Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sendbrief GM4: 28/09/2001

Beste Murray

Jy moet my nie bedank vir die gedagte van “die mag van verlange as God se mag” nie. Dit is jy wat my geleer het om aan Christus te dink as die beliggaming van verlange. Of soos jy dit in jou brief verwoord:

    Jesus is dan nie die “antwoord” nie, die “troos” waarna so reikhalsend in die “Ou Testament” gesmag word nie, maar een wat die Jobsvraag uithou, meer radikaal en broos stel as selfs Job. Die “meneer Ek” wat nie “uitkomste” soek nie, of hulle weier. Te midde daarvan om, soos ’n hert in dorre streke na water verlang, na God se koms te smag.

Elders het jy gesê: Christus is God omdat hy verlange is.

Jy koppel dit aan “die vertaling van die Griekse woord dunamis (krag, mag) met moontlikheid”. Ek lees toevallig nou die Oxford-teoloog Keith Ward se God, Chance and Necessity, waarin hy van God praat as die bron van alle moontlikhede, en as sodanig noodsaaklike aktualiteit. Dit in die konteks van sy argument met ateïstiese kosmoloë soos Atkins, waarin hy aanvoer dat God noodsaaklik bestaan. Nog ’n voorbeeld van ’n klassiek-teologiese nosie wat in ’n ander sinsamehang nuwe relevansie kry?

Dit bring my by Funk se stellings wat jy in jou brief onder die loep neem, want Funk is kennelik alte gretig om van klassieke idees af te kom. Hy wil ’n byderwetse — kom ons sê maar ’n “Funky” — teologie hê. Dit noem hy dan ’n “radikale reformasie”. Maar reformasies het nog nooit onder die opskrif “Reformasie” plaasgevind nie. Toe Luther sy 95 stellings op ’n deur vasgespyker het (die internet van destyds), het hy nie ’n “reformasie” in die oog gehad nie. Hy wou maar net ’n gesprek aan die gang kry. Die probleem is dat niemand wou praat nie. Sekere dinge het onbespreekbaar geword, want die stakes was te hoog. Toe ou Martin hom kom kry, word hy voor die keuse gestel om sy stellings terug te trek of uit die kerk gegooi te word, amper soos Beyers Naudé na Cottesloe. En toe is dit nie meer ’n keuse nie, maar ’n onvermydelike “hier staan ek ...”

Ook in Funk se denkraamwerk is daar baie wat nie oop is vir bespreking nie. Hy rammel sy dogma af soos ’n wafferse pous: “There is not a personal God out there ... The notion that God interferes with the order of nature is no longer credible ... Prayer is meaningless when understood as requests addressed to God ...” ’n Mens voel eintlik al die versmading waarmee jy aangekyk gaan word as jy vra: “Hoe so?” Is ek dan soos “most people”, wat “primitive” opvattings huldig? Tog kan ek nie aan dié simpel vragie ontkom nie. Hoe weet Funk al hierdie dinge? Of laat ek liewer sê: Wat maak hom so seker? Hy gee in elk geval nie eintlik redes nie (Luther het hom darem nog op die Bybel beroep). Ons moet maar genoeë neem met deklarasies: The professor has spoken. Vir hom gaan dit hier om vanselfsprekendhede. Ook daarom verwag ek nie ’n reformasie (en nog minder ’n “radikale” een) uit daardie hoek nie.

Kan daar iets goeds uit Amerika kom? Wel, uit Nasaret in elk geval wel; daarom wend ek my eerder tot die Derde Wêreld, die huidige swaartepunt van die Christendom, waar ’n vooraanstaande historikus (was dit Hastings? Of Walls?) die proliferasie van onafhanklike swart kerke as Afrika se weergawe van die “radikale reformasie” beskryf het. Wie die wêreld wat hier ter sprake kom, ook maar vir ’n oomblik ernstig wil neem, ontdek gou dat min van Funk se soort vanselfsprekendhede lank staande bly. En waar fondamente wankel, daar is lewe. Dit is ook Setiloane se tese: Reformasie vind plaas — of liewer: kan plaasvind — wanneer die Christelike geloof in ’n nuwe kultuur te lande kom. Jyself weet dat hierdie dinamiek nie beperk is tot die “onafhanklike kerke” in die streng sin van die woord (soos die ZCC) nie, maar ook werksaam in die sogenaamde “hoofstroom-” of “sendingkerke” in swart Afrika, wat lankal teen wil en dank van alle hoof- en geldstrome afgesny is. Ook gemeentes soos joune is in meer as net die letterlike sin “off the beaten track”.

Die probleem is, ons wat in die Westerse denktradisie opgevoed is, het groot moeite om ’n nie-Westerse ander ernstig op te vat. Funk gee die speletjie weg wanneer hy langs temporele lyne argumenteer. Hy bied ons ’n chronologie van die Westerse geestesgeskiedenis, kompleet met ’n “metaphysical age”, ’n “advent of Darwinism”, ’n “new understanding of the earth” en ’n “deliteralization of Genesis”. Gegewe hierdie (skynbaar noodsaaklike) tydlyn, kan bepaalde opvattings geklassifiseer word as “no longer credible”, of ’n “remnant” uit die verlede. Die feit dat die meeste mense in die wêreld klaarblyklik aan die noodsaaklikheid ontkom om hierdie “onmoontlike” opvattings vaarwel toe te roep, laat ons nie die skema in twyfel trek nie. Inteendeel, ons kan dit ook by die skema inforseer: “Most people still believe it” — met ander woorde, dis net ’n kwessie van tyd, dan sal hulle ook bykom. CS Lewis het dit genoem “chronological snobbery”: die gedagte dat ’n mens se eie tyd altyd beter as voorafgaande tydperke is. Hy beskou dit tereg as bekrompe en oppervlakkig:

    To reject an idea because it does not immediately appeal to our own age is to be provincial, to have the self-complacent blindness of the stay-at-home.

Christene het nog ’n verdere en belangriker rede om teen kronologiese snobisme en die gepaardgaande selfingenomenheid te waak. Volgens die evangelie lê die hoogtepunt van die geskiedenis, die telos of doel daarvan, nie in die toekoms nie, maar het dit twee millennia gelede plaasgevind in ’n agterbuurt van die Romeinse Ryk. Dit was ook nie ’n mitiese “goue eeu” nie, maar ’n inbreuk op die gang van dinge, ’n bliksemstraal, om vir ’n oomblik een van Karl Barth se gunstelingbeelde op te roep. Daarom kan Christene ook nie kultuurpessimiste wees in die sin dat hulle ’n soort vervalteorie aanhang nie. Immers, die hoogtepunt was tegelyk die dieptepunt van die geskiedenis: God wat uit die wêreld tot aan die kruis verstoot word. Nóg progressie, nóg regressie bied ’n toereikende kader om te verstaan waaroor dit werklik in die lewe gaan. Belangriker is dat ons altyd onder God se oordeel én genade leef.

Potensieel begrond dit die enorme “vryheid van die christenmens”, soos een van Luther se klassiekers heet. In die mate waartoe ons daaruit kan leef, kweek ons die soort “kronologiese” en kulturele onpartydigheid en ruimhartigheid wat die teenoorgestelde is van die “self-complacent blindness of the stay-at-home”. So kon Jesus geloof in Samaritane en goyim ontdek en Paulus, die respektabele rabbi, sy eie kultuur-bepaalde uitnemendhede radikaal relativeer. Dit is groot woorde hierdie, en daarom het ek ’n kwalifikasie daaraan toegevoeg: “In die mate waartoe ons daaruit kan leef ...” Dit kom nie so maklik nie. Ons gewone sterflinge het miskien hulpmiddele nodig. Ons kan die evangelie as ’n leidraad sien, wat vir ons sê waarvoor ons moet uitkyk, maar nie altyd duidelik maak hoe ’n mens daar kom nie. Waarvoor ons moet uitkyk, is die feit dat ook óns tyd, óns kultuur, óns samelewing, nie God kan bevat nie. Soos Bob Dylan sing (in “Frankie Lee and Judas Priest”): “Don’t go mistaking paradise for that home across the road.” Dis omdat hy ’n Jood is dat hy dit so goed snap:

    Die Joodse religie duld geen woord wat die vertwyfeling van alles wat sterflik is, troos gee nie. Hoop knoop dit slegs aan die verbod om die valse as God aan te roep, die eindige as die oneindige, die leuen as waarheid.

So siteer jy vir Horkheimer en Adorno in jou laaste brief en dan wys jy ook dat Jesus die Jood by uitstek is, dié “seun van God”, soos Israel telkens in die Hebreeuse Skrifte genoem word.

In sy inleiding tot Frantz Fanon se Les damnés de la terre (Engels: The wretched of the earth) skryf Jean-Paul Sartre (as ek hom maar mag parafraseer) dat Europeërs ook in hulle momente van selfkritiek eintlik maar net hulself op die skouer klop. Op die morele vlak kom dit tot uiting in die woorde van ’n koloniale amptenaar wat hy leedvermakerig aanhaal: “Ons Westerlinge is miskien nie engeltjies nie, maar ons het ten minste spyt daaroor.” Op die vlak van denkbeelde sien ’n mens dit in ’n Westerse rede wat sigself onder kritiek probeer stel vanuit ’n vooruitgangsdenke.

Miskien is ek te hard op Funk, maar ek ontkom nou maar eenmaal nie aan die beeld van ’n verligte Amerikaanse teoloog wat meen dat hy reeds oor die wenstreep is en nou selftevrede, dog ietwat geïrriteerd en ongeduldig, met gevoude arms vir die res staan en wag om in te haal nie — die teologiese variant van Fukuyama se The end of history: Alle ossewaens (behalwe dié wat langs die pad van passe afstort of deur wilde diere oorval word) kom uiteindelik by dieselfde bestemming aan, al doen party dit vinniger as ander. So rus die kritiese moment in die Verligting alte maklik op ’n onkritiese absolutisme en fundamentalisme, wat klaar gearriveer het. Om van ’n heidense noodsaaklikheidsdenke nie eers te praat nie.

Wat nou as ons die evangelie se leidraad volg? Wel, dan moet ons saam met Adorno sê: Net ’n god kan ons red. As ons dan redding behoef (gesondes het nie ’n dokter nodig nie), dan moet die spore van ons onvolmaaktheid tog êrens sigbaar wees.

Hier dreig die gevaar van ’n “god van die gate”, waarteen Bonhoeffer gewaarsku het: die neiging om mense “geestelik te wil verkrag” wanneer hulle op hul swakste is. Daarteen moet ons waak. Tog meen ek nie dat Bonhoeffer die regte rigting as alternatief aanwys nie, want dié rigting is te triomfalisties, veral van buite die Weste (buiteweste?) gesien. Hy is reg dat ons nie na God moet soek in die gate wat hier en daar die indrukwekkende bouwerk ontsier nie, maar hy is verkeerd as hy daarvoor pleit dat ons die bouwerk in sy “outonomie” moet laat. Daar is ’n derde moontlikheid: om die bouwerk in sy fondamente en mees basiese struktuur onder kritiek te stel. Die vernuwing wat Christus bring, kan nie maar net ’n paar kosmetiese verbeterings behels nie.

Daarom moet ons beaam wat Heidegger sê: Ons het ’n “nuwe denke” nodig. Nie nuut soos in “die nuwe, verbeterde uitgawe” nie, maar nuut soos in ’n ander program. Dit bly natuurlik waar dat ons nie uit ons kulturele betekenisweb kan ontsnap in die sin dat ons met God se oë kan kyk nie. Dit is ook so dat elke nuwe denke kort voor lank self vir ’n nuwe denke uitroep — ’n ou denke word. Tog kan dit help om ons eie staanplek in die wêreld te relativeer as ons onder die indruk daarvan kom dat dit moontlik is om op ’n heel ander plek te staan. So bly die “eskatologiese voorbehoud”, wat Jesus die wêreld ingeloods het, lewendig.

Waar sal ons so ’n nuwe denke soek? Heidegger self kyk onder meer na die pre-Sokratici. Nietzsche gryp op sy beurt na die Griekse tragedie.

Onlangs het die Duits-Nederlandse filosoof Heinz Kimmerle ’n veel radikaler opsie voorgestel: om heeltemal buite die Westerse tradisie te soek. As voorste Hegel-kenner en gerespekteerde leerling van Gadamer het hy die ongehoorde gedoen: na Afrika geluister. Dit is ’n moeilike postuur vir ’n Westerling om aan te neem: luisterend — sonder om die ander se andersheid te verklaar, of die ander te beleer, of selfs te meen dat jy die ander verstaan. Waarna Kimmerle soek, is juis die “erratiese blok”, daardie moment in die interkulturele ontmoeting wat nie naatloos geïntegreer kan word nie. Kimmerle wil hiermee self die lineêre vooruitgangsdenke van die diskoers van “ontwikkeling” onderbreek. In die filosofie en die kuns, sê hy, kan die Weste en die nie-Weste op volstrek gelyke voet ontmoet. Uit die vroeë Hegel grawe hy die verrassende uitspraak dat die filosofie geen vooruitgang ken nie. Een van ons groot politieke pioniers — ek dink dit was Dube — het ’n proefskrif geskryf waarin hy daarvoor pleit dat Hegel se Geestesgeskiedenis herskryf moet word om ook die Gees van Afrika te omvat. Alleen so kan God — eerder as ’n etniese afgod — regtig ter sprake kom. Daarmee gryp hierdie Afrikanis dekades gelede vooruit op die groot teologiese betekenis van Kimmerle se interkulturele projek.

So ’n ontmoeting kan ons help om ons eie denke en ons eie tyd van die dodelike bekoring van vanselfsprekendheid te ontdoen — om, soos Gianni Vattimo dit uitdruk, die onttowering te onttower en die ontmitologisering te ontmitologiseer. Nie dat dít geloof is nie. Nie dat dít op sigself die werk van Christus is, of “reformasie” nie. Maar waar dit gebeur, is reformasie altyd moontlik, of ten minste denkbaar. Miskien is dit al genoeg. Vir eers in elk geval, of tot tyd en wyl.

Een van die interessantste ontdekkings wat ek in my studie van Afrika-teoloë gemaak het, is hoe hulle die Christelike tradisie kan gebruik om die Weste onder kritiek te stel. Juis die emansipatoriese teoloë slaan dikwels hierdie (miskien onverwagte) weg in: mense soos Manas Buthelezi, Desmond Tutu en die Tanzaniër Charles Nyamiti. Hulle voel dat die Christelike tradisie ’n soort derde instansie is waaraan hulle hulself uit onderhorigheid aan die Weste kan trek sonder om in ’n selfverheerlikende nasionalisme te verval. Daarmee bevry hulle nie net hulself nie, maar ook die Christelike tradisie, van die tirannie van die Westerse rede. Let wel, ek pleit nie vir irrasionaliteit nie. Dat dit so mag klink, is eerder daaraan te wyte dat ons geneig is om “Westerse rede” met “rede” gelyk te stel. Dit is juis waarteen ek hier probeer pleit. Dis immers onredelik om die partikuliere te universaliseer.

Histories gesien het die Afrika-teoloë natuurlik gelyk. Al beweer Hilaire Belloc dat “Europe is the Church, and the Church is Europe”, transendeer die Christendom Europa op elke denkbare manier: temporeel deurdat dit die Christelike Europa voorafgaan (en kennelik ook oorleef); geografies en kultureel deurdat dit reeds vanaf die vroegste tye ook in Afrika en Asië wortel geskiet het. G’n wonder nie dat Europa in sommige van haar slegste oomblikke, soos tydens die dertiger- en veertigerjare in Duitsland, die Christendom as ’n indringer, ’n Trojaanse perd beleef het. Soos die Romeine vir Christus.

Dit bring my by ’n ietwat verrassende gevolgtrekking. Miskien moet ons nie so haastig wees om die opdrifsels van ons geloofstradisie, die depositum fidei, te offer op die altaar van vooruitgang en verligting nie. Miskien moet ons twee keer dink voordat ons ’n persoonlike God, transendensie, wonderwerke, die wederkoms, voorbidding en aanbidding, as uitgediend van die hand wys. Ons moet ten minste die woord gun aan diegene wat met sterk filosofiese argumente die vanselfsprekendheid van so ’n afwysing bevraagteken. Ons moet agterdogtig wees oor die gemak waarmee ons deur fasiele argumente oorrompel word. Bo alles moet ons nie vergeet om stil te staan by die onontkombare feit dat daar ander is wie se vanselfsprekendhede nie met ons s’n ooreenkom nie — en dit sonder om die menswaardigheid van daardie ander te misken. Ook hier is dit waar wat jy sê: dat ons God slegs in die aangesig van die ander ontmoet.

Ek het gesê dit is ’n verrassende konklusie. Maar is dit? Een slagspreuk wat die hervormers met die laat-middeleeuse humaniste gedeel het, is: ad fontes!, na die bronne! Luther se reformasie was nie ’n “agterlaat” van die uitgediende nie, maar in ’n sekere sin ’n teruggryp, oor die “nuwighede” van sy tyd heen. Die missioloog Barrett vertel ons ook dat die teenwoordigheid van ’n Bybel in die inheemse tale een van die deurslaggewende faktore is wat die ontstaan van onafhanklike swart kerke in ’n bepaalde streek waarskynlik maak.

Daarom dat ek wil vra: Is ’n “Funky” teologie wat ons nodig het?

As ek die spoor nou te ver byster geraak het, vetrou ek jou om my te bekeer en weer op die goeie weg terug te bring! Daarvoor dank ek jou by voorbaat.

Jou vriend

Gerrit

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.