|
n Tyd vir beredeneerdheidChris HeymansBaie mense kan presies onthou waar hulle was met die val van die Berlynse muur, die ontbinding van die Sowjetunie, toe die Golf-oorlog voor ons oë op televisie begin uitspeel, die ontploffing van Challenger, die vrylating van Nelson Mandela, die dood van Verwoerd, die moord op Kennedy, die Kubaanse missielkrisis … En nou is daar 11 September 2001. Binne die bestek van n paar uur verdwyn een van die wêreld se groot geboue eenvoudig van die horison, word die magtigste land op aarde se militêre kern direk aangeval, sterf duisende mense, skud effektebeurse en geldeenhede. Meer nog ou waarhede, aannames en verwagtings lê aan skerwe. Die logika van die ganse wêreldstelsel is in die weegskaal. Die volle gevolge is nog te moeilik en te groot om te begryp. Daar is meer vrae as antwoorde. Wie is verantwoordelik? Wat was hul doel? Hoe was dit moontlik? Wat gaan Amerika nou doen? Wat gaan uiteindelik gebeur? Daar is ooglopende korttermyn-implikasies. Ekonomies gaan die markte destabiliseer, en die dreigende resessie versnel en verdiep. Polities gaan internasionale vooroordele straks toeneem daar is reeds n skynbare aanname dat fundamentale Moslems vir die aanvalle verantwoordelik was, en die internasionale woede sal op enige iemand wat daardie beskrywing pas, toegespits wees. Amerikaners, en waarskynlik andere, sal meer paranoïes wees, en ons kan verwag dat sekuriteitsmaatreëls binne en tussen lande aansienlik gaan verskerp. Die vraag is hoeveel van hierdie strominge langtermyn-gevolge gaan hê. Sommige internasionale waardes gaan ook getoets word. Byvoorbeeld, as internasionale sentiment verg dat kragdadig teen terroriste en diegene wat hulle huisves, opgetree moet word, kan die hele konsep van nasionale soewereiniteit op die spel kom. En natuurlik, die gebeure op 11 September bewys ook opnuut dat selfs die magtige Amerika nie die werklikhede van terrorisme kan ontsnap nie. Miskien nou meer as ooit tevore dring die onaangename werklikheid ook deur dat dit bykans onmoontlik is om hierdie euwel ten volle uit te wis. Die uitkoms van baie van hierdie kwessies gaan oor tyd ontvou. Intussen is die vraag: hoe gaan Amerika nou optree? Kan ons meer sulke aanvalle op Westerse en ander teikens verwag? Soos n mens kon verwag, is daar oproepe vir vinnige en harde teenaksies. Amerikaners is woedend, en baie andere saam met hulle. Voor ons oë het ons immers een van die skokkendste gebeure in die onlangse wêreldgeskiedenis gesien. Selfs die terreurgroepe wat normaalwag met trots verantwoordelikheid vir so iets sou aanvaar, haas hulself om aandadigheid te ontken. Dat daar kragdadigheid geëis word, is dus geen wonder nie. Boonop, toe George W Bush aan bewind gekom het, het hy dit duidelik gemaak dat hy in sterk militêre mag glo, en dat hy Amerika se sekuriteit wil opknap. Die versoeking moet groot wees om so demonstratief as moontlik te wys dat hy ernstig was. Sy instink sou wees om toe te slaan, met groot krag en mag. Daar moet bereken word waarom die aanvalle plaasgevind het, en wat die terroriste wil bereik. Soos met ander onlangse aanvalle op Amerikaanse teikens in Atlanta, Saoedie-Arabië, Tanzanië is die doel kennelik nie om Amerika te verslaan nie. Die doel is eerder om Amerika te verneder, om Bush in n gewelddadige reaksie in te lok, en só n morele oorwinning oor die Amerikaners te probeer verkry. So kort na die aanvalle is die internasionale gemeenskap eendragtig simpatiek teenoor Amerika weens die verlies van lewens, en veral die feit dat gewone burgerlikes die primêre slagoffers was. Maar gee hulle net n bietjie tyd, en sodra Amerikaanse bomaanvalle dieselfde doen elders, en die simpatie sal skuif. Om Amerika te verneder, verg publisiteit en n gewelddadige reaksie. Dit gaan nie oor die getalle mense wat sterf nie, maar oor die prominensie wat dit alles kry. Die toets is of die Amerikaners die versoeking kan weerstaan om blindelings hier in te storm, en dus hul vyande n mate van morele geloofwaardigheid te gee. Absolute militêre versekering teen hierdie soort dade is nie moontlik nie. Deur terug te slaan soos Amerika en vennote inderdaad moet kan die momentum vertraag word, en die kostes van sodanige terrorisme vir diegene wat dit pleeg, uitgespel word as n disinsentief. Maar dit is te bevraagteken of vliegtuigskakings ooit ten volle verhoed kan word, of elke enkele gebou ten volle beveilig kan word, en of n absolute kordon rondom enige land se lugruim gegooi kan word. Daar is selfs geen waarborg dat militêre wraak die nodige effek by die bron van die kwaad gaan hê nie. Byvoorbeeld, die teenaanvalle op Afganistan na die aanslag op die Amerikaanse ambassades in Tanzanië en Kenia het steeds nie vir Osama bin Laden sy basis ontsê nie. Amerika moet versigtig wees om nie diegene wat hulle goedgesind is, te ondermyn nie. Waar daar bewyse is van aandadigheid hetsy deur n land, n organisasie of n individu moet ferm en fel opgetree word. Oorhaastigheid loop egter die gevaar om sowel die verkeerde teikens te tref, as die gevare groter te maak, en die morele voordeel te verloor. Dit is belangrik om nou te verseker dat gematigdes in die Weste, die Midde-Ooste, Afrika en elders nie meer kwesbaar word nie. Deur oorhaastig op te tree, gaan leiers soos Egipte se Mubarak groter binnelandse en streeksopposisie kry. Hulle moet, inteendeel, juis gehelp word om gematigdheid te bevorder, om die radikale groepe teen te staan. Die morele waardes van demokrasie moet nie in die gedrang kom nie. Deur meer outoritêr te word, selfs in die naam van beskerming teen terrorisme, sou die Amerikaners presies in die aanvallers se hande speel. Sekere basiese stappe is nodig, en moontlik, maar daar is altyd die grense van demokratiese vryhede. As daarop te veel gekompromitteer word, wat is dan die waarde van dit wat beskerm word? As daar opgetree word in konflik met die waardes van demokrasie en ordentlikheid, ontstaan die gevaar dat die terroriste se doelwitte uiteindelik bevorder word, en dat die fundamentele grondslag van die demokratiese orde wat hulle verwerp, ondermyn word. Daar is n afwagting dat die Amerikaners iets sal doen om diegene wat agter hierdie terreur sit, op hul plek te sit en die gevare van sodanige aksies aansienlik te verminder. Dit is ook reg so. Maar terselfdertyd: nou is die tyd vir Amerika en diegene wat hulle ondersteun, om n bres te slaan vir beskaafde regering en waardes, vir demokrasie, vir beredeneerdheid, vir n respek vir menselewens en menseregte. Dit kan hulle doen deur strategie wat die doelwitte van hul aanvallers teenwerk, deur gefokusde aksie wat vennote versterk, en deur hul optrede te meet aan die basiese waardes waarop hulle aanspraak maak. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |