Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

20.3.2001

Beste Murray

Jy begin jou brief met ’n verwysing na dubbelheid en sluit dit af met die onderskeiding van geeste. Daarmee dui jy ’n roete aan waarlangs ek miskien aan jou uitnodiging kan voldoen om te reageer op jou tipering van die metafisiese Godsbegrip. Om my aan hierdie roete te hou — die smal weg — sal my hopelik daarvan weerhou om die maklike antwoord te gee.

Die maklike antwoord is ’n analise van die begrip metafisies. Met smalende angelsaksiese ironie sou uitgewys kon word dat almal deesdae teen “metafisika” is, maar dat niemand weet wat hulle daarmee bedoel nie. Die beste omskrywing van metafisika is: uitsprake wat in beginsel nie empiries gekontroleer kan word nie.

Dit is onmoontlik om as kiesende, handelende mens in hierdie wêreld te leef sonder opvattings van metafisiese aard. Dit het dus geen sin om aan die metafisika te probeer ontkom nie. Veel beter is om na eventuele beoordelingskriteria vir die metafisika te soek. Die Godsbegrip is byna per definisie metafisies — behalwe miskien in ’n soort “physico-teologie” waar aan God as ’n detekteerbare kragveld of iets dergeliks gedink word. Die vraag is dus nie of ons ’n metafisiese Godsbegrip moet hanteer nie, maar eerder watter metafisiese Godsbegrip die beste is.

Uiteindelik is hierdie maklike antwoord ook die regte een — maar nie sommer van die begin af nie. Die maklike antwoord help ons naamlik om valse struikelblokke (Grieks: skandalon) uit die weg te ruim, sodat ons die eintlike — en veel groter — skandaal van wat Moltmann noem “die gekruisigde God” in die visier kan kry. Dit vra om ’n moeilike antwoord.

Laat ek dan begin by die dubbelheid waarvan jy melding maak: die dubbele aard van boere-blues.

Alle blues is dubbel in soverre dit ’n element van “lekker heimweë” bevat. Koos Kombuis sing van “die klavier se grootste vreugde — hartseer en verlange  ...”. Hierdie dubbelheid word goed geïllustreer deur C.S. Lewis se gebruik van die term joy (toevallig ook sy latere vrou se naam) om so iets as weemoed of Sehnsucht weer te gee. Joy, sê hy, is ’n gemis — maar dan ’n gemis wat meer begeerlik is as die besit van enigiets anders. Jy kan dit egter alleen “enjoy” in soverre jy nie dit nie, maar iets anders “contemplate”. Joy is dus ’n vorm van verlange — en dit verdamp sodra dit self die objek van verlange word. Verlange impliseer ’n soort tuisloosheid. Om ons gesprek tot dusver te verbreed, hoef ons dus alleen maar te besef dat die tuisloosheid van die “grens” nie slegs op kulturele dakloosheid dui nie, maar op dakloosheid as sodanig.

Vir Lewis, net soos vir Augustinus, is die objek van ons verlange God: “Onrustig is ons hart, totdat dit rus vind in U  ...”. God is dus die bron van joy, oftewel blues. Maar dit beteken dat God op ’n paradoksale manier slegs aanwesig is as die afwesige — en dat geloof inhou om die wêreld as ontdaan van God te beleef. Geloof kan nooit vrede hê met die werklikheid “soos dit nou maar eenmaal is” nie.

Jy vra in jou brief of jou opmerking dat ’n adekwate interpretasie van die werklikheid eintlik alreeds die werklikheid verander, te veel na Hegel klink vir my smaak.

Die probleem met Hegel is dat hy blykbaar van mening was dat die werklikheid byna resloos ingepas kan word by ons denkbeelde. Miskien is dit, paradoksaal genoeg, ook die probleem met Marx se groot verhaal. Die moderne word nie, soos dikwels beweer word, gekenmerk deur ’n oordrewe obsessie met die werklikheid an sich nie, maar juis deur ’n onderskatting van die objektiwiteit, die gegewenheid van die werklikheid. Die konstruktiwisme — die gedagte dat ons die werklikheid nie bloot aantref nie, maar dit denkend konstrueer — is dus alleen “post-modern” in soverre dit rekening hou met die feit dat ons konstruerende aktiwiteit, hetsy denkend of handelend, maar net een krag te midde van baie is. As die werklikheid ’n samespel van kragte is, soos die dinamiese ontologie van Afrika leer, dan moet ’n “adekwate interpretasie” ook ons uitgelewerdheid aan magte buite onsself — en daarmee ons pynlike disoriëntasie — duidelik maak.

Dit is hier, vermoed ek, dat die probleem met die metafisiese Godsbegrip om die hoek kom loer. Omdat metafisiese uitsprake per definisie nie nagegaan kan word nie, bestaan die gevaar altyd, soos Feuerbach ons leer, dat ons ons wense en fantasieë op die metafisiese projekteer. As dit op so ’n manier gebeur dat ons voorstelling van God as kompensasie vir ons lyding aan die werklikheid dien, dan word die verlange verdoof eerder as versterk. Simon Maimela kla oor “die teologie van die sendelinge”, waarvolgens mense verlos kan word — die hoogste geluk kan vind — terwyl hulle ten onder gaan aan sosiale onreg en verdrukking. Dit beteken natuurlik dat konkrete lyding nie soveel saak maak nie — geluk is om vrede met die werklikheid te maak. So word die onvrede van verlange besweer, maar daarmee word die vreugde — die heil — van verlange ook ontbeer.

So ’n Godsbegrip is ’n vorm van waansin. Volgens Morton Kelsey, ’n Amerikaanse teoloog en Jungiaan wie se boeke ek op ’n stadium verslind het, is daar twee basiese vorme van geestesversteurdheid: neurose en psigose. Wat hulle gemeen het, is dat hulle voortvloei uit ’n onvrede met die werklikheid. Terwyl die neurotiese pasiënt bloot aan hierdie onvrede ly in die vorm van spanning, depressie e.s.m., los die psigotiese pasiënt dit op deur aan die werklikheid te ontvlug deur middel van hallusinasies. ’n Godsbegrip wat die blues besweer sou mens dus psigoties kon noem. Dit geld vir die “teologie van die sendelinge”, maar ook vir Aristoteles se onbewoë Beweger — wat sy weg in die christelike teologie ingewurm het in die vorm van ’n God wat geen gebrek ly nie, geen behoeftes het nie en dus nie kan liefhê in die ware sin van die woord nie. Kontemplasie van so ’n God kan by ’n mens ’n sfinksagtige, stoïsynse verhewenheid bo die trivialiteite van elke dag teweeg bring.

Dit is denkbaar dat geluk lê in ontvlugting na ’n virtuele werklikheid. Waansin — soos “die werklikheid” — is ’n relatiewe begrip. Om iets as sodanig te tipeer is nie noodwendig om dit te diskwalifiseer nie. Om die waarheid te sê, ek wil juis pleit vir ’n vorm van geloof wat as waansin getipeer kan word, maar dan ’n soort waansin wat in ooreenstemming is met ’n gerigtheid op Christus, wie se intimiteit met God hom geen vrede met die werklikheid besorg het nie — ’n vorm van neurose dus (Freud was dus reg).

Daar is ander alternatiewe vir die psigotiese Godsbegrip — met name lewensbeskouings waarin die Godsbegrip überhaupt geen rol speel nie. Een wat deesdae baie populêr is, is die boeddhisme — of in elk geval soveel daarvan as wat vir baie westerlinge aantreklik is. Die onderliggende gedagte is ’n openheid vir die werklikheid in al sy kompleksiteit en ongrypbaarheid. Geen psigotiese wensdenkery dus nie. Om so ’n houding te kan volhou, is dit nodig om begeerte — die bron van alle lyding — los te laat. Geen neurose dus nie — en daarmee saam geen blues, geen joy, geen heimweë nie. ’n Aantreklike lewensvisie, maar tog op gespanne voet met die visie van Jesus. Ek moet dink aan Johan Heyns se treffende kontras tussen Sokrates se kalmte in sy laaste ure en Jesus se wroeging in Getsémane. Hierdie vorm van boeddhisme — en dit is die vorm wat in die Weste inslag vind — deel ook die status quo bevestigende neiging van die onbewoë Beweger: geen stryd met die werklikheid “soos dit nou eenmaal is” nie.

Plaas dit teenoor C.S. Lewis se opmerking: “Die probleem met ons mense is nie dat ons te veel begeer nie, maar te min.”

Nog ’n God-vrye alternatief — en een wat die lyding aan die wêreld juis wil wakker hou — is die God-is-dood-teologie. Ek sien onlangs by die stasie ’n plakkaat van Loesje, ’n Nederlandse graffiti-kollektief wat in Arnhem gevestig is: “Wees stil — en weet er is geen verlosser.” Daar hang ’n aura van verbete eerlikheid om hierdie gedagte. Tog kom ’n ander gedagte by my op: Wees stil — en wonder hoekom hierdie plakkaat in Utrecht hang, en nie in Thohoyandou nie. Is dit miskien makliker om die “harde werklikheid” onder oë te sien as jy geïsoleer is in die sagte kussings van ’n ryk welsynstaat? Is die “realisme” van die God-is-dood-teologie heeltemal vry van wensdenkery — ’n wegwens van ’n God wat dreig om die Westerse selfingenomenheid te versteur? Loesje se slagspreuk wil die verlange — die lyding aan die werklikheid — wakker hou. Die vraag is of dit kan. Kan ons die klassieke teïsme — wat jy noem die metafisiese Godsbegrip — so verstaan dat ons God kan dink as bron van verlange?

Jy vertel in jou brief van Piet Mavhetha wat gesond geword het toe dit aan hom openbaar is dat hy waardig is. Dit is die krag van liefde — dieselfde krag waarmee Jesus genees het. Om in die krag van liefde te glo hoef nie metafisiese proporsies aan te neem nie. Medici het al eksperimenteel aangetoon dat ’n liefdevolle omgewing mense se kanse op genesing van enige denkbare siekte aansienlik vergroot. Om egter te glo dat hierdie krag — eerder as ons eie “werklikheidskonstruerende” krag of watter ander krag ook al — die deurslaggewende krag is om mee rekening te hou, is om die grense van empiriese kennis te oorskry, rigting metafisika.

Om van die oormag van liefde te praat is om, naas die liefde, nog ’n eienskap van die “metafisiese” God te betrek, naamlik almag. Die opvatting dat God almagtig is, word, weet ek, dikwels afgemaak as deel van die vreemde, “Griekse” invloed op die christelike teologie. Niks is egter verder van die waarheid nie. Vir die Grieke sou dit ondenkbaar wees om mag aan die Goddelike toe te dig en daarom het hulle dit ook nie gedoen nie. Mag impliseer immers handelingsmoontlikhede en handeling val nie te versoen met ’n onbewoë Beweger nie. Almag is juis die christelike novum by uitstek. Dit gaan hier nie oor ’n statiese hoogste beginsel nie, maar om ’n lewende God wat wil en doen.

Ons weerstand teen die woord mag is te wyte aan ons totalitêre opvatting van mag. Dit bring my by jou opmerking dat die mens ’n heerser moet wees soos God ’n heerser is — “nie om oor ander mense te heers nie — maar eerder in gemeenskap met ander mense te sorg vir die wêreld”. Manas Buthelezi maak dieselfde punt ten opsigte van die begrip black power — dit hoef geen rassedominasie te suggereer nie, maar kan ook dui op die “mag” wat swartmense moet opeis om as gelykes saam met hul medemense die wêreld te versorg. Kan God se almag — of oormag — nie ook so gedink word nie? Soos jy sê: “Die koning aan die kruis. Die Heer is Jesus.”

Daar is ’n soort mag wat ander bemagtig eerder as ontmagtig. Ek het al na die mag van die liefde verwys. Daar is egter ook — en miskien is dit dieselfde — die mag van verlange. Nie net die mag om verlange op te wek nie, maar ook die mag om te verlang. Juis daarin lê die besondersheid van ’n christelike omgang met wat ons sou kon noem die “eksistensiaal van verlange”: dit is nie net ons wat na God verlang nie, maar juis ook God wat na ons verlang. Volgens Aristoteles bring God alles in beweging deurdat Hy dit aantrek, soos ’n magneet. Volgens Christus trek God se verlange haar af na ons toe.

’n God wat met almagtige verlange liefhet — kan dit versoen word met onveranderlikheid? Dit kan, as ons daarmee bedoel dat God sonder ophou verlang. En wat van volmaaktheid? As ons meetlat die kruis is, staan die selfgekose “gebrek” en “behoefte” van die liefde nie op gespanne voet met volmaaktheid nie — inteendeel. Die eenvoud van God dui weer op die integriteit — die “single-mindedness” — van God se lief en leed. Onlydelikheid (impassibilitas) en selfgenoegsaamheid (aseitas)? Selfs hierin sit waarheidsmomente, want God kies self om ’n lydende, verlangende God te wees — ter wille van ons. Dat hierdie God ons ken en by ons is, val saam met die feit van sy liefde, wat op sy beurt rym met die feit dat God ook in haarself gemeenskap is: Ancestor, Descendant en Ancestral Descendancy, om Charles Nyamiti se terminologie te gebruik.

En daarmee is die God van die klassieke, christelike teïsme gegee: liefde, almag, onveranderlikheid, volmaakte goedheid, eenvoud, soewereiniteit, alomteenwoordigheid, alwetendheid en drie-enigheid. Onmiskenbaar metafisies — en tog ’n God wat verlangend die blues en die joy van verlange lewend hou. Om dié God te vergeet is om van baie pyn en baie vreugde af te sien. Herman van Veen het eenkeer in ’n onderhoud so geantwoord op die vraag, “Waarvan is jy seker?”:

    Daar is sprake van ’n verbysterende liefde . Daar is sprake van ’n verbysterende aanbod van lewe . En veel mense ontken hierdie realiteit. En deurdat hulle dit ontken, verdien hulle heel veel daaraan  ...

Ek het die metafisiese Godsbegrip — by implikasie ook die een wat ek verdedig — waansin genoem. Plato het soms gepraat van “Goddelike malheid”. Durf ons hoop dat die waansin van verlange opgewasse is teen die werklikheid?

In sy boek oor Verwoerd en Tsafendas, Een mond vol glas, beoordeel die Nederlandse skrywer Henk van Woerden die moord op Verwoerd as volg:

    Vir ’n oomblik was die mag van waansin gelyk aan die waansin van die mag.

Daarmee wil ek nie te kenne gee (of ontken) dat die waansin van Tsafendas en die Goddelike waansin identies is nie. Daarvoor sal dit nodig wees om vorme van waansin en metafisika — soos die geeste — te onderskei.

Miskien kan jy my daarmee help?

Groete

Gerrit

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.