SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Die Laaste Maal

Kate Bester

Sy sit in die gang voor die psigiater se deur. Die skerp naalde van die potplant, skoonma-se-tong, vang die flou lig wat deur die vuil venster val. Die plant moet water kry. Sjoef-sjaf hoor sy die eetkamer se kombuisdeure oop- en toegaan. Die gekletter van messegoed is skerp in die stilte. Sy kyk na die ronde horlosie teen die muur. Twintig voor twaalf. Sy is nie honger nie. Sy sal vandag weer haar kos op die bord rondskuif en deurmekaar krap. Sy is nooit meer honger nie.

Die deur gaan oop. Die psigiater vra haar om binne te kom. Hy skuif agter sy lessenaar in. Sy swart-grys hare en baard is ewe deurmekaar. Hy stoot sy bril terug op sy neusbrug. Hy het 'n bont katoenhemp aan. Sy veelkleurige kruisbande hou die denimbroek liggies oor die boepmaag. Hy glimlag vir haar en vra hoe dit gaan. Sy sê goed en steek 'n sigaret aan. Hy skuif 'n Prozac-asbak na haar toe.

Hy vra haar of sy beter slaap en hoe vind sy die medikasie. Sy is gatvol vir als, wil sy sê. Sy ken die vrae en die antwoorde uit haar kop, wil sy sê. Sy kyk hom aan en sê sy is gatvol. Hy lag en sê dat sy dan gesond is, nie waar nie? Sy val nie vir die set nie. Sy neem lankal nie meer die anti-depressante nie. Wanneer die suster die kapsules vir haar bring, stoot sy hulle in haar kies en sluk die water versigtig. Sodra die suster omdraai, haal sy die koeëltjies kapsules uit, draai hulle in 'n snesie toe en spoel dit in die toilet af. Drie keer per dag.

So, sê die vriendelike dokter, jy sê jy het nooit weer gehuil nie?

Sy kyk na haar hande op haar skoot en die yl spiraal rook uit die sigaret. Sy leun vooroor en druk die sigaret op die O van Prozac dood. Sy sug en klem haar tande opmekaar.

Sy het eendag nie opgestaan nie. Sy het net bly lê. As sy haar oë oopmaak, was dit donker om haar en 'n speldekop liggie iewers ver. Sy weet nie wanneer dit dag of nag is nie. Soms bad sy en sit hoe lank in die water tot sy koud kry. Soms was sy haar hare en vergeet om dit te kam. Soms gaan sy toilet toe om te pie maar kan dan nie onthou dat sy gevoel het sy pie nie. Toe kom Ilse, wat saam met haar werk, met proewe by haar aan. Kyk watse kak het jy geskryf!

Girl you've been fucked for too long maybe it's time

once

mind problem

Del. Esc. WeerX eers Esc. Dan Del.. I hate my life I wasn't born I was dropped netso uitgelewer haat mense Esc. Del. Kry nie asem nie en ou herinneringe en vertwyfeling sak oor my soos 'n swaar seemis fok en heelnag dreun die branders en nêrens fok is 'n haven om te landen
Dis Ilse wat haar dokter toe geneem het. Hy het haar een kyk gegee en gevra sonder om te gaan sit, en nou? Toe sê sy sy het nou net 'n bier gedrink by die whistle stop café hier langsaan. Hy kreun. Toe gaan sit hy. Dis die Hardrock, mompel hy terwyl hy skakel. Toe bring Ilse haar hier na die kliniek toe waar almal soos zombies sit en slaap of lê en slaap. Die psigiater het paaiend met haar gepraat van ver af en toe bring die suster die spuitnaald en toe verloor sy drie dae. En toe die pille en hierdie fokken geselsies met die dokter met die kruisbande. Met die eerste sessie sê hy vir haar sy is depressief en weet sy wat dit is? Sy vra watter een en ja, sy het Sielkunde 111. Toe teken hy vir haar 'n swak prentjie van sinapse en verduidelik soos vir 'n kind. 'n Week later wou hy weet wanneer laas sy gehuil het.

Die laaste keer toe ek gehuil het, was toe ek my seun uitgedruk het.

Dit was op 'n Saterdagmiddag om vieruur. My dokter het vir die vierde keer met sy gholfklere aan tussen my opgetrekte knieë gestaan en gesê agge nee, nou moet die baby kom! Ek en jou broer is amper by die 19de putjie en jy lyk vir my nes 'n toegeeteken toe ek eenkeer van Stellenbosch af gehike het. Iemand het 'n ondergaande son in die mik geteken. Nou lyk jy vir my nes daai toegeeteken se mik - die son kom op en die son gaan onder en niks gebeur nie.

Terwyl hy praat, berei hy 'n spuit voor en sy voel vaagweg die steek in haar dy.

Sy dink aan die ure wat sy nie getel het nie en besluit haar broer en hierdie kommin dokter sal hulle whiskey voor sononder drink en sy druk. Champion! skree die dokter en dit woel en vroetel tussen haar bene en die pyn breek haar brein. En toe lig hy die seuntjie op. Toe huil sy. Toe huil sy saam met die bloederige, glibberige dingetjie-mens. Haar sol y sombra! Haar son! Haar Solly! En sy huil en sy bid my god moet my nie verlaat nie en sy druk die nageboorte met die dokter se hand op haar buik uit. Hulle wil haar kindjie sommer weer wegvat. Sy huil nee nee los hom hier op my hart! Sy huil en huil … die psigiater maak die deur oop en roep 'n suster.

'n Week daarna vra hy haar weer of sy kan onthou wanneer sy laas gehuil het.

Die laaste keer toe sy gehuil het, was toe sy skadu's teen die muur gesien het. Hulle het gebukkend gehardloop in kamoefleerdrag met helms vol takke en blare op hulle koppe en vuur wat voor uit die geweers sproei. Elkeen het die laggende gesig en lang gespierde bene en bruingebrande hande van haar seun. Met al die angs en woede en pyn wat sy ervaar, het sy hulle besweer en weggedwing. Toe sien sy dis die kers se vlam wat haar op die mure namaak. Sy het die kersvlam met haar plathand gesmoor en gehuil my god, my god, laat hierdie oorlog by hom verbygaan!

En hier kom dit nou weer. Kan jy onthou of jy daarna weer gehuil het? Miskien een maal?

Sy voel die mure om haar invou en haar hart marsjeer op die ritme van kanonvuur. Sy draai haar palms na bo op haar skoot en vou dan haar hande willoos inmekaar. Die psigiater leun vooroor om beter te kan hoor.

Die laaste maal, vertel sy laggend, was toe die pakkie van die weermag ses weke na sy begrafnis opdaag. Sy het dit geskud en los goed binne gehoor. Toe skeur sy die vaal papier af en vou die kartondosie oop. 'n Mes. Dogtags. Sy horlosie. Twee briewe van haar. Sy Bybel. Sy lig die horlosie uit. Kyk na die glas oor die wyserplaat. Dit is gekraak. Donkerbruin strepe verberg die gesig. Sy lek dit met haar tong skoon en sien die tyd staan op twintig voor twee. Aan die kante van die gesig is harde, swart stukke gemors en tussen die skakeltjies.

My God! My God! Jy het my verlaat! Toe eet sy alles met tong en tande en spoeg en trane skoon.

Dit was die laaste maal, lag sy en vou haar hande oor die bloederige, vet-glibberige dingetjie-mens op haar hart.



LitNet: 01 November 2005

Lees Karen se eerste weergawe
Lees wat ons inwonende skrywer, Marita van der Vyver, te sê gehad het oor haar eerste weergawe
Lees wat ons inwonende skrywer, Ingrid Winterbach, te sê gehad het oor haar eerste weergawe

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.