Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sendbrief MG4: 04/11/2001

Beste Gerrit

Die weke volg mekaar op en steeds kry jy nie ’n woord uit my uit nie - en hierdie keer is dit omdat ek stomgslaan is oor wat in die węreld aan ‘t gebeur is sedert 11 September. Ek is darem enigsins gerusgestel deur ’n astroloog wat deur Insig se voorbladvrou Megan Kruger ondervra is op TV. Hy sę Pluto sit reg vir ’n bewussynsverandering onder Amerikaners. Nou ja, dis goeie nuus. Ek hoop dit sluit vir hom van die Funky teologie in.

Soos altyd raak jy soveel interessante sake aan in jou brief dat ek nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Ek het wel belowe om jou meer van my gedagtes rondom Funk se teses te laat kry. Maar daar kom so ’n groot moegheid oor my as ek aan hulle dink dat ek dit vir ’n volgende keer los. Eerder wil ek by ’n ander saak aanhaak.

Dit gaan oor wat jy “chronologiese snobisme” noem, en spesifiek jou siening wat jy soos volg uitdruk:

… nóg progressie, nóg regressie bied ’n toereikende kader om te verstaan waaroor dit werklik in die lewe gaan.

’n Mens moet eers seker maak jy weet wat met al die woorde bedoel word. Walter Benjamin het byvoorbeeld oor ’n spesifieke vooruitgangsopvatting gesę nie die lokomotief wat die trein vorentoe trek, bring vooruitgang nie, maar die persoon wat die noodrem sou trek om die hele trein tot stilstand te bring. Dis hoekom ek so opgewonde was oor wat Megan se astroloog gesę het, aangepor deur haar hartlik betuigde instemming. Die bewussynsverandering sal ons dalk nie “red” nie.

Terloops, ek wonder of Adorno ooit gesę het net ’n God kan ons red. Heidegger het. Adorno het eerder Benjamin se ongebreidelde Messianisme in filosofie vertaal, en moes dus nugter vasstel dat die manier van kyk wat ons iets anders sou laat sien (“nuwe denke”) slegs vanuit ’n perspektief moontlik is wat bowęrelds is. Alle węreldse kyke is aangetas:

Kennis het geen ander lig as een wat vanuit die verlossing op die węreld skyn nie. Maar dit is ook gans onmoontlik, aangesien dit ’n staanplek veronderstel wat uit die bankring van die bestaan geruk is, al is dit net ’n bietjie. Daarteenoor moet elke moontlike insig, om kant en wal te raak, nie bloot uit dit wat is gewen word nie, maar is dit steeds dan self ook met daardie einste skeefgetrektheid en gebrekkigheid geslaan waaraan dit juis wou ontkom.

Dis hoekom ek so bly is om te verneem dat daar ouens onder ons is wat dinge as ‘t ware uit Pluto se perspektief kan sien. En ’n bewussynsverandering onder Amerikaners, en al ons ander wat die węreld vanuit die Amerikaanse perspektief sien, is al ’n groot stap vorentoe, en as dit ons kan red van ’n derde węreldoorlog, is dit vir my al baie.

Binne die raamwerk van ’n soeke na ’n nuwe denke verwys jy onder andere na my vriend Heinz Kimmerle se interkulturele filosofie. Dis hier waar ek wil aanhaak. Heinz het pas ’n “essay” op die internet gepubliseer met die titel “Entgeistert”. Dis weer een van daardie onvertaalbare woorde. Soos Max Weber se entzaubert. Ontgeest? Nee. Gedespiritualiseerd? Geëksorseerd? Van geeste ontdaan? Dit gaan oor die verlies aan geloof aan geeste en die werklikheidstatus van die węreld van die geeste. Dis ’n voortsetting van ’n gedagte wat hy begin dink het in die artikel waarna ek in my eerste brief aan jou verwys het. Onthou jy nog? Die tyd is uit voeg uit (Hamlet?). Die oorvloed ongeregtigheid veroorsaak ’n toestand van ’n fundamentele uit voeg uit wees van die verhoudings tussen mense, en dit kom neer op ’n uit voeg uit wees van die tyd. Kimmerle sę dit beteken dat daar ’n spanning bestaan tussen syn (dit wat is) en tyd (die manier waarop syn is wat dit is). Syn is dus nie maar enige manier van wees nie, maar die regte. “Syn” is ’n kritiese begrip. “To be or not to be?” vra Hamlet en ek verstaan dit onder andere ook so dat die opdrag wat die gees hom gee (“Revenge his foul and most unnatural murder”), waarmee die tyd weer sal voeg, insluit dat daar op ’n spesifieke manier met die verlede omgegaan moet word voordat daar sprake kan wees van “being”. Die tyd is juis uit voeg uit omdat die verlede verswyg word. Die gebeure (die moord op Hamlet se pa, die koning) wat aanleiding gegee het tot die węreld soos dit is (Hamlet se oom op die troon, getroud met sy ma) word nie voldoende verreken in die beeld wat mense het van hulle hede, hulle węreld nie. Hamlet se persoonlike lot is ineengestrengel met ’n algemene toestand van sake en hy protesteer: “O curséd spite / That ever I was born to set it right!” As hy dit nie doen nie, besleg hy die groot vraag in die rigting van die “not to be”.

Kimmerle stel voor ons begin met die “nuwe denke” deur die verhouding tussen die teenwoordige en die afwesige nuut te bedink. Om hierdie verhouding nuut te bedink sal ten minste ’n eerste stap wees in die rigting daarvan om die tyd nuut te bedink, so dat die uit voeg uit wees daarvan aangespreek, of selfs herstel, word. Hierdie herstel behels dat wat is, en hoe dit is, so gedink word dat dit wat is, nie meer so sal wees dat dit nie is nie.

Ingeval jou kop draai, hier is ’n voorbeeld, heeltemal in die gees van Kimmerle: Ek verwys spesifiek na die uitsluiting van Afrika en Afrikane van dit wat is en van diskoerse oor wat dit sou beteken om mens te wees.

Jy verwys na Dube se oproep dat Hegel so herskryf word dat daar ’n plek vir Afrika in die geskiedenis van die gees is. Hegel het die filosofie gedefinieer as die idees en gevoelens van ’n tyd tot selfbewussyn gebring. Hegel se uitsluiting van Afrika uit die geskiedenis, en uit die mensdom, is dus tekenend van die idees en gevoelens van Europeërs in die koloniale tydperk. Afrikane is hoogstens grensgevalle. Dit laat my dink aan ’n passasie uit Peter Hřeg se Borderliners, ’n roman wat oor tyd handel:

We were at the playground, she [the child] had climbed up on to some railway sleepers. She was about one metre off the ground. She called to me from there.

“Look!”

I did not get the answer out. I had no time. It came from a stranger - she was also there with her child.

“What a clever girl!” she said.

I had no time to think. I was on my feet and on my way over to bite her head off. Then I remembered that she was the mother of a small child and that she was a woman. I realised that I was having a relapse.

I sat down, but it was a long time before I stopped shaking.

The child had wanted attention. She had just asked to be noticed. But she was given an assessment. “What a clever girl!”

When you assess others, no harm is ever intended. It is just that you yourself have been tested so often. In the end it is impossible to think any other way.

Maybe it is not so easy to see if you have always been able to achieve more or less what has been required of you. Maybe you see it best if you know that, all through your life, you will always be on the borderline.

Volgens Hegel val Afrika buite die geskiedenis en buite die gees. Jy hoef net maar na die boeke deur Afrikane oor Afrika-filosofie te kyk om te sien hoe ongenees die wonde is wat hierdie uitsny en afsny gelaat het. Kimmerle, wat sewe jaar van sy lewe spandeer het aan die redigering van Band 6 van Hegel se Versamelde Werke, opponeer hierdie manier van kyk deur die bestaan van ’n Afrikaanse gees te veronderstel - uitgesluit en agtergelaat deur die selfverwerklikende gees van die “węreld”. Sy opposisie geld nie slegs vir Hegel nie, maar vir die hele Europa wat oor die hele węreld uitgebrei het, en die manier waarop dit gebeur het en steeds gebeur. Met Hegel en in Hegel is die objek van sy denke, Europa - met sy siening van die geskiedenis, sy geestelike, politieke en ekonomiese houding en mentaliteit - aan die kritiek onderworpe.

Na aanleiding van die titel van sy gunsteling Derrida-boek, Glas, gebruik Kimmerle die analogie van ’n lens om Hegel se filosofie en die gevolg daarvan te beskryf. Die lens was eers helder, want dit het die bewussyn van sy tyd laat sien. Toe kry dit krake met Marx en die sogenaamde Europese Marxiste (soos Adorno). Maar juis die krake het ons op ’n paradoksale manier laat beter sien. Met Derrida kry die lens so baie krake dat dit verbrokkel en nou geen sig meer toelaat nie. En weer is dit op ’n paradoksale manier adekwaat: ons kan nie meer ons węreld deur die bril van die Westerse metafisika sien nie. En tog bly dit relevant. Kimmerle formuleer hierdie relevansie treffend:

Hegel se filosofie beteken alles vir Europa en niks vir Afrika nie.

Dit kan vrugbaar gebruik word om die verwestersing van Afrika te begryp. Maar dit kan niks bydra tot die verstaan van die Afrikanisering van die Weste in Afrika en van die belang van hierdie proses vir die geskiedenis van die węreld nie. En daarmee is ons uiteindelik by die rede waarom interkulturele filosofie die aangewese en adewate manier van filosofeer is vir ons tyd. Interkulturele dialoog sal dalk nie altyd gepas bly nie, maar dit is nou.

Dit mag dan een van die redes wees waarom die Funky teologieë my nie heeltemal aanstaan nie. Daar is te min dialoog in hulle ontstaansproses. Dialoog met die ander. Te veel word veronderstel, in weerwil van alle kritiek. In my volgende brief sal ek iets meer skryf oor my gestoei met ’n interreligieuse aanpak.

Groete

Murray

21 November 2003

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.