enkele voorbeeld: Vroeër het n reël gelui: n Mens behoort mos nie nou al agter te kom hoe die res van jou lewe gaan wees nie. Nou lui dit: n Mens behoort mos nie nou al agter te kom dat die res van jou lewe gaan suck nie.) Ek bly beïndruk deur die geleidelikheid waarmee die vroeë kombinasie van speelsheid en moedswilligheid stadig oorkantel in n nuwe kombinasie van verskriklikheid en rustige oorgawe en die manier waarop die hunkering na n eie baaierd (a space of her own ...) soos n grondtoon agter en onder al die ander kom-en-gaan van motiewe op die oppervlak hoorbaar bly. Jeugdige bravade én uitsigloosheid is goed verweef.
Enkele kleinighede sou nog bekyk kan word: ek vind dit nie baie oortuigend dat die water met n kombers vergelyk word nie; die sinsnede haar oë voel asof dit teruggesak het ... sou verbeter kon word tot: dit voel asof haar oë teruggesak het; en die spelling van okey behoort eerder okay te lees. Maar dis werklik nietighede.
Een dimensie wat ek tog mis, is n paar klein, spesifieke, visuele of taktiele herinneringe aan die minnaar: as mens so kwaad is vir iemand (én so lief) dan kyk jy skerp, jy ONTHOU skerp. Mens wil nie te veel hê nie, nie n hele katalogus of uitgesponne herinnering nie, maar net n paar klein flitse wat die leser laat besef: Ja, sy kén hierdie mens; dís hoekom sy hom haat, dís hoekom sy hom liefhet. Dit sal n groter indruk van volledigheid, van gewigtigheid in die verteller skep. Die digtheid van n verhaal lê baie dikwels (gewoonlik?) in wat NIE gesê (hoef te) word nie, ja: maar van daardie onuitgesproke wêreld van belewenis wil mens net die paar klein skerp TEKENS sien wat jou as leser help om die res te vermoed.
boontoe
Die roostuin deur Hannie van den Heever
Deur net die onderdele van haar verhaal te herrangskik, en daarvandaan oorbodighede uit te skakel, het die skrywer hier aan n gevoelige verhaal ook die sekuurheid van n betroubare struktuur begin verleen. Daarom het dit n veel meer afgeronde gevoel as tevore. Daar is m.i. nog steeds heelwat waaraan gewerk kan word (want ofskoon die gegewe as sodanig n kind se eerste kennismaking met die dood op sigself oorbekend is, is daar genoeg belofte van n werklike sensitiwiteit hier om mens te laat glo dat die moeite beloon kan word.
Enkele stilistiese hinderlikhede het oorgebly: Niemand het ooit die uitnodiging durf van die hand wys nie (verskuif durf na ná hand); die beeld van die bye wat gretig gesuig (het) en die los blare versteur (het) sodat hulle grond toe geval het is vir my smaak nog te soet; koeksusters word, behalwe deur Engelse wat nie beter weet nie, met n i gespel; ... daar was n leemte in my wat nie deur die kosvoorraad gevul kon word nie klink ontsettend presieus net soos die verwysing na my eie skemerwêreld waar werklikheid net op die rand van bewussyn huiwer, en die onhoudbare direct statement van Ek het die verskriklike implikasie uiteindelik begryp. En terwyl die slot verstewig is deur die laaste reël weg te laat, beland daardie geïntoneer nou in n beklemtoonde posisie waar dit te hard in die oor kom lê. (Terselfdertyd belig dit n probleem wat vir my aan die vesels van die verhaal vreet, en dit is die TOON waarin die verhaal vertel word. Goed, dit word terugskouend deur n volwassene vertel, maar juis omdat die nuwe sterk openingsin nou dadelik die verteller AS KIND (van nege) voorstel, is daar vir my te min van die oë (en tong) van n kind in die verhaal. Sy word te veel voorgesê deur die volwassene. En daarom mis die verhaal die vernietigende indruk van n KINDERgemoed wat oorweldig word deur die wêreld. Die grootmenstaal bring n afstandelikheid tussen leser en verhaal, wat maak dat dit mens koud laat juis wanneer jy aangegryp moet word. (Aan die ander kant, bygesê, weer dit ook sentimentaliteit uit die teks: maar dit sou ook in n goed gehanteerde kindertaal nog altyd of dalk JUIS onsentimenteel kan bly.)
Terwyl die herskrywing oor die algemeen n indruk skep van n veel hegter greep op die verhaalgebeure, is daar tog ook meermale probleme met die tydshantering: wanneer daar van een moment tot n volgende beweeg word, is daar meermale hinderlike bruggies (Die tyd het verbygegaan ...) in plaas van n skerp fokus op die momente wat werklik ter sake is.
Daar is ook in die hantering van karakters nog onwennighede wat my hinder. Die verhouding tussen die verteller en haar ma kom nie helder na vore nie; dit bly omwaas van sagte gevoelens en bied nie werklik n skerp kyk op die ma as MENS nie. En dit geld ook Mevrou Viljee. Wat WIL die skrywer werklik met haar? Is sy iets van n liefdadige monster? Maar dan wil ek dit veral in die eerste toneel by haar huis SIEN, om die latere deernis amper met skok te sien deurbreek. (En as sy NIE in die begin iets van n monster is nie, wat is dan die punt van die storie???) Die skrywer moet vir haar sélf groter duidelikheid kry oor WIE hierdie karakters is en WAT sy met hulle wíl dan sal die verhaal vanself n meer dwingende en onthullende loop kry. Uiteindelik geld dit ook, en veral, die verteller self. Die skrywer moet haar deur-en-deur kén om te kan besluit WAT die konfrontasie met die dood werklik vir haar gaan beteken, hoe dit haar kyk op die lewe (en op die tuin) gaan verander. Dán kan daar klein, presiese beelde gevind word om dié onheimlike ervaring op so n manier te sê dat dit waaragtig onthutsend NUUT word vir die leser.
Ek glo daar is genoeg aanduidings dat Hanni van den Heever dit kán.
boontoe
|