Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Tweede verslag - SkryfNet VI
Daniel Hugo
Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Cornelle Carstens
Ingrid Esterhuizen
Andries Samuel
Selwyn Milborrow
Lindy Worth
"wat doen ons aan mekaar?"
Dit lyk asof ek en Andries net oor een ding saamstem en dit is dat hierdie gedig opvallend uit twee dele bestaan het. Hy verkies egter deel 2 wat hy nou as 'n afsonderlike gedig (strandveld) aanbied, terwyl ek van deel 1 gehou het. Die inkorting maak wel van hierdie tweede deel 'n sterker vers.
"adrenalien onderbewussein"
Van hierdie driedelige vers behou Andries net die eerste afdeling (effens herskryf en getitel "adrenalien"). Myns insiens word die taal hier te veel oorspan of verwring om 'n vlugtige maar ekstreme ervaring te beskryf. Die derde afdeling waarvan ek gehou het, is nou nêrens in sig nie. Dat afdeling 2 nie gedeug het nie, blyk 'n tweede en laaste punt van wedersydse instemming te wees. Oor die res moet ons maar ooreenkom om te verskil.
"Bevryding"
Ek moet bieg: ek het begin twyfel aan my interprtetasie van hierdie gedig toe ek - later eers - sien dat die digter 'n vrou is. Ek het die "jy" van die eerste weergawe nie as 'n tweede, aangesproke persoon gelees nie maar as 'n afstandelike "ek". Vandaar my siening daarvan as 'n manlike masturbasie-vers. Uit Cornelle se nuwe weergawe is dit duidelik dat dit oor twee persone, 'n manlike "jy" en 'n vroulike "ek", gaan: "Jy bars van lig en vlam deur my" (strofe 4). Die byvoeging van die voorlaaste strofe maak dit ook duidelik dat die ek-spreker ontnugter is deur die seksdaad. Dit gaan oor die "morning after blues" - "Dagbreek is 'n godverlatenheid" staan daar alreeds in die eerste reël. Die wrang smaak in die mond word vererger deur skuldgevoelens, soos blyk uit die woorde "egbreuk" en "hoer". (Daardie "egbreuk"-reël is gesteel by die vorige variant van "Sterfling", sien ek. 'n Digter mag natuurlik by homself steel, solank hy net nie homself herhaal nie.) Hoe dit ook al sy: dit bly 'n boeiende en uitdagende gedig.
Naskrif : Ek sien dat die nuutste tweetalige Pharos-woordeboek skryf 'Pompeji'.
"Sterfling"
Ek volstaan met my vorige opmnerkings. Ondanks die wysigings wat Cornelle hier en daar aangebring het, bly dit 'n gedig bo my vuurmaakplek.
"Keerpunt"
Die verkorting van die slotreël "ek kies om gelukkig te wees" tot "ek kies" maak die vers suggestieryker en daarom sterker. En daarmee word die gedig inderdaad deur volrym "geraam"! Met die ander twee regstellings ("reuk" en "retina" - waarmee die gedig ook sommer 'n alliterasie wen) is dit nou 'n volmaakte klein teks!
"Ontmoeting"
Ingrid het hierdie gedig onveranderd gelaat, en ek sien ook nie enige rede om daaraan te karring nie.
"Cruci figere" (voorheen "Via dolorosa")
Lindy het hierdie gedig nogal uitvoerig herskryf, maar ongelukkig nie afgesien
van die Christelike allegorie nie. Dit is veral die voorlaaste strofe wat my
pla: "ont-man / ont-hoof / ont-God". Hoe klop dit met die wildsbok wat deur
roofdiere (gelei deur 'n "alfa male") gevang word?
Die gedig bevat ook voorbeelde van mooiskrywery: "Iets pastoraals het gefluistering", "wat daardie dag / kalbashand aan sou dra" en "Die vangs is kleedgestroop". Die laasgenoemde is uiteraard ingegee deur die allegorie - daar is aan die voet van die kruis vir Christus se kleed geloot.
Daardie "hartslag" in strofe 4 waaroor die roofdiere stry, moet sekerlik "harslag" (= die ingewande van die borsholte) wees. En is die "fynhaaksade" van die vorige weergawe wat nou "fynhaksade" (strofe 1) geword het net 'n tikfout? Die frase "Verstar bly sy oë tas" is eintlik 'n teenstrydigheid: "verstar" dui op roerloosheid, terwyl "tas" beweging impliseer.
Jammer, maar hierdie gedig oortuig my steeds nie.
(Ek skuld Lindy wel 'n apologie. In my eerste verslag het ek beweer dat sy 'n toutologie gepleeg het met "houtskoolets" / "ets". Ek sien nou daar staan "houtskoolskets".)
"alternatiewe roete"
Hierdie volkse vers / liriek is besonder sjarmant. Die veranderings is almal verbeterings. (Dit is nogal vleiend as iemand jou voorstelle volg!)
"Brief"
Dit is nou 'n onverbeterlike gedig! Die voorlaaste strofe met die tipografiese
spel (visuele ikonisiteit) werk besonder goed.
"Om huis toe te gaan"
Die skrappings en gevolglike inkorting het hierdie gedig beslis beter gemaak.
(Dit is veral goed dat die skrillerige "helstryd" en "kruis" weggewerk is.)
Die geografiese onduidelikheid in die slot is ook opgeklaar.
Maar nou wonder ek oor die werkwoord
"bewaar" in die slotstrofe. Dit lyk asof dit hier "waar laat word / bewaarheid"
moet beteken. Volgens die HAT beteken "bewaar" egter: bêre, behou, beskerm.
Ten slotte: die meervoud van "tenk"
is "tenks" en "huistoegaan" (as selfstandige naamwoord) word vas geskryf.
Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Daniel Hugo se eerste verslag
Klik hier vir Joan Hambidge se eerste verslag
Klik hier vir Joan Hambidge se tweede verslag
Klik hier om die gedigte te lees
LitNet: 29 Julie 2005
Wil jy reageer op SkryfNet VI? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe / terug
|