SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die tweede weergawe van dié storie
Lees die finale weergawe van dié storie

Drie lewens

Ilse van Wyk

Soos elke ander dag stap sy kwart voor ses by die Griek se kafee in. Wanneer hy haar herken sit hy ’n witbrood en ’n pakkie Smarties op die toonbank neer. Sy betaal en draai om na die videospeletjies, wat in die hoek staan.

War Games, wat sy gewoonlik speel, het ’n handgeskrewe papier daarop vasgeplak wat lees: OUT OF ORDER. Sy sug en gooi ’n tweerandstuk in die Adventure Island-masjien. ’n Klein eilandbewonertjie, met ’n pet op, verskyn op die skerm. Behendig stuur sy hom op avonture wat hom oor land, op ’n seereis en deur ’n grot neem.

Die eilandbewonertjie is uitgelewer aan haar: hy spring uit die pad van gevaar as sy die blou knoppie druk en gooi sy vyande met vegbyltjies as sy die rooi knoppie druk, en hardloop vinniger as sy daarna voel.

Sy avonture oor land neem hom verby slange, reuseslakke en totempale. Aan die einde daarvan word hulle beloon met drie duisend bonuspunte. Tydens die seevaart wat daarop volg stuur sy die eilandbewonertjie rondom vlieënde visse, springende seekatte en drywende ysberge.

Sy kon nog nooit die eilandbewonertjie veilig deur die grotfase lei nie, want die vlammende kopbeendere, vlermuise en vallende rotse beëindig gewoonlik sy lewe voordat hulle na die volgende fase van die eilandavontuur kan vorder. Wat lê aan die ander kant van die grot, wonder sy soms, maar nooit vir te lank nie.

Sy speel in stilte, ’n onvergenoegde trekkie om haar mond. Die stilte word net verbreek deur ’n gemompelde “Dêmmit!” wanneer die eilandbewonertjie sy lewe verloor. Daar word darem drie lewens per spel aan hom gegee. Dit is ’n derde van die lewens wat aan ’n kat geskenk word en drie keer meer as die voorreg van ’n mens, dink sy.

Die eiland-avontuur eindig vir haar (en die eilandbewonertjie) met die telling op 70 140 wanneer ’n onverwagte vallende rots in die grot hom verpletter. Dit is soos regtig doodgaan, dink sy, ’n mens gaan maar net dood, en dit omdat iemand, êrens (dalk met opset), die verkeerde knoppie gedruk het. ’n Onvanpaste vrolike deuntjie speel; ’n gelukwensing op die skerm lui: CONGRATULATIONS! THIS IS A NEW RECORD. ADD YOUR NAME TO THE HIGH SCORE LIST. Sy huiwer ’n oomblik en skryf EKKE.

Sy draai om, vat haar brood en Smarties, knik vir die Griek en stap uit. ’n Paar oomblikke later stap sy terug in die winkel in. Die Griek kyk vraend op van sy koerant.

“Een quick pick lotto-kaartjie,” sê sy amper onhoorbaar en plaas die munte op die toonbank. Sy neem die kaartjie en met ’n gemompelde “Dankie” verdwyn sy die nag in.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.