|
Poisonwood-politiek - die Kongo bly uitmekaarvalChris HeymansDie sluipmoordaanval op Laurent Kabila is die jongste verwikkeling in die Kongolese nasionale trauma. Dit is n verdere terugslag vir n land wat werklikwaar onder die mees tragiese politieke stories in Afrika sowel as in die wyere internasionale toneel tel. Enige een wat Barbara Kingsolver se boeiende Poisonwood Bible gelees het, sou herinner wees aan die opwellinge in die vroeë sestigs toe die Kongo onafhanklikheid verkry het. Te midde van groot verwagtings het Patrice Lumumba destyds die leierskap van hierdie eens Belgiese kolonie aanvaar. In Afrika was dit, soos met Ghana en ander van die bevrydingsvoorlopers, n groot oomblik, met nog n vryheidstryd gewonne. Maar sommer gou-gou het rebellie teen die nuwe bewind begin, en met die hulp van Westerse lande het Mobutu later die bewind oorgeneem. Kort daarna is Lumumba vermoor, en oor die jare het Mobutu een van die grusaamste onderdrukkende state ontwikkel, met opponente in die tronk of vermoor, en met n president wat homself op die mees blatante maniere verryk het. Sy outentiekheidsbeleid het hom onder andere die naam van die land na Zaïre laat verander, en verskeie veldtogte is gevoer om die bevolking onder die duim te hou. Vir meer as 30 jaar het hierdie onderdrukking en korrupsie die land van sy aansien gestroop, en dit het een van die donkerste kolle teen Afrika se reputasie geword. Eers teen die negentigs het Mobutu se buitelandse trawante begin insien dat dinge buite beheer geraak het, en teen die middel-negentigs het sy bewind onder nuwe internasionale en binnelandse druk gekom . Kabila, wat in die sestigs langs onder andere Che Guevara in die reeds chaotiese rebellestryde gewikkel was, het skielik vorendag gekom as die vernaamste alternatief. In 1997 het Kabila, met die hulp van Ruanda en Uganda se magte, met n groot aanslag gekom om die Mobutu-regering omver te werp. Vinnig is die naam na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) verander, maar wesenlike verandering en n verbetering in lewensomstandighede het nie gematerialiseer nie. Van sy beloftes om vrye verkiesings te hou het niks gekom nie. Kabila het die stig van politieke partye verbied. Faksiegeweld het deel van die toneel gebly, en daar is vir die gewone Kongolees steeds die daaglikse gevaar van spervuur of intimidasie. Daar is na berekening ongeveer 16 miljoen mense in die Kongo wat amptelik as honger geklassifiseer kan word. Inflasie is glo meer as 500% per jaar, en daar is n negatiewe ekonomiese groeikoers van meer as 10%. Infrastruktuur is vervalle. Die lewenstandaard is vandag net so swak as in Mobutu se dae, en vir buitelandse beleggers is daar geen motivering om hierdie geteisterde land te oorweeg nie. In die wyere suidelike Afrika het die verwikkelinge in die DRK tot groter spanninge bygedra. Angola, Zimbabwe en Namibië het almal troepe geleen om die nuwe bewind by te staan, terwyl Burundi en Uganda hulself aan die kant van rebelle geskaar het. Kabila het homself van baie mense vervreem, en sy steun aan Hutu-burgermagte wat in 1994 vir massiewe massamoorde teen Tutsies in Ruanda verantwoordelik was, was n goeie voorbeeld van presies hoe erg sy konflikskeppende styl was. Dit was ook gou duidelik dat hy nie veel sou uitrig om n meer positiewe gesindheid in die internasionale gemeenskap te wen nie. In herhaalde pogings om n vredesmag te ontplooi het die Verenigde Nasies hulself elke keer vasgeloop teen sy obstruksie. Daar was ook n hele paar berigte van sy moeilike gedrag in gevalle waar Suid-Afrika probeer help het. Sy verhoudinge met beide presidente Mandela en Mbeki was maar erg gespanne. As gevolg van die binnelandse konflik, en die toetredes van verskeie buitelandse magte, is die land vandag verdeel en geokkupeer. Al hierdie buitelandse toetredes gaan ook gepaard met die belange van sodanige lande in die DRK se minerale rykdom. Maar selfs al bly hulle, loop hulle die risiko dat Kabila se opvolger nie ooreenkomste met hulle sal ooreenkom nie. Van die vredesooreenkomste wat voorheen onderhandel is, het niks gekom nie, en een van die grootste uitdagings vir n opvolger sal wees om iets daaraan te doen. In plaas daarvan om n nasionale eenheid te smee, het Kabila se bewind groter verdeeldheid meegebring. Dit is straks die grootste aantyging teen Kabila: dat hy soveel beloof het, en so min uitgerig het, dat hy n land wat deur die skrikbewind van sy voorganger Mobutu Sese Seko geteister is, net met nog meer aanslae ondermyn het. Mobutu het reeds veroorsaak dat niks van die land se minerale rykdom gekom het wat die Kongo self of die groter Suider-Afrikaanse streek veel baat nie. Vir n land met soveel natuurlike rykdom, van die koper-, uraan- en diamant-reserwes tot ontsaglike water-rykdom wat energieverwekking ver verby die grense van die Kongo self kan rugsteun, is die prentjie baie depressief. Dit is n land van verlore geleenthede, van ongebruikte potensiaal. Mobutu het hierdie storie begin, en Kabila het niks daaraan gedoen in die drie jaar wat hy aan bewind was nie. Sy nalatenskap is steeds chaos en verspeelde potensiaal. Die chaotiese omstandighede rondom sy diktatuur word uitgebeeld deur die vreemde wyse waarop sy dood aangekondig en hanteer is. Daar was geen duidelikheid oor wie aan bewind is nie, daar was geen duidelikheid oor wat met Kabila self gebeur het nie, en of hy wel dood is nie. Hierdie tipe chaos gebeur in lande waar die logiese stelsel van demokratiese prosedure nie bestaan nie, en waar die afsterwe van n leier outomaties gewelddadige konflik mag beteken. Daar is geen orde nie, want die regering self het van Mobutu se dae af geen orde gerespekteer nie. Onderdrukking ja, maar daar was nie veel sprake van n omgewing probeer skep waarbinne gewone mense hul basiese regte kan uitoefen, en waar die regering dit as n taak sien om lewensomstandighede te verbeter nie. Die DRK sal nog geruime tyd hieraan ly, en die implikasies vir die streek kan verreikend wees. Spanninge binne daardie land het reeds gans te veel andere by die konflik betrek. Die vooruitsigte is nie goed nie, maar hopelik kan die post-Kabila-era ruimte skep vir vordering om binnelands te beweeg na daardie edele ideale waarvoor Lumumba eens gestaan het, en om binne die streek die soort kalmte te bring wat so broodnodig is vir n Afrika-Renaissance. In Poisonwood Bible is dit asof alles waaraan die verlore Baptiste-sendeling raak wanneer hy in die Kongo is, met gifstof gevul is. Hy kry net niks reg gedoen nie: sy vertolkings van die Bybel kom krom en skeef uit en klink meer na verdoeming as verlossing; mense dink hy wil hulle vir die krokodille voer wanneer hy hulle bloot in die rivier wil doop; en dies meer. Dit is in die beste tradisie van n land waar dinge net nie wil regkom nie: die land van gifhout-politiek. Kabila het niks gedoen om dit te verbeter nie, en die vooruitsigte is nie goed dat veel nou sal verander nie. Hy en sy voorganger het eenvoudig te veel skade aangerig. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |