NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Die koms van Die Jollie Bobbejaan

Hanru Niemand

I: Danté staan sy man

Vandag het die meisies van die kêrels wat nie daarvan hou om in hul rugby gesteur te word nie, nie daarin geslaag om hul kêrels van hul bebloede prooi af te rem nie. Dit is egter ideaal, gesien die feit dat hulle ooglopend probeer het, en tog terselfdertyd in hul heimlike drange na vertonings van geweld deur hul kêrels bevredig word. Dit is ’n goeie ding dat hul kêrels so sterk is.

Maar hul krag het hulle vandag niks gebaat nie. Die Oosterling, wat Danté te hulp gesnel het, se skoppe was reguit en deurdringend soos die stormreën, en hy self so onaantasbaar soos die stormwind. Nou lê hulle verdwaas en bedremmeld en blou gestrooi tussen stoele en tafels, en hul meisies is heimlik teleurgesteld. Vanaand sal hul kêrels die teleurstelling ontgeld as hulle sonder ophou koer oor Die Idool se spiere, en wat hy heel waarskynlik in so ’n gevegsituasie sou doen.

Danté kyk verbaas en bewonderend na die gespierde Oosterling wat hom sopas van ’n gewisse dood gered het. Die Oosterling steek sy hand na hom uit, trek hom op en stel homself bekend: “I am Fu.”

Met sterre in sy oë en skaam sê Danté: “No, shame, man, you smell nice.”

Fu is al moeg vir grappies oor sy naam, maar hy laat maar hierdie een ongestraf, want die vreemde man met die rooi-en-wit gestreepte broek lyk gehawend genoeg.

Jacobus Grimm se mond hang oop. Hy het amper bekommerd geraak toe die meisies van die kêrels wat nie daarvan hou om in hul rugby gesteur te word nie, nie daarin kon slaag om hul kêrels van hul bebloede prooi af te rem nie. Hy sou hom gaan help het, reken hy, as hy nie die man met die rooi band om sy kop aangehardloop sien kom het nie. Uit sy ondervinding van oorgeklankte Karate-flieks weet hy dat mens jou plek moet ken as die ou met die rooi band om sy kop aangehardloop kom. Soveel te meer as hy “haija!” skree, soos die man vandag ook in die StudenteSentrum gedoen het.

Hy sug as hy sien hoe die BeskermingDiens Manskappe in hul formasie aangedraf kom, soos hulle geleer is in die BeskermingDiens Akademie. Natuurlik weer hopeloos te laat, dink hy by homself. Op ’n manier is hulle soos ’n stadige kar waarvoor jy moet oppas om nie voor in te draai nie. Altyd net ’n bietjie stadiger as die res, tog is jy in die stront as jy ’n kans wil waag.

Hulle pyl reguit op Fu en Danté af, struikel so half oor die oorwonne rugbykykers, en kom effe van balans voor Fu (wat vir Danté agtertoe gedruk het) te staan. “I am Fu,” sê hy, en dit klink vir Jacobus of die man se Engels oorgeklank is.

“And I is poo,” probeer die manskap in bevel snaaks wees. Maar Fu is moeg vir grappies. In sy geboorteland al het die mense hom gespot. Toe hy sy land verlaat het vir groener weivelde, vir plekke waar sy naam nie “Dowe Kafeekat” beteken nie, sou hy nooit kon dink dat sy naam foneties gesproke so snaaks sou wees nie. Daarom slaan hy die arme manskap in bevel oor een van die min staande tafels in die omtrek. Die res kyk mekaar aan. “Vals alarm, Van Rooyen?”

“Maar natuurlik.”

En daarmee is hulle weg, terug die buitelug in.

Uit die hoek van sy oog sien Jacobus Grimm hoe Lenie in die winkel instap, vermoedelik om haar tamatievoorrade op te bou. Jacobus spring op en hardloop in haar rigting, so naby aan verheug as wat hy in die afgelope jaar al ooit was. Hy is amper by haar, toe Ryna voor hom opdoem, met haar heupe eenkant toe geposeer. Amper asof hy in die moeilikheid is, maar sy glimlag vir hom ’n “jou karnallie”-glimlag.

“Hoe gaan dit, Jacobus?”

“Goed dankie.” Hy’t nie nou tyd hiervoor nie, nie nou vir haar nie, dêmmit.

“Is jy haastig?”

“Ja,” onderbreek hy haar, want hy weet sy wou ’n voorstel maak.

“Dan sien ek jou later weer,” sê sy so asof sy nie eintlik omgee nie, wat sy vermoedelik regkry omdat sy inderdaad nie ’n bloue duit omgee nie.

Fokken nonchalante teef, dink hy terwyl hy haar agterlaat, op Lenie se spoor. Maar Lenie het in die gedrang in opgelos soos ’n geheimsinnige disprin. Hy draai om om te kyk wat Ryna nou doen. Sy loop fier en regop, met die kragtige treë van ’n verleidelike vrou wat weet dat sy dit is. Sy glimlag nou, verbeel hy hom.

Joan Black wil kots oor die belaglike religieuse rituele wat gepaardgaan met haar geliefde Albert se verassing. Sy vervloek soos altyd die patriargie, en sy verraderlike strukture om die mense getroos en gelukkig te hou, alles vir sy eie voortbestaan. “But we don’t need what you give us,” snik-mompel sy deur haar trane vir Albert, vir wie sy op ’n heel onfeministiese manier bitter nodig het. “It’s like offering breast-milk to a yoghurt lover,” merk sy tot haar eie verbasing op. “Who needs breast-milk when you’ve got yoghurt?” In die lug ruik sy die reuk van verkolende mensvleis, en, aangedra op die stowwerige windjie, die reuk van die kragtige slogans van ’n nuwe beweging.

“Coetzer, ek wil hê jy moet agter die kap van die byl kom wat betref dié vent.” Die Sersant is ernstig. Lanklaas het hy ’n manskap moes hospitaliseer. Hy moes wel die afgelope tyd ’n paar Agente begrawe, maar ’n opgefoeterde manskap is baie meer onheilspellend vir die vlak van vaardighede, fiksheid en dapperheid onder die BeskermingDiens se geledere. Of dít, of die vent is ’n daadwerklike gevegsmasjien, wat eweneens net so onheilspellend is vir orde en eendrag in StudenteDorp.

Hy wink Coetzer nader sodat hy moet oorleun om te hoor wat Die Sersant sê. “Ek wil ook hê jy moet ’n ondersoek loods in die bedrywighede van die BeskermingDiens Akademie. Ek wil weet wat hulle die mannetjies deesdae daar leer.”

Coetzer knik. Hy is ’n stil man.

“As jy goeie werk op hierdie een doen, sal ek dalk myself oortuig om jou aan te beveel by myself vir ’n bevordering na Senior Agent.”

Coetzer knik: “Dankie, Sersant.”

Nie ’n spraaksame man nie, dié Coetzer.

In Danté se modieuse flat word hy onderrig in die gevegskuns. Maar Danté konsentreer moeilik, want Fu se hemp lê lankal reeds eenkant. Sy spiere skuif rond soos honderde klein rubik-cubes onder sy vel. Sweet vorm op sy vel soos dou op ’n perske. Fu merk dat sy leerling nie meer volledig gefokus is nie, en stel voor, in oorgeklankte Engels: “I think it’s time to rest now, if that is your culture.” (Fu, bewus van die diversiteit in StudenteDorp, eindig altyd sy sinne met “if that is your culture”.)

“Yes, please. I am paralyzed.”

Soos die tee geskink word, en Danté se pinkie al hoe reguiter uitgesteek word, begin hulle in onderskeidelik geradbraakte en oorgeklankte Engels met mekaar kommunikeer. Engels is immers ’n internasionale taal. Maar dit sukkel maar, soos gesien in die feit dat Fu Danté nog nie kon laat verstaan dat hy nie sy onwelriekendheid te kenne gee wanneer hy homself voorstel nie.

Fu se vertellings van sy land, en die glorieryke gevegte waaraan hy al deelgeneem (en gewen) het, boei Danté nietemin. Soveel so, dat hy mettertyd begin om houe in die lug te slaan, bygestaan deur sy eie verbale klankeffekte. “Disj! Karplaks! Swish!” maak Danté, terwyl Fu vertel van die veldblomme van sy geliefde land, waar hy as Dowe Kafeekat bekend staan. So elke nou en dan wissel Danté sy houe af met skitterende wawiele, want, so glo hy, elkeen moet sy unieke gevegstyl hê. Elke keer as Danté skitterend sy wawiel uitvoer (en Fu moet erken dat dit inderdaad skitterend is), sê Fu: “If that is your culture.” Hy kry die man baie jammer. Wat as hy eendag werklik moet veg?

Agent Coetzer trek sy gulp op nadat sy besigheidstransaksie afgehandel is. Die vrou het intussen opgestaan om toilet toe toe gaan. Voordat sy terug is, sal hy al lank reeds weg wees, asof hy nooit daar was nie. Dit was maar net ’n laaste plesiertjie voor hy vir die volgende paar weke in die Akademie se koshuis moet gaan bly.

Dit is hoe dit met hom gaan. Dit is altyd asof hy nie iewers was nie. Destyds, toe hy ’n soldaat was, was dit ook so: Gaan in, doen wat jy moet, gaan uit. En as die oorlog verby is, wat dan? Gaan oorlog toe, gaan terug na  ...

Hy onthou nog hoe hy gelag het vir die pissies by die Akademie (toe hy nog daar was). Sou nie tien minute in die oorlog hou nie. Veral nie in geheime sendings nie. Waar jy jou vyand kan ruik so naby is jy aan hom. Hulle’t altyd weddenskappe gehou, gekyk wie kan die naaste kom, sodat net ’n mes nodig is.

Selfs die skerpskutter impress hom nie. Dit lyk vir hom asof die laaitie dit like om op te dress. Pissie. Fokken glamour boy. Nou wil Die Sersant ewe skielik ’n ondersoek loods. Dit terwyl die Akademie al al die jare up toe shit was.

Hy trek sy T-hemp aan oor sy groot borskas, kam met sy hande vinnig deur sy borselkop, verplaas sy pistool van die bedkassie na sy holster, en loop by die deur uit.

Tot sy verbasing merk Jacobus dat Danté inderdaad besig is om Marlene goed op te donder. Waaroor sal die konflik hierdie keer gaan? Sal hy haar weer met ’n skitterende wawiel omgeskop het? Heel waarskynlik. Of hy het dalk opgemerk dat haar tekkies so laas jaar is. Of dalk per ongeluk haar muffin uit haar hand gestamp met ’n swierige swaai van die serp om die nek. Wat natuurlik ’n tirade sou ontketen waarin sy hom onder andere vir ’n fokken platonis en ’n breindood onnadenkende taalmisbruiker sou uitskel, en vervolgens hom sou begin skop, of ’n muffin, waarmee sy dalk in elk geval ontevrede was, in sy gesig druk. Hoe dit ook al sy, hy is besig om haar goed op te donder. Hy stal ’n paar moves uit wat Jacobus herinner aan die dag toe die geheimsinnige Oosterling die rugbykykende skare op hul neuse laat kyk het. Danté is egter heelwat meer swierig. Die Oosterling sou byvoorbeeld nooit vir Marlene oor die kop moer met ’n Who needs breast-milk when you’ve got yoghurt? -poster nie.

Jacobus wonder waarvoor al die Who needs breast-milk when you’ve got yoghurt? -posters op is. Sal een of ander Italiaanse vervaardiger van suiwelprodukte weer een of ander promotion hê? Dit raak darem nou werklik belaglik, meen hy. Voor jy jou kom kry, sing Die Idool op die plein ten bate van een of ander Italiaanse suiwelmaatskappy. Dis nou as hy nie kondome of iets bemark nie.

Hy sit en drink sy koffie, soos gewoonlik, buite die gesigsveld van die rugbykykende menigte, waarvan sommige klaarblyklik steeds moeilik loop. Sommige se gesigte is net lank. Hulle lyk asof die hond hulle kos afgevat het. Of die vroue hul seks.

Hy mis vir Lenie. Sy is iemand om sy kop van Ryna af te haal. Die Here weet dis moeilik om nie aan haar te dink nie. Nou is dit nog moeilik om Lenie te sien ook. Dis jammer om dit toe te gee, maar Lenie was reg: dit is nogal ’n kuns om ongemerk by die biblioteek in te kom.

Jacobus betrap hom tot sy verleentheid dat hy weer uit sy apatie begin kruip. Wat nie ’n goeie ding is nie, volgens die niks-om-te-verloor-nie-beginsel. Aan die ander kant, who was he kidding?

Ryna tik hom op die skouer en vra vrolik hoe dit met hom gaan.

“Goed, dankie.” Hoe kry sy dit reg om so op ’n mens af te sluip?

“Met my gaan dit ook goed, dankie.”

“Dis mooi.” Hy probeer sy stem toonloos hou, maar die desperaatheid slaan tog effens deur, soos potloodindrukke op die volgende notablaadjie. “Is jy nie meer bang jy word gesien saam met my nie?”

“Die aandag,” sê sy, en wys in die rigting van Danté wat in ’n woordestryd is met Marlene, met manskappe wat op hulle afpyl, “is vir eers elders.” En sy glimlag lief vir Jacobus.

Voor Joan Black sit vyftien geharde vroue. Sy is beïndruk met die opkoms by die heel eerste vergadering van die Yoghurt Susters, die eerste en sover enigste feministiese Marxistiese groep in StudenteDorp. Sy vertrou egter dat die getalle nog verder sal aangroei, mits hul ondergrondse veldtog suksesvol is.

Een geharde vrou onderbreek Joan Black in haar openingstirade. “Hoekom moet die veldtog ondergronds wees? Sal die beweging nie meer impak hê as ons dit geheel en al in die openbaar behartig nie?”

“The problem is that we are illegal, according to the Reglement. It forbids any Feminist Marxist groups. Even if we get away with that, it furthermore forbids any black uniforms other than that of the BeskermingDiens. And I’m sorry, but black uniforms are non-negotiable for me.”

“Ek bang nie die BeskermingDiens nie!” spring ’n ander geharde (gewigtige) vrou op. “Ons sal hule opfok, in die openbaar!”

“En met wat wil jy dit doen?” vra ’n ander. “Jy moet onthou hulle’s baie, en hulle het knuppeltjies.”

“Klein knuppeltjies!” roep ’n ander een spottend uit. “Ons moer hulle almal stukkend sommer met yoghurt-kannetjies!”

Dit maak esteties soveel sin, dat Joan Black nie anders kan as om te glimlag nie. En die geesdrif van haar mede-Susters verras haar aangenaam. Vir eens en vir altyd sal die bourgeoise patriargie besef wat dit kos om te sukkel met ’n klomp militante feministiese Marxiste.

Agent Coetzer is besig met dag 8 van die basiese opleidingsprogram van die BeskermingDiens. Sover was dit maar nog die gewone vervelige modules soos Korrekte Uniform 112, Dienstye 111, en Teetydbenutting 124 (’n lang lesing). Nou word daar tot aksie oorgegaan: Handgemeenraak 114.

Die jong manskappe-in-wording stap netjies in gelid, met Coetzer onder hul geledere, in die groot vierkant van die Akademie in. Twee manskappe wag hulle in. Een is die manskap wat tot dusver al die praatwerk gedoen het. Coetzer huiwer om die pissie ’n dril-instrukteur te noem. Die ander is ’n gespierde Oosterling. Wat die bliksem gaan hier aan? wonder Coetzer. Dis dan die einste vent wat Die Sersant so bekommer. Weet hy dan nie dat die vent in sy diens is nie?!

Danté is trots op sy vertoning sover. Dit is maar die eerste dag wat hy sonder Fu aandurf, as ’n toets of die geoefenry met Fu help, en Marlene lê bewusteloos aan sy voete. Noudat die manskappe op hom afstorm gaan dinge interessanter raak. Niks wat ’n uitstekende vegter soos hy nie kan hanteer nie. Hy het immers in sy uitstekende voorsienigheid ’n paar van sy makkers, manlike en vroulike bewonderaars van sy skitterende wawiele, beveel om op die agtergrond gereed te staan vir sy signal. Dit is nou na sy oordeel die tyd om hul hulp in te roep. Hy klap swierig op sy kastanjet. Oombliklik druk een van die makkers die skakelaar wat die TV se kragtoevoer beheer. Soos stilte neerdaal, begin Spaanse musiek blêr oor ’n radio wat ’n ander makker se verantwoordelikheid is. Die res van die makkers gooi hul jasse af. In rooi-en-wit gestreepte broeke, en met swart puntbaardjies - die dames dra fopbaarde - skaar hulle hulself in formasie agter Danté, gereed om die basiese beginsels van die gevegskuns wat hy hul vlugtig geleer het, op die manskappe van die BeskermingDiens toe te pas.

Die manskappe stop in hul spore. So iets het niemand nog gesien nie. Die hele StudenteSentrum is tjoepstil. Al wat saggies gehoor kan word is Danté wat tel: “Een, twee, drie ...”

Die hele formasie gil gelyk (en vierstemmig, soos Danté hul vlugtig geleer het): “Haija!”

Die manskappe kyk verward na mekaar.

“Vals alarm, Van Rooyen?”

“Maar natuurlik.”

In die vierkant van die Akademie speel ’n ander gevegkunstoneel hom af. Dit het naamlik tyd geword dat elke manskap-in-wording homself meet teen Fu, meester van gevegkuns aan die Akademie. Coetzer besluit dat hy eerste moet wees.

Fu verras hom met ’n vinnige regter, en slaan sy lip oop. Coetzer vang egter sy linkervuis as dit vir die opvolghou kom, en blok die daaropvolgende skop na sy kop. Hy trek Fu af grond toe, en gaan sit hard met sy knie op Fu se regterskouer, waarna hy hom met een kragtige linker uitslaan. Hy staan op, vee sy lip af, en loop uit die vierkant uit, terwyl hy mompel: “Pissies.”

“Het jou lanklaas by Rob-hulle gesien,” merk Ryna op oor ’n koppie koffie, nadat die TV weer aangesit is.

“Jy bedoel by Die Versteekte Kelder/The Hidden Cellar? Wat maak jy daar? Ek dag jy word fyn waargeneem.”

“Ja, maar ek is pas beveel om daar in te dring, om hulle te ondersoek. So nou mag ek daar wees. Die vraag is hoekom jy nie daar is nie.”

Sy lyk bekommerd. Oor hom. Die ou deernisvolle Ryna.

“Ek het ’n bietjie kloustrofobies begin raak daarbinne.” Hy neem ’n sluk koffie. “Dit het,” gaan hy bietjie huiwerig voort, huiwerig om haar weer met sy hart te vertrou, “my net herinner aan Tim Banjo, aan toe ons nog bogronds kon luister, toe ek en jy nog kon tango, so deur die tafels deur. Daardie dae is vir ewig verby, om dit dramaties te stel. Wat help dit om dit swak na te boots?”

“Dink jy dis vir ewig verby, Jacobus?” Ryna se oë blink. Sy glimlag en leun vorentoe. “Jy was nou lanklaas daar. Weet jy hoe baie mense kom nou daar deesdae? Jy sien self hoe die guerilla-sendings toeneem. En een van die dae word Die Idool ook uit die weg geruim.”

“Uit die weg geruim?”

Sy glimlag weer, leun nog meer vorentoe en fluister: “Wag en sien.”

Jacobus betrap hom dat hy in ’n beswyming is, soos destyds. Dan ruk hy sy kop terug, en skud sy kop, soos om wakker te word. “Ja, maar dan is alles nog steeds ondergronds. Wat help dit?”

“Dalk nie meer vir lank nie. Dit is nie net die Bloubaarde - dis mos nou wat hulle hulself noem - wat probleme veroorsaak nie. Sien jy al dié posters? Daar is nou ’n militante groep feministiese Marxiste in die omgewing op die been. Noem hulself die Yoghurt Susters. En jy weet self: daar is min wat kan stand hou teen ’n groep militante feministiese Marxiste, veral as sommige van hulle lesbies is, wat ek vermoed die geval is. En dan is daar nog Danté en sy vriende, wat, soos jy kan sien, ook deesdae ’n uitdaging bied vir die BeskermingDiens. Jy sal sien, Jacobus.” Sy staan op, en streel oor sy kop soos sy wegstap, die trappe op, die buitelug in.

Gewapen met hul kannetjies yoghurt, marsjeer die Yoghurt Susters oor die plein. Hulle keer almal voor, en stop hulle ’n pamflet in die hand. Enige weerstand word gestraf met ’n hou met ’n yoghurt-kannetjie, vir vrouens oor die kop, vir mans tussen die bene.

Uiteraard trek hierdie optog die aandag van die BeskermingDiens. ’n Dosyn manskappe word die taak toevertrou word om die optog stop te sit. Die dosyn slaag wel hierin, ten minste vir die dag, maar nie sonder aansienlike skade aan hul ego’s en genitalieë nie. Hulle het hul naamlik misreken met die krag agter sommige van die Susters se houe.

Joan Black is tevrede. Die aandag is getrek, die uitdaging gestel. En haar Susters het hul vrou gestaan.

Met ’n enkele hou van sy vlieëplak, soos hy geleer is in die Akademie, in die dae toe dit nog vermoedelik iets werd was, delg Die Sersant ’n vlieg uit. Hy sien nie eers hoe die vlieg grond toe val nie, net die kreunende amper ontmande manskappe, wat vanuit sy ruit op die veertiende verdieping van Adminstrasie A insekagtig kriewel op die plein. Sal die chaos uiteindelik weer die oorhand hier kry, ná vyf en twintig jaar van orde, van eendrag? wonder hy. Coetzer se verslag moet binnekort in wees, maar hy vermoed in elk geval dat sy manskappe bloot nie meer op standaard is nie. Boonop het hy ’n nypende tekort aan Agente: net Coetzer en Roux bly oor, albei is reeds op ’n spesiale sending, en ewe skielik is die Yoghurt Susters op die toneel. Hy sal vir Roux op hulle moet sit, siende dat sy self ’n vrou is. Hy druk die interkomknoppie en beveel moeg vir Byleveld om Agent Roux na sy kantoor te stuur.

Agent Ryna Roux stap moerig by Die Sersant se kantoor uit. Hoe gaan sy nou vir Jacobus verduidelik dat sy vir ’n tyd lank nie meer “under cover” by die Bloubaarde kan uithang nie, dat haar teenwoordigheid daar van nou af weer aandag sal trek? Hoe vertrou hy haar ooit weer?

Waarop sal Coetzer wees wat so belangrik is? Sy gryp vir Byleveld aan die keel, wat tot gevolg het dat sy bril in sy koffie val. “Waarop is Coetzer?” vra sy sag sodat Die Sersant nie hoor nie.

“Steroïede?”

Sy druk sy gesig in sy toebroodjie. “Wie ondersoek hy, jou idioot?”

“Ek weet nie, dis vertr-” Haar greep versterk om sy lugpyp.

“Ek weet jy luister in op die interkom, jou neet. Waarop is hy?”

“Hy ondersoek ’n Chinees, en die Akademie.”

“Dit sal al wees, dankie, Byleveld.”

Fu se kwartiere in die Akademie is ongesluit. Coetzer loop in. Sal die vent hier wees? Dis tyd vir ’n paar antwoorde. Maar Fu is blykbaar nie daar nie. Gevolglik besluit Coetzer dat dit die aangewese tyd is om deur die laaie te gaan. Ongelukkig is alle inskrywings in sy dagboek in Mandaryns, wat Coetzer toevallig nie verstaan nie. Net soos hy op pad is om weer te loop, hoor hy voetstappe. Die ander moet hom nie hier sien nie. Hy glip onder die bed in, net om Fu self te sien instap. Hy sien hoe hy toilet toe gaan. Dadelik spring hy op, gaan sluit die kamerdeur van binne, en maak gereed om Fu gewelddadig te ondervra sodra hy uitkom. Dan hoor hy die badkamervenster oopgaan. Hy snap wat gebeur, probeer die deur oopmaak, vind dit gesluit, skop dit oop en sien hoe Fu ’n verdieping laer op die grond wegskarrel.

Fu is vinnig, en Coetzer sukkel om by te bly. Wat sake vir albei moeilik maak, is dat beide so onopsigtelik moontlik wil bly. So is dit ’n rondgeskarrel van gedrang na gedrang. Fu skiet uiteindelik in die StudenteSentrum in, en Coetzer verloor hom op die onderste verdieping. Hy besluit om maar weer by die trappe op te beweeg, om hom dalk van bo af raak te sien. Sou die vent hom raakgesien het onder die bed? Of is dit net sy standaard modus operandi, sy manier om ongemerk met wat ook al hy mee besig is, aan te gaan, sonder inmenging?

Die skerpskutter glimlag heimlik net voor hy sy hand op sy pistool sit. Hy geniet sy werk al hoe meer. Nie meer die boring langafstandgoed nie. Nee, hy kom deesdae baie nader, en moet dikwels staatmaak op die moontlikheid om in ’n massa in te verdwyn, dikwels meer spesifiek ’n rugbykykende massa, soos destyds met die Du Preez-dossier. So ook nou.

Waar bly Ryna? wonder Jacobus. Hy ken haar nie as iemand wat laat kom nie. Dit is maar net nog iets wat hom pla. Die hele opset is vandag vir Jacobus onnatuurlik besig. Onrustig. Dalk is dit al die Who needs breast-milk when you’ve got yoghurt-posters. Posters laat altyd ’n plek besig en deurmekaar lyk. Maar dis nie net dit nie.

Dan merk hy hoe Danté en sy Makkers - soos Danté na sy eerste onderonsie met Marlene nou sy bende begin noem het - met die Oosterling by deur die StudenteSentrum paradeer, rooi-en-wit gestreepte broeke, serpe, gepunte baardjies en al. Dit lyk asof hulle met opset probeer om die rugbykykende massa af te pis met rolbewegings van hul hande bo hul koppe, swierige swaaie van hul serpe en, natuurlik, skitterende wawiele. En dit lyk vir Jacobus asof hulle dit beslis regkry. Hy sien hoe die manne se kake begin klem, hoe hul skouers al hoe meer slaggereed raak.
Dan klap die skoot.

Almal is meteens tjoepstil. Net die rugby op TV gaan voort. Jacobus sien hoe die Oosterling in Danté sy arms neersak, ’n netjiese rooi kol tussen sy oë.

“Nee!!” skree Danté, “nee! O! Nee! Nee-eee-eee!!”

Uiteindelik laat sak hy die Oosterling grond toe. Dit is duidelik dat die skoot uit die rigting van die rugbykykers moes gekom het.

“Dit was die laaste strooi, julle grotbewoners!” hyg hy, sy woede versengend. “Hiervoor sal julle boet! Haija!” En asof dit ’n wekroep vir sy Makkers was, val hulle in ’n opsetlik asimmetriese formasie die rugbykykende massa aan. Want simmetries is so last year.

Danté veg teen ’n oormag. Selfs met die voordeel van gevegskuns wat hulle het, sal Danté en sy Makkers binnekort deur die rugbykykers doodgebliksem word. Jacobus voel dat hy hom moet gaan help, wil hom gaan help. Maar hy sien die honderde vuiste, en hy sit verlam in sy stoel. En suig aan sy koffie.

Coetzer ken ’n fokkop as hy een sien. Hierdie is beslis ’n fokkop. Nie die fight nie, nee. Dit kon hy sien kom. Wat hom pla, is dat hy die skerpskutter by die trappe sien opsluip het. En hy self het nog niks aan Die Sersant gerapporteer nie. Iets is moerse fishy hier, en hy like dit fokkol. Soos hulle destyds in die army gesê het, as jy jou in ’n fokkop bevind, indien moontlik, maak dat jy fokkof. Hierdie’s in elk geval nie ’n volk of vaderland om voor te baklei nie.

“Ek kon niks doen nie, Ryna, ek was donderswil verlam!” Jacobus vee met sy hand hard en stadig oor sy gesig, soos ’n dronk bestuurder wat iemand doodgery het.

“Dit sou stupid wees om iets te doen, Jacobus.”

“Soos die aand toe Tim Banjo ... ek moes fokken iets gedoen het, man!” gaan hy aan, asof hy haar nie hoor nie.

“Dit sou ook stupid wees.”

“Jy’s reg, Ryna, maar jy’s ook nie reg nie. Mens kan nie so aangaan nie. Dis nie ’n lewe nie.”

“Hei, cheer up. Ten minste is Danté nie dood nie.”

“By a stroke of luck, ja. Gelukkig dat die BeskermingDiens die spul uitmekaargejaag het met rubberkoeëls. Wie sou nou ooit sy geld daarop sit dat hulle iets nuttigs doen? Nee, ek’s jammer, maar dis geen troos nie.”

Ryna merk tot haar spyt op hoe ’n manskap haar aan tafel bemerk. “Jacobus, ek weet dis nou nie ’n goeie tyd om dit te sê nie, maar ...”


Deel II: Pionnespel
Deel III: Hoera vir die Jollie Bobbejaan!
Deel IV: O moenie huil nie

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.