|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Chinese MedicineLiezel van BeekAnton se kraag vat taai aan sy nek. Sy oë sukkel om te fokus. Daar was net tyd om sy gesig in die kombuiswasbak af te spoel en vir ‘n vergete restaurant-peperment in sy sak te vroetel om sy asem te begrawe. Die badkamer het hy eerder vermy. Te bang om uit te vind wat miskien nog daar vir hom wag. Hy weet dat gisteraand se tequila en wie weet wat nog binnekort weer soos ‘n slegte gewete sal deurslaan. “Fok, wat het ek gedoen?” Al wat hy duidelik van die vorige aand onthou, is die beeld van sy eie wilde oë in die badkamerspieël. En die rooi. As hy tog net kon onthou wat die Chinese medicine was. Sy aktetas met die vliegtuigkaartjie lê nog net so op die agterste sitplek
soos hy dit die vorige middag ná werk oorgeskuif het om vir Apple sitplek
te maak. Hy moes geweet het waarin die één bier sou uitdraai.
Hoekom het hy nie maar direk huis toe gegaan en vir sy voorlegging voorberei
nie. Daardie meisie beteken net moeilikheid. “Just for a while –
it’s my birthday,” het sy bly soebat. “Come on! And then you
can meet Dave. He’s also a teacher like me, you know. Maybe it will be
good for you to meet some people.” Die verkeer kruip oor die agtlaan-hoofweg tussen Hsinchu en Taipei. Anton se kop is ‘n draaikolk herinneringe. Hy dink aan Apple met haar groot glimlag en die fyn handjie wat elke keer mond toe skiet as sy lag vir haar eie kinderagtige grappe. En haar gietswart hare wat soos kwik om haar kop beweeg as sy haar skraal skouers saam met die ritme van die Sjinese popmusiek op sy motorradio wieg. Anton moet ‘n galsmaak in sy slukderm terugdwing toe die beeld by hom opkom van haar oop mond, bevlek met … bloed? Het sy gelag of gehuil? Was haar oë bang of uitdagend? Hy kan nie onthou nie! Uit die mure het gesigte gebult wat met wrede s-vormige wenkbroue jouend en skertsend na hom gegryp het. Die vreemde mense in sy huis, almal met skrefiesoë soos Apple, het dieselfde onverstaanbare frases in ‘n staccato-taal na hom gespoeg, en gelag as hy bedroef sy skouers vir hulle ophaal. Die bande skree en die motor ruk toe Anton die rempedaal hard intrap om nie in die luukse toerbus voor hom vas te ry nie. “Jy moet begin konsentreer as jy lewend vir jou laaste dag by die werk wil aankom,” raas hy met homself.
Buite het die verstikkende somerbedompigheid dadelik in die plooie van sy nek kom lê. Toe voel hy dit vir die eerste keer. Dis nie hý wat duiselig is nie, dis die aarde wat onder hom beweeg. “Fuck! That was a big one,” sê iemand skuins agter hom met ‘n Sjinese aksent. “ ’n Aardbewing. Natuurlik!” snap hy dit vir die eerste keer self hardop. Toe hy omdraai, smelt sy woorde weg saam met die skool Taiwannese wat gretig weer kroeg toe drentel. “Your first time?” kom ‘n stem dié keer van skuins voor hom. Sy is ‘n kop en ‘n half korter as hy, met oë wat skater agter slierte blink hare wat in ongelyke strome van haar kroontjie tot net onder haar skouers val. “Is it your first time?” vra sy weer. Met sy duim voel hy dat die vel in die mik langs sy trouring sag geword het. Hy huiwer vir ‘n oomblik voordat hy ongemerk die ring afkarring en dit in sy broeksak laat glip. “I mean, your first earthquake in Taiwan?” kom die verduideliking. Voordat hy kan antwoord, lei sy hom geselsend aan die arm terug na ‘n tafel in die hoek van die kroeg, waar die skerwe van ‘n bierbottel deur die kroegmeisie se besem misgekyk is. Hy’t nie Taiwan toe gekom om mense te ontmoet nie. En hy’t gedink dat hy vir eers genoeg gehad het van vroumense. En hulle duidelik van hom. Maar miskien is dié lieflike Apple net die regte medisyne vir daardie dowwe, knaende pyn in sy binnegoed.
Aanvanklik het haar borrelende kinderlikheid hom geamuseer. Hy is selfs nou
en dan onkant gevang deur die gedagte dat hy miskien vir haar begin omgee. Maar
iets het verander. ‘n Onderliggende irritasie het begin ontsteek en ‘n
dieper wond aangetas. ‘n Gevaarlike roof wat liewer nie afgekrap moet
word nie. “We’re all going with you!” Sy spring op, haak by hom in en vryf haar kop teen sy arm. “We won’t stay long. Dave’s got something naughty to smoke and maybe another surprise. And your place is perfect. Pretty please?”
Apple en die Amerikaner sit styf teen mekaar en is met iets intens delikaat op die koffietafel doenig. Dan stap sy deur ‘n gordyn rook na hom toe, verdiep in die konsentrasie wat dit verg om die stukkie karton so groot soos ‘n moesie op haar wysvinger te balanseer. “Here, swallow this. You can only find your way home once you’ve lost yourself,” rammel sy in ‘n ritueelstem af. Anton kyk op sy horlosie. Dis elfuur, darem nog lank voor môre. Dan steek hy sy tong uit sodat Apple haar vinger kantel en die offergawe daarop neersit. ‘n Onbepaalde tyd later begin Anton ‘n effense ongemaklikheid in sy gewrigte voel. En toe, skielik, gaan sy kop oop. Vroeër se dronk dofheid is weg en die donkerte se dimensies verdriedubbel elke paar oomblikke. Uit die kombuis skyn die lig soos die son van ‘n ongekende sterrestelsel. Die silhoeëtte van die mense in sy woonstel lyk een oomblik soos die buitelyne van kinders en die volgende soos die skadu’s van monsters, kwynend agter die wierookspirale wat bo die koffietafel wriemel. Apple plons uiteindelik langs hom op die rusbank neer. “So, how does it feel to have new eyes?” sê-vra sy terwyl sy oor sy harige voorarm vryf. Die sensasie van haar vingers oor sy harigheid laat hom én haar skielik ril van ‘n onverwagse mengsel plesier en gril. Maar in ‘n warrelwind fladder sy weer terug na die ander kant van die vertrek.
Hy moet konsentreer op die voorlegging. Die spieël in die hysbak is gekraak en iemand se sigaretwalms verklap ‘n onlangse teenwoordigheid. ‘n Pyl van paniek skiet weer na sy hart toe hy dink aan daardie woedende oomblikke voordat die donker, geheuelose gat intree.
Hy hoor weer die gebulk. Tot hy besef dat die bul binne hom is en besete die mure van sy binnegoed storm, op soek na ‘n ontsnaproete. Deur ‘n skreef in die deur sien hy hoe Apple verleidelik in die Amerikaner se oor fluister en aan sy broeksknoop karring. Dit kan nie wees nie! Dit voel asof hy ‘n tydsprong na die verlede gemaak het. Sy bedolde kop sukkel om te onderskei tussen wat hy sien en wat hy onthou … Kaapstad presies ‘n jaar gelede. Die déjà vu loop hom winduit, en hy voel of hy wil braak. Die roof is uiteindelik afgeruk en die medisyne wat die wond moes genees, het gif geword. Anton storm die badkamerdeur met sy skouer oop. “Neeee!” bulder hy vir sy eie gesig toe hy amper in die spieël vasloop. Hy kan die bul nie meer keer nie. Hy draai na Apple wat hom verskrik aanstaar. “Hoekom? Hoekom, Anja? Nee! Neeeeeeeee!” skree hy terwyl hy op haar afpyl.
Nog vyftien minute. Hy besluit om vir ‘n oomblik buite te staan voordat hy ingaan. Hy kyk om hom na die miernes mense en geboue. Hy wonder of hy dit sal mis. Taiwan was bloot ‘n wegkomkans. Maar van sekere dinge kan jy nooit heeltemal ontsnap nie. Langs hom gorrel en proes ‘n ou man en spoeg ‘n bloedagtige blerts op die sypaadjie. Bienglang. “It help you get wake-up and strong. You can try. It’sa Chinese medsin,” het die taxibestuurder op die lughawe destyds met ‘n vrot rooi mond in gebroke Engels gesê en vir hom die boksie kruieneute met ‘n foto van ‘n halfkaal meisie daarop aangegee. Die soet reuk het hom naar gemaak, en hy het dit net onder die sitplek laat val. Gisteraand se rooi was bienglang. Anton sug verlig. Sy sal orraait
wees. Hy stap deur die outomatiese deur en meld hom by ontvangs aan. Hy glimlag
vir die meisie en soek vir nog ‘n peperment in sy sak.
Lees Liesel se eerste weergawe
Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |