|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Rit na OmdraaiDouwlina du PlessisDie vaal mannetjie in haar passasiersitplek sou net dít gewees het. 'n Vaal, onindrukwekkende individu met ligblou oë, ligbruin hare en 'n olierige vel. Die sieklike bleek kleur van 'n blas gesig wat lanklaas in die son was. Maar hy is nie vaal nie. Vaal mans is nie gevaarlik nie. Grys mans is. Grys soos donderwolke of 'n gewonde olifantbul. 'n Grys man in 'n blougrys hemp wat skif net bokant die wit hand wat om die groot pistool klem. 'n Grys man spring by die verkeerslig in jou motor en beduie met 'n pistool vir jou om te ry. 'n Dun straaltjie sweet loop tussen die yl hare teen sy slaap uit, dam op in die plooitjies om die ooghoek. Hy vee dit met sy vry hand weg. Aan die binnekant van die pols is 'n blou tatoeërmerk. Die twee en die agt staan hand aan hand. Onder sy arm maak sweet 'n donker vlek op die hempsmou. "Ry!" beveel hy skor, asof sy stembande ongewoond is aan praat. Sy is vreemd kalm. Dalk is hy die antwoord op haar probleme. Hy en sy te groot pistool en sy wit desperate snellervinger. Sy kyk in die koue grys loop van die pistool wat sonder bewing sekuur op haar bors gerig is. Haar kanse op oorlewing sal minder wees as hy die pistool net so effe meer na links hou. Sodat die grys loodpil deur die aaklige grys massa in haar linkerbors tot in die hoofkamers van haar hart kan gaan. "Kyk waar jy fokken ry, bitch!" Iewers agter haar toeter 'n motoris 'n salvo verontwaardigde klanke in die stoomwarm vyfuurverkeer. Sy moes teen 'n rooi verkeerslig oorgesteek het. Sy kan nie nou bekostig om 'n ongeluk te veroorsaak nie. Sy moet nog uitwerk hoe sy die situasie ten beste kan gebruik. Sy grinnik. Arme loser soek toe haar motor uit. Sy was so diep ingedagte dat sy hom nooit gewaar het voordat hy en sy pistool nie hulself 'n deel van haar lewe kom maak het nie. Gerhardt raas altyd omdat sy nie haar sentrale sluitstelsel gebruik as sy ry nie. Vandag het sy nie 'n snars omgegee nie. Die mannetjie sien haar siniese glimlag. Hy meet haar, som haar op met oë vol vrae. Sy kan die emosies in sy oë nie lees nie. Gevoelens swem onder hulle oppervlak, breek net-net nie deur nie. Angs, haat, woede. Wat nog? Hartseer? Weemoed? Liquid is al hoe sy dit kan beskryf. Sonder ware vastigheid of fokus. Liquid Gold was die geur wat sy aangespuit het voordat sy haar trourok oor haar kop getrek het. Stefan se geliefkoosde parfuumgeur. Warm spesery- en houtgeur. Iewers in haar kaste lê 'n halfvol bottel en vertaai. "Waar kom jy vandaan?" Sy moes die vraag hardop gevra het, want sy blik verskerp, sy oë vernou in skielik gefokuste venyn. "Sjarrap, bitch!" "My naam is Marteld." Of Martelgat, dink sy agterna. "Asof ek fokken worry." Hy dink seker sy wil probeer bond sodat hy haar nie sal beseer nie. Hulle sê mos dit is moeiliker om iemand dood te maak as jy sy naam ken. Iets soos die Stockholm- effek, waar die ontvoerder en die gyselaar so 'n band vorm dat die gyselaar later sy teisteraar verdedig. Sal hy van so iets weet? Dalk moet sy hom sê dat sy juis besig was om te besluit hoe om selfmoord te pleeg sonder dat die assuransiemaatskappye lont sal ruik en uitbetaling van haar jongste polisse weier. Hy vroetel met die kontroles van haar radiokassetspeler. Spring van stasie na stasie met die druk van 'n knoppie. Waarskynlik soekend na 'n noodberig. "… ontsnap uit die Zonderwater-gevangenis. Die publiek word gewaarsku om hulle onder geen omstandighede te konfronteer nie. Hulle is gewapen en word as gevaarlik beskou. Hulle het in 'n gesteelde voertuig in die rigting van die N1 Noord gevlug. Hier volg die besonderhede van die voertuig …" Hulle luister in stilte na die beskrywing van die rooi Tazz, maar voordat die foonnommer van die ondersoekbeampte genoem kan word, skakel hy oor na die kassetband. Haar selfoon begin melodieus lui in die tone van "Lady in Red". Gerhardt het dit vir haar via die internet op die foon geplaas. Klein, dierbare dingetjies wat haar kind vir haar doen. Halfwas man met 'n drie-dae-stoppelbaard, onmoontlik aantreklik. Komplekse kind-man vol ongeduld. Meestal teenoor haar, maar soms sommer teenoor die hele wêreld. Iewers in sy tienerjare het die naelstring tussen hulle in voetboeie verander. "Skakel af die ding." Hy slinger die handsak op haar skoot. Sy krap blindelings met die linkerhand in die sak, vat die foon raak en druk dit op meeting. Nou sal die foon boodskappe neem sonder om te lui of te sê dat sy nie beskikbaar is nie. Haar kind sal nie bekommerd raak nie. Sy het hom altyd eerste gestel. So dikwels en vir so lank dat hy dit nou as vanselfsprekend aanvaar. Geen rede om nee te sê as daar genoeg is om te gee nie. Dit is net dat genoeg nou, later te veel word. Juis nou dat haar kind volgende jaar wil universiteit toe. Nou dat dit lyk asof hy na twee jaar se rondval na skool uiteindelik wil rigting kry. Die onkoloog het bo-oor die klein brilletjie op sy neus geloer. "Hurt, anger, loneliness, resentment is die vier bene waarop kanker graag groei." Sy oë was vaderlik streng. "Marteld, jy sal wragtig moet na jouself begin kyk. Hoe lank gaan jy nog wegkruip in jou werk?" Sy het begin huil. Toe hy sy hand op haar skouer sit, het sy stil weggedraai, onmagtig om sy teerheid te hanteer. Dit sou haar meer laat huil. Haar swak laat. Dit sou sy nie kon hanteer nie. Sy het byna van die man langs haar vergeet. Skrik half op toe hy skielik praat. "Links by die robot." "Wat het van die rooi Tazz en jou vriende geword?" "Fokkol met jou te doen." Sy haal haar skouers op. Hy is seker reg. "Die vuilgoed wou my drop. My vrek maak. Vier jaar terug. Standard Bank Rouxstraat. Vier miljoen. 'n Miljoen elk. Toe skiet Spyker die security en die ou se tjom skiet na Spyker, maar ou Ferdie is in die pad. Ek bokkerof met die geld en hulle skiet hulle pad oop. Twee anties ook gone saam met Spyker en die security." Nee, nie net gone nie. Tannie Mart Ferreira het drie dae in Intensief gelê en veg vir haar lewe. 'n Mooi foto van 'n gryshaarvrou tussen kinderhuiskinders vir wie sy geld bymekaar gemaak het met haar gebak op die voorblad van die tuiskoerantjie. Geld vir 'n week by die see vir die kinders wat nie na vakansie-ouers uitgeplaas sou word nie. Dieselfde koerantjie wat haar na haar dood beskryf het as 'n begaafde vrou wat pastelle van haar lui vet Persiese katte op vlooimarkte verkoop het, maar vir spesiale vriende as geskenke gegee het. Nee, niemand is ooit net weg nie. "Toe is dit moord by. Roof met verswarende omstandighede. Die pote skep ons. Ek hou my bek dig. Vat die rap eerder as split waar die geld is. Toe Spyker 'n break maak, vat ek en Pottas die gat agter hom aan. Ek dog ons is pêlle. Kry daai geld uit. Iets warn my en ek bekruip daai twee waar hulle vir my en die geld wag. Hoor hoe hulle scheme om my te blaas. Die res is history. Ek spring by jou in … whalla …" Hy klop besitlik teen die leersak by sy voete. "Die rooi Tazz ...?" "Die drywer was net so 'n nosy bitch soos jy. Toe blaas ek haar." Sy ken 'n man wat lieg. Sy't genoeg ondervinding daarvan. Die oë wat skielik flikker, pupille wat effe verwyd, dan kom die oë terug na joune en kyk jou net te vas aan. Hy wil haar beïndruk, nie bang maak nie! Die besef kom lê soos weemoed in haar. Hoe moes hy grootgeword het om te dink dat moord 'n vrou kan beïndruk? "Die ander twee is nog in die Tazz." Hy klink moeg. Daar is nie geld vir die kind se opleiding nie. Sy gaan haar huis en die spreekkamer verloor. As die bankbestuurder hoor van haar siekte, sal hy onmiddellik laat beslag lê op haar vaste eiendomme om haar oortrokke rekening te kan delg. Dan het sy nie eens 'n blyplek vir haar kind nie. As sy saam met haar onwelkome passasier verongeluk, sal die polisse uitbetaal en haar kind sal sy studies kan voltooi. Of sy moet hom sover kry om haar te skiet. Sy weet eintlik al lankal van die knop in die bors, maar daar was eenvoudig nie geld vir die mammogram nie. Haar seunskind het sonder lisensie bestuur en in 'n ander motor vasgery. Sy skuld. Sy het betaal, al kon sy eintlik nie finansieel daarby uitkom nie. Sy moes sy rekord sonder 'n kriminele klag hou. Dit is moeilik genoeg om vandag werk te kry. Sy het stom voor haar veel ouer kollega gestaan ná die mediese ondersoek vir die groter polis wat sy wou uitneem. "Hoekom?" Maar sy kon nie praat nie. Die trane was verraaiers. Later, kwaad vir haar eie swakheid, het sy steeds stom weggery met 'n verwysing vir 'n rekenaartomogram in haar handsak. Soms laat in die nag wonder sy of sy nie die kind diep in haar hart kwalik neem vir alles wat sy vrywillig vir hom opoffer nie. Wat sal haar bedorwe brokkie doen as hy uitvind dat daar nie geld gaan wees vir duur label-klere nie? Dat hy saam met haar sal moet gaan bly in 'n klein meenthuis eerder as in die groot huis teen die koppie. Nou het die kanker in haar bors en 'n grys, desperate man in haar motor alles verander. Die Bad Boys Blue vul die stilte in die motor. Hello Darkness my old friend, I have come to talk to you again … Nie toeval nie. Haar favourite. Sy speel die ding oor en oor. Eers die tyd na haar egskeiding en nou weer. Selfbejammering, besef sy skielik. Jy het verkeerd gehoor, Marteld. Totaal verkeerd verstaan. Oh shit, oh shit, skielik twyfel sy of sy wil doodgaan. Die sielkundige het gesê jy moet leer om jouself weer lief te hê. Liefde is nie jammerte nie. Dalk het sy haarself tog lief. Haar selfoon begin flikker op die paneelbord waar sy dit neergesit het. Dit pols haar seun se naam in stilte na haar. Sy sien die bekende boodskapkoevertjie op die skerm verskyn. "SMS." Sonder om op toestemming te wag, tel sy die foon op en lees die boodskap. Twee beertjies verskyn hand om die lyf. Onder hulle lees die boodskap: Side by side, or miles apart … you are one special person … who will forever be close to my heart. Kinderlik vir 'n jong man wat naarstiglik probeer volwasse wees. "Het jy iemand wat vir jou lief is?" Die man gaap haar aan. "Fok …" Maar hy dink daaroor. Beduie later met sy ken na haar mediese tas op die agterste sitplek. "Is jy 'n dokter?" Sy knik. "My ouma was 'n vroedvrou op Kromdraai. Goeie mens. Sy was lief vir my. Het my grootgemaak ná my ma slammer toe is. Ouma Kaatjie was nog jonk, toe haal die bendes haar uit. Op die verkeerde plek gewees op die verkeerde tyd. Wou weer goed doen." Hy snork deur sy neus. "En jou ma?" "Was 'n prossie!" "Waarheen is jy op pad?" "Sê mos, Kromdraai. Anderkant Rottenberg." Rottenberg is 'n informele nedersetting. Gombesnotte kinders dwaal doelloos rond. Krap saam met maer rondloperhonde op 'n immer groeiende stortingsterrein waarom die plastiek en stukke sinkplaat tot shacks opgeskiet het. Hulle kyk die BMW met kortstondige belangstelling agterna. Vervaag in haar truspieëltjie. Twee kilometer verder sit die rigtingwyser moeg teen 'n dowwe teerpaal: omdraai. Die eerste deel van die naam is onleesbaar, die bordjie skeef weggebuig, die metaal verfrommel. 'n Koeëlgat deur die eerste sigbare letter. Die rooi Tazz is skielik in haar truspieëltjie. Die gesigte agter die ruit grimmig, selfs op hierdie afstand. "Jou vriende het ons opgespoor." Hy ruk amper sy dun nek af na agter. Sy oë rek. 'n Spiertjie flikker onder sy linkeroog. Die heftige reaksie trek haar aandag van die pad af. Die motor gly op die gruispad. Sy stoei om dit terug te bring na die middel. "Luziel is my kleinsus. Die geld sou haar hier weggevat het. Luziel Ross." Hy grawe vervaard in die leersak. Druk bondels note onder haar sitplek in. "Jy kan vat. Gee net vir Luziel genog om weg te kom. 'n Clean break." Hy pluk die deur in die ry oop en val met die leertas in 'n bondel langs die tweespoorpaadjie. Kom op sy voete en vlug tussen die bosse in. Sy sien die passasier in die Tazz na hom beduie. Die rooi motor stop in 'n stofstorm. 'n Koeël maak 'n fluitgeluid deur die motor voordat die voorruit versplinter. Sy het nie gehoor toe dit deur die agterruit is nie. Sy jaag so vinnig as wat die aaklige paadjie haar toelaat. Agter haar plof nog skote dof uit die rooi stofwolk, maar sy is buite trefafstand. Sy bereik die N1 weer. Tas na haar selfoon, maar dié het van die paneelbord geval. Sy voel rond tussen haar voete. Vat die selfoon se battery raak. Help my! Dit het uitmekaar gespat met die val. Iemand huil met skeurende geluide. Sy vrees vir haar eie lewe. Weet met sekerheid dat sy nie wil sterf nie. Nie hier langs die grootpad nie. Nie alleen sonder haar mense nie, ook nie nou nie. "Here, dis ek wat so huil. Ek moet stilhou. Moet die foon kry," probeer sy haarself tot rede praat. Hulle volg haar genadiglik nie. Sy sou die stof gesien het. Dom vingers druk die selfoon aanmekaar. Enter pin code. Ag Vader, wat is haar pinnommer? "Een, twee, drie, vier, vir oues met Alzheimer." Gerhardt se stem. Daar is bloed aan die foon. 'n Vingernael is diep ingeskeur. Sy skakel die polisie se noodnommer. Stort hortend haar storie uit. "Ry verder in die rigting van die stad. Hou u foon aan." Sy wag vyf minute. Geen stof kom nader, geen dreuning in die smal paadjie. Sy ry terug na die man waarvan sy nie die naam ken nie. Stadig, behoedsaam, sonder om stof op te jaag. Sy hou stil waar dit bekend lyk. Stap versigtig, soekend die bosse in. Hy lê ingekruip onder 'n doringbos. Die grond om hom is donker. Hy haal roggelend asem. Sy draai hom sagkens om, hou sy kop teen haar bors vas, vee die skuimerige bloed om sy mondhoeke weg. Sy sus hom soos 'n kind. Sy vaalblou oë probeer fokus. "Ma Kaatjie?" "Ek is hier." Polisiemotors hou met flitsende ligte stil. Nog sirenes loei. Hy sug in haar arms. 'n Vae glimlaggie vries om sy mond. Haar selfoon flits weer. Sy antwoord, maar begin rukkend huil. 'n Polisievrou vat die foon en vertel kortliks vir Gerhardt wat gebeur het. Sy gee die foon terug. "Ma, luister jy? Dokter André het gebel. Ek weet alles. Ons sal weer regkom. Net soos laas. Ek kom Ma haal. Hoor Ma?" Dit is sy wat hom in 'n vakkie geplaas het. Hy is lankal 'n man. "Dokter Meyerhoff, sit solank hier. Ons sal netnou saam met u na die stasie ry." "Sersant, hulle is seker weg met al die geld. Hier is niks," kom die jong polisieman se stem. "Hy het 'n leersak by hom gehad toe hy uitgespring het." "Hoekom sou hy uitgespring het?" Marteld skud net haar kop en trek haar skouers op.
Lees Douwlina se eerste weergawe
Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |