NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Merle Grace is in 1972 in Johannesburg gebore. Sy studeer B Prim Ed met Kuns aan die Universiteit van Stellenbosch en doen later ’n honneurs in Afrikaans by die Universiteit van Port Elizabeth. Sy glo in “magic” en toeval en haar gunstelingseisoen is herfs. As sy eendag “40 and famous” is, wil sy ’n gemmerkat hê.
  Merle Grace
Nog kortverhale deur Merle Grace:

Vlug

Ons het die regte tyd van die jaar gekies. Die bome is nog nie heel dood nie, en die onuithoudbare somerhitte is iets van die verlede. Ons kies weer dieselfde gastehuis as die vorige keer, al glo ons altwee dat dinge gedurig moet verander. Dié gastehuis voel nie of mens in ’n vreemde bed slaap nie. Alles is nuut en vars, die mure wit gepleister en die lappieskombers ruik na lavender en kaneel. Jou asem.

Ek onthou ons eerste byna steriele ontmoeting, asof dit nie deel kan wees van die bed wat ons hier in die middel van die Karoo met mekaar deel nie. Jy gewapen met jou tape recorder en notaboeke. Ek vol drome en ’n naiewe glo dat die opbraaksels van die land se verlede skoongemaak kan word deur die confessions. “You are the only young person here” het hy later die onderhoud mee begin. Hoe lank het jy weggekruip agter die tape recorder? Na twee weke steeds: “Let’s have another interview” asof dit die enigste manier is hoe jy kontak kan maak. Na die eerste paar onderhoude wat jy vir my op disk gegee het, het ek agtergekom dat ek onondervraagbaar is. Die woorde is poëties, daar is baie onduidelikhede omdat dit nie in die jargon van die politiek inpas nie. Asemhalings, sugte, wense, drome. Asof jy nie die woorde verstaan nie.

Jy het by een onderhoud jou hemp uitgetrek. In die mikrofoon gepraat. Koperlyf. Jy het dit geweet. By die deur gestaan en totsiens gesê.

En nou. Nou lê ons weer hier. Die Karoo is vir my ’n skryfplek. Vannaand sal ek my man bel en vir hom sê dat my skryfwerk vorder. Dat my rekenaar nooit af is nie. Jou tabakasem teen my. In die middae stap ons deur die lae bossies. Jy kan praat sonder ’n onderhoudstem. Ons ruik aan die skerp koffiebosse. Groet die mense wat by ons verbyloop. Soms kom loop jy agter my, omdat jy sê ’n vrou se rug is die mooiste liggaamsdeel wat sy het. Jy vryf graag daaroor. As ek skryf in die aande, bring jy koffie en steek ’n sigaret vir my aan. Een wat jy self gerol het. Vroeër wou ek elke sigaret wat jy rol, by jou afneem, dit my eie maak, asof dit die enigste manier is hoe my lippe naby joune sal kom. Nou is dit soveel anders. Soms kan ek dit nie begryp nie. Ons het geen voorwaardes nie, behalwe dat ons mag saamwees as ons in dieselfde land is.

Dis so min, dat mens nooit gewoond kan raak nie. In die aande sonder jou droom ek angsdrome waarin oorloë uitbreek en jy duisende kilometers van my is in jou vreemde land met jou vreemde kultuur. Ek ken elke vlek en sproet op my jeugdige man se lyf. Hy is alles vir my. Hoekom is dit so goed om jóú soms te hê?

In die oggende eet ons by die enigste coffeeshoppe. Spek en eiers, mieliepap. Jou oë is anders as jy by my is. Of verbeel ek my? Die manier hoe jy jou pap eet, laat my dink aan jou hande in die bed, en jou mond wat by my voete begin. Dis asof jy nie jou konsentrasie vir ’n sekond kan verloor nie. Jou stiltes plesier.

Muggies het by die asblik gedrom waar ons vroeër lemoene in die son geëet het. Jy het aan die slaap geraak met ’n boek langs jou. Jou kop op die kussing. Die geur van die kombers in jou in en uit asemhaling. Ek het voor die rekenaar gesit en skryf: Jou wakker probeer skryf. Lewend gemaak. Langs my laat sit. Goed dat jy nie die taal verstaan waarin ek skryf nie. Jy lees soms agter my met ’n vreemde aksent, jou uitspraak lagwekkend, betekenis verlore. Jy sal nooit weet hoe ek jou werklik wou liefhê nie. Hoe ek eenkeer in Praag die klein hotelhandoekie op jou mond wou druk nie. Ek kan jou nie so min sien nie. Het ek toe gedink. En op die lughawe was jy betrokke en kon ek die afstand en die noodlot vergewe. Kan mens twee mense so anders liefhê?

Jy het wakker geword. Lemoene. Ek besig om my naels te knip oor die asblik. Jy het langs my kom staan, my rug gevryf. Ek het jou hand geneem, en begin knip, maar jy het weggetrek. Dis te intiem vir ons begeertes.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.