|
Marius Crous: Hoort mens enigsins êrens?Abraham H de Vries in gesprek met Marius CrousDie digter Marius Crous is verlede jaar met die die RAU-debuutprys bekroon vir sy bundel Brief uit die kolonies (Protea Boekhuis). By dieselfde geleentheid is die skrywer Abraham H de Vries bekroon met die RAU-prys vir skeppende skryfwerk vir sy bundel Tot verhaal kom (Human en Rousseau).
AdV: Wat het jou laat begin dig, en wat laat jou aanhou met dig? MC: Op skool is ek veral geïnspireer deur my Afrikaansonderwyseres, mev Hanina Loubser. Die boekwinkel op Vredenburg het veral die werk van Sheila Cussons aangehou, en alhoewel ek dit nie behoorlik verstaan het nie (en eers later self Katoliek geword het), het dit iewers vasgesteek. Destyds was daar ook die hype rondom Annesu de Vos en ek dink dit het my ook na my pen laat gryp. Miskien was dit die selfgerigte drang om te publiseer wat my laat aanhou dig het. Miskien ook omdat ek, soos ek ewe voortvarend teenoor Daniel Hugo genoem het, 'n verwikkelde bundel soos Tristia wil skryf. Noudat ek ouer is, kan ek kritiek ook makliker verwerk, soos "Dis 'n ja en 'n nee. 'n Miskien-en-tog-wel bundel" of "Min wat digterlik treffend in die geykte sin van die woord aandoen" of "Een van die knapste illustrasies van hoe postkoloniale letterkunde in die praktyk kan werk". Realisties moet ek egter ook onthou wat Margaret Atwood gesê het: "Making a living from poetry is very hard, unless you can sing too." AdV: Hoekom die poësie? Hoekom nie byvoorbeeld verhale nie? MC: Ek hou van die onmiddellikheid van die gedig, waarskynlik omdat ek so ongeduldig is. Ek het al verhale probeer skryf, en het gevind dat ek meer gedurfde temas in my verhale aandurf. Vir die skryf van 'n roman, veral na die lees van Agaat, sien ek nie kans nie. AdV: Wie is jou "mentors" - nie noodwendig mense wat vir jou kritiek gelewer en so gehelp het nie, maar mense wat as voorbeelde gedien het vir die soort poësie wat jy skryf? MC: Neruda se surrealistiese metafore, die wit vroue van Kenia (Blixen, Galman en Huxley) en hul probeer sin maak uit hul omgewing, Frost se bedrieglike eenvoud, Heaney se eiesoortige manier van politieke verse skryf, Ted Hughes se doodsliedere aan Sylvia Plath, Margaret Atwood se Susanna Moodie-siklus. In Afrikaans beny ek Lucas Malan se vormtug, Hambidge se produktiwiteit, Krog se spel met identiteite, Cloete se sintaksis. AdV: As jy moet sê wat die sentrale tema is in jou werk - dit wat jou bly en de donner in maak en soms albei gelyk, dit waarmee jy geen ander raad weet as om 'n gedig daaroor te maak nie? MC: My bundel belig kolonialisme, en in 'n mindere mate ook postkolonialisme, vanuit bepaalde invalshoeke. Ek dink die sentrale tematiek van my werk - en ek dink ek kry dit by Lettie Viljoen - word verwoord in die openingsreël van my gedig "taal": "ek kry nie my draai in hierdie landskap[.]" Waar pas ek in? Pás ek in? Móét ek noodwendig inpas? Spivak praat van die bevoorregte wat na die kantlyn moet uitbeweeg en toelaat dat die verontregte na die sentrum beweeg. Miskien probeer ek dit verwoord - hoe selfondermynend dit ook al mag klink. Of is dit 'n maklike uitweg om te sê "identiteit en identiteitsoeke"? Hoort mens enigsins êrens? AdV: Jy het, as ek goed onthou, gepromoveer oor die werk van Antjie Krog. Wat in haar werk het jou akademies geïnteresseer? MC: In elke bundel kom Krog met iets nuuts vorendag. Of sy
nou geil te kere gaan oor die sappighede van die lyf en sy luste en of sy oor
die klipperigheid van die landskap skryf, mens word telkemale heeltemal stom
van verwondering. Haar herdigting van die geskiedenis en die jukstaponering
van die hede en die verlede. Haar besinning oor feminisme en feministiese kwessies,
asook haar interessante digterlike stryd met die digter-vaders binne die tradisie,
te wete Van Wyk Louw, Opperman en Breytenbach - en haar aanwending van verskillende
registers van die taal. Na die lees van Krog weet ons van Plath en Neruda, van
haplografie, van die Jerusalemgangers, van lady Anne se treur oor haar man,
lees ons weer lady Anne se dagboeke en hoor ons die stemme van stilgemaakte
mense. Glo ons stellig dat Susanna Smit mistieke wet dreams gekry het en kyk
met ander blikke na David Hockney en Marlene Dumas se werke. Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |