|
Grondkwessies raak aan die hart van postapartheid-hervormingChris HeymansDie grondsaak van ene Willem Pretorius daar in Mpumalanga sny tot aan die been van sowel ons verlede as die toekoms. Belangrike vrae is op die spel oor waarheen Suid-Afrika op pad is, en met watter waardestelsel daardie pad aangepak gaan word. En dan natuurlik: het ons ooit werklik besef hoe ingewikkeld dit gaan wees om die gruwels van apartheid ongedaan te maak? In die struggle-jare was politieke regte die fokus vir baie, met natuurlik die meer linkse verweer dat dit eintlik oor ekonomiese mag gegaan het. Alles vreeslik slim, en ideologies ... Met groot teorieë kon ons destyds praat oor wat verkeerd was en wat ons sou moes doen om dinge reg te stel. Min van ons kon egter werklik voorsien hoe kompleks dinge gaan wees dit is nou as jy werklik wil seker maak dat ons sowel die alledaagse politiek as die erkenning van basiese regte vir almal met die grootste integriteit en billikheid, en op konkrete wyse, uitsorteer. In die grondwet is die sogenaamde sosio-ekonomiese regte n belangrike wapen om dieper as abstrakte regte en politieke instellings te gaan. Dit is nie n baie algemene ding elders in die wêreld dat konkrete dinge soos behuising en basiese dienste as regte gewaarborg word nie. Toe dit verlede jaar in die geval van die Grootboom-gemeenskap in die Grondwetlike Hof getoets is, is bepaal dat die staat nie noodwendig die huise self moet voorsien nie, maar dat daar wel n gepaste beleid in plek moet wees om die sosio-ekonomiese bedoeling van die grondwet uit te voer. Dit alles het nog alte abstrak gelyk. Wat help n beleid dan nou as jy sonder n huis is? En so sal die prosesse nou maar aangaan: ons sal so voel-voel ons pad moet vind na die soort van geregtigheid wat mense met die struggle in gedagte gehad het. Die vangplek lê daarin dat ons dit wil bereik sonder om andere fundamenteel te na te kom. Dit is waarom Zimbabwe se kru pogings om hul grondkwessies aan te spreek ons so dwars in die krop steek. Geen progressief-denkende mens wil die armes, en hulle wat deur apartheid van hul grond ontneem is, hul regte ontsê nie. Maar baie van ons wil dit alles ordelik laat gebeur, en sonder dat nuwe ongeregtighede gepleeg word. Só raak die Pretorius-geval dan nou baie relevant. In 1957 is die Dinkwanyane-gemeenskap onder apartheidswette van hul grond buite Lydenburg verwyder. Die grond het kommersiële landbougrond geword: in die logika van daardie tyd, vir wit boere. Sowat 25 jaar later, in 1982, koop Willem Pretorius toe die plaas, Boomplaats. Hy doen dit met die hulp van n Landbank-lening, soos talle ander boere destyds gedoen het. Dit beteken: n staatsgesubsidieerde lening. Die transaksie weerspieël dus nie markwaardes nie, en dit was ook so bedoel, want die regering van die dag wou boere aanmoedig om te boer, en het ook na hul mense gekyk blanke boere met stemreg. Agt jaar later maak FW de Klerk sy groot toespraak, en vier jaar later, in 1994, word Suid-Afrika n demokrasie. n Groot deel van die nuwe kieserskorps is geraak deur bevolkingsverskuiwings, en is grond ontneem deur die apartheidsregering. En grond is vir hulle belangrik. Binne die Suid-Afrikaanse politiek was dit nog altyd belangrik, en n demokratiese regering wat na die belange van almal wil omsien, kan die kwessie nie vermy nie. Derhalwe was grondhervorming van meet af n prioriteit in die nuwe demokrasie. Wat besonders was, was die verbintenis van die nuwe regering om dié hervormings met billikheid teenoor bestaande grondeienaars deur te voer. Dus is daar n omslagtige proses van eise, oorweging, betoë en dies meer ingestel. En op hierdie wyse het Boomplaats ook in die prentjie gekom, met die vorige bewoners se eis. Die eis is toegestaan, en onderhandelings het begin tussen die staat en Pretorius. Onafhanklike waardasies bring toe pryse van tussen R1, 5 miljoen en R2, 1 miljoen na vore. Die staat gebruik egter n omstrede formule en regverdig n laer prys van R840 000, op grond van die subsidiëring wat Pretorius ontvang het. Teen Januarie 2001 kom onderhandelings tot n stilstand, en die staat gee kennis dat hulle die grond gaan onteien. Teen middel-Maart is hierdie posisie herroep, klaarblyklik omdat daar sekere tekortkominge in die staat se regsdokumentasie is. Met die toetrede van die Transvaalse Landbou-unie het die politieke bloeddruk opnuut gestyg. Boonop gebeur dit toe nog alles teen die agtergrond van Mugabe se flagrante wanpraktyke in Zimbabwe. Vir kritici van grondhervorming was dit die laaste strooi, en n bewys dat Suid-Afrika op dieselfde selfvernietigende pad as Zimbabwe is. Laasgenoemde aantyging is natuurlik pure bog. Met die honderde gevalle van grondeise in Suid-Afrika, is dit juis n teken van die geordende proses en toegewyde pogings om billik te wees dat daar so min hofsake was. En daar was selfs nog minder pogings tot onteiening. Die Ministerie van Landbou en Grondsake het dit ook duidelik gemaak dat hulle nie onteiening verkies nie, en dat hulle vasbeslote is om met huidige boere te skik. Hierdie beleidsposisie is om verskeie redes noodsaaklik. Ten eerste bevestig dit dat terwyl grondhervorming n beleidsprioritieit is, en ten nouste met die erkenning van verontregte mense se grondwetllike regte verbind is, bestaande boere se regte ook erken word. Verder beteken dit dat n geordende proses geïmplementeer word. Laasgenoemde is nodig om die meer algemene stabiliteit van Suid-Afrika te verseker. Die ganse hervormingsproses, ook rondom ander kwessies as grond, sal daaronder ly as die proses van grondhervorming kwesbaar word vir arbitrêre staatsoptrede, of as dit gekenmerk word deur die tipe wetteloosheid wat Zimbabwe tans kniehalter. Dit is belangrik om n sin van orde te handhaaf, omdat dit ook algemene vertroue in die land affekteer, met al die implikasies wat dit inhou vir beleggings, diplomatieke verhoudinge, buitelandse bystand en vele meer. Die Boomplaats-geval raak aan allerhande verwante kwessies, soos hoe om die produktiwiteit van oorgedraagde grond te verseker. Maar dit gaan uiteindelik oor sommige van die mees grondliggende hervormingskwessies in Suid-Afrika en die waardes wat onderliggend is aan die prosesse van verandering in die samelewing as geheel. Die mees wesenlike vrae handel oor regte, en oor die ordelikheid van die prosesse wat hier aan die gang is. Die geskiedenis van bevolkingsverskuiwings, en die flagrante wanpraktyke van die apartheidsregering, vereis dat grondhervorming doelgerig aangepak moet word. Boonop bewys Zimbabwe dat uitstel die krisis bloot laat verdiep. Dit is noodsaaklik om die proses vroegtydig te begin, dit sistematies te bestuur, en die nodige instellings, maatreëls en prosedures in plek te stel om dit alles met die grootste billlikheid te verreken. Die vraagstukke op die spel is kompleks, en bevestig opnuut watter groot uitdaging Suid-Afrika sedert 1994 aangepak het. Dit gaan immers oor die regstel van die ongeregtighede wat oor die jare onder apartheid gepleeg is, en die soeke na tasbare maniere om die waardes wat onderliggend aan sosio-ekonomiese en ander grondwetlike regte is, te vergestalt. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |