|
Internet-slet, o internet-slet …Theunis Engelbrecht'n Woord vooraf: Aan die einde van hierdie rubriek is 'n opwindende aankondiging! As jy nie lus is om al hierdie baie woorde te lees nie, scroll net af en lees "Komende attraksies". 'n Melo(die)dramatiese inleiding oor hoekom dit so gevaarlik is om 'n musiekjunkie te weesIn die winter vat ek nie kak van pop-en-rock-musiek nie, want dan hiberneer ek. En in my soort hibernasie wat deur die noodlot aan my toebeskik is, voel ek elke winter soos ‘n verlepte vlermuis wat probeer om in ‘n grafkelder van ys rond te snuffel. Ja, dis die tyd van nie net klippe kou nie, maar ook klippe kraak met jou tande en klippe in formasies van bakstene kak. My staanplek onder son en sterre front suid, met ‘n moerse berg in die agterplaas, en dus is dit hier waar ek is, donker en koud – ‘n bestraffing deur die gode vir al my sondes en vergrype. Daarbenewens het Dr Nirvana onlangs vir my gesê hy voorsien swarigheid vir my. Pop-rock-en-aannaaisels-daarvan (legitiem al dan nie) kan ook ‘n vergryp word. In die winter oordeel ek altyd meer harteloos oor al die CD’s wat ek jol. Want om my vasgenael voor die hi-fi te hou – ek het nie ‘n DVD-tuisteater of DStv nie (Hollywood in jou voorhuis! Teen net R1 000 ‘n maand!) en wil dit ook nie hê nie – ja, om my daar geboei te hou terwyl die bevrore wasem van die dampe van die mummies en lyke in die yskelder so sigbaar voor my opdoem soos die suikerbesprinkelde skuim op die koffie in die Wimpy, en terwyl die skaduwees om my neerplons soos die voetval van King Kong wanneer hy ballet; nee kyk, dan moet ‘n nuwe (of ou) uitreiking DONDERS lekker wees. ‘n Vergryp, ‘n verderflike verleiding. Soos drank of zol of chemiese verdowingsmiddels of hoesmedisyne of wilde seks of tik of gom of die inademing van petroldampe of cocktails, shooters en doubles. Dis hoe dit is (met of sonder Steve) as ‘n mens ‘n volslae musiekjunkie is. Dis hoe dit is: eers ontdek jy die internetslet. Aan die ander kant sit Mammon met snorbaarde trillend van gierigheid en ‘n reukie van bloed in die lug. Sy gesante en dissipels skarrel elke dag soos rooimiere om kliënte te identifiseer op wie daar toegeslaan kan word met verleidelike aanbiedings van lenings en goue kredietkaarte en ‘n kaart-vir-dit en ‘n kaart-vir-dat en ‘n kaart-vir-sien-jou-gat. O, die internetslet is ‘n heerlike een om aan jou te vergryp; sy is ‘n verderflike verleiding op ‘n vlak nog hoër as Angelina Jolie wanneer sy haar lippe pruil. Die internetslet is jou droomnaai. (Ek hoor daar is nou ‘n groep jong Afrikaanse dames wat hulself Rokkeloos noem en sing dat hulle “hard wil naai” … Kan jy nou meer. Nie dat hard ‘n probleem vir die internetslet is nie - sy kan jou so hard deur jou ore naai dat dit harder as 8,1 op die Richterskaal sal registreer.) Op die internet ontdek jy jy kan moeilik-bekombare, skaars en seldsame CD’s teen ongelooflike pryse in enige plek van die wêreld kry as jy ‘n kredietkaart het. So het ek onlangs twee moeilik-bekombare CD’s by Amazon gekry: Nina Hagen Band (1978) en Unbehagen (1979). As ek hulle by ‘n musiekhandelaar in die stad sou bestel, sou ek ses tot agt tot twaalf weke moes wag, en dan sou die CD’s my so R249,95 elk gekos het as hulle uiteindelik hier opdaag. Wel, op die internet het ek albei CD’s gekry vir $9 elk – R54, en dan as posgeld bykom, so R74 of R84 of R94, na gelang van of jy dit met ‘n stadige skip, ‘n vinnige skip of ‘n vliegtuig hierheen laat kom. Ek weet dit is al die mees ooreiste en misbruikte beskrywingswoord in Afrikaans, maar daar is net twee woorde vir so ‘n ontdekking – ongelóóflik, darling. Jy vaar verder op die kubergolwe en voel soos Enrique Iglesias of Joan Collins op ‘n luukseskip vir selebriteite op ‘n vaart na een of ander eksotiese, en boonop eksoties-erotiese (of meer waarskynlik neuroties-erotiese), eiland soos op ‘n poskaart. Die resultaat daarvan, na ‘n paar weke van verslawing aan dié verderflike verleiding? Jy is nie dan arm soos ‘n kerkmuis nie, maar soos ‘n kerkhofrot. Dit beteken ons is weer daar waar die vlermuise breinkanker weens die kweekhuiseffek kry. En steeds sluip die Mammoniete rond met moord in hul harte … Maar watwo, daar is tans sulke ekstraordinêr-spektakulêr briljante CD’s uit dat dit uiteindelik ook ‘n goeie doel dien: die internetslet dwing jou om Spartaans te lewe, en glo my, ter wille van vandeesweek se vier CD’s van die maand gee ek glad nie om om tot payday net blare, tamatiesop en mopaniewurms te eet nie. (Dit wys julle hoe ernstig neem ek hierdie werk op.) En daar is anyway geen beter afweerder van die koue as rooiwyn en musiek nie. Elke CD waaroor hier onder geskinder word, is dubbel tienduisend maal die moeite werd om jou sak (of jou kredietkaart) daarvoor te skud, ongeag die bittere gevolge wat dit mag inhou. (Moenie sê u is nie gewaarsku nie.) Hef dus Hosannas aan, laat blymoed in jul borste opborrel, sing prysliedere,
want vandag is daar nie minder nie as … Vier cd's van die maand:Hulle is (in geen spesifieke volgorde nie): We Shall Overcome – The Seeger Sessions (Bruce Springsteen), Live at Folsom Prison/At San Quentin (Johnny Cash), Songs from Black Mountain (Live) en Pearl Jam (Pearl Jam). Om dit vir julle verleideliker maak om hierdie titels te koop, gaan ons nou gou skakels na die winkel hier aansit. Hier gaat ons. Bruce
Springsteen: We Shall Overcome – The Seeger Sessions
Hierdie CD is nie net CD van die maand nie, maar gaan beslis ook ‘n aanspraakmaker wees op die gesogte titel van CD van die Jaar (jammer dat ek dit nou laat klink soos die opveil van beeste op ‘n landbouskou, of malkoeie op ‘n skoonheidskouspel). Maar alle grappies op ‘n stokkie, ‘n mens wil dit nie waag om byvoeglike naamwoorde te soek om Springsteen se nuwe CD te beskryf nie. Sal my nie verbaas as dit volgende jaar ook ‘n klomp Grammies wen nie. Vir die eerste keer in ‘n lang ruk werk Springsteen weer saam met ‘n orkes – en nee, dit is nie die E-Street Band nie. Hierdie keer is dit ‘n moerse groot orkes wat uit altesame 13 musikante bestaan – onder andere twee vioolspelers, ‘n tromboonspeler, trompetspeler, tuba, banjo, basviool, orrel, trekklavier, saxofoon – en ‘n koor wat skrik vir niks. Daar’s hy, ek het uiteindelik die gepaste byvoeglike naamwoord vir hierdie CD gekry: asembenemend. (Regtig, dit ís so erg, ek oordryf g’n.) ‘n Mens kan die CD beskryf as die Amerikaanse Radio Kalahari Orkes. Springsteen gaan terug na die vroeë roots van Amerikaanse folk en blues en gospel. Die vreugde hiervan is te wonderlik vir woorde. Al die liedjies is donkiejare gelede deur mense geskryf wat arm was en baie swaargekry het (ek dink van hulle dateer selfs terug tot die 1800’s of so iets). Met party van hierdie CD’s kry ‘n mens ‘n halfuur lange DVD wat ‘n dokumentêre kykie bied op die vervaardigingsproses. Jou bek (en na gelang van jou ouderdom straks ook ander liggaamsdele) hang oop, glo my. Die liedjies is almal in vroeër jare (ek weet helaas nie of dit al donkiejare is nie) deur Pete Seeger opgeneem (die ou wat “Where have all the flowers gone?” geskryf het), vandaar die verwysing na Seeger in die titel (ontspan, dis nie Bob Seger nie). Springsteen en sy orkes het die CD in ‘n ou skuur op sy plaas opgeneem. Die skuur is in die allerpragtigste ateljee omskep. Op een plek sê Springsteen vir die koor: “The backing vocals must sound beer drunk and whiskey thirsty, please! Do you want some more beer?” Die spontaneïteit wat ‘n mens op die CD hoor, is aansteeklik verby. Wat my betref, is dit maklik een van die heel beste CD’s wat Springsteen nog ooit gemaak het. Die 13 liedjies hierop is hul gewig en waarde in goud werd. Daar is nie een goor of simpel liedjie op nie, en die hoogtepunte is onder meer “Erie Canal”, “Shenandoah”, “Pay me my money down” en “Eyes on the Prize”. Dit word baie, baie sterk aanbeveel.
