Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dié Nina is gewis geen soetjiespoep-ballerina

Theunis Engelbrecht


Nina Hagan

As mens jou uitlaat oor pop- en rockmusiek kry jy soms die eienaardigste vrae van lesers. Laasweek het ek ‘n e-pos gekry van iemand wat hom-/haarself Engelboudjies noem wat my vra: “Mnr Engelbrecht, wie dink jy is die grootste pop-/rock-kunstenaar van alle tye?”

Wel, liewe Engelboudjies, dit spyt my papsopwaternat om jou mee te deel dat dit onmoontlik is om net een te kies, want daar is so baie. En wat maak dit buitendien saak wie ek dink die grootste pop-/rock-kunstenaar, of Afrikaanse kunstenaar for that matter, van alle tye is? Ek is nie Moses nie, net so min as wat ek Daantjie Dinamiet is.

Ek kan wel sê wie vir my een van die mees uitsonderlike kunstenaars van alle tye is. Roffel dus die tromme en blaas die trompette vir …

Een van die uitsonderlikste kunstenaars van alle tye

Sy is ‘n malletjie, nie ‘n makketjie nie. Haar naam is Nina Hagen, en volgens die vriendelike ooms en tannies by Wikipedia is sy 51 jaar oud. Sy is op 11 Maart 1955 in Oos-Berlyn as Catherina Hagen gebore. Toe sy in graad 10 was, het Nina besluit sy het genoeg gehad van skool en die sanger van die groep Biermann geword. Om een of ander onduidelike rede was die groep so wild dat hulle uit Oos-Berlyn geskop is.

Hagen het iets van ‘n kultusgevolg in Suid-Afrika, en baie staaltjies, gerugte, urban legends, wolhaar-, skaamhaar- en skinderstories doen die ronde oor haar. Vir baie is haar roem daaraan te danke dat sy eendag op ‘n regstreekse geselsprogram op Duitse TV ‘n demonstrasie gegee het van hoe sy masturbeer. (‘n Mens kon tot redelik onlangs na ‘n videoknippie hiervan kyk op die webwerf www.ninahagenshrine.com, maar dit lyk of hierdie webwerf intussen toegemaak het.)

In 1987 het die Sunday Times berig dat Hagen met ‘n elfjarige knapie van Yeoville, Johannesburg, getroud is. Aangesien ek in daardie jaar self in Yeoville gebly het, en reeds die vorige jaar danksy die digter Johan van Wyk vir die eerste keer kennis gemaak het met die musiek van Nina Hagen, het dié storie my baie geïnteresseer. (Daar was geen opvolge nie, en nêrens op die internet kry mens enige verwysing daarna nie. Daar was ook gerugte dat Hagen nié met die knapie getrou het omdat sy ‘n pedofiel – of ‘n pedofoes, for that matter – is nie, maar net sodat hy Duitse burgerskap kon kry.)

Nog ‘n storie wat soos ‘n spook in die wandelgange rondsluip, is dat Nina Hagen ‘n operasangeres was, maar dat sy toe punk gedraai het. Ek kan nêrens feitelike bevestiging kry dat me Hagen in operas gesing het nie, maar as ‘n mens so na haar luister, is dit duidelik dat sy opera-opleiding moes gehad het. (Of dalk ook nie … wie sal weet? Mimi Coertse? Nellie du Toit?) En al het Nina baie punk gesing, het sy nie nét punk gesing nie, maar ook in talle ander musiekstyle.

Die vriendelike ooms en tannies by Wikipedia verskaf ook ‘n aanhaling van die resensent Fritz Rumler wat daarin slaag om in een sin ‘n goeie en raak beskrywing van Hagen te gee:

She thrusts herself into the music, aggressively, directly, furiously, roars in the most beautiful opera alto, then, through shrieks and squeals, precipitates into luminous soprano heights, she parodies, satirises, and howls on stage like a dervish.
Dit breek my hart in 1 782 stukkies om die volgende aan julle mee te deel, want dit is diep verontrustend: waar dit vroeër redelik maklik was om CD’s van Nina Hagen in Suid-Afrika te kry, is dit deesdae byna ‘n onbegonne taak. As jy gelukkig is, sal jy hoogstens enkele (dws een of twee) van haar CD’s by ‘n plek soos CD Wherehouse kan kry. Gelukkig is haar eerste solo-album, die uitstekende Nunsexmonkrock, wel verkrygbaar – en ek moet dadelik bysê dat hierdie album in Suid-Afrika verbied is toe dit die eerste keer op LP uitgereik is, waarskynlik weens die album se titel.

Nina Hagen: Nunsexmonkrock (Columbia)
Klik op CD en koop dit nou!

Nunsexmonkrock begin met die liedjie “Antiworld”, wat handel oor die man van Gadara wat van bose geeste besete was en die geeste toe deur Jesus in ‘n trop varke ingedryf is, wat toe rasend weggehardloop het en oor ‘n krans afgestort het (of so iets – my kennis van die Bybel is nie baie goed nie). Die liedjie laat die hare op ‘n mens se arms (en straks ook ander liggaamsdele, soos jou tande) regop staan en me Hagen het jou dadelik in haar greep. En van daardie eerste snit af vat fräulein Hagen jou op ‘n trip wat jou uitasem van opwinding laat. Een van die lekkerste dansliedjies van die laaste dekade van die vorige eeu in die vorige millennium, “Cosma Shiva”, kan ook op Nunsexmonkrock gehoor word. Die liedjie handel oor Hagen se dogtertjie Cosma Shiva, wat toe gebore is, en wie se babastemmetjie ook op die snit gehoor kan word. (Sy het later ook ‘n seuntjie gekry, Otis.)

Ook op Nunsexmonkrock is die oorspronklike weergawe van “Born in Xixax”, wat deur Wonderboom op hul CD Hoekom? opgeneem is. En al is die musiek op die CD eindeloos meer as dansmusiek, bevat dit ook van die beste dansmusiek wat jy kan kry (soos op die snit “Iki Maska”). Daarbenewens is daar ook ‘n liedjie soos “UFO”, wat handel oor transendentale meditasie en ‘n mens selfs sal kan hipnotiseer as jy al ‘n bottel rooiwyn of ‘n paar glase whiskeys agter die blad het.

Die uitgawe van Nunsexmonkrock (1982) wat in Suid-Afrika beskikbaar is, bevat ook vier bonussnitte: twee snitte elk van die albums Nina Hagen Band (1978) en Unbehagen (1979), wat net voor Nunsexmonkrock verskyn het. Ná Unbehagen net Nina die band gelos en net Nina Hagen geword. Van Nina Hagen Band kan gehoor word “TV Glotzer (White punks on dope)”, wat reeds klassieke status in rockdampkringe het) en “Superboy”, en van Unbehagen is daar die allerfantastiese “African Reggae”, wat te wonderlik vir woorde is (en dus nie hier beskryf kan word nie), en “Wir leben immer noch”, ‘n weergawe van Lene Lovich se “Lucky number”.

Wat fräulein Hagen so uitsonderlik maak, is dat sy met elke CD met iets heeltemal nuut vorendag kom. Sy maak musiek wat haas onmoontlik is om te definieer: sy is nie ‘n kunstenaar wat jy in ‘n boksie kan druk en etiketteer nie. So het sy ook al ‘n hele album met Oosterse en Indiese musiek, Om namah shivay! (1999), en dit is soos ‘n religieuse en mistieke ervaring om daarna te luister – ‘n groter ervaring as wat jy in ‘n kerk kan kry. Haar album Freud Euch (1995, ook in Engels beskikbaar as Beehappy) is, aan die ander kant, weer volbloed-punk en op plekke selfs metal. En op haar jongste CD, Big Band Explosion (2003), doen sy saam met die Leipzig Big Band weergawes van ou treffers soos “Sugar Blues”, “I want to be happy”, “Somewhere over the rainbow”, “Fever” en “Love and Kisses”.

Benewens die genoemde CD’s het daar heelwat ander albums van Hagen verskyn, waarvan die meeste onverkrygbaar is in Suid-Afrika (kry dus ‘n kredietkaart en besoek Amazon.com!): Fearless (1984), Ekstasy (1985), Punk Wedding (1987), Nina Hagen (1989), Street (1991), Revolution Ballroom (1993) en Return of the mother (2000). (Op die eerste snit van Revolution Ballroom kan Desmond Tutu ook gehoor word!)

Ek is grensloos mal oor al fräulein Hagen se CD’s en hulle sal almal beslis eendag in my ouetehuistassie gepak word. Een van my grootste gunstelinge, however, is Nina Hagen (1989). Daarop sing sy Janis Joplin se “Move Over” op ‘n manier wat Joplin self na ‘n makketjie laat klink. Sy sing ook “Viva Las Vegas” en “Ave Maria” soos wat niemand anders dit nog gesing het nie. Die produksieleier van dié album was Zeus B Held (dis interessant om te merk dat Hagen vir elke nuwe CD ‘n ander produksieleier gebruik).

Benewens die hele Nina Hagen-CD is daar ook heelwat juwele op haar ander CD’s. Haar volspoed punkweergawe van Frank Sinatra se “My Way” op Ekstasy laat Fokofpolisiekar soos katkisante klink. Die liedjie “So Bad” (waarop Desmond Tutu gehoor kan word) op Revolution Ballroom is ook een van die mees meesleurende en opruiende protesliedere in die wêreld van rock.

Miskien is dit nou gepas om Nina Hagen self aan die woord te stel uit die aantekeninge in die CD-boekie van Big Band Explosion, want dit gee ‘n goeie idee van hoe haar kop werk:

I admired music so much: all those wonderful singers like my mom, Mahalia Jackson, Ella Fitzgerald, Hildegard Knef, Zarah Leander, Ann-Margret, Elvis Presley, Lotte Lenya, Louis Armstrong and hundreds of records like “My Fair Lady”, “Can-Can”, “Porgy and Bess”, “West Side Story” and Brecht/Weill … No matter if it was in German or English, Sanscrit or Russian, I have totally opened up to music, the singing, the rhythm, the melodies, the deep, high, funny and sqad lyrics. Of course I love Rock & Roll, Reggae, Funk and Punk, Pop and HipHop-Music, Goa and Trance, Musical and Opera, classical Indian music and all kinds of other kinds of music and singing just as much! … Jazz & Swing and Blues and Rock and All There Is!”
En met dié woorde sê Nina Hagen presies wat mense wat haar musiek nog nie ken nie, daarvan kan verwag. Dis ‘n skop in die knaters. Dis ‘n mindfuck.

En ons almal weet mindfuck-musiek is van die lekkerste musiek wat daar is. As jy Nina Hagen nog nie ken nie, sal jy nie ‘n fout maak as jy Nunsexmonkrock aanskaf nie. Dis ‘n tydlose en klassieke album – soos al Nina Hagen se ander werk ook is. Nina is gewis geen soetjiespoep-ballerina of kermgat-konsertina nie. Sy is een van die mees uitsonderlike kunstenaars van alle tye. Regtig. ‘n Dinamiet-diva as daar al ooit een was. Met daai stem van haar kan sy alle soprane in die Stille Oseaan in sing. En dit is nou wragtig nie altemit nie.



LitNet: 3 April 2006

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.