Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

21.2.2001

Beste Gerrit

Jou analise van die dubbele aard van boere-blues vind ek in die kol en ek is jou dank verskuldig. Jy het weer gewys dat ’n adekwate interpretasie van die werklikheid eintlik alreeds die werklikheid verander. (Of klink dit te veel na Hegel vir jou smaak?)

Jou gebruik van Swart Teologie vir jou teologie van Afrikaner-bevryding het my gedagtes goed op loop gesit. (Terloops, aangesien ons binne die raamwerk van “geestelike boeke” skryf, verwys ek jou na ’n artikel wat Klippies Kritzinger al in 1990 gepubliseer het in die boek Wit Afrikane? (Taurus): “Teologie vir wit bevryding”). Ek het byvoorbeeld onthou hoe nou die verband was tussen Afrikane hulle menslikheid ontsê en die vasstelling dat hulle geen God aanbid nie. In die vreeslike tye van die totale aanslag-ideologie as staatsgodsdiens het die benaming “kommunis” van jou ’n godloënaar gemaak, en dan was jy voëlvry.

Die einste Klippies het die treffende term gemunt: “As jy ’n afgod aanbid word mense vir jou afmense.” Die omgekeerde geld ook: Behandel jy mense soos afmense, is jou god verseker ’n afgod. Die ewebeeld van God-gedagte het êrens ontspoor en ontaard in die opvatting dat slegs christene kwalifiseer. Juis daarom is dit noodsaaklik om die skeppinsgteologiese begronding van universele menswaardigheid toe te spits deur dit in verband te bring met Jesus Christus. Jy doen dit so in jou skrywe: “Christus het ook vir swartmense sy lewe gegee.”

Dit het my laat dink aan wat ek destyds by Eberhard Jüngel geleer het. Ek het weer by hom gaan kers opsteek in die hoop om die dubbele blues van skaamte en skuld aangespreek te kry, aangesien die Swart Teologie net help vir die skaamte.

Dat ’n mens met Jüngel ook die skaamte kan aanspreek, is gegee in sy interpretasie van die eenvoudige liggaamlike feit dat mense regop loop. Hier is innerlike en uiterlike één: regop loop en ewebeeld van God gaan saam. Regop en opreg eer die mens vir God (Paulus se tegniese term vir die imago Dei-opvatting). Soos jy sê: swartmense se bevestiging van hulle swartheid is ’n geloofsaak. Kruip is ongeloof of bygeloof. Dis hoekom ons praat van die sonde-val: nie meer regop staan nie, maar platgeval.

“Beeld van God” sluit in om te heers, maar juis nie om oor ander mense te heers nie — eerder in gemeenskap met ander mense te sorg vir die wêreld. Hier kry die begrip “beeld van God” ’n kritieke betekenis: Die mens is ’n heerser soos God ’n heerser is. En hoe heers God? Dis hier waar die Christelike belydenis die Ou-Testamentiese imago Dei toespits. Die koning aan die kruis. Die Heer is Jesus. Die baasmens wil baas wees oor mense sonder om te dien. Daarmee is die God-ewebeeldlikheid versaak, want dan is die mens nie meer heer soos God heer is nie. Wie so wil baas wees, kry dit nie eers reg om sy eie baas te wees nie. En soos ons geleer het met apartheid: “die mens vir die mens ’n god” loop altyd, sonder uitsondering, uit op: “die mens vir die mens ’n wolf”.

Wat ons bring by die skuld.

Ons het ons aan God, onsself en ons medemens vergryp.

Jy gee ’n verklaring van hoekom ons Afrikaners soveel moeite het met skuldbelydenis doen. Jou analise is raak, maar ek wil iets daaraan toevoeg.

In die Heidelbergse Kategismus word gevra watter drie dinge vir my nodig is om geluksalig te kan lewe en sterwe. Die antwoord is dat ek eerstens moet weet hoe groot my sonde en ellende is; tweedens hoe ek daarvan verlos kan word; en derdens hoe ek dankbaar moet lewe. Karl Barth het die eerste twee omgekeer toe hy sy boekie geskryf het met die veelseggende titel Evangelie en Wet. Eers die evangelie en dan die wet.

Ek dink dis meer Bybels as die Kategismus. Eers in die lig van die genade kan ek my sonde sien. Eers onder die indruk van die onvoorwaardelike liefde kan ek die waarheid oor my lewe laat geld sonder om uitkomste te soek. Al die verontskuldigings is dus eintlik ongeloof, en ongeloof is liefdevergetelheid. Heidegger praat van die synsvergetelheid in die metafisika. Dit moet eintlik heet “liefdevergetelheid”. Die metafisiese God is volmaak in alles en ly dus geen gebrek nie, het geen behoeftes nie, en daarom is liefde problematies — daar is nie regtig plek vir ons in sy of haar lewe nie. Liefde is tog ’n betrokke wees by ’n ander wat nie maar aangeplak word aan ’n ek wat in (af)goddelike eensaamheid, of eensame (af)goddelikheid selfgenoegsaam is nie.

Ek wou nou die dag in ’n preek die idee van die vanselfsprekendheid van die liefde verduidelik, maar vergeet toe wat die Engels vir vanselfsprekend is. Ek kon net aan “matter of fact” dink en toe kom die volgende vraag uit: “If love is a fact, what is the matter?”

Indeed. Jüngel het op ’n keer gesê in ’n onderhoud wat ek met hom gevoer het:

    Die probleem van die wêreld is nie dat dit nie liefgehê is nie, maar dat dit sy geliefd-wees vergeet het. Dit word liefgehê, en miskien sou die wêreld baie anders gelyk het as hy dit besef en verwerklik het. Miskien sou die Bondsrepubliek Duitsland, miskien sou Suid-Afrika baie anders gelyk het as hulle besef het dat hulle deur God liefgehê word [dit was begin 1985]. Dan kan ’n mens nie hier swart wees en daar wit nie; dit is dan onmoontlik.

Hier anderkant die berg, in die snikhete Limpopo-vallei, woon ’n man wat jy miskien ken van sy vertellinge in Ina le Roux se boekie So lief as wat daardie hoender vir ’n skoot is (Human & Rousseau, 1996) — een van die geestelikste van boeke wat ek ken. Die man se naam is Piet Mavhetha en hy is ’n ware profeet. (My oortuiging in dié verband is bevestig deur die Duiste filosoof Heinz Kimmerle wat gesê het saam met Ernst Bloch is Piet Mavhetha die naaste aan ’n profeet wat hy ooit ontmoet het.)

Piet het my vertel hoe hy onlangs dodelik siek was aan tering en hoe hy tot die dood toe swak en uitgeput in die hospitaalbad gelê het en hoe Jesus toe aan hom verskyn het. Jesus het hom die waarheid oor sy lewe kom sê: “You are worthy.” Jy is die moeite werd. Piet het gesond geword en gaan weer voort om vir godverlate mense die waarheid te vertel, ’n waarheid wat afwyk van die amptelike weergawe soos verkondig deur Nike: “Life is for winners.” Hy vertel aan die armstes en die ellendigstes dat hulle nie onnodig en agtergeblewe is met geen hoop op inhaal nie, maar die waarheid: dat hulle die moeite werd is, ’n vreeslike klomp moeite, van Getsemane en die Via Dolorosa en Golgotha. In die woorde van Kolossense 3:12: Dat hulle die uitverkore volk van God is, wat hy baie liefhet.

Nou het ek nog nie gereageer op jou vraag oor of die spoke/geeste sal verdwyn as die ongeregtigheid ophou nie. Vir nou net dit: ek kan baie aanvang met die konsep van die onderskeiding van die geeste, wat saamgaan met hulle op hulle plek sit. Indirek het ek dus eintlik daaroor geskryf, want wat hierbo staan, sou kon geld as my Jüngel-geïnspireerde bydrae tot die gesprek oor die kriteria wat aangewend moet word in die onderskeiding van die geeste.

Ek sien uit na jou reaksie op my tipering van die metafisiese Godsbegrip!

Groete

Murray

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.