|
Mbeki is reg: afsondering is nie n opsie nieChris HeymansVigs en Zimbabwe het soos n mens te wagte kon wees die analises van president Mbeki se parlementêre openingstoespraak oorheers. Maar een van die beduidendste opmerkings in die toespraak was dié oor die onafwendbaarheid van deelname in die wêreldekonomie en die globaliserende internasionale orde. Dit was belangrik dat die President hieroor ondubbelsinnig moes wees, te midde van spekulasie dat die beplande hersiening van makro-ekonomiese beleid dalk sou kon beteken dat Suid-Afrika die veldtog teen globalisering sal ondersteun. Die President was egter onomwonde daaroor dat Suid-Afrika n oop ekonomie het en dat die bestuur daarvan nie in isolasie van internasionale verwikkelinge en standaarde kan plaasvind nie. Dit is ook meer as toeval dat hierdie ferm standpunt kom so kort na Suid-Afrika se deelname aan die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in New York, waar globalisering so integraal tot die hele beraad was. Heelwat belangegroepe voel om verstaanbare redes kwetsbaar in die lig van groeiende internasionale integrasie. Werkers in nywerheidslande vrees dat hulle hul werk kan verloor as goedkoper arbeid vanuit die ontwikkelende lande beskikbaar kom. Soos Suid-Afrika maar te goed weet, stel die omvang en onstabiliteit van finansiële transaksies ekonomieë veral in ontwikkelende lande bloot aan potensiële bank- en wisselkoerskrisisse. Groot transnasionale maatskappye is in staat om tot hul eie voordeel internasionaal te koop, verkoop en belê sonder dat hulle noodwendig veel doen om ontwikkeling te bevorder of hulle oor die omgewing te bekommer. Kulturele homegeniteit bedreig vergelykende voordele gewortel in die dinamiek van kulturele verskeidenheid. State en regerings loop gevaar om hul invloed te verloor in n wêreld waar mag relatief in internasionale terme gemeet word. Daar is ook kommer dat die spelreëls nie regverdig is nie. Ontwikkelende lande kla dat hulle gepeper word met retoriek oor die noodsaak van oop ekonomieë, maar hulself dan gedurig vasloop teen tariefbeperkings en invoerkwotas in Eerste Wêreld-lande. Daar is ook vrese dat lande wat nie die spelreëls aanvaar nie, wat die wyshede van Washington, New York, Londen, Brussel en Tokio verontagsaam, of doodgewoon nie in staat is om effektief deel te neem en mee te ding nie, randeiers word, gemarginaliseer en gedoem tot verdere agteruitgang. Kritici voer aan dat die wenresepte wat sterk lande en internasionale organisasies oor die wye wêreld heen opdis, dikwels uit voeling met die unieke omstandighede van ontwikkelende lande is, en hulle dus moontlik op n valse roete met min voordele plaas. Die mees siniese kritici glo natuurlik dat daar n hele uitbuitingsagenda op die spel is, gemik op benadeling van hierdie lande. Teen hierdie agtergrond was daar oor die afgelope paar jaar militante opposisie teen die internasionale ekonomiese en politieke orde. Prominente byeenkomste soos dié van die Wêreld Ekonomiese Forum, die Internasionale Monetêre Fonds, die Wêreldbank en die Wêreldhandelsorganisasie is deur betogings ontwrig en daar is baie uitgesproke stemme teen die integrasie van ekonomieë en beleidsprosesse. Maar wat kan ontwikkelende lande doen om die beste uit hierdie prosesse te haal, en dus te verhinder dat globalisering uitbuiting, verarming en marginalisering beteken? Die belangrikste vertrekpunt in hierdie globale orde is dat nasionale state nie meer die begin en die einde van alles is nie. Dit beteken dat nasionale regerings hul plek moet ken, sowel binne die internasionale orde waar hulle met organisasies en ander regerings moet saamwerk, as binne hul eie lande waar die sakegemeenskappe, burgerlike groepe en ander vlakke van regering belangrike rolspelers en vennote is. Die les dat lande nie meer op hul eie die uitdagings kan hanteer nie, is aan die insink. In Latyns-Amerika en Asië, byvoorbeeld, is streeksorganisasies soos Mercusor fluks aan die werk om oor landsgrense voordele vir die streke te beding. Afrika se pogings deur streeksliggame in Wes-, Suidelike en Oos-Afrika sukkel maar erg, maar dui op n bewustheid van hierdie tendense. Die Nuwe Afrika-inisiatief NEPAD waarin Suid-Afrika so n prominente rol speel, kan n belangrike instrument word om deelname in die globale stelsel te vesterk in die belang van Afrika-deelnemers. Die waarde van hierdie poging lê daarin dat dit eerstens oor self-hulp gaan, dat dit oor nasionale grense probeer strek, en dat dit nie die werklikhede van globalisering probeer misken nie. NEPAD aanvaar die belangrikheid van handel, interaksie, samewerking en koördinasie. Die intense inisiatief wat onder andere baie gunstig by die WEF in New York ontvang is verg nou dat effektiewe en realistiese strategieë ontwikkel word. Maar globalisering verg nie net dat lande wyer as hulself moet kyk en deur streeks- of internasionale organisasies moet probeer werk nie. Daar is ook n sterker subnasionale aksent nodig, want beleggers kyk na spesifieke areas, eerder as nasionale stelsels. Hulle wil weet dat plaaslike gebiede, veral stede, goeie infrastruktuur het, goed bestuur word, betroubare dienste en geriewe lewer vir besighede en die mense wat daar werk, en internasionaal toeganklik is. Gewapen met hierdie nuwe perspektief oor die rol en plek van state en regerings in verhouding tot ander rolspelers in die internasionale gemeenskap en binne lande, is die uitdaging om n konkrete agenda te vind wat ontwikkelende lande op die pad na effektiewe deelname in die globale orde kan plaas. n Omvattende onlangse Wêreldbank-verslag, Globalization, Growth and Poverty: Building an Inclusive World Economy, gee n paar idees. Sommige spreek die wyere wêreldstrukture aan en verg benewens gepaste beleidsopsies en strategieë in ontwikkelende lande ook doelgerigte inisiatiewe van die Eerste Wêreld. Daar is veral vier sodanige globale struktuurvraagstukke. Afgesien van hierdie struktuurkwessies wat oor die grense van die ontwikkelende en ontwikkelde lande strek, is daar n paar opsies wat veral vir eersgenoemde van belang is. Vir diegene wat bekommerd bly dat globalisering uiteindelik maar net nog n ideologiese Eerste Wêreld-foefie is om ontwikkelende lande se onafhanklikheid te kompromitteer en hulle uit te buit, is daar minstens twee antwoorde. Suid-Afrika se vasbeslotenheid om die realiteit van die globale orde te aanvaar en die beste daarvan te probeer maak, is dus gepas; en die NEPAD-inisiatief toon n bemoedigende wilskrag om op konkrete wyse hierdie realiteite tot voordeel van die land en Afrika te probeer bestuur. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |