Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gesondheid! Maar die medikasiestryd het maar pas begin

Chris Heymans

Na ’n uitgerekte probleemgeteisterde tyd het die Suid-Afrikaanse regering uiteindelik ’n betekenisvolle oorwinning rondom gesondheidsbeleid behaal. Die besluit van die farmaseutiese maatskappye om nie die stryd teen wetgewing oor patente-reg rakende medisyne voort te sit nie, is ’n beduidende oorwinning vir pogings om medikasie vir kritieke siektes meer toeganklik te maak.

Terwyl VIGS die emosionele breekpunt van die huidige dispuut was, raak hierdie saak gesondheidspryse in die algemeen. Indien die volle moontlikhede wat hierdeur geskep word, deeglik ontgin word, sal ’n beter bedeling in Suid-Afrika en die wyere internasionale gemeenskap die gevolg wees, met groot voordele vir veral diegene wat nie die inkomste het om gepatenteerde medikasie altyd te bekostig nie.

Dit is gepas om die regering geluk te wens. Daar is so dikwels soveel negatiewe berigte oor, en kritiek op, hierdie regering se beleidsposisies, veral rakende gesondheid, dat hierdie uitspraak met groot betekenis gelaai is. Dit raak aan die wese van mediese uitdagings in die ontwikkelende lande, en Suid-Afrika kan trots voel dat ons regering hierdie beduidende oorwinning behaal het. Dit is ’n belangrike morele oorwinning vir ontwikkelende lande. Goedkoop generiese medikasie word nou makliker beskikbaar. Die uitkoms van hierdie petalje beteken ook dat menseregte voorkeur bo patentregte geniet — ’n belangrike morele beginsel.

Terselfdertyd laat hierdie uitkoms ons egter met hernieude uitdagings en open dit die deure vir ’n ware toets van die regering se konkrete beleid ten opsigte van sleutelvraagstukke rakende gesondheidsorg. Die komende maande gaan beduidend wees in die toets van ons vermoë om in die praktyk nuwe rigtings in te slaan, en om ontwikkelingsbehoeftes daadwerklik aan te spreek op ’n vlak wat nog nie voorheen deur andere bereik is nie.

Reeds sedert 1994 het Suid-Afrika ’n beduidende rol in die ontwikkelende węreld se deelname aan internasionale beleidskwessies begin speel. Binnelands was daar heelwat kritiek, en dit is mode — veral by baie wit middelklaspartytjies — om die regering se optredes as absurd af te maak. Veral die Gesondheidsdepartement loop kwaai deur, en hul klaarblyklike arrogansie help nou nie juis om dinge te verbeter nie. Hierdie saak teen die magtige farmaseutiese bedryf is egter bewys daarvan dat die sterk standpunte nie altyd so absurd is nie. Dit bevestig die moed van Suid-Afrika se oortuiging en die potensiaal wat die land het om ’n leidende rol in internasionale beleidsformulering te speel.

Die regering het regdeur volgehou dat hulle nie patentregte verontagsaam nie, maar dat hulle bloot meer bekostigbare medisyne wil kan laat aankoop en invoer. Die probleme om byvoorbeeld medikasie teen bekostigbare tariewe by arm VIGS-lyers te kry, is volgens Suid-Afrikaanse beleidmakers in ’n groot mate aan die duur medisyne toe te skryf. Deur dit moontlik te maak om goedkoper medisyne aan te koop, kan behandeling binne die bereik van meer mense kom.

Uiteraard is die kwessie van patente-reg nie onbelangrik nie. Dit het veral geldigheid om maatskappye aan te moedig om deeglike navorsing te doen, en daar is dikwels ’n inherente waarborg van standaarde wat met sodanige regte kom. Maar moreel gesproke moet dit opgeweeg word teen ’n situasie waar mense groot bedrae ekstra betaal vir medikasie wat soveel minder kos om te ontwikkel.

Beide partye — die regering en die farmaseutiese maatskappye — het nou aangedui dat hulle gesamentlik na nuwe oplossings gaan soek. Die groot maatskappye het ook reeds voor die afgelope uitspraak aangebied om VIGS-medisyne gratis of goedkoper aan te bied. Dit sal Suid-Afrika se vermoë om die groeiende getalle VIGS-lyers by te staan aansienlik verhoog. Die regering was dusver huiwerig om dié aanbod geredelik te aanvaar, op grond daarvan dat dit nie ’n volhoubare strategie is nie. Hulle argumenteer dat dit ’n korttermynoplossing bied, maar dat wanneer die aanbod tot ’n einde kom, ons bloot sal terugkeer na die situasie waar miljoene nie in staat is om medikasie te bekom nie.

Dit is nie ’n ongeldige argument nie, maar die regering sal nou onder druk wees om te bewys dat hulle ernstige en werkbare beleidsopsies het, en oor die politieke wilskrag beskik om die mediese welsyn van arm siek mense te verbeter. Daar is veral druk op hulle om te bewys dat hulle die VIGS-uitdaging effektief kan aanspreek. Uiteraard moet baie gedoen word om mense so ver te kry dat hulle hulself en andere nie blootstel aan die betrokke virus nie.

Maar daar is ’n meer onmiddellike uitdaging: om die groeiende getalle VIGS-lyers se lot te verlig deur toegang tot medikasie te verhoog. Suid-Afrika, met ’n geraamde 4,7 miljoen VIGS-lyers, het van die hoogste VIGS-ontstekingkoerse in die węreld. Sowat 90 persent van die węreld se VIGS-lyers is in Afrika. Afgesien van die menselyding wat hiermee gepaard gaan, het dit ook verreikende ekonomiese implikasies. Daarom is dit die moeite werd om in medikasie te investeer. Selfs al gaan dit nie soseer om die stuit van die eskalering van die siekte nie, sal dit darem die onmiddellike effek of die kwaliteit van lewe positief affekteer, en daarmee straks ook ’n impak op produktitwiteit maak.

Daarom moet ons hoop dat die aanbiedinge van farmaseutiese maatskappye om goedkoper of gratis medikasie vir VIGS-behandeling te voorsien, nie summier van die hand gewys sal word nie, en dat die belofte van nuwe vennootskappe werklikheid sal word. VIGS het ook ’n mobilisasiepunt vir niestaatsorganisies geword, en die kennis en hulpbronne buite die regering het sterk gegroei. Hierdie groeiende kapasiteit moet benut word in alliansies tussen regerings, winsmakende maatskappye en die niewinsmakende sektore. Nou is nie die tyd om ander partye met wantroue te benader nie. Elke party behoort liefs te doen wat hulle die beste kan doen. As die vertroue in andere verkeerd bewys word — wel, dan moet ons ander planne maak. Maar ons kan nie bekostig om verder uit te stel nie.

Dit sal dan veral gepas wees om die ontluikende Amerikaanse inisiatiewe ook dop te hou. ’n Span van 127 top ekonome het so pas aan president Bush voorgestel dat ’n internasionale fonds gestig moet word om lande węreldwyd by te staan. Sodanige multinasionale pogings gaan kritiek wees vir die sukses van die oorhoofse poging om VIGS te bekamp, en dit mag nodig wees om soortgelyke gekoördineerde pogings op ander siektes te fokus.

Niemand kan die VIGS-uitdaging in isolasie aanpak nie, en dit is belangrik dat ontwikkelde en ontwikkelende lande saamwerk om die vraagstuk op te los. Die mediese terrein gaan een van die toetsgronde wees vir die sukses van globalisering en internasionale samewerking. Hopelik sal die uitkoms van die patente-geding Suid-Afrika aanmoedig om ’n leidende rol in hierdie opsig te speel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.