Johnny
Cash: Live at Folsom Prison/At San Quentin
Ek het al baie van hierdie twee CD’s gehoor, maar dit nog nooit self gehoor nie, aangesien hulle in onderskeidelik 1968 en 1969 uitgereik is. Van die feit dat albei albums klassieke kultusstatus geniet, was ek ook deeglik bewus, en daarom is dit vir ons almal ‘n groot oomblik dat die vriendelike ooms van Sony/BMG die twee CD’s laat hermeester het en dit nou saam in een mooi boksie verkoop. Altesame 37 liedjies. In die fliek Walk the line is stukke gewys van Cash se optredes by dié twee berugte en gevreesde tronke. So, dit was sy en sy orkes se taak om die klomp tronkvoëls weer ‘n fladdering in hul vlerke te gee (en ek is seker tannie June – oom Johnny se vrou, wat saamsing – het ook hulle ander dinge soos begeesterde vlinders laat fladder.) Om hierdie pragtige doos-uitgawe nog verder onweerstaanbaar te maak, bevat albei CD’s boekies propvol inligting oor die konserte, Cash se notas oor die ervaring, en baie foto’s. Cash sing oor die dinge waarmee tronkvoëls hulle kan vereenselwig: eensaamheid, verlange na familie, die galg, berou, verhale van cowboys wat deur hul vroue seergemaak is en hulle dan daarvoor terugkry sommer deur hulle dood te skiet. (Ja, lyk my die Amerikaners van daai tyd was baie wilde mense.) Maar dis nie net ‘n gewroeg en erns nie, want Cash wissel dit slim af met liedjies met ‘n baie stewige, vrolike skop en waarin hy waarskynlik die tronkvoëls die lekker tye laat onthou – liedjies oor seks, drank, paarties, kokaïen. En dan ook baie teer en romantiese liefdesliedere, soos “Give my love to Rose”. Ook die kommunikasie tussen Cash en die tronkvoëls is baie interessant om aan te hoor. Veral ook wanneer Cash stekies inkry na die bewaarders en tronkowerhede wat toesig moes hou by die konserte. As jy ‘n regdenkende mens is wat by jou volle positiewe en sinne is, sal jy die aankoop van hierdie CD nooit berou nie. Dis iets wat mens eendag saam met jou ouetehuis toe sal vat.
Live:
Songs from Black Mountain
Ek wil nie te woordryk raak oor die laaste 2 CD’s van die maand nie, want julle is seker al klaar net so moeg soos ek. Kyk, jy sal nie verkeerd gaan as jy hierdie befokte CD koop nie. Live is onteenseglik een van die heel grootste rockbands van ons tyd. Daar is nie clichés in hul lirieke nie, hulle wysies is oorspronklik, Ed Kowalozyk se stem gryp ‘n mens en verkrummel aller weerstand met sy vuis in ‘n fluweelhandskoen. Die eerste twee snitte – “The river” en “Mystery” - is met die intrapslag onweerstaanbaar verby en die epiese intensiteit daarvan laat ‘n mens lekkerkry totdat nie net die hare op jou tone twist van lekkerkry nie, maar ook jou hare op ander plekke (leidraad: dink Karen Zoid). En vanaf snitte 3 tot 12 vat hierdie jou CD op ‘n trip wat baie lekkerder is as enige dwelmtrip. En diegene onder ons wat depressief is, kan hierdie CD gerus aanskaf, want dit gee jou op een slag ‘n skop wat dieselfde impak het as ‘n hele maand se antidepressants. Nee wat, kort en klaar: Dis uitstekend.
Pearl
Jam: Pearl Jam
Baie lekker, baie sterk. Gatskop-rock. Eddie Vedder het ‘n stem wat deur murg en been sny; hy brul soos ‘n gekweste leeu. “World Wide Suicide” klap na George Bush met lirieke soos: “Medals on a wooden mantle next to a handsome face that the president took for granted, writing checks that others pay. And in all the madness thought becomes numb and naïve. So much to talk about, there’s nothing to say.” ‘n Ander deurlopende tema is verset teen alle vorme van vervreemding
en verontmensliking in vandag se Mannonistiese wêreld. Die sterkste voorbeelde
hier is die liedjies “Life Wasted” en “Comatose”. Ook
wanneer Pearl Jam dinge rustiger vat, soos op “Parachutes” en “Gone”,
sing ou Eddie so mooi dat ‘n mens sommer ‘n horing kry. Nog songs
wat donners lekker is, is “Severed Hand”, “Marker in the Sand”
en “Big Wave”. Komende Attraksies!Volgende keer: Wie onthou nog daai LP's wat in die 1970's uitgekom het onder die naam Music to make love by? Wel, volgende keer gaan Sound Bites bietjie kyk na lekker musiek om by te naai. Daar gaan waarskynlik ook 'n liplek-lekker kompetisie wees wat monde sal laat water. In progress: Eksklusief vir LitNet, 'n onderhoud met die Duitse sangeres en aktrise Nina Hagen. (Sien "Sound Bites 4".) Sound Bites kommunikeer op 'n tweedaaglikse grondslag met Nina se PA (nee, nie haar pa nie, haar Persoonlike Assistent). Hy sê Ms Hagen is vir die volgende twee weke baie besig met 'n gerondryery en gesingery op allerhande eksotiese plekke, en as sy terug is, sal sy met graagte 'n onderhoud aan Sound Bites toestaan. Die vrae sal waarskynlik per e-pos na haar gestuur word, en die PA het ook gesê selfs wanneer hy die printout met die e-mail-vrae vir haar gee, sal dit haar nog 'n week tot drie neem om te voltooi. NaskrifInnige apologie vir die hiperboliese styl van die opstel hierbo, prof dr Wiesa Wessels-Woudstra!LitNet: 30 Mei 2006
Wil jy reageer op hierdie "soundbite"? Stuur kommentaar aan webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |