Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Bybel is ook die ene briewe

Sendbrief GM1: 10/01/2001

Beste Murray

Hier sit ek dan in Europa waar ek hoop om iets oor die Afrika-teologie wys te word. En daar in diep Afrika verdiep jy jou in ’n Duitse teoloog met ’n hart vir die armes. Voor my lê ’n “call for papers” vir ’n kongres in een van Europa se oudste en mooiste stede: “Theology and conversation”.

Daarmee is sowel die konteks as die vorm van ons korrespondensie gegee.

Die konteks: Vreemdeling in twee kontinente ... Die erfsonde van die Afrikaner.

Die vorm: Teologie as gesprek. “Een traditie bestaat ... uit een voortgaand debat of zelfs conflict over de zin en de doelen van ... praktijken,” lees ek onlangs.

’n Briewewisseling is miskien wel die mees toepaslike setting vir teologiebeoefening — veral omdat dit geen duidelike einde hoef te hê nie. Dat ons tans geen ander keuse het as om ons teologiese gesprekke op skrif voort te sit nie — daarin lê miskien veel belofte opgesluit.

Verskeie presedente kom by my op.

Ek onthou ’n boek deur twee Duitse Nuwe Testamentici. Die een skryf die verhaal van die historiese Jesus in romanvorm. Die ander onderbreek telkens sy verhaal deur middel van intervensies per brief. Op dié briewe moet die verteller natuurlik ook antwoord — die verhaal word bespreekbaar gemaak. Op dié voorwaarde mag dit voortgaan.

Ek dink aan C.S. Lewis se Letters to Malcolm. Briewe aan ’n denkbeeldige vriend — oor gebed. Die vriend se briewe word telkens veronderstel. Hulle bestaan alleen in verwysings. So kan die skrywer sy eie monoloog ’n dialogiese kwaliteit gee — homself bevraagteken en relativeer.

En dan daardie epiese debat-per-briewewisseling tussen twee vurige Britte: die Anglikaan Arnold Lunn en die ateïstiese C.E.M. Joad. Die onderwerp: die waarheid van die Christelike geloof. Twee dinge bly my by oor dié boek. Eerstens, dat so ’n hete onderonsie in so ’n vriendskaplike gees kan geskied. Tweedens, dat een van die twee partye in latere publikasies die ander gelyk gegee het. ’n Tweegesprek kan soms iets oplewer ...

Die Bybel ook natuurlik — die ene briewe. Die geadresseerdes se reaksies is nie gekanoniseer nie. Desnieteenstaande is daar tantalizing hints tussen die lyne te bespeur. Agter dié tekste lê baie konflikte, misverstande en verwyte. So lyk die basisboek van ons geloof: “een voortgaand debat of zelfs conflict”. Die onderwerp: “Wie sê julle is Ek?”

Waaroor sal ek en jy gedagtes wissel?

Die 19e-eeuse Xhosa digter Jonas Ntsiko noem die verlossing waaroor die sendelinge so baie praat, ’n “fabulous ghost”. Dit is myns insiens die groot probleem met die teologie: dit is baie moeilik om so oor die dinge te praat dat dit nie alles tot ’n fantastiese spook verdamp nie — hetsy in spookagtige metafisika, of in so ’n sekularistiese teologie dat die hele transendente dimensie as’t ware vervlugtig tot ’n wasige niks.

Die ander kant van die spookstorie is egter natuurlik ook dat Afrikane, anders as Europeane, nog in spoke glo. Daarin lê miskien juis Afrika se bydrae tot die konkretisering en “ontspoking” van die verlossingsleer. Hoe om ’n greep hierop te kry? Derrida het dit oor die gees (“spectre”) van Marx, en danksy jou boekverwysing het ek nou toegang tot Heinz Kimmerle se bespreking van daardie essay teen die agtergrond van die Afrika-filosofie. Dit is ’n begin. Dan is daar die Vlaamse filosoof Ijsseling waarvan ek jou al vertel het — hy bepleit ’n terugkeer na die politeïsme: Apollo, Dionysos, Aphrodite “en de anderen”. En die Ghanees Bediako met sy onlangse uiteensetting van die pluriforme kosmologie van Afrika. Met ’n bietjie prutselwerk (bricolage) kan ek miskien so ’n konseptuele instrumentarium bymekaar skraap waarmee ek iets van die spookstorie kan begin snap.

Ek moet ook ’n kontras hê, ’n vergelykende instansie. Daarom lees ek op die oomblik alles wat ek kan oor die denke rondom heil in die Westerse teologie. Ek het al ’n paar goeie boeke raakgeloop. Daar is Paul Fiddes wat die verband soek tussen “past event” en “present salvation”. Met die oog hierop wil hy vir Abelardus revive — daardie bekende middeleeuse minnaar wat die verlossingskrag van die kruis daarin sien dat dit, deur die liefde wat dit openbaar, wederliefde in ons oproep. In nog ’n resente boek tackle die Duitser Jürgen Werbick programmaties en deeglik die tema Soteriologie (die verlossingsleer): hy gaan in gesprek met die groot Germaanse wysgere — ook daardie een wat God dood verklaar het, maar tog sulke aangrypende goed oor Jesus kon kwytraak. Albei skrywers werk vernaamlik met psigologies-eksistensiële kategorieë, maar trek dit tog ook sosiaal-krities en bevrydingsteologies deur. Albei kwyt hulle goed van hul taak.

Een boek wat my minder aanspreek, handel oor Responsibility and atonement. Die outeur — gesetel in een van Engeland se mees prestigieuse universiteite — is argumentatief uiters skerp, maar retories ietwat bombasties, selfs kru. Hy verdedig vir Anselmus: Cur Deus homo — waarom het God mens geword? Omdat sy eer gekrenk is sodat dit vir Christus nodig is om aan die kruis genoegdoening, satisfactio, te verskaf. My probleem is nie met Anselmus nie, maar met die Engelsman se verdediging van hom. Hy doen die goeie ou skolastikus geen eer aan nie.

Dit is waar my “gedagtes swewe”. Sê maar wat jy van dit alles dink.

Ons geniet dit nog hier. Dit raak net soms ’n bietjie eensaam tussen hierdie private en saaklike mense. Ons dink daaraan om een van die onafhanklike Afrika-kerke hier in die aandland op te soek — ter wille van die community spirit. Die kerk hier respekteer jou individualiteit en privaatheid so erg dat jy soms voel dit sal ook nie veel verskil maak as jy van die aardbodem af verdwyn nie. Ek het dit nog altyd in teorie geweet, maar nou voel ek dit aan my bas: daar is ’n moerse verskil tussen toleransie en gemeenskap.

Solank mens net nie in die koue berus nie — “comfortably numb”. Dit is mos waar jou Duitse teoloog inkom. Met sy teologie van passie. Die wind waai waar hy wil.

Ek sien uit na jou volgende skrywe.

Tot dan, mooi bly.

Jou vriend,

Gerrit

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.