Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sendbrief MG5: 12/11/2003

Beste Gerrit

In my laaste brief het ek belowe om iets te sê oor interreligeuse dialoog in die lig van die insigte van die filosowe van differensie.

Met die oplewing van belangstelling in sogenaamde inheemse-kennis-sisteme is daar skielik weer geleenthede vir diegene wat oor die jare bly worstel het met Afrika-godsdienste. Een van die maniere om die verskille tussen godsdienste te probeer verstaan is deur ’n teorie te gebruik van die verhouding tussen primêre godsdienstige ervaring en sekondêre godsdienstige ervaring (om Sundermeier se terminologie te gebruik), en veral die belang van eersgenoemde. Die verlies aan primêre religieuse ervaring in die Weste het slegte gevolge gehad vir die omgewingsfilosofie, en die natuurfilosofie, want primêre religieuse ervaring is onlosmaaklik aan die natuur gekoppel. Interkulturaliteit en dialoog het dus ’n dringende taak om die Westerse gebrek/verlies aan te spreek.

As ek weer van die geeste mag praat, waarna ek in my vorige skrywe verwys: dit kom nie daarop aan om “terug” te gaan na ’n voorkritiese siening van geeste nie, maar daarop om primêre religieuse ervaring en sekondêre religieuse ervaring met mekaar te integreer. Die geeste is nie weg nie. Hulle is slegs onderdruk, en bly dus spook by ons (Hauntology). Laat die geeste toe, praat met hulle, reken met hulle. Gee primêre religieuse ervaring sy regmatige plek, en dus die natuur sy regmatige plek. In meervoudige sin. Natuur as aarde, water, plante, diere en lug. Maar ook die natuur as die mitologiese substraat in ons.

’n Paar dae gelede het ek ’n wonderlike artikel van Baird Callicot gelees (oor multikulturele en multireligieuse benaderings tot die Omgewingsetiek) waarin hy aanvoer dat diversiteit goed is, maar dat daar ook die noodsaak is van ’n verenigende proses en diskoers. En drie globale diskoerse is aan die gang. Ekonomie en geopolitiek respekteer nie die ander nie en is top-down. Postklassieke wetenskap, daarenteen, het die ondermyning van die epistemologiese voorrang van Westerse rasionaliteit geïnternaliseer. Die wetenskaplike verhale word as verhale gesien.

En tog, teen die postmoderne is hulle grand. Om grand te wees moet hulle aan sekere vereistes voldoen, soos verbeeldingrykheid. Die nuwe manier van grand wees sluit in: “embeddedness, not transcendence, cooperation, not conquest, wholeness, not fragmentation”. Hiervoor kan die postklassieke wetenskaplike stories (wat meer geloofbaar is as enige ander beskikbare stories en wat ons ignoreer tot ons skade) nie meer die organiese verband met lokale-kennis-sisteme afsny nie. Daar moet wedersydse interaksie wees, want lokale kennis, soos vervat in oa godsdiensverhale en rituele, praat met die menslike gees, spreek die emosies en die simboliese aan, waarsonder geen verhaal op “grandness” kan aanspraak maak nie.

Terloops, ek sien jy het my “’n Afrika-teoloog en filosoof” laat noem by my Oudtshoorn-stuk oor die kerk elders op hierdie webruimte. Ek wou eers protesteer, bang vir pretensie. Maar Mogobe Ramose het my met ’n onlangse artikel laat verstaan dat die benaming Afrika-filosoof toegeëien kan word as ’n mens nadink oor Afrika-probleme, en geregtigheid is een.

Die geeste se verskyning as die wêreld uit die voeëe is (Derrida) en die klem op dike (geregtigheid as reg-gevoeg wees) moet in verband gebring word met die nuwe animisme. Religieuse ekologie en sosiale ekologie. Jou boek oor die “fabulous ghost”, waarin ek ook gisteraand gelees het, juis die deel oor geeste en hekse, is ’n groot hulp.

Ons moenie vergeet om van reële wapengeweldgebaseerde mag te praat nie. Hier het die god van Amerika die oorhand. Daar is min sprake van ’n vryheidsgebaseerde toenadering tussen die godsdienste op die basis van die globale politiek. Watter verenigende diskoerse is daar nog (nadat toegegee is dat alle godsdienste gelykwaardig is)? Is Callicot reg dat die postklassieke wetenskap ’n kandidaat is? Dis nou die wetenskap wat met Nietzsche erns gemaak het. Die wetenskap wat met “embeddedness” ipv “transcendence” werk, of liewer, met immanente transendensie. Alle godsdienste is gelyk, maar wat ons nou nodig het, is immanente transendensie. Ek kry dit in my eie godsdiens via die inkarnasie en die kruis. Hoe kry ’n Moslem dit in Islam? Die Boeddhis, dink ek, het dit ook op haar manier, en Afrika-godsdienste deur die geeste.

So ons praat met mekaar in ’n ware dialoog, maar ek verkondig nie signifikantslaafs Christus nie, maar immanente transendensie, die eenheid van naaste- en Godsliefde. En die naaste brei ook nog uit, sluit die aardegemeenskap in. Die teenwoordigheid van God in gewone dinge (nagmaal).

Ek kan nog ’n knippie Metz ook ingooi deur die ander universele as lyding te tipeer. Dit maak juis immanente transendensie dwingend, dis die ekologiese imperatief van Bookchin. Die lyding het in die oorgrote meerderheid van die gevalle ’n oorsaak, of die gebrekkige versagting daarvan het, en dis ’n ekonomiese stelsel gebaseer op ’n ander soort transendensie - transendensie deur konsumpsie. Of is dit ook immanent? Dis materialisties, maar nie immanent nie. Dis juis nie tevrede met wat voorhande is nie. En gierigheid werk met ’n godsbegrip, die god van die metafisika wat nie ly nie, wat afgeskerm is deur sy mag en sy goed (pun intended). Die meeste godsdienste het, as menslike konstruksies, albei opsies latent. Alle godsdienste is gelykwaardig, maar onder huidige omstandighede moet ons saamstaan en die latente bronne van ’n konsep van immanente transendensie uitlig en versterk. En die wetenskap kan ons help, die postklassieke wetenskap.

Intussen weet ek die lys van dinge wat in alle religieë beveg moet word, moet langer wees. Dit moet patriargaat insluit, en oorheersingskennis. Daar sal dus ’n sterk dosis kritiese teorie ingebring moet word. Die filosofieë van die differensie impliseer ’n ander manier van dink oor ek en ons. En dit sluit in ’n etiek van wat pas. Dit het iets van maat. Nie die maat waarmee ék meet nie, maar die maat waarmee die omstandighede meet. My situasie verskil van ’n ander s’n. Ek is miskien geborge, sy ontwortel. Ek soek transgressions, sy sekerheid.

Baie mense dink in terme van krag. Om die krag van God (sterkste) te tem en in te span vir oorlewing. Die losskakel wat op sy knieg afsak na ’n wedstryd. Die een Survivor-deelnemer wat sê “Thank you, Jesus” as haar span wen. En toe nie die een is wat ekstra moeite doen met die dowe meisie nie, juis die lelikste met haar is. Toe die dowe meisie sê haar storie met die “idol” is stupid. Dit was ’n groot doenigheid met die idol, maar geen doenigheid met Jesus wat in almal is en op ’n spesiale manier in die dowe meisie nie.

Oor en oor gebeur dit. Soos gister weer. Ek lewe sooo burgerlik. Gister wou iemand my tuinslang steel, maar ek sien dit uit my studeerkamervenster. Die tuinier vang hom toe. Hoekom steel jy my tuinslang? Hy sê nee, hy is honger. Geen werk. Geen kos. Gister was ek besonder bewus van die absurditeit. Gehelp deur Bob Dylan se Infidels. Took a stranger to teach me, to look into justice’s beautiful face.

Caputo se Radical Hermeneutics is my soort boek. Dit eindig met die lag. Jy sien hoe alles vloei. En dan lag jy oor jou eie erns as jy dinge wil vashou. Asof dit ooit moontlik sal wees. Jy sien hoe arbitrêr dit is. Alle konstruksies word die hele tyd ondergrawe. Kan Islam lag? Dit sal ’n goeie dialoogtema wees: “Pentecostalism and Laughter”. “Suni Islam and Laughter”.

Christian Morgenstern sê, in my lomp vertaling:

Wie al vry van grote waan
Gekyk het in die leë oog van die sfinks
Vergeet die erns van die aardse
Uit oorerns
En glimlag net.

Waaroor praat teoloë as hulle mekaar nie wil probeer oorreed of manipuleer nie? Tog oor hulle ervaring van die transendensie. Hulle getuig dus, nie om ander te oorreed nie, maar om hulle verhouding met die misterie te betuig. En as dit oor die misterie gaan, spreek dit vanself dat daar nie net een regte verhouding kan wees nie. Die verkeerde verhouding is slegs die een (of meerdere) wat ’n greep daarop waan. Soos in ’n stoeigeveg. Wat dadelik aan Jakob by die Jabbok laat dink. Die greep uitvoer is universeel. Ons loop almal hinkepink. Dis die voorwaarde daarvoor om te kan glimlag, oor onsself, en vir mekaar.

“Die laaste Afrikaanse boek”. Wel, agteros kom ook in die kraal. Kierkegaard het lankal die laaste boek geskryf, en nou is daar een in Afrikaans ook. Hoog tyd.

My oom bel my met die opgewondenheid van ’n verreikende insig, geïnspireer deur Jaworski se Synchronicity, die boek wat my ook opgekikker het. Teen die einde verwys Jaworski na sy besoek aan ’n Franse geleerde. En hoe hy toe die verband tussen wêreld en taal snap. Toe snap my oom met een slag die hele aanpak van differensie: nie vordering nie, maar anders-word. Skuiwe, verskuiwings pleks van vooruitgang. Geeste is onwerklik omdat ek ’n taal praat waar die woord geeste nie werklikheidswaarde het nie. Maar iemand anders praat ’n taal, heeltemal gelykwaardig, waar dit ’n werklikheid uitdruk. Dis wonderlik dat ek en my oom soveel synchronicity bereik het.

Ek het ’n ook ’n paar insigte gekry vir my “nuwe animisme”-projek uit ’n artikel van Cheney oor bioregionalisme en postmodernisme (die artikel is al ’n paar jaar oud). Hy maak baie daarvan dat ook klassieke wetenskap nie neutraal is nie. Ook ons ondersoekhouding investeer waardes. So ons kan net sowel waardes van gesondheid en heling investeer: “Our task is to tell the best stories we can.” En dan: as die land, die aarde ingesluit moet wees by ’n ware kontekstuele etiek, moet dit met ons praat; ons moet daarmee in ’n verhouding staan; dit moet ons definieer, en ons die aarde. Hy verwys na die Japannese tradisie van die vuur wat die oog van die natuurgeeste is. Dit kyk wat ons doen. Die etiese dimensie is dus voorop. Die geeste behoort te bestaan, of liewer, ons moet optree asof die dinge besield is. Ons investeer die waardes. Ook as ons “neutraal” met “dinge” omgaan, gaan ons doelrasioneel met hulle om, en investeer dus waardes. Ons kan net sowel aanneem hulle is besield, voel, kyk, praat met ons. Dis hoekom ek die spinnekop gekies het as simbool van die bioregionale webtuiste waaraan ons werk: die spinnekop het agt oë, bo en behalwe die web-ding. Little sister is watching me, daar vanuit die hoek teen die plafon.

As dit ons ongemaklik maak, is dit miskien goed so.

Groete

Murray

21 November 2003

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.