PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Die swaar asemhaling van stilte

eckhard cloete

boomplaats
Deur: Gilbert Gibson
Prys: R89.95
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 0624042626
Formaat: Sagteband
Klik op die boekomslag of hier om dit by kalahari.net te koop

Die stryd tussen die Boere en die Ingelse; die Ou Testament as interteks; die beskrywing van die lewe in Oos-Vrystaatse dorpies; en die hunkering na verlore plase: op die oog af ’n resep vir ’n nostalgiese misgebak wat mens by ’n kerkbasaar moet inwurg. En tog slaag Gilbert Gibson se debuutbundel daarin om tussen die borswering deur te waai en as ’n knop in die keel sy lê te kry.

i.

Die bundel se grootste pluspunt is dat die interne fonetiese samehang in die meeste gedigte die hoogste prioriteit geniet. Dit het die gevolg dat die gedigte onderbewustelik en sonder die korset van ’n oordrewe onderdanigheid aan logiese samehang deur die gange van plaashuise en langs die vergange roetes van geheue en geskiedenis kan sweef. In boomplaats speel ruimte en die omgang daarin en daarmee ’n integrale rol. Dis of die woorde hulself probeer rangskik om te resoneer teen die ruimtes waarin dit gebore word.

Die verskillende ruimtes vloei vrylik en sonder te veel afbakening oor mekaar. Daar is basies vier tipes ruimtes of kontekste wat in die bundel ter sprake kom. Die eerste is die Oos-Vrystaatse landskap. Die tweede is dié van Boere se stryd teen die Britte vanaf die Slag van Boomplaats in 1848 tot die Suid-Afrikaanse Oorlog (Tweede Anglo-Boereoorlog). ’n Derde konteks is dié van die Bybel (veral die Ou Testament), terwyl die mediese diskoers en die landskap van die lyf ook nader getrek word om die werklikheid in detail te beskryf. Al hierdie kontekste dien as agtergrond en intertekstuele verwysingspunte waarteen herinnering en die intens persoonlike belewenis gekontekstualiseer, of ten minste afgewissel word. Dit het die gevolg dat die persoonlike ervaring ’n wyer resonansie verkry.

In die beste dele van die bundel wek hierdie oormekaarskuiwing van wêrelde ’n deernis wat moeilik is om te weerstaan. Die openings- en titelgedig plaas die geliefde binne-in die wêreld van verlies wat oorlog teweeg bring. Dit skep ’n atmosfeer van droefnis en verlies wat deurgaans volgehou word. boomplaats is ’n bundel wat stadig en swaar asemhaal. Dis die gedigte van ’n man wat “gehardloop [is] tot stilstand” en waarin daar tot die bitter einde geveg word om woorde te vind om die verlies van die “wilde alles” in neer te lê.

Die “wilde alles” is ’n leitmotief wat op verskeie plekke in die bundel tot verskillende betekenisse omgedig word. In die openingsgedig word “die alles” skynbaar verbind met ’n skemeragtige tyd waarin die verlies in “hierdie uitsterftaal” en van die geliefde onvermydelik is:

en jou lyk sal sag wees:
die alles is oor, finaal. in ’n môre rooi
soos bloed wil ek jou met ’n oop mond soen.
Later word hierdie veelvoudige begrip uitgebrei na “wildeals”, die bossie wat tradisioneel as geneesmiddel gebruik word, maar wat in hierdie geval ook die titel is van ’n nostalgiese poging om kindertydherinnering onder woorde te kry. Die gedig “die wilde alles” eggo die openingsgedig deur weer eens die verwoording van liefde met die stry van ’n (tevergeefse) oorlog in verband te bring, totdat die gevolgtrekking gemaak word dat die woorde van die liefde in stilte “gepleeg” word en daarom “ernstig”, “bestudeerd” en “geweeg” is.

Die feit dat die bundel nie in afdelings verdeel is nie, maar uit ’n groot en komplekse los netwerk van gedigte bestaan, dra egter daartoe by dat die bundel nie in eenvoudige terme geanaliseer kan word nie. Dis ’n lywige bundel (meer as 80 gedigte) wat meer as een lees benodig om behoorlik ontsluit te word, en selfs dan is dit of van die gedigte hulself doelbewus in hul eie dop terugtrek om interpretasie vry te spring. In “die saligsprekinge van peet die poëet” word daar gepoog om die ineenstorting van taal in betekenislose verwysings en beelde hok te slaan deur ’n chronologiese opvolging van getalle deel te maak van die gedig self:

[…]
daar is ’n ster in die suide met (drie)
wyse man(n)e in ’n stiller nag. Die
reën ruk (vier) uit die hemel los,
en die grond ruik angstig, (vyf) ways
to leave your lover. daar is (ses)
worstelpaaie oor die rug van
’n swanger vrou […]
ii.

Wat vorm en struktuur aanbetref is die bundel uiteenlopend en gevarieerd. Dit sorg vir ’n uitdagende en interessante leeservaring. Die gebruik van eindrym word in ’n groot aantal van die gedigte gebruik; in sekere gevalle is dit besonder effektief om interne samehang te bewerkstellig. In een van die knapste gedigte in die bundel, “vaar wel”, word slotrym gebruik om die sombere swaarheid van die voorafgaande beeldspraak te verlig. Dit het die effek dat die estetiese skoonheid van die slotstrofe ironies inwerk op die voorafgaande, sodat die impak van die doodsafskeid selfs swaarder insink:

al aan die doodgaan op sy
bed in die aftreeoord lê ons pa vir
lang tye so stil dat hy
hartoorslaan ’n donker stomp word wat
log op die water verbydryf,
’n selekant wat ek vir oulaas
groet, vir ons twee onverwags
met ’n soen in sy nek, al
aan die doodgaan op sy bed

soos hy invaar onder die grond
kleef sy oumanreuk aan my
en aan my mond.

In ander gedigte kom hierdie werkswyse meer geforseerd voor. In die gedig “lewensleer”, byvoorbeeld, word ’n andersins mooierige gedig bederf deur die laaste reël wat klaarblyklik móés rym:
as ek jou bedink
dan sien ek my
hande slank oor jou
laerug oor jou flank
en hoe jy jou
kop in my nek
kantel en hoe ek
jou die buik bestreel
tot jy beenloos fraktuur
en stuk vir stuk die liefde stuur.
Dis ook die geval in die nogtans treffende gedig “inkwisisie” oor die spreker se fantasieë rondom Moeder Maria. Dis asof die laaste reël nie lekker wil inpas met die res van die gedig se vloei nie, amper asof die erotiese oorgawe met ’n bietjie paarrym en ars poëtiese kommentaar afgewater moet word.

In hierdie gedig word die landskap van die Vrystaat moeiteloos bo-oor die Bybelse konteks gedrapeer. Maar die intertekstualisering van hedendaagse gebeure met Bybelse verhale om ’n tipe allegoriese relevansie aan die digter se waarneming te verleen, word by tye dalk net ’n bietjie té erg. Die ooreenkomste tussen Daniël die tuinwerker met Daniël in die leeukuil en die rede vir hierdie vergelyking in “daniëlindiekuil” bly vir my so onpeilbaar soos ’n raaisel in ’n spieël. Die probleem is miskien dat heelwat poësielesers nie noodwendig meer die Bybel lees of ’n saak het met die relevansie daarvan op ons lewens vandag nie. Dan word die hope Ou Testamentiese vergelykings bloot hinderlik. Maar dit sal natuurlik van leser tot leser verskil.

’n Hele paar gedigte in die bundel gaan juis oor die ingewikkelde en dikwels onverklaarbare verhouding tussen die spreker en ’n god / God. In enkele gevalle word dit selfs onduidelik wie die “u” is wat aangespreek word. Is dit die leser? God? Of die skrywer self?

Die kompleksiteit wat in die meeste gedigte ter sprake kom, word egter hier en daar oorboord gegooi in simplistiese kategoriserings. Die neerbuigende toonaard van “gewone mense” (“dit is hulle wat hy red./ dis al wat hulle het”) steek byvoorbeeld sleg af teen die meer genuanseerde beskrywing van die ambience tydens ’n kerkdiens in “laudamus” twee bladsye tevore.

Iets wat gaandeweg deur die bundel meer lastig word, is die talle medies-terminologiese verwysings, waarvan sommige, maar nie naastenby almal nie, agterin die bundel verklaar word. Party van die gedigte sou waarskynlik daarby baat gevind het as van die mediese terme eerder uitgesny is.

’n Laaste gedagte waarby ek wil uitkom, is die simboliese relevansie van die titel. boomplaats verwys waarskynlik in die eerste plek na die Slag van Boomplaats waarin die Andries Pretorius se Boeremag teen ’n Britse oormag die spit afgebyt het. ’n (Waarskynlik onbedoelde) verdere epiteks is egter die geval van Willem Pretorius wat ’n paar jaar gelede geweier het om sy plaas Boomplaats naby Lydenburg in Mpumalanga aan die staat terug te verkoop as deel van die regering se grondhervormingsaksie. Tesame met die mooi en gepaste omslag van Michiel Botha, wat die voetspore van Gibson se voorsate tydens die 1938 Simboliese Ossewatrek uitbeeld, skets die implikasies van die titel ’n polities-konserwatiewe en effens verkrampte indruk, waarop Andries Visagie in sy resensie in Beeld (14 September 2005) tereg wys.

Dit is hierdie tipe sentimente, tesame met die swaar religieuse ondertone, wat waarskynlik die deursnit jong Afrikaanse poësieleser vir goed van hierdie bekwame en deernisvolle bundel sal afskrik. Maar aan die ander kant bestaan daar waarskynlik in elk geval nie so iets soos jong Afrikaanse poësielesers nie. As daar meer as tien mense onder 30 (myself ingesluit) is wat die bundel lees, sal ek verbaas wees. Maar wat weet bogsnuiters in elk geval?

eckhard cloete is kopieskrywer en sporadiese Sondagdigter. Van sy gedigte is opgeneem in Nuwe Stemme 3, ’n versamelbundel wat deur Antjie Krog en Alfred Schaffer saamgestel is.



LitNet: 2 Mei 2006

Het jy hierdie gedig geniet? Lewer kommentaar aan webvoet@litnet.co.za, of stuur jou eie gedigte aan Danie Marais. Klik hier vir PoësieNet-riglyne.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.