Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoofstuk een


Hoofstuk twee




’n Parallelle heelal

Koos A Kombuis


Die laaste bonanza-hoofstuk

Wat tot dusver gebeur het:
Ek en my pel Jimmy ontmoet ’n misterieuse ou man in ’n kroeg. Nadat hy vir ons die hele aand drankies koop, word ek die volgende oggend wakker in ’n parallelle heelal waar dit nog steeds die Ou Suid-Afrika is, al is dit die jaar 2001. Ek vlug en boek myself in by die Holiday Inn in Bellville, waar ek David Kramer in die kroeg sien. Hy is ’n onbekende musikant en maak ’n lewe uit cover versions sing. Dit maak my so depressief dat ek myself dronk drink. Lees nou verder:

Ek het die volgende oggend wakker geword en vir ’n oomblik gehoop dit was alles net ’n nare droom. Toe besef ek dat ek nog steeds in die Holiday Inn is. Dit was nie ’n goeie teken nie.

Ek het vinnig opgespring om eers na myself in die spieël te kyk. Soos ek gevrees het: die side-whiskers en die snor was nog daar. Ek was nie Koos nie, ek was André. En hierdie nagmerrie sou dalk nooit eindig nie.

Hoe ontsnap ’n mens van een heelal na ’n ander? Hierdie is duidelik ’n minder aangename heelal as die een waarin ek grootgeword het. Ek het gewonder of daar lekkerder heelalle ook was. Soos ’n heelal waar die Ou Suid-Afrika nooit bestaan het nie. Of een waar alle vroue drie tiete het ...

Ek het Ontvangs gebel en gevra dat hulle vir my ’n skinkbord met ’n potjie koffie en ’n skeermes na my kamer toe bring. Dit is ’n paar minute later afgelewer deur ’n gedienstige swartman in ’n uniform. “Dankie, Baas,” het hy beleefd gesê toe ek hom ’n fooitjie van twintig rand gee. Dit het my skoon nostalgies laat voel.

Terwyl ek my koffie gedrink het, het ek die TV aangeskakel. Haas Das was gelukkig nie weer op die kassie nie. Ek is getrakteer op ’n video waarin Karike Kreuzenkamp ’n liedjie oor (van alle dinge) Eskimo’s gesing het. Daarna was daar ’n nuusflits en ’n uittreksel uit ’n toespraak deur PW Botha.

Goeiste, die vent was oud. Elize het nog gelewe. Sy was so groot soos ’n seekoei en het half agter hom gesit met ’n reusagtige ruiker langs haar borsspeld. Daar was iets aan haar mond wat my aan Mick Jagger laat dink het. Terwyl Botha sy toespraak gelewer het, het hy sy bewende wysvinger in die lug voor hom gehou soos ’n totem.

Sy stem was afgemete, dringend, en sy linkeroog het aanhoudend geknip:

“En aan daardie moondhede ... wat nog steeds vir Suid-Afrika ... veroordeel  ... en hulle wil inmeng ... in ons huishoudelike ... sake ... wil ek net DIT sê ... Ons sal nie oorgee of apologie aanteken nie ... Ons is oortuig van die regverdigheid van ons politieke bedeling ... Ons sal staande bly terwyl die res ... van die Westerse beskawing ... hulleself in die verderf in laat gly het ... met hulle liberalisme en hulle humanisme ... en hulle verwronge en skynheilige ... ruggraatloosheid ... WAARHEEN, AFRIKANER?  ... QUO VADIS?  ... Ons sal REKENSKAP GEE! En dit sal ’n GOEIE REKENSKAP WEES! Ons ...”

Ná die uittreksel uit die toespraak is ek deur nog ’n Karike-video getrakteer. Haar oë het baie styf in haar kop gestaan, en haar tande was perfek. Ek het gewonder of sy ’n robot was. Riaan Cruywagen dalk ook ... hoe kry party mense dit reg om nooit ouer te word nie?

In die badkamer het ek besluit om my side-whiskers en die snor af te skeer, en ná die besluit het ek effens beter gevoel. Ek het gewonder wat vir my voorlê.

Eerstens, sê ek vir myself, terwyl die gryswordende snorhare in patroontjies in die seepwater van die wasbak beland, moet ek uit die hotel uitboek. Dis gans te duur, en dis beklemmend. Ek wil rondry. Ek sal eers weer huis toe gaan en my vrou onder vier oë spreek. Miskien kan ek vir haar die volle waarheid vertel ...

’n Moedeloosheid maak hom van my meester. Watter man het al ooit in die geskiedenis vir sy eie vrou die volle waarheid vertel? En as daar ’n eerste keer is, sal hy dan geglo word?

’n Skerp pyn langs my bolip. Eina! Ek het my raakgeskeer. Klein druppeltjies bloed wat langs die grys hare afdrup. Nie ’n goeie teken nie ...

Nadat ek geskeer het, lyk ek nie vir myself beter nie. Veral nie met die stukkie toiletpapier wat ek bo-oor die wond probeer plak het in ’n poging om die bloeding te stop nie. Dis amateuragtig. Ek weet nie of ek in hierdie toestand my vrou moet gaan sien nie. Sy sal dink ek was iewers in ’n kroeggeveg.

Toe ek eindelik, ’n halfuur later, by my kar kom — ek het nie aptyt gehad vir brekfis nie, nie eers die wonderlike tradisionele Holiday Inn-brekfis nie — klim ek in en sit en tob eers ’n ruk. Eers, besluit ek, wil ek ’n draai deur Kaapstad ry. In die ou tyd, toe Suid-Afrika nog onderdruk was deur my Bothas van my eie tyd, was Kaapstad altyd die vryste stad in die land. Mens het nooit daar ’n safaripak gesien nie. Dalk is Kaapstad in hierdie heelal ook relatief normaal.

Ek vind die N1 weer maklik, en begin in ’n westelike rigting cruise.

Dis ’n effens mistige dag, vol rook en besoedeling soos altyd, maar my hart spring op in my van opgewondenheid wanneer ek ou Tafelberg sien nader kom. Soos ’n sekerheid staan hy daar, soos iets wat mens kan vertrou; hy bestaan in alle heelalle, daarvan is ek seker. Onveranderlik, getrou, rou soos rots, oervriendelik. Berg van my berg, hart van my hart. Vader Tafelberg! Wat is daardie pragtige liedjie nou weer wat Stef Bos oor sy stad Antwerpen geskryf het? “Stad, stad, my hart, my hart” — so iets. Ek kan nie al sy woorde onthou nie, maar dis hoe ek voel oor Kaapstad en Tafelberg. Ek is daar gebore. En al is ek so wreed deur die noodlot weggeruk van die een heelal na ’n ander, het die berg wonderbaarlik bly staan.

Trane biggel oor my wange terwyl ek deur die verkeer vleg.

* * *

Op die ou end was Kaapstad heeltemal anders as wat ek verwag het.

Ek het nie dadelik die veranderinge waargeneem nie. Eers toe ek by Adderleystraat indraai, onder by die sirkel waar Jan van Riebeeck se standbeeld altyd gestaan het, het die eerste skok my getref. In plaas van ons volksplanter Jan, was daar ’n reusagtige borsbeeld van president Strydom. Presies identies aan die een op die voetstuk op die gedoemde Strydomplein in Pretoria. ’n Replika, of dieselfde beeld?

Daar was Kersversierings bokant die straat, al was hulle natuurlik afgeskakel. Min of meer dieselfde.

Hier en daar was ’n bekende landmerk, min of meer soos dit moes wees: die skousaal en, natuurlik, die kasteel. Maar die Oriental Plaza was weg, en die biblioteek was gesloop om plek te maak vir een van daardie walglike blou glasgedoentes wat so fashionable was ’n paar dekades gelede. Die Parade was net ’n parkade, en die Groentemarkplein kon ek glad nie opspoor nie. Dit is toegebou. Fok die cobblestones.

Eindelik het ek gebrekfis in ’n coffeeshop met die vreeslike naam “Mein Kampf”. Die diens was stug, die kliënteel slegs blank. Maar die koffie was okay, en die eiers sag soos ek daarvan gehou het. Ek het my mond gehou en geëet, nie links of regs gekyk nie. ’n Engelse koerantopskrif buite teen ’n paal het gespekuleer of PW Botha ’n beroerte-aanval gehad het.

Na die ontbyt het ek my planne om Seepunt en Houtbaai te besoek, laat vaar. Maar ek wou nie dadelik na my vrou toe ry nie. Ek het my kar gelos waar dit was — op die vierde verdieping van die Parkade — en eers ’n draai opgestap met Langstraat. Waar daar in my eie heelal ’n groot transformasie plaasgevind het in die inner city, veral merkbaar in Langstraat, was hierdie nog die Langstraat van ouds. Nie ’n teken van ’n deli of Internet-kafee nie. Die trendygeit het Langstraat nog nie ingehaal nie, maar die ou cool was gelukkig nog daar …

Die bekende ou kenteken van die Blue Lodge-bordeel het my begroet soos ’n ou vriend. Ek het verder gestap, en gekry wat ek verwag het: Mountain View Hotel, onveranderd, en Carnival Court. Die ou Carnival Court, sonder die renovasies. Dit was ongelooflik om te sien. Ek het dadelik ingestap by die Mountain View en die dameskroeg gekry, nog by dieselfde ou deur in. In die hoek staan nog dieselfde ou honkytonk-klavier. ’n Paar hoere, hierdie tyd van die oggend van diens af, sit en drink bier by die toonbank en op stoele. Hulle kyk gemaak-geïnteresseerd na my. Ek onthou dat ek nog die stukkie bebloede toiletpapier op my wang het, en skielik voel ek dankbaar daarvoor. Hulle sal dink ek is werkloos. Nie ’n potensiële bron van inkomste nie.

Ek vra die tannie agter die toonbank vir ’n bier. Sy het baie make-up aan haar gesig en rooi, ronde oorbelle. Seker afgetree, help nou uit agter die baar. Ek gaan sit op ’n kroegstoel en toe sy die bier voor my neersit en ek my geld uithaal, vra ek haar: “Hoe’s besigheid?”

“Up and down, up and down,” antwoord sy, en hou haar verrimpelde hand uit.

Die een bier het twee geword, en die twee drie, maar na die vierde een, toe ek al almal in die kroeg se name geken het (Felicia, Daphne, Monique, Lorelei, en die tannie met die rooi oorbelle was Attilla die Hen), het ek besluit om koers te kry huis toe. Dit sou nie my saak bevorder om smoordronk voor my vrou te verskyn nie.

Tydens die rit terug het daar alweer trane oor my wange gestroom. Dalk was dit ’n bietjie dronkverdriet. Of dalk huil mens meer in hierdie heelal, veral as jy gewoond is aan ’n ander heelal.

Ek wou die R300 vat, daardie pad wat ek altyd van die Kaap Somerset-Wes toe ry, maar dit was toegemaak met hoë rolle doringdraad. Dit het gelyk asof verkeer jare laas daarlangs beweeg het: die swierige boog van ’n afrit was, sover soos ek kon sien, oordek met grassprietjies en krake.

Ek het gewonder hoe inwoners van Mitchell's Plein by die huis kom, want in my eie heelal was die R300 die hoof-aar soontoe uit die Kaap uit.

Hoe meer ek gewonder het oor die Bestaan Mitchell’s Plein ooit hier? Sê nou maar die bruinmense wat uit Distrik Ses weggefoeter is, is verder verplaas, byvoorbeeld Namakwaland of die Karoo? Nee, seker nie; die NP-regering sou hulle “ongewensdheid” sekerlik opweeg teen die nabye beskikbaarheid van goedkoop arbeid.

Ek mis die stemme van kleurlinge; die middestad van Kaapstad was feitlik suiwer blank, selfs die gebruiklike koerantverkopertjies was afwesig. Die enigste persoon van donkerder gelaatstrekke wat ek nog van naby ontmoet het, en hy net vir ’n oomblik, was David se pel, Taliep. Ek wonder waar hy woon. Ek wonder of die mense hier snaaks dink van die sonderlinge vriendskap, ’n vriendskap wat so heg is dat dit ook in ons heelal bestaan.

Teen die tyd dat ek die Citi Golf in my eie driveway parkeer, is ek opgewerk in ’n frenzy in. Ek wil my “vrou” vermoor. Ek wil haar rondruk, en op haar skree: “Hoe durf jy saamwerk met so ’n sisteem! Hoe durf jy my beskuldig van sonnette skryf? Van wanneer af speel ek gholf? In watse soort man het jy my verander, en hoekom? Jou bitch!”

Ek sukkel om die voordeur oop te sluit. Ek is nie seker watter sleutel aan die bos is die regte een nie, en ek laat die hele bos twee keer uit my hand val. Eindelik raak ek so moerig dat ek die klokkie lui — lank, aanhoudend, en herhalend. Dis verdomp my huis ook dié, al staan daar ’n gholfbal-posbus langs die driveway. As ek hier moet bly vir altyd, moer ek hom so gou moontlik stukkend.

Sy maak die deur oop, en staan doodkalm daar. Hand in die sy. “So, meneer Rondloper is terug,” sê sy. Haar stem is vriendelik, maar daar is ys om die kante. Ek kan die ingehoude woede lees asof ek al jare met haar getroud is.

“Ek wasj ... by Attilla die Hoender,” is al wat ek skielik kon uitkry, hoogs verbouereerd.

“Atilla die watse ding?”

“Of so iets. Jy weet wat ek bedoel.”

“Nee, ek weet nie wat jy bedoel nie.” Verbasing weg, ys terug, dubbele sterkte. Hand nog steeds op die sy. Ander hand agter die rug. Hou waarskynlik ’n koekroller vas, of dalk selfs ’n pistool.

“Anna, of wat jou naam ook al is ... ek wil nie met jou getroud wees nie.” My oë alweer vol trane, vir die derde keer vandag, “Ek bedoel, jy is redelik mooi en alles, maar ... maar ...” ek sukkel om die regte woorde te vind. “My siel vibreer nie met joune op dieselfde vlak nie.”

Dis blykbaar die soort taal wat sy verstaan. Sy is immers die poëtiese tipe (ek haat poëtiese vroue, by the way).

“Jy’t geskeer,” sê sy. Daar is ’n skielike sagtheid in haar gelaatstrekke. “Jy’t jouself raak geskeer.” Haar bruingebrande lugwaardin-hand, die een wat aan haar sy was, reik na my toe. Met ’n effense pynlike kierts-geluidjie trek sy die stukkie toiletpapier van my bolip af. Sy kyk verwonderd daarna. Die bloed wat daarin drooggeword het, is reeds bruin. “Jy’t dit laas gedoen op universiteit,” sê sy effens verwonderd. “Ek bedoel, jouself raak geskeer en dan stukkies toiletpapier daaraan vasgeplak om die bloed te keer en dan vergeet jy dit daar en loop heel dag so rond.” Skielik is sy dik van die lag. “Ek weet nou jy was nie by ’n ander vrou nie. Geen vrou sal so iets mis kyk nie.”

“Ek was op universiteit? Vir wat?”

Sy kyk weer na my, haar oë op skrefies. “Jy is nie regtig jy nie. Jy is soos iemand van ’n ander planeet.”

“Nooi my in, dat ek verduidelik,” antwoord ek. “Ek het ’n moerse storie om jou te vertel. Is hier bier?”

* * *

Dis vir my nou nog verstommend dat sy my op die ou end geglo het.

Wel, nie heeltemal geglo nie. Sy het die heeltyd ander teorieë probeer opper. Soos dat ek dalk geheueverlies het. Of dat daar iets gebeur het wat my getraumatiseer het. Selfs gesplete persoonlikhede het ter sprake gekom.

Party van die dinge wat ek die bangste was om vir haar te sê, het haar die minste ontstel.

“So die bottom line is, Anna, jy’s baie nice en alles, en jy’s ’n goeie luisteraar, maar ek het jou nie lief nie. Daar’s nie ’n kans nie.”

Sy glimlag, en lyk verlig wanneer sy antwoord: “André, ek voel al meer as drie jaar so oor jou, maar ek het nie die moed gehad om dit vir jou te sê nie.”

“O.”

Sy wil weet: “Hoe lank voel jy al so oor my?”

“Um ... sowat ’n dag,” sê ek. “Onthou, ek het jou gister eers ontmoet.”

“Okay, so jy kan nie onthou nie. Dis dieselfde.”

Bier het sy my toe nooit aangebied nie. Sy’t gesê ons was nie eintlik drinkerige mense nie, daar was nie eers wyn in die huis nie. Maar haar koffie was orraait. As mens het ek haar geselskap geniet, hoewel sy my as vrou afgestoot het. Tiete en al. Ek kon vaagweg sien dat ek, sou my lewe ’n ander paadjie geloop het as wat dit het, dalk op iemand soos Anna verlief sou geraak het en met haar getrou het, maar dit was nie die soort keuse wat ek sou maak nie. Nie die ek wat ek ken nie. Nie die ek wat al oorsee was, wat al dwelmmiddels gevat het, wat al gedonder is in Amsterdam, aangerand in Barcelona en gearresteer is in Langstraat nie (die ander Langstraat, nie die een waar ek vanmiddag was nie). Sy was soos my jeug-ideaal van hoe ’n volmaakte vrou moet lyk.

“Die André met wie jy getroud is of was … ek kry hom baie jammer.”

“Ek ook. Ek kry vir jou baie jammer.”

Die telefoon het gelui. Sy het gesug, opgestaan, en baie lank weggebly. Ek kon hoor hoe sy met iemand met die naam Karen gesels. Ek kon ook hoor hoe sy oor my skinder. “En hy’t die hele nag weggebly, en toe kom hy vandag hier aan en hy sê hy was op ’n ander planeet. Ja. Dis waar. Mansmense is altyd op ’n ander planeet.”

Kort voor sononder het ek vir myself ’n toebroodjie gemaak.

Daar was nie grondboontjiebotter in die koskas nie — ek was geskok. Ek moes tevrede wees met Hellman's mayonnaise. Aaklige goed. Die soort kak wat mense eet in ’n heelal waar Haas Das nog regeer.

Toe ek klaar geëet het, het sy weer in die sitkamer gesit.

“Kan ek vanaand nog hier slaap? Op die rusbank, bedoel ek.”

“Dis jou huis.”

’n Idee het my pas te binne geskiet. “Ek gaan vir ’n rukkie uit. Ek gaan André soek.”

“Hoekom? Waar?”

“Op dieselfde plek waar ek hom verloor het.”

Sy het bewegingloos gesit in die sitkamer wat stadig donkerder word om haar. Ek kon nie haar oë sien nie, maar daar was ’n effense snik in haar stem toe sy my vra: “Sal ons moet praat oor ’n egskeiding, André?”

Ek het besef ek moet vinnig padgee. Sy was nice tot nou toe. Maar ’n vrou wat huil, is soos ’n poltergeist. So iets kan mens se hele aand opfok. Dit begin stadig, en voor jy jou kan kry, is daar ’n klomp stukkende breekgoed.

“Ons praat later,” sê ek, gryp my sleutels, en laat spaander te voet. Verby die gholfbal-posbus in die skemer, af in die straat. Kroeg toe. Ver agter my hoor ek ’n deur oopgaan, hoor ek haar skree: “Jou moer! Hoekom hardloop jy altyd weg as daar ’n probleem is!”

There goes the neighbourhood, dink ek. Hulle kan nou maar net so wel Apartheid afskaf, integreer en gewoond raak aan regte Afrikaans. Ons is tog maar almal ewe platvloers in ons hart ...

Dis ’n hele ent se stap, want daar was nie kans om die kar te vat nie, maar eindelik land ek aan by dieselfde kroeg waar ek en Jimmy twee aande tevore die ou man ontmoet het.

Die kroeg is wel nog steeds hier, Jimmy nie. Die mense wat agter die toonbak werk, is ook vir my onbekend. Waar daar in my eie heelal ’n Budweiser-advertensie teen die muur is, is daar ’n spotprent van Piet Koornhof met reusagtige ore. Onderaan het iemand in koki gekrap: DEAD OR DYING?

Dis die eerste teken van protes of humor wat ek in die hele Ou Suid-Afrika raakgeloop het. Tensy die “up and down”-opmerking van Attilla die Hen bedoel was as ’n soort humor.

Vanaand wil ek nie bier drink nie. Ek wil brandewyn hê. Soos die eerste aand.

Na die derde brandewyn verskyn hy. Ek het hom nie sien of hoor inkom nie. Toe ek weer sien, sit hy op die kroegstoel langs myne. Dieselfde ou man. Die Ancient Mariner. Die reisiger tussen heelalle.

Ek sien hom in die spieël agter die toonbank voor ek hom langs my gewaar. En ek hoor sy stem. Hy praat baie sag, feitlik teenaan my. Hy vra: “So, geniet jy jou besoek?”

“Nee.”

’n Effense stilte. My hart klop benoud in my keel.

“Jy wil teruggaan, nè.”

Ek probeer kalm bly. “Ja. Natuurlik. Dis ’n kak plek die. Die politiek is kak, die vroumense is kak, daar is fokkol hotnots nie, en ek is gatvol vir die blerrie Citi Golf waarmee ek moet rondry.”

“Daar is ’n prys,” sê hy.

“Ek sal betaal. Enigiets. Ek sal die hele aand vir jou drankies koop. Vat my net terug Suid-Afrika toe.”

Hy grinnik. “Dit is Suid-Afrika hierdie, Koos. Dis die Suid-Afrika wat nog steeds deel is van jou. Kroegman! Kan ons twee brandewyne kry, asseblief. My vriend hier sal betaal.”

“Deel van my? Se moer!”

Vir ’n hele ruk praat hy nie, al bestook ek hom met vrae. Ek praat later so hard dat die ander mense in die kroeg gesteurd opkyk.

“Ek is gatvol vir lyk soos ek lyk!” “Ek mis my vrou!” “Ek mis vir Jimmy!” “Hierdie plek bestaan nie regtig nie!”

Eindelik kyk hy na my. Vir die eerste keer lees ek emosie in sy oë. Sulke waterige, hartseer oë. Soos ’n polisieman wat vir ’n kleuter moet probeer verduidelik dat sy ma in ’n ongeluk dood is en nooit sal terugkom uit die hemel nie. “Ek moes dit doen, jy weet.” Hy kyk weg, neem ’n sluk brandewyn. “Jy is ewe selfsugtig, het jy besef? André en Koos. Al glo die een in Apartheid en die ander een nie. Al skryf die een sonnette en die ander rock-songs.”

“Wanneer kan ek teruggaan? Dis al wat ek wil weet.”

“Gou, gou. Daar is nog net een ding wat jy moet doen. Dis iets wat jy net hier kan doen. In geen ander heelal nie.”

“Sjit.”

“Jy sal môreoggend besef wat dit is wat jy moet doen.”

Hy het sy brandewyn in sy keel afgegooi, luid geburp, en omgedraai.

Ek het opgespirng en agterna gehardloop, maar hy was met lang treë reeds by die deur uit. Buite gekom, het ek links en regs gekyk, maar hom nie gewaar nie.

Duiselig, het ek skielik asem geskep en opgekyk na die sterre. Hulle het geflikker, asof hulle beweeg. Hulle was baie ver weg. Hulle was klam agter my trane. Hou ’n mens dan nooit op huil in hierdie verdomde heelal, in hierdie Godverlate land nie?

’n Lawaai op straat het my aandag getrek.

