Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Eerste verslag - SkryfNet VI
Joan Hambidge
Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Cornelle Carstens
Ingrid Esterhuizen
Andries Samuel
Selwyn Milborrow
Lindy Worth
Hier vind ons iemand wat baie gedink het oor die lewe en digkuns, maar ongelukkig
nog weifel om sy stem te vind. Ons vind clichés soos "yl gebalk/ skuimend soos
'n rivier".
Die beelde maak dus nie oral sin nie.
Wat beteken "ons plunder mekaar se
harte / met veynig rooftogte die binnelande in"?
En wat is verbar?
Om dertigerwoorde soos siele en skroei
te gebruik, klink ou-modies.
"wat doen ons aan mekaar?" is dus 'n mooi idee, maar in 'n outydse idioom geskryf.
Duid'likheid oortuig ook nie.
Raad:
Vermy fasiele speletjies "onderbewussein" - dit is studentikoos.
In "adrenalien onderbewussein" moet
die rush wat my "beethet aan my dig" anders gestel word. Met ander woorde, jy
moet 'n spasie laat om 'n soort dubbelsinnigheid te beklemtoon.
Jy wil die rush van die digkuns uitbeeld,
maar catch-22: die gedig mag nie afgejaag klink vir die leser nie! Hierdie gedig
het moontlikhede, omdat die idee baie interessant is.
Die tweede gedig "wat doen ons aan
mekaar" is vir my minder oortuigend. Tog kan hierdie digter lekker beelde optower,
soos die pragtige pendelpolitiek van die hart!
Die slot is te tam en dertiger-retories.
Onthou, 'n slot van 'n gedig moet alles wat vooraf gebeur saamvat en die leser
as't ware uit die water blaas.
Daar is baie moontlikhede vir hierdie
digter.
Gaan lees die gedigte van Breytenbach
weer en kyk hoe hy dikwels die voor-logiese aspek van 'n beeld uitbuit en die
bykans surrealistiese vir die leser oordra. In hierdie soort vers moet die abstraksie
juis met die konkrete beeld verbind word.
Met ander woorde, as jy die geliefde
se blik wil beskryf of haar reaksie moet iets soos "onpeilbaar" vermy word. Nie
alleen is dit 'n cliché nie, maar binne die gedig is dit 'n abstraksie. Soek
met ander woorde konkrete beelde vir hierdie effek wat sy op die spreker het.
In 'n vers soos "Bevryding" besef die leser die beelde is nie genoegsaam uitgewerk
nie.
'n Soort poëtiese vernaamdoenery eerder
as 'n gedig wat met min beelde iets oordra.
In "Sterfling" wonder 'n mens wat
beteken "kniehalter van die duisternis"?
Hoekom windspelonke by die egbreuk
uit?
Hoe maak muf nes?
Oppas vir 'n vers wat eindig op die
ellips (…)
Raad:
My raad aan hierdie digter is om liewers een beeld uit te werk en die hele
gedig daaromheen te bou. Anders skep dit beeldverwarring. As jy 'n beeld het
wat nie in 'n vers inpas nie, hou dit vir 'n volgende gedig! Goeie beelde is
dikwels "hand me downs" en kan elders ingepas word.
Moenie gedigte skryf wat klink asof
jy poësie met hoofletters skryf nie. Die gedig "Sterfling" moet minder dramaties
klink vir die leser en 'n beeld soos "Want bieg slaan teen // die koepels van
stomheid vas" is eenvoudig te swaarwigtig.
Ek het nou onlangs weer die religieuse
gedigte van Sheila Cussons gelees. Ek dink haar eiesoortige talent om die metafisiese
telkens te verbind met die konkrete kan gerus bestudeer word. Trouens, juis
omdat sy so imposant dig oor dit wat buite woorde bestaan, moet enige digter
wat hierdie tema aanpak altyd na Cussons gaan vir raad. As 'n mens ook 'n beeld
raaklees soos "ontbrande braambos" dan dink jy onvermydelik aan die versameling
van religieuse verse in Afrikaans Die braambos brand.
En as 'n mens die aangesprokene gelykstel
aan Pompeï, is die vraag: watter aspek van hierdie stad? Want daar is bepaalde
assosiasies en gaan lees Opperman se Dolosse.
Kortom, so 'n beeld aktiveer 'n geskiedenis
van soortgelyke beelde in die Afrikaanse digkuns.
En vermy uitroepe in 'n vers. Die
gedig "Sterfling" is myns insiens te prekerig; laat die beelde van die vers
vir sigself praat. Die leser kan self besluit wat die gedig wil sê. Oppas ook
vir onlogiese beelde: wat beteken "kniehalter van die duisternis"?
En "wondspelonke laat hars drup //
om die egbreuk van dag en nag // te verseël" is 'n voorbeeld van beeldinkongruensie.
Hoe kom die eerste by die tweede beeld uit?
Ek hou wel van die egbreuk van dag
en nag, maar die eerste gedeelte van die beeld bots met die tweede gedeelte.
"Keerpunt" is 'n mooi idee, maar die digter argumenteer te veel. Sy moet die gedig deur beelde laat praat vir die leser.
"Ontmoeting" is al beter verdig deur Fanie Olivier, o.a. "tot op die been ontdaan van skyn" is ook te clichématig. Maak dit sterker vir die leser.
Raad:
Vir my gevoel is hier iets wat sluimer wat die digter nog nie heeltemal onder woorde gebring het nie. Gaan lees Antjie Krog se Mannin en Beminde Antarktika en probeer bepaal hoe sy die spel met lewensongeluk en die digterlike proses uitwerk. "Ontmoeting" is al in die sewentigerjare deur Fanie Olivier en Marlise Joubert in meer geslaagde gedigte uitgewerk en beeldend beter beskryf. Gaan lees hulle gedigte en probeer uitvind waarom hulle gedigte onthoubaar is.
En moenie vir die leser vertel jy wil gelukkig wees nie: die gedig moet dit beeldend vir die leser doen.
"alternatiewe roete" is soos die roete suggereer 'n anderse blik. 'n Mooi slot!
Met "via dolorosa" staan die digter voor 'n krisispad: dalk moet die Bybelse gegewe anders aangepak word?
Raad:
Hierdie is 'n soort praatvers wat mooi oomblikke openbaar. Die enigste gevaar
van hierdie soort gedig is dat dit dikwels met 'n eerste lees uitgelees word.
So maak die beelde 'n bietjie meer "duister" en neem jou leser na
'n afdraaipad!
"Via dolorosa" kan myns insiens slaag as dit heeltemal herskryf word, met ander woorde, as die digter weer teruggaan na die "drawing board" en die gedig "sagter" maak.
Gaan lees eweneens die gedigte van Sheila Cussons en meer spesifiek die religieuse verse. Laat die gedig vir sigself praat. Jy moet genoeg vertroue hê in die beeld. Die digter moenie 'n souffleuse wees wat vir die leser fluister wat hy of sy behoort raak te sien nie.
Is die herhaling van genade nodig in die gedig "brief"?
Wat beteken "genade van my hande"?
"om huis toe te gaan" mooi idees.
"helstryd" moet eerder "hellestryd" wees.
Raad:
Hierdie gedigte word ondermyn deur 'n soort idee van hoe 'n gedig behoort te
klink. Die verhewe beeld onder andere, moet vermy word. "Niemand streef om ternouernood
te leef", is werklik té verhewe! Herskryf die gedig in 'n minder soele praattaal
en laat die vers vir homself praat.
Woorde of abstraksies soos "seer"
moet eerder vermy word. Skep eerder beelde sodat die leser die suggestie van
die spreker se gemoedstoestand kan aanvoel.
Ek dink die gedigte van Gert Vlok Nel behoort
te kan help.
Gaan kyk onder andere na Johann de
Lange se debuut Akwarelle van die dors hoe hierdie digter verlange/pyn/eensaamheid
indirek beskryf of verwoord. 'n Geslaagde gedig terg of steur die leser. Die
eerste lees mag nooit al die geheime verklap nie.
Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Daniel Hugo se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees
LitNet: 06 Junie 2005
Wil jy reageer op SkryfNet VI? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe / terug
|