NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hilde Nel (17 Maart 1961) behaal in 1987 haar M.A. in Antropologie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Eers werk sy as dosent in Antropologie aan die Universiteite van Suid-Afrika en Stellenbosch en daarna vir ’n jaar as mede-redakteur by ’n uitgewer in Kaapstad. Haar eerste gepubliseerde kortverhaal verskyn in Literator, April 1995. Tans bedryf sy haar eie natuurlike gesondheidsbesigheid in Groenpunt, Kaapstad, en studeer verder deeltyds aan ’n vierjarige diploma in Naturopatie.
  Hilde Nel
Nog kortverhale deur Hilde Nel:

Die huis wat Maria gebou het

Dit is Vrydagmiddag. Die stasie krioel van mense, almal opgeruimd na die lang week. Maria vleg tussen die groenteverkopers en geselsende groepies deur en val in ’n lang tou om ’n Khayelitsha-treinkaartjie te koop.
     “Jy dra swaar,” sê die vrou voor haar.
     Maria lag en sit ’n paar Checkers-sakke op die grond neer.
     “Ja, dis alles goed vir my huis. My nuwe huis. Môre kom hulle die ruite insit — dan is alles vir eers klaar. Uiteindelik.”
     Maria vertel van haar huis. Hoe lank sy gespaar het. Hoe sy en haar suster geleer het om die makliker bouwerk self te doen — stene te giet en te messel. Vir die res moes sy mense huur — ten duurste.
     “Ons het sewentien jaar terug begin bou. Elke jaar ’n bietjie gedoen, want die geld was min. ’n Sleep-in verdien min en daar was baie gate om te vul. Maar nou — nou het ek my eie huis.”

Die trein is oorvol. Mense hang by die deure uit. Maria stut haarself teen ’n treinvenster om nie haar balans te verloor nie. Sy knyp die Checkers-sakke tussen haar bene vas. Een vir een vlieg die stasies verby. Nog mense klim op. Kry skaars plek om te staan. Dan is dit Khayelitsha-stasie. Maria se bene voel moeg van staan, maar die pad huis toe is nog ’n goeie halfuur se stap op klipperige grondpad. Dit raak al donker. Sy voel skrikkerig. Die tsotsi’s skuil tussen die shacks. Betrap ’n mens onverhoeds. Veral Vrydae. Sy stap vinniger totdat sy haar huis op ’n afstand sien.

Maria sluit die voordeur oop en loer in. Dit ruik na vars sement en baksteen. Binne sit sy die Checkers-sakke neer. Sy kyk rond. Die woonkamer. Hier sal sy en haar suster met die drie kleintjies slaap totdat daar miskien eendag genoeg geld vir ’n aparte slaapkamer is. As Thandi wil, kan sy ook hier kom bly. Eintlik behoort sy. Sy wil nie hê haar dogter moet dieselfde pad as sy loop nie. Sleep-in. Werk en werk, sonder ophou. Nee, Thandi moet ook hier kom bly.
     Die kombuis. Beknop, maar ten minste ’n vertrek op sy eie. Die hot-plate kan op hierdie kissie staan. Naweke sal hulle saam kook. Pap met lekker vleissous. Of wors en aartappels.
     Die badkamer. Min huise in dié straat het ’n badkamer. Die meeste mense was maar uit skottels.
     “Julle moet halwe coke-bottels oor die jong beet- en spinasieplantjies hou totdat hulle sterk is,” sê Maria toe sy Sondagaand groet. “Anders vreet die slakke hulle op. En gee elke derde dag water. As ek naweke huis toe kom, sal ek die grond omdolwe. Ek hou daarvan om in die klam grond rond te krap. Dit ruik so lekker.”

Vrydagmiddag. Maria se suster-hulle wag haar by die stasie in.
     “Wat is verkeerd?” wil sy dadelik weet.
     Hulle antwoord nie. Stap net stadig vooruit. By die huis gaan hulle vir die eerste keer staan.
     “My groentetuin!” Maria sit haar bagasie neer. Haar keel trek toe. Die jong plantjies wat sy so gekoester het! Alles platgetrap! Uitgeskop!
     “Hoe het dit gebeur?” vra sy verslae. Sy sien hoe haar suster se gesig verstrak.
     “Dis die jong mans. Dié wat altyd in die strate sokker speel. Hulle het vroeg gisteroggend gekom. Net voor ek wou water gee. Ons het probeer keer, maar hulle wou niks weet nie.”
     “Maar hoekom?” wil Maria weet. “Ek het hulle mos niks gedoen nie!”
     “Hulle sê jy hou jou beter as die township se mense. Jy wil jouself verryk.”
     Maria bedek haar oë met haar hande.
     “Ek het hard gewerk vir my geld! Lank gewag — geswoeg en gesweet vir hierdie huis!”
     Sy buk af en krap met haar vingers in die grond asof sy die stukkende plante wil koester.
     Die beet was amper reg vir eet.

Vrydagmiddag. Die Septemberlug bokant Khayelitsha is bruin van die stof. Maria beur teen die suidooster al met die klipperige pad langs. Sy sit haar koffer neer om te rus en vryf die eelte op haar hande. Dan herken sy haar suster-hulle ’n ent straataf. Hulle kom haar tegemoet, gesigte fronsend.
     “Wat is verkeerd?”
     Hulle antwoord nie, stap net stadig vooruit.

Op ’n afstand sien sy dit al.
     “My huis! My huis!” skree sy en begin draf.
     Die mure duik swart voor haar op, die ruite gebars.
     Sy pluk die deur oop, trap versigtig oor sinkplaat en gemors. Die woonkamer is swart. Daar is niks oor van die paar matrasse en kaste nie. Alles daarmee heen.
     Haar wange word nat.

Maria trek die deur agter haar toe. Buite wag die ander.
      “’n Petrolbom,” verbreek haar suster ’n lang stilte. “Die jong mans. Hulle speel deesdae nie meer sokker nie. Veroorsaak net oral moeilikheid.”
     “Maar hoekom dan?” wil Maria weet. “Hoekom my huis?”
     “Dis glo omdat jy jou met die council se mense ophou,” sê haar suster. “Hulle het jou by die council se kantore gesien.”
     “Maar hoe anders kon ek om my dinge reël? Ek is nie ’n impimpi nie! Almal weet dit tog!”
     “Die jong mans het gesê ons moet die council boikot. Die council loop met die wittes saam. Hulle is verraaiers — hulle kry elke maand baie geld om hulle eie mense te verraai.”
     Maria bly stil, kyk na haar huis.
     “Die mure staan nog,” sê sy dan. “Ek sal my huis regmaak. My huis sal nie val nie. Al kos dit my wat ook al. My huis sal nie val nie.”

* * *

“Ek sal julle betaal,” smeek Maria. Sy leun moeg teen die hostelmuur. “ Los net my huis uit. Asseblief! Ek is ’n ou vrou.”
     Die jong mans kyk haar emosieloos aan.
     “Ek het genoeg geld! Oor twee maande is dit my beurt met die stokvel. Dan kry ek R1 400-00. Ons is agt vrouens wat saam spaar,” probeer sy weer, maar sy sien geen deernis in die oë wat haar aanstaar nie. Die uitdrukkinglose gesigte swem voor haar. Iemand begin lag.
     “En boonop kry ek Desember double pay,” voeg sy by. “ Christmas-bonus. Die tweedehandse stoof en yskas wat ek met die geld wou koop, moet maar wag.”
     ’n Lang, maer man — die leier — staan op. Hy dra ’n grys mus en ’n over-size T-shirt. Hy gee ’n danspassie en lag: “Ons soek nie jou geld nie. Ons wil vir Thandi hê!”
     Almal lag saam. Party fluit.
      “Thandi, jou mooi dogter. Sy moet saans na die hostel kom om vir ons te kook. Ons het beter kos nodig. ’n Mooi vrou soos sy behoort goed te kan kook. Ons sal alles gee. Sy hoef net te kom.”
     “Maar Thandi werk in Wynberg,” probeer Maria keer. “Dis ’n goeie werk. Sy kan dit nie los nie.”
     “Jou dogter kan naweke kom,” sê die lange vasberade. Die ander beaam dit luidrugtig.
     “Ons sal mooi kyk na jou huis,” sê die lange weer en in die omdraai lag hy uit sy maag. Toe verdwyn die jong mans die skemer in.
     “Ek sal met Thandi praat,” skree Maria agterna. Los net my huis uit. Asseblief! Moet net nie iets aan my huis doen nie!”

* * *

Vrydagmiddag. Maria se suster-hulle wag haar by die stasie in.
     “Die mense kom vra al vir groente, maar ons het gesê hulle moet wag tot jy kom, Maria. Jy ken die pryse.”
     “Dis goed so.”
     “En die henne lê goed,” sê haar suster. “Daar’s oorgenoeg eiers vir die huis en nog om te verkoop.”
     Maria lag tevrede, druk die ou komberse wat Madam haar gegee het in die ander se hande.
     “Vanaand slaap ons lekker warm,” sê sy. “Die winter wil-wil al kop uitsteek.”
     Sy pak haar sak uit en gaan dan op ’n oliekonka onder ’n jong vyeboom sit. Dit is sterk skemer. Sy kyk tevrede na haar huis. Die mure wys hier en daar nog swart, maar as dit eers geverf is, sal niemand ooit kon dink wat destyds hier gebeur het nie. Sy glimlag diep ingedagte. Dan sien sy hoe die ligte in die hostel een na die ander aangaan. Vir ’n oomblik voel sy half bedruk. Sy dink aan Thandi wat by die dag stiller word. Thandi wie se oë donkerder en donkerder word. Dan staan sy op en gaan in om water te kook.
     Thandi moet vir eers uithou, dink sy. Ter wille van die huis. Die huis wat al so ’n lang pad saam met ons kom.

Dit is laat toe Thandi saggies by die deur inkom. Almal slaap al — almal behalwe Maria.
     “Thandi, waarom is jy so laat! Jy weet die strate is gevaarlik. Jy soek jou dood! En boonop storm dit buite,” fluister Maria sag om nie die ander wakker te maak nie.
     Thandi bly ’n ruk stil. Dan sê sy stadig, moeg: “Moet jou tog nie oor my bekommer nie, Mama. Ek is klaar dood.” Sy begin saggies snik. “Jy ... Jy het my siel doodgemaak, Mama. Met jou veilige huis. Jou baksteenmuurhuis met die glasvensters. Jy het my siel doodgemaak.”
     Toe trek sy haar uit en gaan op die leë matras lê.
     Maria kom vinnig regop. Die bloed klop in haar slape.

En vir die eerste keer sien sy die ronding van haar dogter se buik.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.