Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Danie Marais: die emosie van ontheemding

Onderhoud: Versindaba

Danie Marais in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ’n BCom-graad met regsvakke. Hy studeer in die onderwys aan die Carl von Ossietzky-Universiteit in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke. Hy skryf ’n gereelde rock-rubriek vir Beeld, resenseer boeke vir Rapport en het sy vrou, Karlien de Villiers, se eerste grafiese roman, Meine Mutter war eine schöne Frau, in Duits vertaal. Van sy gedigte is opgeneem in: Nuwe stemme 3 (saamgestel deur Antjie Krog en Alfred Schaffer), Honderd jaar later (saamgestel deur Johann Lodewyk Marais) en My ousie is ’n blom (saamgestel deur Charl-Pierre Naudé). Hy is in 2005 vir die Daimler-Chrysler-prys vir poësie genomineer. Sy debuutbundel, In die buitenste ruimte, verskyn in 2006 by Tafelberg.

1. Vertel meer In die buitenste ruimte. Wat is die deurlopende tema?

Die meeste van die gedigte in die bundel is geskryf in die byna nege jaar wat ek in die koue, nat noorde van Duitsland gebly het. Ek het Duitsland toe gegaan ter wille van ’n groot liefde. Die bundel, getiteld In die buitenste ruimte, handel hoofsaaklik oor ontheemding en die stelselmatige verbrokkeling van ’n verhouding.

2. Jy is 'n nuwe stem in die Afrikaanse poësie. Wat dink jy van die jong stemme oor die algemeen?

Daar is meer belangstelling en jong talent as wat blykbaar algemeen aanvaar word. Ek dink beslis nie dat daar tien jaar gelede meer rede tot kommer of opgewondenheid was as nou nie; inteendeel. Die Nuwe Stemme-reeks het gewys dat daar ’n rits digters is wat baie het om te sê op stilisties uiteenlopende wyses. Hierdie verskeidenheid moet eenvoudig ondersteun en uitgebou word.

3. Wat inspireer jou om te dig?

Oorweldigende emosie en die gevoelens van magteloosheid wat dikwels daarmee gepaard gaan gee my altyd weer aanleiding om te skryf. Tess Gallagher het gesê dat die kortverhaalskrywer en digter Raymond Carver sy poësie soos ’n helikopter gebruik het om emosioneel onbegaanbare terrein te verken. Poësie vervul vir my ’n soortgelyke funksie. ’n Mens ontdek dikwels eers deur die skryf van ’n gedig hoe jy voel, oftewel hoe kompleks ’n stel emosies is. Wanneer mens oor ’n tema of idee skryf, neig die gedig maklik tot hol retoriek.

My ander inspirasie is die werk van digters wat ek bewonder. Ek het nog altyd geskryf as leser. Sodra ek ’n goeie gedig gelees het, is ek ook weer lus om te skryf.  

4. Waaroor kan jy glad nie skryf nie?

Ek het nog nooit ’n groot behoefte gehad om oor die seksdaad te skryf nie. Soveel as wat die metafisika van verhoudings en emosie my interesseer, so verveel eindelose beskrywings van koïtus my. Dit is bitter selde eroties. Maar ek sal liewer oor seks skryf as oor sport. Trompie die rugbyheld is beslis nie die soort boek wat in my broek sit nie.

5. Wat lees jy op die oomblik?
Billy Collins se The Problem With Poetry And Other Poems en een van Charles Bukowski se posthuum gepubliseerde bundels, Slouching Toward Nirvana.
 
6. Wat was jou heel eerste gedig se naam en waaroor het dit gegaan?
Ek kan rêrig nie meer onthou nie, maar ek het eers ernstig en gereeld begin om gedigte te skryf teen 1996. “’n Pass op ’n pap hart” is die eerste gedig in my bundel en dit is ook een van die eerste gedigte wat ek geskryf het. Dit handel oor die onvermoë om jou hart te volg en die onblusbaarheid van verlange. “Die hart is ’n erdwurm” sê die gedig.

7. Een digter wat jy dink regtig ongelooflik skryf?
Daar is baie en dit is vir my onmoontlik om een uit te sonder, maar Anne Carson, Raymond Carver, Yehuda Amichai, Czeslaw Milosz, Fernando Pessoa en Ted Hughes tel beslis onder my absolute gunstelinge.

 

Danie Marais is te sien op die Versindaba (8–9 September) in Stellenbosch. Vir die volledige program, besoek die webwerf www.proteaboekhuis.co.za, skakel (021) 8829100, of stuur 'n e-pos na ls.protea@mweb.co.za.


LitNet: 1 Augustus 2006

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.