Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moenie ons demokratiese integriteit beduiwel nie


Chris Heymans

Die drama rondom die Demokratiese Alliansie en die wel en weë van Tony Leon en Marthinus van Schalkwyk skud sommer baie dinge los in ons politiek. Daar is flambojante aansprake oor die goed wat dit dan sou meebring, en ’n mens kan hierdie bewerings seker nie heeltemal verontagsaam nie. Maar daar is ’n hele paar dinge wat ook krap. Veel meer as Marthinus se begeerde kabinetspos of die onmiddellike beheer oor die Wes-Kaap is op die spel. Ons moet versigtig trap dat hierdie affêre nie die grondwetlike integriteit van ons demokrasie beduiwel nie.

Diegene wat glo dat hier iets goeds aan die gebeur is, maak veral twee punte:

Ten eerste sou die NNP se nuwe vriendskap met die ANC, en die potensiële einde van die DA, glo ’n belangrike stap wees om die prominensie van ras in Suid-Afrikaanse politiek te verminder.

Tweedens, sê die optimiste, is hierdie ’n verdere verwikkeling in die herskikking van ons politiek, waar nuwe groepe aan die ontwikkel is en waar die partypolitieke toneel die werklikhede van postapartheid Suid-Afrika beter weerspieël.

Beide aansprake het sekere meriete. Die DA se veldtog verlede jaar en die styl van hul politiek het alte dikwels die indruk geskep van ’n party wat op wit en kleurlingvrese steun om stemme te werf. Natuurlik oordryf die ANC die mate waartoe dit die geval is, maar die DA het hulself al te dikwels kwesbaar gemaak vir hierdie tipe kritiek. Bangmaakpolitiek was gans te prominent in die “fightback”-kampanje verlede jaar, en veral die top-leierskap skep die indruk dat hulle neersien op hul politieke opponente. Dit beteken nie noodwendig dat hulle rassiste is nie, maar hul styl wen nie veel vriende nie en voel elke nou en dan uit pas met die momentum wat Suid-Afrikaners ’n nuwe trots na 1994 gegee het.

Daar is selfs lede van die alliansie, veral aan die DP-kant, wat deurgaans maar erg ongemaklik was met die hele Nat-konneksie, en wat ook glad nie gelukkig is oor die styl van politiek wat Tony Leon speel nie. Onthou, van hierdie mense het met groot intensiteit die apartheidsregering in die verlede gepak - sekerlik nie met die plan om die nuwe demokratiese regering om elke hoek en kant met ’n meerderwaardige afjakstyl af te kraak nie. Suid-Afrikaners wil voel dat hul opposisie nie bloot kritiseer nie, maar konstruktiewe burgers is wat die welsyn van die land hoog ag. Die deurlopende negatiwiteit het nie altyd hierdie toets geslaag nie; en komende van ’n party met ’n oorheersend wit leierskap, het dit ongelukkig die rasse-spook wakker gemaak.

Van Schalkwyk maak die punt dat ’n nuwe benadering nodig is om te verhoed dat blanke Suid-Afrikaners soos hul Zimbabwiese eweknieë gemarginaliseer word. Hy wil glo verseker dat hulle deel van die hoofstroom is, en nie bloot ’n groepie klaers wat van die kantlyn af skree nie.

Dit is natuurlik hoogs ironies dat die NNP skielik aanspraak maak op die titel van katalisator waardeur ’n vermeende verandering veronderstel is om plaas te vind. Hier het ons immers die party wat Suid-Afrika vir meer as veertig jaar wanbestuur het, wat rassepolitiek ’n status gegee het wat straks voorheen net in Nazi-Duitsland oortref is, en wat manipulasie tot ’n fyn kuns ontwikkel het. Nou ja, Van Schalkwyk en vriende beweer natuurlik dat hulle nie meer dieselfde party is nie, dat hulle die lig gesien het, en selfs dat dit juis hulle was wat binne die DA die naaste aan die nuwe Suid-Afrika gestaan het. Wat en wie jy ook al hieroor glo, kan jy darem nouliks die ironie mis dat dit hierdie ou spulletjie is wat nou selfs die President opgewonde het dat hulle glo die rasse-stok uit die wiel gaan help kry.

Maar miskien kan so iets gebeur; miskien kan ons ’n stappie nader neem na ’n bedeling waar politieke lojaliteite iets met beleid te doen gaan hê en waar die opposisie nie meer net na ’n klomp suur wittetjies gaan lyk nie. Laat ons net nie die fout maak om te dink dat dit is omdat Marthinus so ’n meesterlike bydrae gemaak het nie - veel eerder sou dit wees omdat die onvermydelike uitskud-proses aan die gang is, en omdat ons politiek inderdaad meer volwasse raak.

Indien dit die geval is, is daar natuurlik nog heelwat ander dinge wat moet gebeur. Die ANC se eie alliansie is geruime tyd al onder druk. Daar is wesenlike spanninge oor makro-ekonomiese beleid, en so elke nou en dan hoor ’n mens ook verskillende perspektiewe oor kwessies soos ras, grondhervorming en dies meer. Of daar ’n volskaalse skeuring aan die kom is, kan ons nie nou beslis voorspel nie, maar daar moet ’n tyd aanbreek wanneer blote historiese bande nie genoeg is om diepgaande verskille tersyde te skuif nie.

Eweneens kan ’n mens wonder hoe Patricia de Lille aldag met haar PAC-medestryders in een koukus bly. Een of ander tyd moet iets hier verander. Hoe verder ons beweeg van die ou apartheidspolitiek, hoe meer sal hierdie tipe verskuiwings plaasvind. As dit alles in die teken staan van meer nierassigheid, is ons op die regte pad.

Maar een aspek van die huidige sage wat pla, is die sprake van ’n korttermyn grondwetlike of ten minste wetgewende wysiging om dit vir Natte moontlik te maak om die vloer te kruis. Sekerlik is daar heelwat om oor na te dink oor Suid-Afrika se stelsel van verteenwoordiging wat dit huidiglik onmoontlik maak vir politieke verteenwoordigers om van party te verander sonder dat hulle hul setels verloor. Enersyds beteken dit dat hulle nie die kiesers se aanvanklike keuse summier kan ignoreer nie. Maar dit het ook tot gevolg dat partyleiers ’n buitengewone houvas oor verteenwoordigers kry. Derhalwe is daar geruime tyd al vertoë dat ’n meer plooibare stelsel ingestel moet word. Daar word algemeen verwag dat Van Zyl Slabbert se ondersoek na verkiesings- en verteenwoordigingsalternatiewe onder andere hierdie kwessie sal aanspreek.

Dit is dus goed dat hierdie stelsel onder die soeklig kom. Maar om opportunisties ’n korttermynwysiging te maak, sou totaal onvanpas wees. Demokrasie werk ten beste waar die reëls vir almal dieselfde is. Dit is ’n onding as ’n regering korttermyninmengings maak om hulself te bevoordeel. Suid-Afrika het in die 1950’s een van die ergste misbruike van politieke mag ondervind toe die Natte die Senaat eensydig vergroot het sodat hulle die vereiste meerderheid kon kry om kleurlinge van die kiesersrol te skrap. Daardie wandaad tel steeds onder een van die mees blatante vergrype in ons grondwetlike geskiedenis.

Weliswaar mik die huidige gebeure nie só ver nie. Niemand se stemreg is op die spel nie. Maar die billikheid van die stelsel kan wel gekompromitteer word. Om die reëls ter wille van partypolitieke voordeel te bewimpel, pas nie die beginsels waarop ons jong demokrasie gebaseer is nie, en kan ernstige skade aan die integriteit van die stelsel aanrig. Internasionaal is daar groot agting vir die wyse waarop Suid-Afrika hierdie besondere stelsel ontwerp en laat ontwikkel het. Suid-Afrikaners self voel trots op wat bereik is. Dit is ’n oorwinning vir rede en vir demokratiese beginsels, des te meer merkwaardig teen die agtergrond van die nalatenskap van apartheid wat so absoluut teen die essensie van politieke ordentlikheid ingedruis het. Om nou met hierdie grondslag te peuter ter wille van korttermynoorwegings, hou die gevaar in om daardie basis te ondermyn.

As die politieke leiers die stelsel wil verander, maak dan ’n permanente verandering. Maar moet nie opportunisties met die grondslae van die stelsel peuter nie. Verander die reëls só dat dit almal op dieselfde manier raak, nie omdat dit ’n opposisie-irritasie benadeel, of ’n provinsiale of plaaslike regering onder die regerende party se beheer bring nie. Respek vir grondwetlike struktuur is internasionaal een van die waardes wat werkende demokrasieë van arbitrêre regimes onderskei. Sedert 1994 was Suid-Afrika sonder enige twyfel in ordentlike geselskap. Dit sal jammer wees as die huidige korttermyn politieke woelinge dít op die altaar plaas.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.