Leah du Plooy
Leah du Plooy
My ma was erg trots op my, haar laatlam Republiek-baba gebore op 23 Januarie 1961. Sien in Suid-Roodepoort in die rooibaksteen-mynhuis se hoofslaapkamer die heel eerste lewenslig waar my pa skofbaas op die goudmyne is. Toe ek vyf jaar oud was, trek ons Brits toe omdat die dokter gesê het my pa moet ondergronds uitkom anders gaan hy tisis kry. Hy gaan werk op die granietgroewe waar hy met dinamiet hompe uit die Magaliesberg se hange skiet ter wille van uitvoergraniet. En ek in Brits se begraafplaas in groot moeilikheid kom omdat ek oordadig-versierde grafte se kranse wegdra om op die armes se kaal grondgrafte te gaan pak en die beenderige ou opsigter die polisie en my ma-le wou bel. Ek haal die plaaslike koerant, die Britspos, toe ek op sesjarige ouderdom my vyfjarige niggie, Janet, oorreed om saam met my te oefen vir die jaarlikse lenteloop en ons met moulose rokkies aan en kaalvoet in Brits se berugte somerson vanaf nege-uur die oggend tot drie-uur die middag twintig kilometer ver uit die dorp stap, by Sonop verby, tot op tannie Bets en oom Ockert se tabakplaas. En tannie Bets byna flou val toe ons by haar naaldwerkkamer op die plaas instap waar sy voor haar naaimasjien sit, besig om crimplene-rokke te maak. My kind, as jy moet verdrink, kry hulle jou stroom-op, het ek gereeld by my ma gehoor. Begin standerd ses trek ons Rustenburg toe en in standerd sewe sê Kokkerot, my aardrykskunde-onderwyser, aan my voor die hele klas dat ek heeltemaal rigtingbedonnerd is. En in matriek verklaar my moedelose biologie-onderwyser, Witkop Naudé, dat as ek n seunskind was, hy my sou bliksem. In musiek en taal blink ek egter uit: kry ATKV-toekennings en die skool se erekleure vir Kultuurbydrae en toer Europa en Israel in standerd nege saam met die Transvaalse Jeugkoor. Ook in standerd nege weier n pregnant, rooikop-aflosonderwyseres (ek dink haar van was Botha en sy was met n dokter getroud) om aan een van my Afrikaanse opstelle n toetspunt toe te ken. En gee my die klas se vrotsige gemiddelde punt omdat n kind van jou ouderdom nie in staat is tot sulke skryfwerk nie en ek jou andersins volpunte sou moes gee. Dit was n wonderlike gebeurtenis, want dié rooikop-tewerasie het dit sonder enige twyfel by my tuisgebring dat ek wel besondere skryftalent moet hê. (Dankie, juffrou Botha, indien jy dalk die web surf.) n Geil Namakwalander ontvoer my na sy habitat naby Koekenaap waar ek, vier kinders later, op n plaas op n bult wat oor die wingerde uitkyk, vandag sit en skrywe (gedigte, stories kort en lank en sketse), klavierspeel en sing en komponeer. Vir n ruk lank is ek ook die Weskus se kabaretster (sien foto) en hou Johannes en Leah huiskonserte en ander shows met name soos Skaamteloos Sentimenteel en die ou tannies skoon trane uit hul oë vee van aandoening en ons tot n stewige tienergevolg opbou. Sowel as n kindergevolg, want Johannes en Leah hou ook poppekas dwarsoor die Wes-Kaap om ons armlastige kuntenaarsbeursies so n bietjie mee aan te vul.
Maar toe foeter my Johannes Noord-Korea toe om die kinders daar te gaan probeer leer Engels praat en moet ek maar joernalis word by n streekkoerant. Hier maak ek al wat boer is die moer in, want in die weeklikse hoofartikel wat ek versorg, Bokduwweltjies en Koekemakranka op Leah se voetpad, vat ek hulle aan oor al hulle verpestelike, onpadwaardige trekkers op die grootpaaie en ook die cowboys met die breërandhoedens in bakkies wat hulle verbeel dat hulle nie enige indicators hoef te gebruik nie. Ek skryf egter ook oor baie ander oulike goeters soos Kersfees, tandartse, stoute politici, gewelddadige mans, sokkies se maats wat verdwyn en my verlange na my kind in Londen. Kry tot fan mail vanuit die Kaap en sê Trix Pienaar aan my: Publiseer, Sussie. En kom besoek boervrouens vanaf Kliprant tot Bitterfontein die nuuskantoor op Vredendal waar ek met n klapsoen begroet en stralend vertel word dat hulle toesien dat hulle nie n inkele Bokduwweltjie misloop nie. Maar was die redakteur steeds nie dankbaar genoeg om my n stewige salaris verhoging te gee nie en bedank ek eerder die begin van die jaar om voltyds te begin skryf.
Leah du Plooy het reeds n aantal tydskrifkortverhale voltooi, asook twee boeke, n digbundel en haar sketse, Bokduwweltjies en koekemakranka, word alles tans vir publikasie voorgelê.
Nuut Milleniumgebed
Nuut Blinde liefde
Nuut O, jys so mooi
Nuut (Namakwaland-haikoes)
Nuut Diensplig (tydens PMS)
Nuut Laasjaar
terug / boontoe
|