Onder ’n straatlig, sowat veertig meter weg, was twee polisiemanne besig om ’n swartman hardhandig agter in ’n vangwa in te gooi. Die vangwa was geel. Hulle stemme het na my gedra op die vogtige aandlug: “Kom, kaffer! Vanaand fok ons jou op! Wat soek jy in die witman se dorp na nege-uur?”

Ek was te moeg, en te dronk, en te moedeloos om iets daaromtrent te doen, om te probeer keer.

Of miskien het ek nie regtig omgegee nie.


* * *

Ek kan nie vandag onthou presies hoe ek gisteraand by die huis gekom het nie. Ek kan niks van die wandeling terug onthou nie. Al wat ek vaagweg onthou, is dat ek in my hele lewe nog nooit so eensaam gevoel het nie.

Daardie eensaamheid — hoe beskryf ’n mens dit? Ek was al in baie slegte situasies, ek was al dikwels bitteralleen en verveeld, ek was al seergemaak en moedeloos en kwaad en verraai, maar hierdie eensaamheid ...

Iewers in die nanag het ek wakker geskrik, in ’n koue sweet. En ek het onthou waar ek as kind my eerste knou gekry het.

My eerste en eensaamste eensaam was die eensaam toe ek net leer loop het, toe my ouers op ’n dag besluit het ek is nou te oud om by hulle in die dubbelbed te slaap. Die verandering in roetine het vinnig gebeur. Daar was nie kans om aan te pas nie, as kleuter het ek nie rede verstaan nie.

Daardie nagte! Alleen in die donker gang, op soek na my ma-hulle se kamerdeur! En as ek eindelik daar kom, was die deur altyd gesluit.

Hoe ek ook al gehuil het, en gehamer het aan die deur ...

Die angs, die donker, die verwardheid was net te groot vir so ’n klein hartjie om te verduur.

En dis ’n herinnering wat ek jare der jare weggesluit het in my, om nooit weer daaraan te dink nie.

Ek kyk om my rond. Ek lê op die rusbank, in die sitkamer. Deur die vensters sien ek die eerste pienk van die dageraad oopmaak agter die bome in die tuin.

Bewend staan ek op, beweeg saggies na die kombuis toe in die skemer. Uit die slaapkamer hoor ek die ligte, ritmiese gesnork van my wettiglik-getroude vrou. My vrou, die vreemdeling.

In die kombuis vind ek die kitskoffie eindelik. Gatvol vir die moerkoffie wat sy my gister heeldag gevoer het — mens kan te veel kry van ’n goeie ding. Op so ’n oggend het mens geprosesseerde kaffeïen nodig, jy’t klompe sigorei nodig. Ek slaak ’n sug van verligting toe ek ’n klein haflvol blikkie Ricoffy bo in ’n kas opspoor. Newwermaaind dat die koffiepoeier hard en gekoek is, ek moer dit net so in die koppie, laat die kookwater dit smelt.

Terwyl ek in die sitkamer sit met my eerste koppie koffie — en ’n halfuur later met nog een — maak ek my planne vir die dag. Ek het die gevoel dat, as ek my kaarte reg speel, dit dalk my laaste dag in hierdie plek sal wees. Dis tog wat die ou man geskimp het voor hy gisteraand verdwyn het.

Oor die ding wat hy gesê het dat ek selfsugtig is, wil ek nie te veel dink nie. Toevallig het baie mense al soortgelyke goed vir my gesê. (Ek het altyd aangeneem hulle is jaloers op my sukses.) Dis per slot van rekening tog nie waar nie? Ek is ’n nice ou, met of sonder side-whiskers.

In die middel van my derde koppie Ricoffy weet ek skielik wat ek moet doen.

Ditsem! Hoekom het ek nie vroeër hieraan gedink nie?

Die sleutels rinkel in my hand as ek my baadjie gryp en uitstap by die voordeur.

Net wanneer ek die deur agter my wil sluit, onthou ek skielik iets. Ek stap terug, soek die slaapkamer. Anna lê daar en slaap. Ek buig af, soen haar liggies op die wang. “Baai,” fluister ek.

Sy roer nie.

Toe vat ek die pad na die dorp waar ek die grootste knoue van my lewe gekry het.


* * *

As Kaapstad baie anders lyk in ’n Suid-Afrika wat nog aan Apartheid vasklou, is Stellenbosch feitlik onherkenbaar.

Die Braak is nie meer ’n grasperk nie, maar ’n konkreet-slab. Reg in die middel is ’n standbeeld wat op ’n afstand lyk soos ’n rewolwer wat hemelwaarts wys. Eers toe ek nader ry, sien ek, tot my opperste verbasing en afsku, dat dit ’n afbeelding van PW Botha se wysvinger is — sowat ’n duisend maal vergroot.

Die hele dorp is deurtrek van kitsch. Verskillende soorte.

Die Moederkerk, dank die hemel, lyk nog dieselfde. En die eikebome is nog daar. So ook die ou studentesentrum, die Neelsie — weliswaar nie ’n argitektoniese prestasie nie, maar minder walglik as die nuwe sentrum wat in my eie heelal gebou is. Maar die dekor! Orals is daar oranje-wit-en-blou vlae, draperings, landswapens, kentekens en simbole van die Nasionale Party. Dit laat my dink aan die ou Oosblok. Ek verwag om soldate te sien wat verbymarsjeer, tenks, die waansin van oorlog.

Instede daarvan sien ek ’n ander soort waansin.

Die studente.

Mens sou dink dat hulle, onder hierdie omstandighede, kruisbande en kappies en velskoene sou dra. No such luck. Hulle is punks.

Swartgekleurde hare, Doc Martens, pers highlights, eye-shadow, tie-dye-T-shirts, funky shades. Lewensmoeë uitdrukkings. In hulle swerms stroom hulle oor die kampus: almal blank, almal verveeld, almal oorlaai met handboeke en rugsakke en, lyk dit vir my, die wêreld se probleme op hul skouers.

