|
Abraham H de Vries: Skryf is 'n tweerigting-besigheidMarius Crous in gesprek met Abraham H de VriesDie skrywer Abraham H de Vries, een van Afrikaans se voorste kortverhaalskrywers, is verlede jaar met die gesaghebbende RAU-prys vir skeppende skryfwerk bekroon vir sy bundel Tot verhaal kom (Human en Rousseau). By dieselfde geleentheid is die digter Marius Crous met die die RAU-debuutprys bekroon vir sy bundel Brief uit die kolonies (Protea Boekhuis).
MC: Hoe verskil jou aanpak van 'n literêre kortverhaal van 'n vertelling (bv oor Ladismith)? AdV: Daar is twee soorte stories: die een ("Rooikoos Willemse" byvoorbeeld) het 'n natuurlike verloop van begin tot einde. Dit ontstaan gewoonlik uit iets wat ek gehoor of gelees het. Die ander ("Uur van die Idiote", "Nag van die Clown") ontstaan uit 'n anekdote of 'n stuk geskiedenis of net 'n situasie waarmee ek aanvanklik niks kan doen nie omdat die storielyn gewoonlik ontbreek. Dit help ook nie om die res van die storie te versin nie - die onbrekende gedeelte kom as ingewing as 'n mens dit die minste verwag en na aanleiding van niks besonders nie. "Uur van die Idiote" kon ek voltooi toe ek iewers die storie gehoor het van die ou wat vir hom 'n replika van sy volstruishuis by die see laat bou het. Dan spat die vonk wat uiteindelik die verhaal word. Dis die proses. Uiteindelik is daar geen verskil nie - laasgenoemde soort verhale moet ook oplaas 'n goeie storie vertel. MC: Kies jy 'n bundeltitel voor die tyd en skryf die verhale rondom die titel? Of skryf jy eers die verhale klaar en besluit dan op 'n titel? Hoe? 'n Reël uit een van die verhale dalk? AdV: Nee, nie voor die bundel klaar is nie. Dan is daar by terugskouing gewoonlik 'n frase uit 'n verhaal of 'n verhaaltitel wat pas, of ek bedink iets nuuts. 'n Titel is die ding wat - saam met die buiteblad natuurlik - die boek moet verkoop. MC: Jou verhale het dikwels oop slotte. Hoe besluit jy wanneer is 'n kortverhaal klaar? AdV: Dis een van die moeilike goeters. Nie juis wanneer die verhaal kláár is nie - dis meestal redelik die hand liggend (vir my) - maar om op te hou oorskryf aan die verhaal, dís die ding. Ek is selde tevrede met 'n verhaal, selfs nadat ek óór en óór daaraan gewerk het. MC: Hoe besluit jy op die struktuur van 'n verhaal? Besluit jy reeds vooraf watter intertekste gebruik gaan word, of sluip hulle maar so tydens die skryfproses in? AdV: Daar kom geen wilsbesluit hierby te pas nie, dis iets soos verkoue of asemhaal, dis deel van 'n natuurlike proses. En dis die aspek van die skrywery wat my al laat dink het ek is net 'n middelman, die verhaal skryf eintlik homself. Skryf is 'n tweerigting-besigheid, jy word self ook geskryf, waar anders sou ek aan die intertekste kom? Want, nee, ek soek hulle nie voor die tyd nie, natuurlik nie. MC: Stem jy saam met PA du Toit se opmerking dat binne die Afrikaanse letterkunde die kortverhaal "steeds by bekroninge verloor teen die roman"? Hoekom? Hoekom nie? (Klink soos vraetyd in die parlement: Indien ja, waarom? OF Indien nie, waarom nie?) AdV: Jy ken seker die storie; Hennie het dit ook al gesê. As jy geld wil maak of beroemd wil raak of vertaal wil word, moet jy wegbly van die kortverhaal af. Dis 'n algemeen bekende feit. In uitgewersake staan verkope hoog aangeskrewe; en kortverhale verkoop nie so goed soos romans nie, en om 'n eenvoudige rede. Die kortverhaal is een van dié genres is wat die vinnigste ontwikkel, dis die enigste verhalende genre wat die uitdaging van televisie aanvaar. Finansieel is dit nou juis nadelig. Die leser het nog sekere verwagtings na aanleiding van, by wyse van voorbeeld, "'n Bruidsbed vir Tant Nonnie", dan kry hulle reeds "Wat bly oor van soene?" of een van Hennie se essay-verhale. En dan koop hy/sy om daarvan te herstel 'n Fransi Phillips, en dan's jy behóórlik verdwaal! In uitgewery bepaal juis baie van dieselfde sukses, nie baie verskille nie. Wat betref pryse is genre 'n bysaak. Daar's ander slange in die gras waaraan enige normale skrywer hom/haar so min as moontlik steur. Watter literêre prys het een van dié dramaturge van Sestig en voorloper van 'n hele generasie digters, Adam Small, ooit gekry? Hoekom nie?
Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |