Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kyk nou net wie geniet die Amerikaanse tameletjie!

Chris Heymans

Daar is ’n hele klomp grootbekke deesdae oor die Amerikaners se verkiesingsgestoei. Vanuit ons buurland Zimbabwe, byvoorbeeld, kom die leedvermakerige, “Wie is hulle om ons van demokrasie te vertel: kyk net na die gemors in hul eie land?”. In wat stellig een van die grootste provokasies was, het Fidel Castro glo sy hulp aangebied om die onvriendelike buurman langs Kuba uit die grondwetlike dilemma te help. John Berks se mening op Radio 702 was: Castro is straks die gelukkigste persoon op aarde na hierdie gedoente. En dan is daar natuurlik nog Ghaddafi.

My advies vir diegene wat so lekker kry, is: Stadig mense, stadig ... Nog meer so wanneer ek kyk na wie voor in hierdie lekkerkry-koor staan.

Natuurlik is die hele gedoente ’n verleentheid vir die Amerikaners. Allerhande onverwagse ontdekkings oor die Amerikaanse politieke stelsel is in die afgelope tyd gemaak. Om verskillende tellings te kry elke keer dat jy tel, gee jou nouliks vreeslike gemoedsrus oor die integriteit van die verkiesingsproses. Die kattekrap wat in party distrikte as stembriewe getel het, laat jou nou ook nie eintlik voel dat jy na die grootste en mees ontwikkelende ekonomie op aarde kyk nie. Miskien is die snaakste een dat in geval van ’n gelykopstryd in Nieu-Mexiko, die wenner in verkiesings deur ’n rondte poker bepaal word. Maar nouja, miskien is dit beter as ’n kieser wat baiemaal nie eintlik weet waarvoor hy stem nie! (Republikein of Demokraat wat nie sy of haar “mind applied” het nie.)

Daar is ook allerhande vrae oor die volle eerlikheid van die proses. Is pensionarisse om die bos gelei? Kan die handtellers vertrou word? Beteken die variasies tussen tellerye dat ons nooit regtig die tellers kan glo nie, of hulle nou mens of masjien is? Hoe kan mens dit aan ’n partypolitikus oorlaat om oor prosesse te besluit wat sulke ooglopende partypolitieke implikasies het?

Voeg hierdie dinge by die verleenthede oor Bill en Monica, die ongelooflike gesegdes van George Bush en dies meer, en jy wonder of Amerikaners nie self skielik ’n bietjie minder vertroue in hul stelsel het nie. Die vooruitsigte van ’n president wat sulke wyshede kwytraak soos, “If we don't succeed we'll fail” en “We have a problem because most of our imports come from overseas,” moet sommiges veel meer bekommerd laat as die viriliteit van die uitgaande president. Onthou, ondanks Clinton se oorhoofse gewildheid, voel party mense baie sterk oor die verleentheid wat hy gebring het.

Dus is hierdie tye nie maklik vir Amerikaners nie. En ’n mens kan verstaan waarom dit heerlik is vir diegene wat in die verlede onder Amerikaanse beterweterigheid deurgeloop het. Lankal reeds argumenteer baie dat die ontwikkelde lande hul siening, en hul waardes, op ander afdwing. Wanneer dit boonop gebeur terwyl jy bakhand vir jou “structural adjustment”-geld in die tou staan, is dit nog minder aangenaam. Om dus leedvermakerig te voel wanneer die grote Amerika so in die knyp blyk te wees, en dit omdat hul veelgeroemde demokratiese masjien ratkasprobleme ontwikkel het, is nie verbasend nie.

Maar die lekkerkry moet jou nie laat perspektief verloor nie, veral nie as jy Bob Mugabe of Fidel Castro is nie. Ek vermoed dat die meeste van ons steeds sou verkies om in ’n doodloopstraat tussen twee kandidate te staan, eerder as om geen keuse te kan maak nie. En dit is maar waar die verskille tussen die Amerikaanse en ander stelsels begin.

Het onse Bob en sy ondersteuners dalk opgelet dat daar steeds geen geweld in Amerika was nie? Bush en Gore het nog nie hul private weermagte begin mobiliseer nie. Clinton het nog nie die polisie gewapend ingestuur om die klomp Florida Republikeine op hul plek te gaan sit nie. Geen kieser of partybeampte is al arbitrêr in die tronk gegooi nie. Die onderliggende stabiliteit en verdraagsaamheid van die Amerikaanse demokratiese kultuur, selfs te midde van hierdie verkiesingskrisis, is asemrowend.

Daar is te midde van al die gedrang ’n ordelike wetlike proses aan die gang, waartoe beide kandidate voel dat hulle toegang het. Dit is wat die Amerikaanse stelsel respektabel maak. Miskien het hulle as samelewing die regskultuur nou al ’n bietjie te ver gevoer, maar dit bly steeds beter as die alternatief wat in baie van die kritici se gevalle geld.

Daar is ten minste ’n logika agter die Amerikaanse stelsel. Dit begin daarmee dat elkeen kan stem, en dat jy ’n basiese reg op jou menings het. Van daar af is daar allerhande hoekies en kantjies. Sommige mag almal nie van hou nie, maar die reëls werk meestal. Wanneer hulle nie lekker werk nie, soos nou, kan jy alternatiewe ontgin, sonder intimidasie of doodslag. En waar jy wel geïntimideer word, is daar nog verdere prosesse om ook daaraan iets te doen.

Kyk maar selfs na sommige van die faktore wat hierdie keer die probleem geskep het. Die grondwet maak state belangrik in die stelsel omdat die stigtingsvaders (jammer, maar dit is wat hulle was) wou verhoed dat sommige streke die stelsel domineer. Ook binne die state wou hulle verhoed dat die groot stede al die mag het. Onder andere, het hulle gereken, as jy die stede laat oorheers, gaan jou kiesers in die platteland afgeskeep word. Dit is die soeke na magsbalans en dit is ’n wesenlike eienskap van die hele stelsel. Magsbalans kenmerk die verhouding tussen die president en die kongres, tussen hulle en die regbank, en tussen die federale regering en die state. In magsbalans, glo die Amerikaners, rus die beskerming teen outokratiese regering, teen oorheersing.

Vir die eerste keer het hulle nou ontdek dat dit die skewe uitwerking kan meebring dat die meerderheidskandidaat die presidentsverkiesing kan verloor. As ek ’n Amerikaner was, sou ek sekerlik betoog dat iets hieraan gedoen moet word. Maar ek sal ook weet dat die stelsel nie in totaliteit faal nie, dat daar tog kompeterende logikas is waaraan ons hier moet dink.

En as ek ’n Amerikaner was, sou ek ten minste rustig slaap dat ek nie my stem verloor nie, dat ek my op die stelsel kan beroep as dinge verkeerd gaan. Daar is ook ’n volgende keer, en dan kan ek probeer om ’n verskil te maak.

Ek reken ons in Suid-Afrika vaar nie te sleg nie, en ons het self sedert 1994 ons bydrae gemaak tot demokratiese “best practice”. Maar ons kan nie te arrogant wees nie, en daar is nog die dinge wat moet ophou gebeur so terwyl ons almal aan demokratiese praktyk gewoond raak. Gelukkig is die meeste van ons aan dieselfde kant hier, en ook ons president skaar hom aan die kant van diegene wat nie intimidasie goedkeur nie. Op ’n wetlike vlak is dinge ook oorwegend goed geformuleer, en dit is nie maklik vir ’n politikus om links en regs met ons regte te kom karring nie.

Maar oor Bob en Fidel en ’n paar ander is ek nie so seker nie. Moet nie vergeet hoe opposisielede in Zimbabwe sommer nou die dag hulself skielik net voor die verkiesing in die tronk bevind het nie. Ek was aangenaam verbaas toe die howe in ’n paar gevalle die president weerspreek het. Die instellings van die “rule of law” is duidelik nog nie dood nie. Maar jy kan ook sien hoe dit deesdae ondanks die president is, en hoe sy roekelose gespeel met die wet, die grondwet en die stelsel van wet en orde, demokrasie in Zimbabwe stukkie vir stukkie begin wegkap.

Miskien kan ’n Suid-Afrikaner geamuseerd na Amerika kyk en darem ’n bietjie lekkerkry. Maar oor ons bure moet ons anders voel. Daar is dit nie meer ’n kwessie van geamuseerd wees nie. Geen ordentlike waardestelsel kan verdra wat daar gebeur nie. En met sulke groeiende wetteloosheid en minagting vir basiese regte en goeie orde sal ek Bob se mense nie aanraai om te leedvermakerig oor Amerika te wees nie.


  • Chris Heymans is ’n konsultant wat met McIntosch Xaba and Associates geassosieer is. Hy het ’n agtergrond in Politieke Studies en Ekonomie.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.