Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoofstuk een


Hoofstuk drie




’n Parallelle heelal

Koos A Kombuis

Hoofstuk Twee


Wat vooraf gebeur het:
Ek en my pêl Jimmy ontmoet ’n misterieuse ou man in ’n kroeg. Nadat hy vir ons die hele aand drankies koop, word ek die volgende oggend wakker in ’n parallelle heelal. PW Botha is nog aan bewind, dit is nog steeds die Ou Suid-Afrika al is dit die jaar 2001, en ek is met die verkeerde vrou getroud. Lees nou verder.

Ek het die hele eerste dag in ’n dwaal rondgestap deur die huis. Later het ek myself gaan toesluit in die studeerkamer. Hier was ’n telefoon-ekstensie, en ’n lessenaar vol laaie. Uit pure desperaatheid het ek deur die laaie gekrap en my eie korrespondensie gelees wat — wonder bo wonder! — netjies geliasseer was.

Ek was ’n voltydse skrywer, kon ek aflei, en my naam was nog steeds André Letoit. Sedert my eerste, revolusionêre romans met die name Somer II en Suidpunt-Jazz het ek my protes teen die NP laat vaar en konvensionele boeke begin skryf. Ek het ’n raadgee-rubriek vir tieners in Die Huisgenoot behartig. Met groeiende afsku het ek deur my eie gepubliseerde werk geblaai. In resensies is ek deur Hennie Aucamp beskryf as “ordinêr” en “vaal”. My boeke het goed verkoop op die platteland. Daar was geen teken van my musiekloopbaan, of die Voëlvry-Toer, of enige van die alternatiewe aktwiteite waarvoor ek in my eie heelal beroemd geword het nie. Al daardie werk was dus vergeefs,

’n Foto-album of twee het my ingelig omtrent my huwelik en ons wittebrood in Kleinmond (’n strandoord waar ek nooit gewoonlik vrywilliglik heen gaan nie). Hieroor wil ek liewers niks sê nie; dis te erg om oor te vertel. Ek moes een keer per jaar rapporteer vir militêre kampe, selfs op my ouderdom. Al my persoonlike details was op papier en in albums en boeke en op die hard-drive van die antieke computer op my lessenaar.

Die grootste vonds was onder in die tweede-onderste laai: ’n adresboekie met telefoon-nommers van vriende.

Ek het dit toevallig oopgemaak by J, en daar was Johan Stemmett se huisnommer. Gedorie.

Johannes Kerkorrel was nie gelys nie, ten minste nie onder J nie. Ek was egter in ekstase toe ek hom onder R opspoor, gelys as Ralph Rabie. Dit was ’n selnommer. Ek het hom dadelik gebel. Binne enkele luie het sy antwoordboodskap ingeskop. Dit was in sy bekende stem, en het gelui: “Ek kan nie nou my telefoon antwoord nie, want ek wil alleen wees. Laat vir my jou naam en nommer, en ek sal jou dalk terugskakel nadat ek ’n ruk daaroor getob het. Of probeer my vanaand by my ou werknommer: weens my beklemmende finansiële status sub ek alweer vir Rapport.”

Ten minste het hy nog sy unieke humorsin, het ek hoopvol gedink, en verder deur die boekie geblaai op soek na nog bekende name.

Jimmy, alias Fanie, was nie daar nie. Aangesien ek sy nommer nog uit my kop geken het, het ek hom probeer. Hy het na die derde lui geantwoord.

“Jimmy! Dis Koos hier. Is jy ook in die parallelle heelal?”

“Wie’s Koos?” het hy gevra. Hy het soos sy ouer broer geklink. “Hier’s nie iemand soos Jimmy nie, dit moet die verkeerde nommer wees.” Voor ek hom verder kon uitvra, het hy neergesit.

Ag, nee. Dit was nie Jimmy nie, maar Fanie. Die Fanie wat my glad nie ken nie.

Onder U vind ek die naam “Uys, Dirk”, met ’n Bloemfonteinse kode vooraan. Kan dit Dagga-Dirk Uys van Boereplaas Promosies wees? wonder ek. Na ’n paar oomblikke se huiwering skakel ek die nommer.

’n Vrou antwoord. “Dimpels Uys?”

Ek sit neer. Dis net te hartseer vir woorde. Hierdie heelal is werklik nie ’n lekker plek nie.

Probeer om die positiewe kant van die saak raak te sien, sê ek vir myself. Ten minste het vroue in hierdie heelal darem tiete (daar was op ’n stadium sprake dat hulle nie tiete het nie, maar die waarheid is veel erger: hulle het wel tiete, maar ’n mens mag glad nie daaraan vat nie, nie eers as jy getroud is nie).

Nog ’n positiewe ding: dalk is dit werklik ’n poets wat iemand my probeer bak. Al wat ek moet doen, is om die Citi Golf se sleutels op te spoor, die garage oop te maak, en om die blok te ry. Dan sal ek gou genoeg sien ek is nie werklik in die Ou Suid-Afrika nie.

So besluit, so gemaak.

Die sleutels van my nuwe kar spoor ek op aan ’n hakie agter die kombuisdeur, net langs die kerk-almanak.

Dit reeds laatmiddag, en ek besluit om ’n paar klere en toebehore te gryp uit my klerekas uit, want in hierdie huis wil ek nie ’n nag langer vertoef nie. Ou Suid-Afrika of te not, vanaand kry ek vir my ’n hotelkamer.

Ek bondel klere en ’n tandeborsel in ’n tas in. My beursie is nog op die gewone plek waar ek dit ook in die ander heelal gebêre het: onder die skoon onderbroeke in my onderbroeke-laai. Ek maak dit oop. Ek vergaap my aan die eienaardige geld: ’n klomp twee-rand-note en muntstukke met Jan van Riebeeck se afbeelding daarop. Whoever hierdie poets op my gebak het, het gewis ’n oog vir detail! Daar is ook ’n ou identiteitsboekie met ’n moerse embarrassing foto van my in. Ek lyk soos ek gelyk het toe ek nog in Boksburg gebly het en vir Sanlam gewerk het. Ek het sidewhiskers en ’n snorretjie. Op die eerste bladsy is my doopnaam, en daar word aangedui dat ek ’n “Blanke” is. Sure, big deal.

Net voor ek uit die huis wil uitsluip, dink ek aan iets vreesliks.

Sedert ek in hierdie heelal aangekom het, het ek nog nie een keer in ’n spieël gekyk nie. Sê nou maar ek lyk regtig soos die foto in my identiteitsdokument?

Ek mik-mik in die rigting van die badkamer, maar daar is die geluid van krane wat oopgedraai is, en iemand wat saggies neurie. Nee, hel, dis my vrou! Ek mik weer terug deur die slaapkamer, voel-voel oor my kennebak en wange. Nee, ek het ten minste nie meer my snor en sidewhiskers nie, so dis seker ’n ou foto. Waar’s die voordeur nou weer?

In die sitkamer is ’n TV intussen aangeskakel, en ek gaan staan verbysterd in die deuropening. Daar is iemand besig om die nuus te lees. Maar dis nie ’n mens nie. Dis nie eers Riaan Cruywagen nie. Dis ’n soft toy.

Op daardie oomblik besef ek hoe diep in die kak ek regtig is.

Want voor my, op die TV-skerm, word ek gekonfronteer met die een enkele prentjie waarmee ek altyd die Ou Suid-Afrika sal assosieer. Die vreeslikste, ergste, lelikste, afskuwelikste simbool van onderdrukking waarmee ek nog ooit kennis gemaak het. Ek is van aangesig tot aangesig met die grootste enkele wreedheid van my kinderjare. My diepste vrees.

Haas Das

Die gepunte oortjies, die sienlose oë, die smalende bekkie, die temerige ou stemmetjie …
“Vandeesweek in Diereland …”

Nee, nee, dis een te veel. Ek storm uit die huis uit, wikkel die garagedeur weer oop, en klim in die Citi Golf. Die tas met klere gooi ek op die sitplek langs my. Ek draai die sleutel in die ignition, en die belaglike klein enjintjie spring aan die brand. Met my oog in die truspieëltjie ry ek ylings agteruit by my hek uit, tussen netjiese blombeddings en ’n gholfbal-posbus deur.

Dit was Haas Das wat my finaal laat besef het, teen die aand van die eerste dag, dat ek so waar as wragtig in die Ou Suid-Afrika was. Niemand wat my ’n poets wou bak, sou só ver gegaan het nie.

En om te dink daar was ’n tyd toe die hele land mal was oor Haas Das! Lank, lank gelede, toe ek nog in Boksburg gewoon het, toe ek sidewhiskers gehad het en vir Sanlam gewerk het!

Die vrae maal deur my kop terwyl ek deur my eie suburb ry.

Wat probeer die noodlot vir my sê? Hoekom het ek hier beland? Hoe is dit moontlik dat parallelle heelalle werklik bestaan? Indien parallelle heelalle bestaan, watter een is die werklike een en watter een is die foutiewe een? Of is almal ewe geldig, en het ek myself tot dusver bloot per toeval in ’n ander heelal as hierdie een bevind? Wat as daardie heelal net ’n droom was, en ek nou vir altyd in hierdie een moet bly? Is heelalle soos radiostasies op die kortgolfsender: kan hulle oovleuel en deurmekaar raak, sodat ’n mens soms per abuis van die een na die ander kan spring? Is dit wat met mense in die Bermuda-driehoek gebeur het?

Alles is bekend, en tog ook onbekend.

Ek het skaars drie blokke ver gery toe ek besef dat ek nie die padtekens verstaan nie. Dis sulke geel vierkantige gedoentetjies met rooi driehoeke en goed bo-aan. Al die aanwysings is in Afrikaans. Op ’n verbygaande busstop lees ek vlugtig die woorde:

SLEGS BLANKES.

Ek kry koue rillings. Terselfdertyd weet ek nie of ek moet lag of huil nie.

Hier is ek, in die jaar 2001, in ’n alternatiewe Suid-Afrika in ’n ander heelal, ’n heelal waar mense nog nie beséf het Apartheid is verkeerd nie. En dis nie ’n droom nie. Die stuurwiel in my hande is werklik, die teerpad waaroor ek bestuur is werklik, die briesie wat by die oop venster in waai, is regtig ’n koue briesie. Alles maak sin behalwe die subteks.

Waarom dit hoegenaamd nodig is, selfs vir ’n Fascistiese munisipaliteit, om die bushaltes aan te dui vir die gebruik van die blanke ras, weet ek ook nie, want nêrens waar ek kyk, sien ek enige swartmense nie.

Die witmense wat ek hier en daar opmerk, lyk, snaaks genoeg, dieselfde as waaraan ek gewoond was in die Nuwe Suid-Afrika — wel, byna dieselfde. Hier stoot ’n vrou ’n baba in ’n stootwaentjie. Sy dra jeans. Daar draf twee middeljarige mans hulle vetrolletjies af — hulle lyk min of meer normaal, totdat ek die oranje-blanje-blou vlaggie op die een se T-hemp opmerk. In die park sit ’n paartjie en hande vashou op ’n bank: ’n pragtige en teer toneeltjie. Dan besef ek die man het jou wrintie ’n safaripak aan. Wanneer laas het ek so-iets gesien?

Ja, daardie eerste aand — dit voel soos ’n ewigheid gelede, al was dit skaars eergister — het ek ure lank rondgery.

Orals was alles dieselfde, en tog anders.

Ek het geëindig in Voortrekkerweg, Bellville. Hier was ten minste één bekende landmerk: die groen en oranje kenteken van die Holiday Inn. Ek het reguit na laasgenoemde toe gery.

Die kontant in my beursie was nie genoeg nie — inflasie in die parallelle heelal was selfs erger as by ons, want hulle wou ’n volle duisend-tweehonderd rand vir ’n enkelkamer hê — maar ek kon gelukkig betaal met ’n kredietkaart van Trustbank wat ek in ’n syflap van my beursie opgespoor het. Die toonbankklerk het geloer na my identiteitsboekie om seker te maak ek is blank. Toe kry ek ’n kamer met ’n TV, ’n mini-bar, ’n bed sonder ’n vrou, en ’n uitsig op Tafelberg.

Eers nadat ek gestort het en aangetrek het in my linnebroek en pastelhemp, het ek die moed gehad om die TV aan te skakel. Dit was in swart en wit, en daar was net twee stasies. Van DSTV of selfs M-Net was daar geen sprake nie. Ek was betyds om die laataand-nuus te vang, genadiglik nie die vroeëre Haas Das-parodie van die nuus nie. Ek het gemengde gevoelens gehad toe ek Nigel Cain weer sien, want hy het verskriklik gelyk: sakke onder die oë en ’n rooi neus. Hy was besig om te vertel hoe goed dit met die ekonomie gaan. Die rand het nou wel effens gedaal na vyf-en-twintig Britse pond, het hy vertel, maar dit is glo baie goed vir die invoer- of uitvoerbedryf. Of so iets. Dit het my geamuseer om te besef hoe die ou NP-regering besig was met presies dieselfde soort wanvoorstellinge as die ANC in my eie heelal.

Na ’n drankie of twee uit die mini-bar was ek egter gereed om die vroliker aspekte, indien enige, van hierdie heelal te ondersoek.

Ek het my kamerdeur agter my gesluit en, beursie in die hempsak, gaan soek na die dameskroeg op die onderste verdieping.

Ek het dit gekry. Dit was soos ’n toneel uit The Shining. Kompleet met die lang toonbank, die blink glase, die paar ongeïnteresseerde kliënte, en die glibberige kroegman.

Eers nadat ek my eerste drankie gekry het — ’n Castle, om nie aandag op myself te vestig nie — het ek die musiek gehoor.

En die musikant gesien.

Eenkant in ’n hoek, op ’n klein verhogie, het ’n kitaarspeler gesit en tokkel op ’n blink elektriese kitaar. Sy stem was bekend. Sy gesig was bekend. Om die waarheid te sê, ek sou hom enige plek herken. Selfs sonder sy hoedjie en sy blink blikkitaar en sy rooi skoene.

Dit was David Kramer.

Hy was besig “Streets of London” te speel.

Sy hare was ’n bietjie grys, sy gesig geplooi, en daar was ’n diep ongelukkige trek om sy mondhoeke. Daar was ’n blikkie vir donasies langs hom op die speaker. Hy het die aura uitgestraal van ’n mislukte kroegsanger.

Ek was verbysterd, en het nog ’n Castle bestel.

Na die vierde Castle was ek by ’n tafeltjie reg voor die verhoog. Ek was al ou wat enigsins notisie van hom geneem het. Ek het toe al die eer gehad om te luister na etlike bo-gemiddelde vertolkings van ou Amerikaanse en Britse poptreffers. “Hotel California”, “Blowing in the Wind”, “You’ve got a Friend” en “Take me Home, Country Road”. Ek was die enigste ou in die kroeg wat geesdriftig hande geklap het na elke liedjie. Elke keer as ek dit gedoen het, het hy na my gekyk met ’n mengsel van verbasing en irritasie.

Dit was toe ek entoesiasties uitroep: “Haak hom, Blokkies!” dat die pôpô die fên strike.

Hy het bleek in die gesig geword, en dadelik opgehou speel. Sy kitaar neergesit en summier van die verhoog afgeklim.

Dit was stil in die kroeg. Die meeste van die ander drinkers was al weg. Ek het omgekyk hoe David na die kroegman toe stap, ’n drankie kry — dit het gelyk soos whiskey en soda — en stadig terugstap. Tot by my tafel.

Vir ’n oomblik het hy my stip in die oë gekyk sonder om te gaan sit. Toe vra hy my: “Wie de hel is jy?”

Vir ’n kort mannetjie kon hy nogal gevaarlik lyk. Maar ek het soveel Castles agter die blad gehad dat ek nie meer omgegee het nie. Ek het my hand uitgesteek en gesê: “Koos Kombuis, man. Ek ken jou. En ek smaak jou musiek.”

Hy het by my kom sit. Daar was geen herkenning in sy blik nie. Daar was ’n stilte, voor hy sy drankie na sy lippe toe gebring het, ’n groterige sluk geneem het sonder om ’n gesig te trek, en sê: “Ja, ek hét ’n song geskryf oor ’n ou met die naam Blokkies. Maar die enigste mense wie dit nog ooit gehoor het, is my vrou, my dogter, en my pêl wat agter in die kombuis werk.”

“Jy bedoel dit was nie op ’n CD nie?”

“Ek het een CD uitgebring met my eie liedjies op. Sy naam was Bakgat. Daar het sowat vyftig copies verkoop voor dit verban is.” Sy oë het vernou. “Werk jy vir die boys? Hou julle my alweer dop of iets? Vir wat kan julle my nie uitlos nie?”

“Lyk ek vir jou na iemand wat werk vir die boys?”

“Ja.”

Skielik het ek onthou dat ek ’n pastelhemp dra, dat ek netjies skoongeskeer is, en dat daar ’n blikkie Castle voor my op die tafel staan.

Ek het gesug. “Ek werk vir niemand nie. En ek skat my naam is nie rêrig Koos Kombuis nie. Nie hier nie.” Ek het my hand uitgesteek. “Jy is David, reg?”

Dit was die verkeerde ding om te sê.

“Hoe weet jy my naam? Hoekom weet jy alles van my af?”

“Want jy’s famous, dude. Jy is famous. Miskien nie in hierdie heelal nie, maar in die meeste van die ander. Jy is die Buddy Holly van Afrikaans. Of moes gewees het. Maar ek is seker jy weet dit in jou hart. Dis hoekom jy so ongelukkig is.”

Vir ’n oomblik het hy geweifel tussen nuuskierigheid en woede. Toe wen die Nasionale Party weer.

Hy het opgestaan, sy kitaar uitge-”plug”, dit teruggesit in sy case wat agter teen die muur gelê het, en omgestap, weer terug kroegtoonbank toe, waar ’n bruinman met ’n joviale gesig pas uit die kombuisdeur gestap gekom het met ’n wit doek oor die skouer en ’n skinkbord vol glase in sy hande. “Kom, Taliep, ons waai,” het David gesê. “Hierdie plek is vanaand te warm.”

“Nou al? Watse move is dit?” Taliep het verbaas die skinkbord neergesit, die doekie afgehaal, en om die toonbank gestap, waar hy David se kitaar-case by hom geneem het.

Ek wou teenstribbel. Ek wou agterna hardloop en om verskoning vra. My hart was gebreek. My moed was in my skoene. Hulle is uit by die deur sonder om om te kyk.

Skielik het ek ’n idee gekry. Ek het my Castle net so gelos, opgespring, en die stage bestyg. Ek het die donasie-blikkie gegryp en geskud; soos ek gedink het, was dit leeg. Uit my beursie het ek ’n klompie twintigrandnote gehaal en dit by die gleufie ingedruk. Toe hardloop ek agter David en Taliep aan.

Ek het hulle ingehardloop waar hulle besig was om deur die hotelfoyer te stap na die voordeur. Ek het David op die skouer getik. “Jy’t jou pay vergeet,” het ek gesê, en die blikkie onder sy neus geswaai.

“Dis leeg,” het hy uitdrukkingloos gesê.

“Nee, dis nie,” het ek gesê. “Ek het nou net gesien hoe iemand ’n paar note daar in druk.”

Hy het die blikkie by my gevat, die gewig gevoel, gelyk of hy twyfel, maar tog vir ’n oomblik liggies geglimlag, en net gesê: “Shot.”

Toe is hy en Taliep by die rondomtaliedeure uit buitentoe.

O wel, het ek by myself gedink, tagtig of honderd rand is miskien nie baie in ’n land waar die rand vyf-en-twintig Britse ponde werd is en waar ’n enkelkamer in die Holiday Inn meer as ’n duisend rand kos nie, maar miskien kan hy darem vir homself ’n pakkie sigarette daarmee koop of iets.

Die Ou Suid-Afrika was nie ’n lekker plek nie.

Ek het daardie aand in my hotelbed gaan slaap met ’n swaar gemoed.

Lees Volgende Maand Die Finale, Ekstra-Lang Bonus-Hoofstuk Van Hierdie Novelle.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.