|
|
Om vry te weesVrydag. Die strate is stil. Seker oor die reën. n Leë plastiekbottel tol voor haar uit op die nat klipstraat. Sy stap vinnig, koesend teen die koue wind. Groot swart letters op een van die ou geboue trek haar aandag. Weer nuwe politieke slagspreuke! Wie dit ook al gedoen het, waag baie. Te veel. Met die aandklokreël en alles. Naby die stasie gaan sy n ou dubbelverdiepinghuis binne. Jongmense in jeans en jasse staan bo in n rokerige vertrek in groepies en gesels. n Man en meisie wieg oënskynlik onbewus van mekaar op die maat van sagte instrumentele rockmusiek. Iemand lag uitspattig. Buite is die strate donker. n Jeep vol soldate ry in n systraat af. Tuis val sy op haar matras neer en bly lê totdat haar asemhaling bedaar. Sy skakel n swart-en-wit beeldradio aan. Die omroeper praat van stakings en n gebou wat afgebrand is. Beeldmateriaal verskyn van n woedende skare, vuiste in die lug. Dan kom die soldate. Sy staan op, soek haar sigarette. Sondag. Die strate lewe effens, maar almal is haastig. Met strak gesigte loop elkeen doelgerig op pad iewers heen. Sy stap stadig. Die naaste kafee is gesluit, die rakke leeg. Drie straatblokke verder kry sy nog n oop kafee. n Ou man staan agter die toonbank. Sy neem n brood, betaal woordeloos en gaan dan weer. By n katedraal talm sy. Dit reën liggies. Klimop klou groen teen die eeue oue klipmure. Dan gaan sy in, trap versigtig, want haar skoensole is modderig. Sy kyk na die klipbeelde, die gedenkstene van heiliges. Waarom brand die kerse vandag nie? Die vloer kraak. Sy kyk op. n Figuur staan hande in die sak na haar en kyk. Hulle stap n ou gebou binne, neem die trappe na bo. Die plankvloere kraak onder hulle voete. n Enkele gloeilamp gooi n dowwe lig in die gang. In sy kamer huiwer sy effens, maar gaan dan tog sit. Hy moet in sy vroeë vyftigs wees. n Grys-swart stoppelbaard skyn deur sy vel. Sy sien die wellus in sy oë. Nie bewondering nie daarvoor is haar liggaam reeds te oud en vervalle. Dan voel sy sy mond op hare. Sy lippe dwing hare oop. Hy streel oor haar liggaam, sak oor haar neer. Sy asem jaag. Sy voel die hitte van sy liggaam en hoe hy dan ru van haar besit neem. Sy word wakker en kyk rond, maar die man is reeds weg. Op die bedkassie vind sy n nota: Kom asseblief weer volgende Sondag. Asseblief. Net dit. Sy vou die papier versigtig toe en druk dit in haar jassak. Dan tap sy badwater in. Sy lê lank en week. Die water koel af word blougroen van seep en sweet. In die spieël teen die oorkantse muur sien sy haar eie weerkaatsing dofweg. Haar borste uitgeteer, haar gesig toegewasem met slegs die buitelyne sigbaar. Geen mond of oë nie. Vrydag gaan sy weer soos gewoonlik na die jongmense. Hulle lag en gesels. Net die jeug kan in hierdie omstandighede steeds vrolik wees, dink sy. Tog vind sy hulle optimisme aansteeklik. Sy gaan by n klein groepie sit en kyk hoe hulle plakkate verf: Weg met die militêre regime! Ons eis vryheid! Die jongmense filosofeer nie oor die lewe nie, dink sy. Nie soos ons jare terug nie. Die bravade die luuksheid om te kan filosofeer, geld nie hier nie. Vir hierdie jongmense gaan dit oor oorlewing. Oorlewing in n vyandige bestel. Wat maak ons debatte van destyds in elk geval saak in n tyd soos hierdie? As jy nie altyd weet of jy genoeg kos sal hê om te eet nie, worstel jy allermins met dieper kwessies. Sy dink terug aan al die vurige debatte onder mekaar. Is God en die samelewing dalk een en dieselfde? Aanbid die mens eintlik indirek die samelewing? Is God bloot n projeksie van die sosiale struktuur? Sondag breek aan. Sy voel n vreemde gevoel van opwinding op die krop van haar maag. Iets wat sy jare laas beleef het. Maar tog ook huiwering. Sy was haar hare met groot sorg. Soek in haar laaie rond na lipstiffie, maar vind niks. Dan gaan sy. Sy stap vinnig, want dit wil-wil reën. By die man se woonstelblok huiwer sy weer, maar klim dan tog stadig met die trappe boontoe. Sy deur staan oop. Hy kom uit. Sy herken die adellike neus. Die stoppelbaard. Hulle deel n sigaret. Lê opgekrul op sy enkelbed. Sy stap winkel toe. Sigarette of brood? Die winkelier lyk ongeduldig. Die trappe kraak terwyl sy boontoe stap. Verder is dit onnatuurlik stil. Gewoonlik hoor sy al teen hierdie tyd die musiek. Sy steier toe sy die vertrek binnestap. Bloed en glas. Sy trap oor verminkte jong liggame. Sien die bloederige koeëlgate in die jasse. Hulle het haar gekry waar sy bene opgetrek in n leë steeg tussen die hoë geboue sit en staar het. Dit het hard gereën. Sy het n dooie sigaret vasgeklou, stadig heen en weer gewieg. Haar rok het opgeskuif oor n modderige broekie. Haar bene was nat van die reën. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |