Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoofstuk twee


Hoofstuk drie




’n Parallelle heelal

Met apologie aan H G Wells

Eerste aflewering van ’n kort novelle in drie hoofstukke

Koos A Kombuis


Tot vandag toe kan ek nie presies onthou wanneer die vreemdeling vir ons begin drankies koop het nie.
Ek en Jimmy was dié aand besig was om politiek te gesels. Jimmy was heeltemal teen die Ou Suid-Afrika, want hy’s ’n leftie en sal altyd ’n leftie bly. Dis nou nie dat ek dit gewoonlik doen nie, maar ek was in ’n skoorsoekerige en nostalgiese bui en het myself betrap dat ek statements kwytraak soos: “Alles is deesdae so duur, ek onthou nog toe Tassies twee rand ’n bottel gekos het.” Waarop Jimmy sou sê: “Ja, maar inflasie bla-bla-bla.” En ek sou antwoord: “Die goeie ou tyd, die goeie ou tyd,” of: “Die hele Gauteng is deesdae een groot blerrie lokasie.”
Dit was net om reaksie uit te lok, natuurlik.
Eers toe hy vir ons ons derde ronde sponsor, het ons begin agterkom hy is daar. Hy het homself nooit voorgestel nie. Hy het gelyk soos ’n ou matroos of ’n mal wetenskaplike, ’n karakter uit The Ancient Mariner of War of the Worlds of iets. En hy wou met ons ’n gesprek aanknoop oor, van alle dinge, iets wat hy genoem het “parallelle heelalle”.
In ons dronkenskap het die konsep van “parallelle heelalle” heel logies aangesluit by ons gesprek oor die Nuwe Suid-Afrika. (Wel, enigiets sou daarby aangesluit het. Hy kon met ons gepraat het oor die spykertekort in Jamaika en ons sou beleefd geluister het, solank hy vir ons aanhou Klipdrift koop.)
“Gestel jy sou die kans kry om na ’n parallelle heelal te verhuis waar die Ou Suid-Afrika nog steeds bestaan,” het hy sy saak gestel, terwyl hy reguit na my kyk, “sou jy bereid wees om dit te doen?”
“Om wat daar te doen?” het ek gevra.
“Jy bedoel iets soos ’n trip Gold Reef City toe?” het Jimmy gewonder.
“Julle moes al hiervan gehoor het. Dis nie ’n nuwe teorie nie, maar dit was onlangs in die nuus omdat Stephen Hawkings ook nou daaraan glo. Volgens Hawkings werk dit so: daar is ’n oneindige aantal moontlike heelalle, elkeen met sy eie unieke realiteit. In sommige van hierdie heelalle bestaan die Aarde glad nie. In ’n ander bestaan die Aarde wel, maar vroumense het nie tiete nie. In …”
“Nie tiete nie?” het Jimmy verskrik uitgeroep. “Het hulle darem parras?”
“Soms, soms nie,” het die vreemdeling meewarig gesê. “Enigiets is moontlik, jy sien, as jy werk met die konsep van ’n oneindige aantal heelalle.”
“Dis okay as hulle parras het maar nie tiete nie. Net nie andersom nie.”
Ek het geproes in my brandewyn. “Julle ouens moenie te veel oor tiete en parras praat nie; ek is ’n gelukkig-getroude man.” (Die “is” van “ek is” het meer geklink soos “isjjj”.)
“In ’n paralelle heelal,” het die vreemdeling onstuitbaar voortgeborduur op sy dwaalleer, “sou jy dalk ook gelukkig getroud wees, maar met ’n ander vrou.”
’’n Vrou sjonder tiete,” het Jimmy help verduidelik, waarskynlik om my beter te laat voel.
Die idee van parallelle heelalle het egter vir my skielik interessant begin klink. “Wat’s die catch?” wou ek weet.
“Daar’s nie ’n catch nie. Alles is relatief. ’n Parallelle heelal is nie noodwendig slegter of beter nie, dis net … anders.”
Ons het net gedink die gesprek begin half einde toe staan, toe drop die vreemdeling sy bombshell.
“Vat byvoorbeeld die heelal waar ek vandaan kom,” sê hy. “Ek was sowat ’n halfuur terug daar. In dieselfde baar as hierdie. Julle twee ouens was ook daar aan die drink. Maar julle het ander name gehad.”
Vir etlike oomblikke is daar ’n yslike stilte. Mens kan net die gemurmel van die Coke-masjien en die dowwe agtergrondmusiek van die jukebox hoor.
Jimmy kom eerste tot verhaal. “Kak, man, jy ken nie eers ons name nie.”
“Nie in hierdie heelal nie,” sê die vreemdeling. “Maar in daardie heelal was julle Fanie en André. Wie is julle in hierdie heelal?”
“Ons is nog steeds Fanie en André!” het ek triomfantlik uitgeroep. “Maar hoe’t jy geweet?”
“Wel, ek is Fanie gedoop, maar as ek uit is op die jag, is ek altyd Jimmy,” het Jimmy versigtig bygevoeg. “Om die waarheid te sê, ek is Jimmy meeste van die tyd.” Hy het na my gekyk. “En niemand noem jou nog André nie.”
“Net die oom van Sanlam, my ma en mense wat gedigte lees,” het ek erken. “Vir alle praktiese doeleindes staan ek bekend as Koosj.”
Op hierdie stadium het die vreemdeling my ernstig begin ontsenu. As dit ’n practical joke was, was dit besig om te ver te gaan. Die ergste van alles was dat, hoewel hy duidelik geweet het presies wie ons is — wie ek is — hy sy pose perfek gehou het. Daar was geen sweempie van sarkasme nie. Hy was ook nie verbaas nie. Die meeste mense, wanneer ek vir hulle bekend lyk maar hulle is nie seker wie ek is nie, sê-vra sulke goed soos “Verskoon my, maar is jy nie dalk …?” Of hulle begin: “Jy’s mos die ou wat sing, nè?” Een tannie het een keer selfs beweer dat sy al my CD’s besit, en dat sy vir ’n feit weet my naam is eintlik Koos Kerkorrel. Niks wat ek gesê het, kon haar anders oorreed nie.
Maar hierdie outoppie was cool, hoor, super-cool, en ’n mens kon amper glo hy kom rêrig van ’n ander heelal.
“Vertel my nog van hierdie plek waar jy kastig vandaan kom,” het Jimmy voorgestel terwyl hy vir die ou loer oor die rand van sy brandewynglas, maar sy stemmetjie, hoewel hy kordaat probeer klink het, was maar dun.
“Hoekom gaan kyk julle nie self nie?” het die vreemdeling gesê. “Ek kan julle soontoe neem. Ongelukkig net een op ’n slag. Maar ek kan.”
Hierdie was meer as ’n uitdaging om arm te druk of ’n potjie daarts te speel.
“Toe, wie’s eerste?” het hy ons aangepor.
Ek kan niks verder van die gesprek onthou nie.
Want dit was pas drie nagte gelede.
Wat ek wel onthou — hoe sal ek dit vergeet? — is dat ek eergisteroggend wakker geword langs ’n ander vrou.
En dit was nie al nie.
Ek was in ’n ander bed. In ’n ander slaapkamer.
Die huis was dieselfde huis, in dieselfde straat, in dieselfde dorp, maar die dekor het heeltemal verskil. In plaas van koeivelle op die vloer en rietmeubels, was alles Biggie Best. Die hemde in my kas het krae gehad en hulle was pastelkleurig. Toe ek in die badkamerspieël kyk, was ek skoongeskeer. Die kar in my garage was skielik ’n Citi Golf. Van gholf gepraat: daar was ’n stel gholfstokke teen die muur van my studeerkamer gebalanseer.
Op die koffietafeltjie in die sitkamer het ’n stapel Vrye Weekblaaie gelê. Dit was nie ou Vrye Weekblaaie uit die tagtigerjare nie. Hulle was gedateer Julie en Oktober 2001. Onlangse datums. Die hoofopskrifte op een van hulle het gelui:

VRAE OOR MANDELA SE DOOD
Het hy regtig gegly op ’n koekie seep?

’n Ander opskrif was:

ONDERHOUD MET PIK BOTHA
“Ek mis my whiskey in die tronk”.

Ek het koorsagtig deur die Vrye Weekblaaie geblaai daardie eerste oggend. Dit was ’n geweldige skok. P W Botha, stokoud en half seniel, was nog aan bewind, en maller as ooit tevore. Mandela het ’n eensame dood in aanhouding gesterf op Robben-eiland. Al die verligte Nasionaliste van die Ou Garde, soos Pik Botha, Willie Esterhuyse en F W de Klerk, was in aanhouding ingevolge die Noodtoestand. Die oorlog in Angola het nog steeds gewoed. Die enigste buitelandse regering met wie die Republiek van Suid-Afrika diplomatieke bande gehad het, was die Taliban van Afganistan.
Dit was te sleg om waar te wees.
Die vorige nag se gesprekke in die kroeg het soos baie lank gelede gevoel, en ek kon nie dadelik alles daarvan onthou nie. Was daar ’n weddenskap? Wie het vir die laaste ronde Klipdrift betaal? Is ek alleen getransporteer na hierdie sogenaamde Parallelle Heelal, of het ek plekke geruil met my ander ek? Is dit alles deel van ’n geweldig ingewikkelde poets? En die Vrye Weekblaaie? Wie op dees aarde sou soveel moeite doen net om vir my ’n streep te trek?
Op die daad het ek besluit om die sleutels van die Citi Golf te soek en te gaan kyk of ek regtig in Die Ou Suid-Afrika is.
’n Stem uit die slaapkamer het my egter in my spore gestop. “Liefie, waar’s my ontbyt dan vanoggend?”
Bliksem! Niemand noem my liefie nie! Watse kak was dit dié?
Ek het teruggeroep: “Ek is besig, liefie, maak jou eie fokken brekfis!”
“André! Van wanneer af vloek jy so?”
Sy het in die deur van die slaapkamer verskyn, haar lang swart hare deurmekaar oor haar gesig. Sy het vaagweg bekend gelyk. “Skryf jy alweer aan jou vervloekte sonnette?” wou sy weet.
Sonnette? Ek?
“Is dit ’n grap?” wou ek weet. “Wie het hierdie stapel koerante hier gelos? Waar kom jy vandaan? Waar is my regte vrou en my babatjie? Wie se gholfstokke staan in my studeerkamer en wie’t sy stuk junk in my garage parkeer? Wat weet jy van al hierdie dinge?”
Sy het verbaas na die stapel koerante gekyk. “Die meid het dit seker hier vergeet,” het sy apologeties gesê. “Dis goed niemand het dit gesien nie.” Sy’t die klomp Vrye Weekblaaie opgeraap en daarmee om die hoek verdwyn. “Jy met jou liberale politiek! Waar kan mens die goed weggooi?”
As dit my bekendstelling tot die Parallelle Heelal was, was dinge glad nie besig om te vlot nie.
O, daar was baie skokke daardie eerste dag. Ek het glad nie geweet hoe om op te tree teenoor my vrou nie. Daar was geen sprake van enige seksuele vlammetjie tussen ons nie. Sy het heeldag stemoefeninge gedoen in die stoepkamer — ek kon aflei dat sy aan ’n sanggroep behoort, want elke keer as die telefoon gelui het, was dit iemand wat met haar wou praat oor datums vir optredes, rehearsals of probleme met sekere komposises. Ek het haar na daardie eerste gesprek vir ure nie gesien nie, en toe dit tyd word, teen die aand se kant, dat sy vir my moet kos maak, het sy in my gunsteling-leunstoel gaan sit en haar neus begrawe in ’n Calvin en Hobbes-comicboek. Haar naam, kon ek darem aflei, was Anna. Sy was glad nie lelik nie — lank, met donker hare en sexy sagte lippe — maar haar stem het my geïrriteer. Sy het gepraat soos iemand wat op Potch geswot het of ’n paar jaar as lugwaardin gewerk het. Die tweede en derde dae sou sy my nog meer irriteer, maar daarvan vertel ek later …


WORD VERVOLG

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.