NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand


Deel I: Danté staan sy man

Die koms van Die Jollie Bobbejaan

Hanru Niemand


II: Pionnespel

Jacobus skud sy kop met ’n wrang glimlag ná hy Bosman, die boemelaar, gegroet het. Die Bloubaarde gebruik hom so blatant, dis net nie waar nie. Die gerugte wat hulle die ronde laat doen - dat hy inderdaad Big Ben Blue under cover is - is belaglik. Hy lyk dalk nogal soos Big Ben Blue, en die herlewing van ’n legende doen blykbaar nogal baie vir steun vir die Bloubaarde, maar enigeen wat egter twee keer dink, behoort te vermoed dat dit ’n klomp stront is: Bosman en Big Ben Blue was immers in ’n stadium gelyk sigbaar, bogronds. Maar nou ja, mens kan seker op die mense staatmaak om juis nié twee keer te dink nie.

Dit is ’n standpunt wat Jacobus vir homself staaf as hy oor die plein loop, op pad na sy woonstel. Die Idool is weer besig met nog een van sy konserte, en die skare van dames van so om en by die twintig jaar gaan mal, spring op en af en waai hul arms in diverse rigtings. Hy het al hard probeer om hierdie fenomeen te aanvaar, om daarmee te cope, maar daar is iets aan Die Idool se optredes wat hom fundamenteel naar maak. Hy kan dit nie help nie.

Hy onthou dat daar ’n tyd was wat hy hom verbeel het hy kan verby al hierdie dinge leef: Tim Banjo wat heel moontlik dood is, Die Idool se kotsmusiek, die feit dat Ryna op ’n reëlmatig herhalende wyse hom laat verstaan dat hy nooit weer met haar sal kan tango, so deur die tafels deur nie. Wat sy natuurlik afwissel (op ’n reëlmatig herhalende wyse) met periodes van onteenseglike intimiteit, om dit dramaties te stel. Wat dinge net nog moeiliker maak. Hy onthou nog die aand toe Tim Banjo verdwyn het, hoe die manskappe met hul vergassers ingestorm het, hoe Ryna hom gekeer het om te gaan soek, hoe hy na haar geluister het. Al hierdie dinge, hierdie splinters in sy bewussyn, kan hy nie meer ignoreer nie.

Hy is bly hy het hierdie dag vir die uitvoering van sy taak gekies, dink Rob. Dit is nou absoluut die laaste strooi, maar nou het Die Idool, of wie ook al hom bestuur, te ver gegaan. Rob sou nog dalk, net dalk, met groot pyn, die talryke permutasies van liedjies met “Baby” daarin kon sluk. Maar nou is Die Idool besig met ’n remix van ’n Big Ben Blue-song! Heiligskennis! Selfs al het hy nie lank terug, destyds, toe Albert vermoor is, die idee gekry nie, sou hy teen dié tyd dit noodwendig hê. Nou wag hy net vir Elway en Epstein om in posisie te kom, kitare en al, en vir Die Idool om net vir ’n klein rukkie amper stil te staan.

Maar Die Idool staan nooit stil nie. Die sweet pêrel op sy gespierde boarms, wat energiek uit sy moulose frokkie skiet. Die skare van dames van so om en by die twintig jaar is in vervoering. Hulle kom nie eers agter dat die arm wat die mikrofoon vashou, ook dikwels nie naby Die Idool se mond is nie, selfs al kom sy stem lustig by die luidsprekers uit. Dalk sou hulle in elk geval nie omgegee het as hulle dit wel opgemerk het nie. Want Die Idool verdien sy roem in die sweet van sy aangesig (of liewer sy boarms).

Dit het tyd geword vir nog ’n tussenspel van die backtrack, en Rob besluit dat hy nie langer kan wag nie. Die Idool gaan af oor hoe kief dit darem vir jou in ons land is, dat almal kondome moet gebruik, veral as hulle seks het, versoek dat almal agter hom aan moet dans, klap een maal sy hande bo sy mooi kop en steier grond toe soos die haelgeweerkoeël sy borskas oopruk, waarna die skare van dames van so om en by die twintig jaar hul hande bo hul koppe klap en grond toe steier.

Die Sersant word uit sy stoel geruk deur die klank van blues wat weergalm oor die plein. Hy kyk vanuit sy kantoor op die veertiende verdieping uit, en sien tot sy afgryse hoe twee manne lustig blues speel op die verhoog wat vir Die Idool bedoel is. Hy is amper verlig as hy sien hoe ’n dosyn manskappe nader storm, maar dan pak die twee vinnig op, en skarrel weg. “Die Akademie is voorwaar kak!” sis Die Sersant. “Byleveld! Roep vir Agent Roux. Dadelik!” Laat sy ’n bietjie verduidelik hoe de fok so iets kon deurglip.

“Helaas, arme Jorik, ek het hom goed geken, Agent Roux,” merk Byleveld op aan Agent Ryna Roux, en rig beslis bewoë die vraag: “Wanneer gaan hierdie gay-moorde tog ophou?”

“Sy naam was Jorik, en hy was gay?” Agent Ryna Roux kan nie ’n glimlag bedwing nie as sy dink aan hoeveel teleurgestelde bewonderaars dié inligting kon veroorsaak het.

“Hallo, Jacobus.” Waar haar gestewelde bene gekruis was, en die jeans netjies gespan het om haar mooi bene soos sy teruggeleun het in een van sy stoele, kom sy nou vinnig orent, skynbaar verleë omdat sy ongenooid by sy woonstel ingebreek het. “Skies, ek -” probeer sy begin verduidelik, maar Jacobus sug dankbaar: “Lenie,” en omhels haar.

“Hoe’t jy ingekom?” vra hy.

“Jy sit jou sleutel op jou kosyn. Wat verwag jy?”

“Wat maak jy hier? Ek bedoel die biblioteek, en alles?” Hulle gaan sit.

“Ek het hulle laat gaan. Ek moes.” Sy steek ’n sigaret op, kyk verskrik op as sy besef sy’t nie eers toestemming gevra nie, ontspan dan as hy met ’n wuif van die hand wys dat sy kan voortgaan. Sy druk dit dan in elk geval dood, en mompel: “Moet die goed los.”

“Hoekom?”

“Want dis ’n filthy habit.”

“Om mense in ’n biblioteek aan te hou? Ja, ek stem saam.”

“O, nee, ek dag jy praat van die sigarette. Ek moes hulle laat gaan, omdat my geld opgeraak het. Ek kon net nie meer die tamaties bekostig nie.”

“Ja, dis inflasie vir jou, nè. Koffie?”

“Asseblief.”

Terwyl die ketel herbergsaam roggel, dring iets tot Jacobus deur: “So, het jy helder oordag ontsnap?”

“Ja. Die Idool was besig met ’n konsert. Ek het in die razmataz uitgeglip.” Jacobus knik. “Terloops,” sê sy, “jy weet hy’s vandag doodgeskiet, Die Idool?”

“Terloops? You certainly have a way with words! Nee, ek het nie geweet nie. Weet jy wie dit gedoen het?”

“Nee. Ek was die afgelope paar maande in ’n biblioteek toegesluit, onthou. Ek ken nie al julle politieke bewegings nie.”

Jacobus gaan sit, en vee met sy hand oor sy gesig. “Daar het baie gebeur sedert ek en jy laas gepraat het.”

Lenie knik haar kop begrypend, vra nie verder uit nie. Jacobus gee haar haar koffie aan, en neem ’n stadige sluk aan syne.

“Jy was reg gewees. Ek het gedink soos ’n toeris,” sê hy uiteindelik, “ek het gedink dis moontlik om alles soos ’n TV show te ervaar. Maar ek kon nie.”

“Somtyds word mens gedwing daartoe. Om te sit en kyk hoe dinge gebeur.”

“Maar dit was nie die geval by my nie. Ek kon iets gedoen het, dêmmit.”

“Kon jy?”

“Dalk,” sê hy, sagter. “Dalk sou ek dan dood gewees het. Maar hoe meer ek daaraan dink, hoe meer weet ek ek moes iets gedoen het daardie aand. Ek moes Ryna uit die pad uit gedruk het of iets. Self gaan soek het.”

“En wat sou jy bereik het? Ryna sou jou loskry, en alles sou dieselfde gewees het. Amper soos die noodlot.”

“Jy glo nog steeds dat mens in sekere rigtings gedwing word. Ek was nog nooit seker nie. Hoe dit ook al sy, dit voel beter, meer reg, om iets te doen, iets te probeer.”

“Wat sal jy dan kan aanvaar? Hoe sal jy kan rustig raak, as alles wat gebeur op ’n manier jou toedoen moet wees?”

“Ek rus al my lewe lank. Sit en drink koffie en grinnik sinies en stylvol oor Danté en Marlene en die donderse BeskermingDiens. Nee, Lenie, daar is niks stylvols aan die lewe nie.”

Nog ’n manskap se kop ruk agteroor soos Ryna Roux se skop hom tref. Sy het immers ’n klomp burokratiese frustrasie om van ontslae te raak: sy was op die punt om haar Yoghurt Suster-uniform aan te trek, toe roep Die Sersant haar in om haar in kennis te stel dat die ondersoek betreffende die Bloubaarde nou tot ’n punt moet kom. Asof sy dit nie weet nie.

Sy sien hoe haar mede-Susters op ’n ontsagwekkende, amper mitologiese wyse hul yoghurt-kannetjies rondswaai, met die manskappe se genitalieë wat dikwels in die pad daarvan kom. Sy glimlag. Agent Ryna Roux geniet haar werk

In Die Versteekte Kelder/The Hidden Cellar sit Rob rustig agteroor en drink sy whiskey. Hy is tevrede: Die Idool se musiek is stil, en Elway en Epstein se guerilla-taktiek het goed gewerk. Hy moet erken dat dinge nogal in sy guns verloop. Hy hou nie van Danté en sy Moffies nie, ook nie van die Yoghurt Susters nie, maar hulle hou die BeskermingDiens besig genoeg dat die blues weer bogronds gehoor kan word.

Cummings bring hom die nuutste uitgawe van die Blue Mondayly, die ondergrondse koerant van die Bloubaarde, wat ironies genoeg nie op Maandae verskyn nie, maar wel Saterdae. Cummings wys met sy vinger na ’n ope brief deur Joan Black, waarin sy die blues uitkryt as ’n chauvinistiese, patriargale vorm van vermaak. “The bitch! How dare she call it entertainment!” Tog is hy jammer die redakteur het hom nie in kennis gestel hiervan nie. Hy sou die artikel gestop het. Die laaste ding wat hy nou wil hê is dat een of ander oorlog teen die Yoghurt Susters moet uitbreek. Dit sal moet gebeur, een of ander tyd, as hy Joan Black se brief reg verstaan. Net nie nou nie.

“So, wat’s haar naam, Jacobus?” vra Lenie.

“Wie?” Hy is effens oorbluf deur die vraag so uit die bloute. Hy gee haar haar koffie aan.

Sy neem dit, steek ’n sigaret aan, druk dit dood en mompel: “Moet die goed los.”

“Vrouens? Ja, ek stem saam.”

Sy wil hom hap oor hy so stupid is om heeltyd haar sigaret-opmerkings verkeerd te verstaan, maar dan sien sy die wrang glimlag op sy gesig. “Die meisie wat jou so opfok, wie is sy?”

“Wat gee jou die idee daar’s iemand wat my opfok?”

“Jare se ondervinding.”

“In die kothuis?”

“Ja.” Sy sien die verwarde uitdrukking op sy gesig. “Ek het baie met Perry gesels. Hy was die enigste een wat dit naby die kothuis gewaag het, die enigste een wat nog ’n bietjie mens in hom oorgehad het. My ouers het dit toe al lankal verloor, en my susters het dit gevolglik nooit gehad nie. So ek en Perry het baie gesels. Hy was ook maar ’n gewone ou, soort van. Sure, hy het altyd ’n ryk teef of drie op sy spyskaart gehad, maar sy hart is ook ’n paar keer gebreek deur eenvoudige meisies, sproete en al. Ek dink nie hy het dit ooit vir enigiemand laat deurskemer nie. Dit het nie ingepas by die hele Perry du Toit-persona nie.” Sy betrap haarself dat sy in ’n onverwagse monoloog betrokke geraak het. “But still the question lingers, wie is die meisie wat jou so opfok?”

“Ek verstaan nou hoekom jy so oud voor jou tyd is. In daardie hok van ’n huis. Hoe dan anders?”

“Moenie jy nou die onderwerp verander nie. Moet ek raai? OK, ek kan raai. Dis iemand wat jy alreeds genoem het. Ryna. Dis sy. Is jy lief vir haar, Jacobus?”

“Ek’s bevrees ek is.”

“Sersant, ek smeek u, doen iets! Wat kan my beskeie vorm van kapitalisme doen teen die aanslag van hierdie vroue?” Die pepper spray-vervaardiger is radeloos. Dit is nou al ’n geruime tyd dat die Yoghurt Susters hul kreet verander het na “Who needs pepper spray when you’ve got yoghurt?”

“Ek verseker u, meneer Pistorius, ek sal alles in my vermoë doen om die hele beweging tot ’n val te bring. Hulle is alreeds deur een van ons agente geïnfiltreer. Nou, as u my sal verskoon.”

Soos mnr Pistorius die groot afstand van die lessenaar na die deur dek, draai Die Sersant om, en kyk uit oor die sonsondergang. Aan die regterkant van sy uitsig rys die bouwerk aan Admin B. By voltooiing sal dit vyftien verdiepings hoog wees, een hoër as Admin A. Dit sal die kroon span op vyf en twintig jaar van orde en eendrag, vyf en twintig jaar van sy bewind. Nou lyk dit of sy bewind stadig maar seker uitmekaar begin val. Ná die dood van Die Idool twee weke terug het die Bloubaarde se guerilla-aktiwiteite eksponensieel gegroei, terwyl die Yoghurt Susters en Danté en sy Makkers al hoe sterker staan. In die afgelope twee weke het nie een arrestasie plaasgevind nie, bloot omdat die manskappe nie die mas kon opkom teen dié klomp nie. Daar sal vinnig tot aksie oorgegaan moet word, dink hy, en delg met een netjiese hou van sy vlieëplak ’n vlieg uit, soos hy geleer is die Akademie. Waar kom al die vlieë vandaan, wonder hy?

Lenie is reg, dink Jacobus, Ryna fok hom op. Hy kan dit nie help nie. Hy moes al lankal die idee van hulle twee saam gelos het, maar hy kan nie. Elke slag kom sy net terug en groet hom vrolik en dan is alles weer dieselfde vir drie dae. Dit begin hom nou rêrig afpis. Maar hy kan niks daaraan doen nie.

Aan sy linkerkant het Danté en sy Makkers pas hul temaliedjie begin speel en die bypassende dans begin uitvoer. Dit was ’n wyse besluit om die aanvanklike temaliedjie, “It’s raining men”, te vervang met “I will survive”. Baie van die rugbykykende skare het na dié besluit naamlik begin om oor te loop na die “ander kant”. En wat ’n bevrydende ervaring was dit nie vir hulle om op die vooraf-gechoreografeerde passies van dié lied van vryheid en onafhanklikheid te dans nie.

Die oorblywende menigte is lamgelê deur hul skielike gebrek aan getalle. Selfs Danté se mees uitdagende aksies, soos om sy serp op “oh, now go” driftig om sy nek te gooi, en sy boudjies te wikkel op “walk out the door”, moet ongestraf gelaat word. Al wat nou gedoen kan word is om te fokus op die game. Dit raak egter ook al hoe moeiliker, aangesien Marlene, wat by die dag aggressiewer raak, stelselmatig elkeen by die kraag beetkry en uitskel vir ’n Afrikaner, ’n platonis en dies meer. As sy maar net kon uit-figure waar om die big-screen af te skakel, sou sy baie mense baie spoeg gespaar het, reken Jacobus.

Jacobus Grimm word uit sy spekulasies geruk deur Ryna wat by sy tafel aangewieg kom. Sy doen dit altyd. Sy kom praat elke keer met hom asof sy wil probeer opmaak vir elke keer wat sy hom moes los, terwyl sy dit net regkry om hom te herinner aan die feit dat hulle nie meer spontaan kan begin tango in die StudenteSentrum, so deur die tafels deur nie.

“Hallo, Jacobus.” Hy wil-wil haar amper vra of sy nie met iets meer oorspronkliks kan opkom nie, maar besluit dan liewer om openlik halfhartig te glimlag en monotoon te vra hoe dit met haar gaan.

“Goed,” sê sy opgewek. Sy maak dit ook nie maklik nie, dink Jacobus. “En met jou?”

Soos altyd weet hy nie wat om te sê nie. En die guilt trips waarop hy haar voorheen probeer sit het (die storie met die tango en alles) het eenvoudig nie gewerk nie, die teef.

“Goed,” sê hy dan, en maak gereed om sy pad na die buitewêreld te vind, voor sy hom keer as sy vra: “Doen jy iets volgende week Woensdag, anders kan ons gaan dans iewers.”

“Wat is jou storie, Ryna? Wat gaan aan? Last time I checked is ek en gevolglik ook jy in die fyn, alomteenwoordige oog van die fokken BeskermingDiens.”

Sy gryp hom aan die arm. Hy verbaas hom altyd oor hoe sterk sy is vir so ’n klein vroutjie. “Tye is aan ‘t verander, Jacobus. Dinge kom nou tot ’n punt.” Sy trek hom nog nader, sodat hy tot sit moet kom, en moet oorleun tot by haar mond. “Dink jy nie ek het ook verlang na die tyd toe ons getango het, so deur die tafels deur nie? Daardie tye kom weer. En ek sal jou alles vanaand vertel, as jy saam met my kom dans.” Sy los sy arm.

“OK.”

Jacobus en Ryna dans. Hy voel die ligte kabbeling van haar spiere (die produk van die BeskermingDiens Akademie) onder haar fyn swart rok. Sy hande is laag op haar, en lewend. En Ryna glip-glip terg-terg haar bene tussen syne in. Sy trek breë hale oor sy rug en borskas met haar speurderhande. En om hulle draai die wêreld soos ’n karnaval om ’n dronkaard. Voor die einde van die song trek hy haar nader en hulle soen mekaar. Jacobus kan dit nie glo nie. Hy glimlag onophoudelik en loop op die maat van die musiek, iets wat hy gewoonlik net in tye van uitsonderlike uitbundigheid in die privaatheid van sy woonstel doen. Hy loop saam met Ryna terug na hul tafel.

“Sê my, Jacobus, hoe lank nog dink jy kan die BeskermingDiens die onluste beheer?”

Hy is effens verras deur die skielike erns van hul gesprek. Hy leun terug, sodat hy nou regop sit in sy stoel. “Eerlik? Ek dink nog baie lank. Danté en sy Makkers het maar net skadebeheer nodig. Die Bloubaarde en Yoghurt Susters kan met ’n paar ordentlike operasies uitgewis word. Besides, ek dink nie een van die twee gaan ooit werklik massa-ondersteuning kry nie. Die musiek is maar ’n klein groepie se struggle, en ek dink nie jy gaan ooit almal oorhaal vir feministiese Marxisme nie.”

Jacobus wonder hoekom hy so skerp is vanaand. Gewoonlik is sy kommunikasie met Ryna niks meer as bloot desperate mompelings nie.

“En as die twee dalk saamstaan, met die omverwerping van die BeskermingDiens as gemene doel?”

“Hoe? Hulle haat mekaar, sover ek kon aflei. Besides, ek dink nog steeds hulle’t nie genoeg populêre ondersteunig nie.”

“En wat as ek vir jou sê dat ek van iemand weet wat hierdie ondersteuning kan verseker, waarna ek en jy bloot die twee groepe moet oorreed om saam te werk?”

Sy leun oor na hom. Hy kan nie help om na haar hals te kyk nie. Verleidelik sê sy, asof sy ’n blink droom gedroom het: “Dink net, Jacobus, wat ons alles sou kon doen as die BeskermingDiens nie meer in beheer is nie. Ek bedoel,” sê sy en lek haar mooi lippe, “ons sou elke dag so tussen die tafels deur kon tango.” Die gedagte van om inderdaad nie deur die BeskermingDiens regeer te word nie, het eintlik nog nooit by Jacobus opgekom nie. Ja, hy was ongelukkig met hulle, en beskou hulle as ’n klomp useless poepholle, maar ’n staatsgreep? En ewe skielik stu daar in hom ’n woede wat hom verbaas. Want gewoonlik sit hy maar net en drink koffie en dink rustig en bitter en sinies oor Ryna en blues en lag bitter en sinies (en rustig) vir Danté en Marlene. Maar nou weet hy hoe dit voel as ewigdurende geluk as ’n verdwynende vrug voor hom gehou word, net nadat hy dit vir die eerste keer geproe het. En vreemd hoe sulke situasies ander fantasieë oproep, ’n poging om weer daai vrug te gryp, en te eet daarvan. Want hy wil nou soos ’n oorwinnaar van die wêreld en die heelal vir haar sê “Tonight, Josephine” en glo sy verstaan dat sý Josephine is. En die BeskermingDiens word die geuniformde bliksem wat in sy pad staan. Sy leun nog nader aan hom, en sê ondeund (dit maak vir hom nie nou saak dat hy haar nie so ken nie): “Sy naam is Die Jollie Bobbejaan. Hy is in aanhouding in een van die BeskermingDiens se geheime kwartiere.” Sy kyk hom vol in die oë, sodat hy vergeet om te vra wie Die Jollie Bobbejaan is, en of hulle dan nou klaar besluit het op ’n staatsgreep. Want die gedagte om elke oggend langs haar wakker te word, vloei soos haar parfuum in hom in.

“So, jy kan hom bloot daar uitkry?”

“Nie so maklik nie. Ons moet die twee partye ook betrokke kry, om hulle deel te maak van die plan, om die staatsgreep suksesvol te maak. So, wat jy moet doen is om met Rob van die Bloubaarde te gaan gesels. Jy ken hom mos. Dan vertel jy hom van Die Jollie Bobbejaan. En oortuig hom om oormôre sesuur met Joan Black van die Yoghurt Susters te vergader. Ek sal dieselfde met haar doen. “

“Afgespreek dan. Shall we synchronize our watches?” Sy lag vir hom as hy dit sê. En hy verbaas hom dat hy dit werklik bedoel het.

Jacobus sluit sy deur oop. Hy roep vir Lenie: “Jy sal nie glo wat gebeur het nie!” Maar van Lenie is daar geen teken nie.

Joan Black en haar offisiere sit in hul swart uniforms om die tafel. Hul yoghurt-kannetjies staan gereed op die tafel. ’n Agterdogtige spul, dink Ryna. Sy spin haar storie terwyl die vrouens haar vanonder welige, donker wenkbroue bekyk. Somtyds voel dit vir Ryna asof party van hulle oë op haar hals vasgepen is, net soos Jacobus se oë. Toe Ryna samewerking met die Bloubaarde vereis, bars almal gelyk (asof op bevel) in woede uit. Hulle slaan hulle kannetjies op die tafels dat dit bewe, en die yoghurt uitspat en wit spatsels maak op die swart uniforms van die Yoghurt Susters.

“Now look what you’ve done! You’ve ruined our uniforms.” Joan Black is na aan trane. Sy’t nou net haar uniform gewas, dêmmit. Die ander ook. Party kyk egter met verlangende oë na Ryna se hals, wat ook wit bespat is, en lek hul lippe. Joan Black bring haarself onder beheer, soos ’n goeie feminis, en gaan ferm voort: “We will never co-operate with the Bloubaarde. They are a bunch of shallow male idiots. They think that everyone without a big shiny guitar should suffer from penis envy. They mean nothing to our cause. No, absolutely not. Not a chance.”

Ryna is lus en slaan die teef. Maar sy beheer haarself, soos sy geleer is in die BeskermingDiens Akademie. Selfdissipline is een van die eerste beginsels van die BeskermingDiens, die sleutel tot sukses, orde en eendrag.

“Do you honestly think that you’ll beat capitalism, and especially the patriarchy, without overtrowing the BeskermingDiens? I’m telling you now: this collaboration is necessary. Putting the pepper spray manufacturer out of business is not enough. You’ll just be going on, having skirmishes with Die BeskermingDiens every second day, messing up your uniforms while you’ve just washed the previous day’s blood out of it. Is that what you really want?” Sy kyk na die offisiere wat in stilte die yoghurt met tissues van hul uniforms probeer afkry. Sy kyk na Joan Black. Joan Black kyk na haar.

“OK. When do we meet with them?”

“Wednesday. At six. At the blues club”

Sy kan sien hulle wil-wil protesteer. Hulle’s net soos Marlene, dink Ryna. Protesteer permanent, dikwels sonder rede. Om hulle te keer gooi sy ’n pakkie BeskermingDiens Spesiale Uitgawe Kouewaterwaspoeier na Joan Black se make-uplose gesig. “Hier,” sê sy, weerbarstig in Afrikaans, “dis uitstekend vir bloedkolle. Spesiaal ontwerp deur die BeskermingDiens.”

By die StudenteSentrum se uitgang sien Jacobus weer vir Bosman. Soos altyd praat hy so ’n bietjie met hom, en gee hom ’n paar sente. Bosman lag soos altyd en sê: “Freedom comes, freedom comes.” Hy kry die ou man met die baard so jammer: dat hý van alle onskuldige mense, in die storie betrek moes word.

Terwyl hy nog weg van Bosman af loop, bemerk hy ’n groot duif met ’n groen takkie in sy bek wat reg op hom afpyl. Hy koes net betyds, net om te sien hoe die duif vol in Bosman se voorkop vasvlieg. Die duif val in Bosman se hande en hy lag. Bosman lag so bly en huil en die trane en die bloed uit sy kop meng in die waterverwe van sy half-bewusteloosheid, voor hy iets prewel soos “Laat dan die leeus tussen ons rondloop.” Dan sterf hy.

Jacobus staan verdwaas. Dit is omtrent ’n minuut voor hy sy voete kan vorentoe trek na waar sy oë is. Teen daardie tyd het ’n redelike samedromming reeds rondom die lyk gevorm, en gevolglik ook die BeskermingDiens, wat teen alle samedromminge gekant is. Hy merk ’n paar Bloubaarde. Dit word vir hom duidelik dat hierdie ’n geleentheid is om simpatie vir die Bloubaarde te kry. Maar ook ’n geleentheid waarin ook hý vir Bosman moet gebruik. Tog, hy is reeds dood. En dit is tyd dat dinge tot ’n punt kom. Hy loop oor na een van die Bloubaarde, tik hom op die skouer en fluister: “Big Ben Blue is sopas vermoor deur die BeskermingDiens se Elite Duif Eenheid.” In die lig van die pas afgelope gebeure is dit tog voor die hand liggend dat die BeskermingDiens ’n Elite Duif Eenheid moet hê. Die Bloubaarde wat toevallig in die omgewing was, proklameer dadelik dat Bosman ’n spesiale gedenkdiens sal ontvang. Dadelik begin die gerugte reeds rondloop dat daar bewyse is dat Bosman, wat (nou skynbaar beslis) eintlik Big Ben Blue was, se dood eintlik ’n goed beplande moord is, wat met koue, kliniese presisie deur die BeskermingDiens se Duif Eenheid uitgevoer is.

Jacobus loop oor na die lyk van Bosman, wat net daar gelaat is, en vee die ou man se oë toe. Dinge kan nie so aangaan nie. Vanaand nog gaan praat hy met Rob oor Ryna se planne.


Deel III: Hoera vir die Jollie Bobbejaan!
Deel IV: O moenie huil nie


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.