Die dichotomie is vir my so vreesaanjaend dat ek amper nie kan asem kry nie. Ek voel genoodsaak om my motor te stop en uit te klim.

Ek tol stadig in die rondte, verkyk my aan die jongmense om my.

Ek staan vlak voor Dagbreek-koshuis op ’n sypaadjie. Ek staan uit soos ’n seer duim. Van almal om my is ek die enigste een wat (redelik) skoon geskeer en beskaafd aangetrek is. Verskeie studente gaap my openlik aan. Hulle het almal glasige oë, asof hulle op dwelmmiddels is.

Skielik sien ek iemand wat ek herken. My hart gee ’n ruk van opgewondenheid.

Dis Arno Carstens. Hoofsanger van Springbok Nude Girls. Hy loop alleen, en, behalwe vir sy Jim Morrison-T-shirt, lyk hy relatief normaal.

“Arno!” roep ek, en storm nader. Hy kyk gesteurd op, asof uit ’n diep dagdroom. “Wie is jy?” vra hy.

“Jy sal my nie ken nie,” sê ek, “maar ek is dol oor jou musiek. Wel, ek verstaan nie eintlik jou musiek nie, dis baie lawaaierig, en ek het in die begin gedink dis alles dieselfde liedjie, ek het gedink dis verskillende weergawes van “Bubblegum on my Boots”, maar ek scheme dis befok, en is jy dieselfde ou in hierdie heelal?”

Geen begrip in sy oë nie. “Ek maak nie musiek nie,” sê hy. “En jy beter padgee voor, ek is haastig. Ek moet twee-uur ’n Bybelkunde-lesing gee.”

“’n Wat?”

Hy loop aan.

Hemel, dink ek. Fritz Gaum sal mal wees oor hierdie dorp.

Ek staan besluiteloos rond. Wie is dit wat ek hier moet kom sien? Watter besigheid moet ek afhandel voor ek kan teruggaan na my eie wêreld?

Die Nuwe Suid-Afrika is nie altyd lekker nie, weet ek, maar hemel, die Ou Suid-Afrika is gross. Nooit, ooit weer, neem ek myself voor, maak ek ’n kamma-rassistiese grappie nie, nooit weer kla ek oor omstandighede by ons nie ... nooit, ooit weer wens ek — nie eers vir net ’n oomblik — dat dinge anders kon wees nie.

Asof sy my gedagtes gelees het, hoor ek ’n bruin vrou se stem. “André!” Ek swaai om. Dit neem my ’n paar sekondes om te onthou, om te verstaan wie voor my staan.

Dis die meisie met wie ek — in my eie heelal, altans — ’n onwettige verhouding gehad het in 1981. Ek het haar in Stellenbosch ontmoet, en omdat die mense ons hier verwerp het, het ons in ’n kamertjie in Langstraat gaan woon. In die einste Carnival Court waar ek gister verbygestap het. Sy ken my as André, in beide heelalle, want ek het destyds geskryf onder die skuilnaam André Letoit.

Behalwe vir Anna, is Jillian die eerste persoon wat my hier herken. Of dink sy ken my.

Sy het ouer geword, maar die jare het haar goed behandel. Nie meer die knop-knie-dogter wat jare gelede in Sigma-platewinkel gewerk het nie. Daar stap ’n jong kind langs haar, duidelik haar eie. ’n Trouring glinster aan haar vinger.

“Hoe gaan dit, Jillian?” vra ek, verbouereerd. Sy is so vriendelik. Kan dit wees dat sy my vergewe het ...?

Voor sy verder ’n woord kan sê, voel ek ’n sterk hand op my skouer. Geïrriteerd probeer ek wegruk, maar die hand wil my nie laat gaan nie. “Wat dink jy doen jy?” hoor ek ’n growwe manstem sê.

’n Sekuriteitswag, in swart uniform, kep en stewels. ’n Knuppel hang aan sy gordel, sy een hand is op ’n pistool en sy ander hand nog steeds op my skouer. Sy gesig is ongemaklik naby aan my, en hy praat vinnig, in ’n skor fluisterstem:

“Jy is seker nuut hier, broer, en ek voel ook soos jy, ek is nie ’n rassis nie. Maar as ek julle twee nie nou uitmekaar kry nie, gaan hierdie studente jou lewendig stenig. ’n Mens praat nie met ’n bruin vrou op straat nie. Is jy van lotjie getik?”

Vir die eerste keer word ek bewus daarvan dat almal om ons tot stilstand gekom het. Die sypaadjie is staties. Ek en Jillian is omsingel deur vreemde haarstyle en wilde T-hemde. Selfs ’n paar kettings en leerbaadjies. Al die studente se oë is glasig op my gerig. Glasig, en vyandig. Daar is ’n felle haat in hulle pupille, die haat wat ek laas in iemand se oë gesien het toe ek iemand ’n geleentheid gegee het en hy aan my erken het hy is ’n lid van die Ierse Republikeinse Leër. Die oë van moordenaars.

Ek kyk terug na die sekuriteitswag. Van almal, lyk hy die normaalste. Dit dring tot my deur dat hy my wil help.

“Ek gaan jou naam neerskryf in my boekie en maak of ek jou identiteitsdokument nagaan,” fluister hy dringend. “Daarna moet jy maak dat jy wegkom. Ek hoop jy’t ’n kar hier naby.” Ek knik. “Klim in jou kar en ry, en moenie weer jou voete in hierdie dorp sit nie. Hierdie mob sou jou nou gestenig het as ek nie opgedaag het nie.” Hy haal sy hand van my skouer af, trek ’n sakboekie en balpunt uit sy bosak uit, en vra my, in ’n normale stem, sodat almal kan hoor. “Naam?”

Traag begin die studente eenkant toe staan. Een na die ander verdwyn hulle. Ek hoor opmerkings soos “Vat die doos hof toe,” en “Skryf daai ticket.”

Ek kyk terug. Jillian het verdwyn. Sy stap ’n hele ent weg. Niemand steur hulle aan haar nie. Hulle haat was nie teen haar gerig nie, maar teenoor my, omdat ek notisie geneem het van haar. Vir hulle is sy eenvoudig ’n nonentiteit, ’n dier of ’n hond of ’n kat of ’n posbus.

Die sekuriteitswag het klaar my details gevat. Hy sit sy boekie terug. Vir die eerste keer besef ek dat ek hom ken. “Gert,” sê ek.

Hy bly uitdrukkingloos. “Klim in jou fokking kar en ry,” sis hy.

Terwyl ek wegstap, kyk ek een keer vinnig om. Hy staan my met ’n raaiselagtige uitdrukking en agterna staar. “Stuur groete in Beaufort-Wes,” sê ek, voor ek my sleutels uit my sak haal en terugklim in my Citi Golf.

Ek verlaat die dorp, maar nie die distrik nie.

Ek kan nie teruggaan huis toe nie — waar is my huis in elk geval? — want ek weet instinktief dat hier nóg iemand is wat ek moet sien, hier in Stellenbosch, voor ek mag teruggaan.

My hart klop wild in my keel en begin eers stadig tot bedaring kom toe ek Jonkershoek binnery.

Die vallei is nog net so pragtig soos altyd. Voor my, die Pieke; links van my die wynlandgoede; regs, die vlak-vloeiende Eersterivier, landerye en bome, hier en daar ’n perd in ’n kamp, koeie wat wei, gewelhuise.

Ek het nog altyd gedink Jonkershoek is die mooiste plek op aarde. Ek het al dikwels hiernatoe gekom as ek troos nodig het, as ek God soek, of, op ’n sekere stadium van my lewe, as ek sommer net gou ’n joint wil rook. Same thing.

By my gunsteling ou joint-rook-plek stop ek die kar en klim uit. Ek is langs ’n groot koei-kamp. Sowat ’n dosyn van die bruin diere met hulle sagte oë staan rond op die heldergroen gras. Tortelduiwe sing Morse-kode in die takke bo my. Ek gaan sit op ’n omgekeerde stomp. Vir die eerste keer in ’n baie lang ruk wens ek ek het dagga by my gehad.

Ek is getraumatiseer.

So erg dat ek nie eers kan huil nie. Ek is meer as hartseer: ek ly aan skok, pure skok, en elke keer as ek aan daardie gevoellose studente dink met hulle wilde, Calvinistiese oë en hulle punk-haarstyle, begin my hart van voor af bons binne-in my. Ek ervaar ’n mengsel van vrees en walging.

Vir ’n baie lang ruk — vir wat soos ’n paar ure voel — sit ek net so, feitlik bewegingloos, en kyk na die koeie. Terwyl hulle rustig rondstap. Terwyl hulle herkou. In hierdie tyd stap niemand verby op die teerpad nie, en die mense in die enkele verbygaande motors en plaasbakkies steur hulle nie aan my nie. Twee, drie keer, staan ek op om te pie eenkant tussen die dooie dennenaalde en eikeblare. Dan kom sit ek weer op dieselfde stomp.

Eindelik, teen sononder, weet ek wat my te doen staan.

’n Bybelversie het ongenooid in my kop gespring:

Ek sal opstaan en na my Vader gaan.

Dit vat baie moed om weer in te ry dorp toe, maar ten minste is dit nou donker; die kanse dat enige van daardie studente my sal raaksien, is skraal. Boonop is my bestemming nie in die kampusgedeelte van die dorp nie, maar in suburbia. Ek word gedryf deur intuïsie.

Hoewel hulle in my eie heelal nie meer hier woon nie — my ouers het reeds in 1972 verhuis Pretoria toe vanuit Stellenbosch, en my pa is intussen oorlede — weet ek dat ek nog een keer na die huis moet gaan kyk waar ek grootgeword het. As dit bestaan. Ek weet dat die persoon wat ek moet sien, iets met daardie huis te doen het.

Die straatligte is al aan wanneer ek my kar op die grasperk trek voor Cluverweg 9. Die huis lyk anders. Daar is ’n wit tralieheining voor die erf, en die plante in die tuin groei so woes dat ’n mens amper nie die stoep en die voordeur kan sien nie. Tussen ’n klomp struike en Krismisrose deur kan ek darem ’n flou lig in die sitkamer, agter die gordyne, sien brand.

Ek mors nie verder tyd nie. Wat gedoen moet word, moet gedoen word, wat dit ook al mag wees. Hierdie novelle word in elk geval nou te lank. Ek stoot die hekkie oop met ’n roeserige gekraak, en stap deur die oorgroeide tuinpaadjie af tot op die voorstoep.

Die plek is dik van die herinneringe.

Op hierdie voorstoep, volgens oorlewering (maar ek is nou nog nie seker of dit waar is nie), het my hond kom lê om te sterf nadat hy deur ’n wolfhond hoër op in die straat gebyt is.

Hier is die venster waaragter ek smiddags gesit het en my huiswerk gedoen het, soms gesit en draadtrek het van pure verveling.

Agter die heining aan die linkerkant het die Heydenrichs gebly. Ek was verlief op hulle dogter. Later het ek ’n liedjie oor haar geskryf: “Bicycle sonder ’n slot”.

In die agterplaas, buite sig van hier af, was Kytie se bediendekamer. Die motorhuis waar ek my nerf-af geval het toe ek myself leer fietsry het. Die muur waar ek en Etienne altyd in die son gesit het en oor girls gepraat het. Die gat in die draad waardeur ’n mens kon kruip om by die sloot uit te kom wat verby tannie Markotter se huis in die agterste erf geloop het.

Iewers binne-in die huis waar ek en Vaatjie altyd sit en kondensmelk eet het uit die blikkie smiddags na die rugby-oefening.

Ek lui die deurklokkie.

Binne hoor ek stemme, ’n geskuifel. Dan: ’n ekstra lig wat aangeskakel word in die voorportaal. ’n Oumens-stem wat vra: “Wie’s daar?”

“André,” antwoord ek. “Ek het vroeër hier gewoon, ek wou net kom kyk ...”

’n Sleutel knars in die slot. Die deur gaan oop.

Geraam in die lig uit die voorportaal, en effens geboë van die ouderdom, staan my pa.

Uit die sitkamer, my ma se stem wat roep-vra: “Wie’s daar, ou man?”

“Goeie hemel,” sê my pa, maar hy glimlag breed. “’n Vreemdeling.”

Hy staan opsy dat ek kan inkom. Agter hom sien ek bekende voorwerpe: oramente, glaspotjies op ’n rak, ’n portret van my oupa wat vir die Woordeboek gewerk het. “Ons het gedink jy het ons heeltemal vergeet?”

“Waar is jou snor?” vra my ma, toe ek die sitkamer binnestap. “O, ek is so bly jy het die blerrie ding afgeskeer.” Sy kom orent van waar sy gesit en lees het. Die boek val eenkant toe, en ek sien die titel: Death on the Nile deur Agatha Christie.

Hulle het toe nooit Pretoria toe getrek nie; hulle bly nog steeds hier. Al die jare.

Ek sluk.

Soveel jare al lê ek en rondrol elke nag, droom van die dag van vergelding. Wens ek daar kan ’n dag kom dat ek hulle konfronteer, hulle albei. Maar hoe konfronteer jy iemand wat dood is? Hoe vra ’n mens die regte vrae aan mense wat glad nie verstaan nie?

Ek gaan sit in ’n beige stoel. My ma bied my tee aan. Sy is skoon op haar senuwees. My pa staan rond in sy kamerjas. Hy kug, vryf sy ken, lyk verbouereerd. “En hoe lyk dinge by die huis?” vra hy.

“Ek en Anna gaan skei,” sê ek.

My ma stop in die middel van die arch wat na die kombuis toe lei. Haar mond vorm ’n groot O. My pa kug weer.

Ek staan weer op. “Maar dis nie hoekom ek hier is nie. Die ander André kan julle meer daarvan vertel. Môre, as hy terug is.”

Ek kyk na die twee mense voor my, en word bewus van twee dinge tegelyk. Eerstens, dat hulle nie ’n woord verstaan het van wat ek so pas gesê het nie. Dat hulle nooit in der ewigheid ’n woord sal verstaan van enigiets wat ek vir hulle probeer vertel nie, veral nie van dinge wat vir my belangrik is nie. Ons is gedoem om vir alle ewigheid, of vir hoe lank ons mekaar ken, oor koeitjies en kalfies te praat, die weer, hoeveel suiker ek in my tee drink, hoeveel die kar gekos het om reg te maak.

My tweede besef kom as ’n groot verrassing. Ek besef dat ek hulle lief het. Nes hulle is. So. So clueless, en oud, en skuldig aan Apartheid, skuldig aan onkunde.

Skaars het ek hierdie twee dinge besef, of ek besef nog iets.

Hulle is vir my ook lief.

Miskien nie soos ek is nie, want hulle verstaan my nie soos ek is nie. Nes ek hulle nog nooit verstaan het vir wat hulle is nie.

Ek gaan sit weer. “Ja, ek sal tee drink, dankie,” sê ek.

* * *

Op pad terug huis toe voel ek rustig.

So dan was dit al wat ek moes doen. Dan was dit die enigste rede hoekom die ou man al die moeite gedoen het om my te verplaas van die een heelal na ’n ander, en hopelik weer terug. Sodat ek my by ma-hulle kon gaan tee drink.

Ons het oor niks belangriks gepraat nie. Nie oor die politiek nie. Nie oor al my wrokke teen hulle (en hulle s’n teen my) nie. Net mooi fokkol.

En tog was dit ’n geweldig belangrike gebeurtenis.

Dit was vergifnis. Nie die dramatiese soort vergifnis wat ek altyd gevisualiseer het nie. Geen verduidelikings is gegee en geneem nie. Ek het tee gerdink en toe’t ek gewaai. In my Nissan Sentra geklim en ...

Wag ’n bietjie! Ek kyk na die stuurwiel voor my. Dis nie meer ’n Citi Golf nie!

Dis my eie kar! My eie fokking kar!

Ek is terug in my eie heelal!

Ek gaan weer my vrou en my kind sien!

Ek het my les geleer!

Net op daardie oomblik ry ek oor die kruin onder deur die brug vanwaar mens in die daglig die eerste keer die see kan sien as jy uit Stellenbosch se rigting kom. Ver onder my, die liggies van die Strand en Gordonsbaai. My eie woonplek. Daar, onder iewers, is my vrou, my familie, my vriende. Ek kan nie wag om Jimmy se gesig te sien nie!

Maar die drama is nog nie verby nie. Toe ek by die robot stop langs die Lord Charles-hotel, pluk iemand die deur aan die bestuurderskant oop. Alles gebeur baie vinnig. ’n Swartman pluk my uit die kar; hy het ’n geweer in sy hand. Daar is ’n balaklawa oor sy kop, net die bloedbelope oë steek uit. Hy druk die loop teen my wang. “Give keys,” sê hy.

So mak soos ’n lammetjie oorhandig ek my motorsleutels aan hom.

Ek is in elk geval binne stap-afstand van die huis af.

Hy klim in en trek met skreeuende bande weg, deur die robot wat intussen groen geword het.

Ek haal diep asem, en staan ’n oomblik stil en kyk op na die sterre.

Hulle beweeg nie meer nie.

Ek stuur ’n dankgebed op na almal wat ek ken in die hemel: Liewe Jesus, God, Gabriël, John Lennon, die hele lot van hulle. Vir die eerste keer weet ek sonder twyfel dat ek rêrig terug is in die Nuwe Suid-Afrika. En dat, wat ook al gebeur, ek hier is om te bly.


Hierdie novelle is suiwer op verbeelding gebaseer en alle verwysings na, of beskrywings van, bekende mense berus op die skrywer se fantasie en is nie bedoel om te kwets of te verkleineer nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.