NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Die koms van Die Jollie Bobbejaan

Hanru Niemand

IV: O moenie huil nie

Jacobus word wakker in die biblioteek, met Lenie wat oor hom kniel. Eers lê hy rustig terug, terwyl Lenie oor sy gesig streel. Dan onthou hy wat gebeur het. Hy ruk op, maar Lenie druk hom plat. “Hoe het ek hier gekom?”

“Kom nou, Jacobus, jy kon seker aan ’n oorspronkliker vraag as dít gedink het?”

“Fokkit, Lenie! Wat gaan aan? Waar’s Rob?” Hy vra nie uit oor Ryna nie. Hy weet wat sy gedoen het.

“Ek het jou op die plein gekry, terwyl die skare nog gedans het. Kan jy nie onthou nie? Jy was nog by. Jy’t nog heeltyd gesê ‘Sy’t my klaar gesien, sy’t my klaar gesien.’ Toe vat ek jou saam met my en steek jou hier weg, vir eers.”

“Vir eers.”

Sy bring vir hom tee. “Hulle sê dis goed vir jou gesondheid, gesonder as koffie.”

“Hoekom moet ek hulle glo? Tee doen fokkol vir koeëlwonde. Het jy dit al uitgehaal?”

“Ja.”

“Waarlik ’n talentvolle meisie, jy. Waar’t jy dit geleer? Ook in die kothuis?”

“Nee, as jy sien watse mess ek van jou been gemaak het.”

“Hoe kan ek jou glo, Lenie? Sê my,” sê hy sag, “sê my, asseblief.”

“Jy kan nie. Ek het geen bewyse nie.”

“Goeie antwoord. Goed genoeg, vir eers.”

Byleveld laat sak amper ingenome die koerant waarop ’n foto van Die Sersant se bebloede lyk pryk.

“Dit is toe soos ek vermoed het, Tielman,” sê Byleveld vir Byleveld. “Die masjiengeweer was toe vir Die Sersant bedoel. “

“Goeie ding dat ons laat spaander het.”

“Die vraag is net: hoe lank voor Agent Roux agterkom ons is nie dood nie. Sy sal weet om ons hier te kry.”

“Wat stel jy voor doen ons?”

“Laat spaander weer?”

“Wat ek nie verstaan nie, is wat ek met die hele fokken besigheid te doen het.” Jacobus Grimm kan al regop sit. “Ek bedoel, wat de fok! Sy’t my nie nodig gehad vir die stormloop nie, sy kon self gesê het hoe om by die hyser op te gaan, sy’t my nie rêrig nodig gehad om met Rob te skakel nie, want sy was daar self under cover!”

“Ek sal nie kan sê nie. Dalk was jy nog iemand om die BeskermingDiens in die verkeerde rigting te laat kyk, dalk was jy nuttig as ’n tipe mitologiese figuur, iemand om van ’n legende te maak. Dalk het sy net gehou daarvan om met jou te speel.”

“En maak nie saak wat ek doen nie, ek speel reg in haar fokken hande in!”

“Soos ek vir jou gesê het, aan sommige dinge kan mens niks doen nie. Die uitslag sal altyd in haar guns wees.”

“Bullshit! Ek glo dit nie meer nie.” Hy probeer opstaan, en kry dit met groot pyn reg. Hy gryp Lenie vas as sy hom probeer keer. “Jou oupa se gewere, waar is dit? Dit moet iewers wees.”

“Wat wil jy nou doen, haar skiet?”

“Ek weet nie. Sal maar sien hoe die noodlot my lei.”

Hy lag as hy homself in die spieël sien. Buiten die haelgeweer in sy hand, is ook die jas en hoed wat hy aanhet, Lenie se oupa s’n. Dit behoort hom darem ’n bietjie meer onherkenbaar te maak. Hy lyk nou net so uit die mode as die eerste dag toe hy hier aangekom het, behalwe dat niemand dit seker in sy gesig vir hom sal sê nie. Haelgewere weerhou mens van sulke eerlike waarhede.

Hy hoop maar Lenie is reg, dat die poppespeler nie daarop bargain dat die pop gelukkig raak nie. Hy hoop dat hy gelukkig was om te oorleef, dat dit nie Ryna se plan is nie. Mens weet nooit nie.

Hy weet nie eintlik wat hy wil doen nie. Basies seker maar in Admin A in opmarsjeer en Ryna se kop oopskiet. Maar hy is glad nie seker of hy dit kan regkry nie. Hy is erg mank en sy regterhand werk ook nog nie lekker nie. Of hy dit enigsins oor sy hart sal kry, is ’n ander vraag.

Oor die plein kom die skare aangedans agter Die Jollie Bobbejaan aan. Almal saam sing hulle: “Boggom boggom boggom, ‘k sê!” op die wyse van “Suikerbossie”. Vandag is daar geen gepaardgaande bewegings nie - almal dans bloot met hul duime in die lug. Vooraan dans Die Jollie Bobbejaan, duime in die lug. Hy sing nie saam nie, glimlag net en sê af en toe “Boggom!”

Hy is die volmaakte politikus. Wie beter om vir ’n leier te hê as iemand wat in die strate ronddans met ’n positiewe houding, met stylvolle syhemde, manlike (dog sensitiewe) borshare, iemand met rugged good looks wat die dier in jou wakker maak, iemand wat oorspronklike, betekenislose neologismes besig, soos “boggom”. Dis tog voor die hand liggend.

Byleveld en Byleveld sluip suutjies om die Admin B, min wetend dat Jacobus Grimm dieselfde doen, in die teenoorgestelde rigting. By die volgende hoek loop hulle in mekaar vas. Dit neem Byleveld ’n oomblik om te registreer dat hy te staan gekom het voor een van die grootste vyande van die BeskermingDiens, wat boonop ’n haelgeweer in sy hand het. “Hardloop, Tielman! Hardloop!”

Byleveld en Byleveld laat spaander in die rigting van die magtige dreuning van die skare van Die Jollie Bobbejaan. Jacobus Grimm sit hulle hinkepink agterna - hulle kan dalk handig te pas kom.

Omkyk-omkyk hardloop Byleveld en Byleveld, en wonder hoekom Jacobus Grimm nie op hulle skiet nie. So wonder hulle tot hulle hul vasloop in onder andere Danté en sy Makkers. Hulle is op die punt om lelik opgedonder te word. Maar dan bereik Jacobus die skare. Hy pluk sy geweer uit en vuur ’n skoot af. “Boggom!” skree Die Jollie Bobbejaan. “Boggom boggom boggom ‘k sê!” val die skare weer in. Jacobus vuur ’n tweede skoot af, en rig daarna die geweer op Die Jollie Bobbejaan. Die skare raak stil. Dan herken hulle hom. “Hoera vir Jacobus Grimm!” skree hulle, en tel hom op hulle skouers. Danté knipoog vir hom, en vryf sy puntbaardjie tussen duim en voorvinger. Dit is nou maar eenmaal ’n vreemde lewe, Jacobus, dink hy. Voor jy jou kom kry word jy op die hande gedra deur ’n skare wat agter ’n bobbejaan sou aandans en “boggom boggom boggom ‘k sê” sing.

“Daar is nog gevangenes in die BeskermingDiens se selle!” skree hy. “Dit is tyd om hulle te bevry!” Die skare juig. Hy moet hom bedwing of hy skree Liberté, Egalité, Fraternité! Hy kry Byleveld aan die kraag beet. “Jy gaan ons by die trappe oplei, nie die hysers nie.”

Op met die trappe gaan die menigte dus. Jacobus is nog steeds op hul skouers, en hy moet telkens koes vir die kosyne. Dit pis hom so ’n bietjie af, maar sy draers wil niks weet van laat sak nie. Voor hy hom egter kom kry, is hulle by Die Sersant se kantoor, en word die deur oopgebreek.

“Me Roux, hoofadministrateur en persoonlike assistant tot Die Jollie Bobbejaan, kan ons asseblief die sleutels vir die selle kry?”

“Sekerlik.” Sy gooi die sleutels na Jacobus. Hy gee dit vir Byleveld, en beveel hom om die klomp soontoe te neem. Net hy bly agter. Sy geweer is op Ryna gerig.

“Die fluitjie ook.”

“Watter fluitjie?”

“Moenie kak praat nie, Ryna. Ek het jou dit sien blaas.” Sy begin stadig in sy rigting stap. Sy wieg haar heupe so effens, en begin die fluitjie te voorskyn bring. Sy sit dit in sy hand. Haar hand beweeg op na sy gesig. Sy trek hom nader, en soen hom. Dan bring sy haar knie vinnig op. Dit is ’n skietende pyn, maar Jacobus kry dit reg om die geweerkolf in haar sy te stamp. Sy wil ’n teenaanval loods, maar die loop is reeds tussen hulle.

“So, Tim Banjo en Big Ben Blue is regtig dood.”

“Wat gaan jy nou doen, Jacobus, my skiet?” Sy glimlag, en lek haar lippe af. Hy lig die geweer na sy skouer, sit die fluitjie in sy mond, en blaas drie keer hard en dringend. Hy laat sak die geweer.

“So, wat nou, Jacobus? Gaan jy oorvat? StudenteDorp ’n paradys van ordentlike musiek maak?” Sy glimlag weer.

“Niks so eenvoudig nie. Anders as jy, weet ek nooit wat volgende gaan gebeur nie.” Die Jollie Bobbejaan is nou al daar, en die skare is kort op sy hakke. Danté is voor in die koor.

“My Makkers,” roep hy uit, terwyl hy sy gunsteling-stance inneem, “julle het nou gesien wat my verlede was, die selle waar ek moes slaap en helaas bloei! Daardie tye is nou verby!” Hy swaai sy serp driftig om sy nek, en tuur in die verte in. “Om dit te vier, sal ons nou almal, soos ek alleen eens, skitterende wawiele maak in Die Sersant se kantoor!” Die Makkers spring soos een man uit hul spore. Jacobus val plat. Hy was al in ’n soortgelyke situasie. Ryna kry dit reg om so drie of vier skitterende wawiele te ontduik, maar met die laaste ontwyking loop sy in ’n volgende skitterende wawiel in, en dan in nog een. Danté, die meester van skitterende wawiele, tref haar per ongeluk vol teen die kop. Sy steier en val by die ruit uit wat sy gister gebreek het toe sy Die Sersant uitgegooi het.

“Dit was ’n slim move, Jacobus.” Ryna kan amper nie meer praat nie. Sy het in die val dit soms reggekry om ’n lysie hier en daar raak te vat, wat haar spoed gebreek het. Jacobus kniel by haar. Hy het die skare lankal reeds agtergelaat, waar almal teen dié tyd hul koppe half bewusteloos gestamp het teen die mure van Die Sersant se kantoor, wat (so is almal dit eens) nou eenmaal te klein is vir skitterende wawiele.

“Dit was fun gewees, Jacobus Grimm, dit was fun gewees,” prewel sy.

“En nou is dit verby.”

“Ja.”

Dan is sy dood.

Jacobus Grimm staan swaar op. “Fok jou en jou games,” snik hy.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.