Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Julie 1999

Hemingway, the writer — he’s still the hero of the story, however it unfolds

— Raymond Carver —

Juliemaand was die honderdjarige herdenking van Ernest Hemingway se geboorte. Veral die Amerikaners het in knoppe en bulte uitgeslaan met Hemingway-koors.

Akademici en kultusaanhangers stroom na Key West om ’n heildronk te gaan drink in Sloppy Joe’s Bar, waar die skrywer honderde kere die skuim van sy bolip gevee het, en waar sy weduwee later rotgeraamtes moes gaan skud uit stapels papier wat Hemingway in ’n kelderkamertjie laat lê het.

Die gedenkboeke staan al van vroeg vanjaar die rakke van Barnes & Noble vol, en word fluks deur amazon.com na al die uithoeke van die wêreld verskeep. Die Amerikaanse meubelreus Thomasville het wraggieswaar ’n spesiale Hemingway-reeks uitgereik, en mans met wit baardjies en bierpensies ding al maande lank mee in ’n kompetisie wat daarop gemik is om ’n dubbelganger vir Papa te vind.

Maar so tussendeur die klingels van die kasregister en die absurde wendings wat die hele gedoente aanneem, het daar ook ’n dosyn of wat uitstekende webblaaie verskyn om hulde te bring aan Hemingway, en wat terselfdertyd ’n toonbeeld is van die intellektuele skatkisse van die Internet as die kuberreus op sy onbaatsugtigste beste is.

Begin jou reis in die labirint waar daar met moeite onderskeid getref word tussen die werk en lewe van Hemingway, by die ou twee grotes:

Die New York Times se Hemingway Special skop af met ’n essay deur die bekendste Hemingway-biograaf, Michael Reynolds. Met die klik van jou muis kan jy luister na die toespraak wat Hemingway gemaak het toe hy die Nobelprys vir Letterkunde gekry het (daar is ook ander klankgrepe met sy stem). Of lees die voorbeelde van sy “dispatches” wat hy as joernalis op ’n tikmasjien uitgeklater het, al die onderhoude met hom wat ooit in die koerant verskyn het en al die resensies van sy boeke wat hulle geplaas het. Jy moet registreer voordat jy toegang tot hierdie blad kan kry, maar dit is vinnig en pynloos. En jy kan later altyd weer dieselfde aanmeldnaam en wagwoord gebruik om die koerant op jou skerm te lees.

CNN se Hemingway Retrospective sluit onder meer in videogrepe waarop Pat Neal jou op ’n begeleide toer neem van die plekke waar Hemingway se voetstappe nog weerklink. As jy jou weg deur die NY Times en CNN se Hemingway-biblioteke gebaan het, is jy reg vir die Hemingway-vasvra op die CNN-blad. Dit is groot pret!

Op al twee bogenoemde webblaaie is daar lang lyste skakels, maar hier volg nog enkeles wat Hemingway-aanhangers tot laat in die nag voor hul rekenaars sal hou:

The Hemingway Collection is ’n versameling essays oor sy romans, met ’n skakel na nog ’n blad met ’n bibliografie en besprekings van sy kortverhale;
The Hemingway Quotes is ’n gids tot van sy beroemdste uitlatings.

Die Amerikaanse koerant Atlantic Unbound, vir wie Hemingway op sy dag geskryf het, se Tracking Hemingway is ’n besoek werd, terwyl die National Portrait Gallery se spesiale Picturing Hemingway uitstalling boeiende foto’s bevat van die skrywer in al die baie rolle wat hy in sy lewe vertolk het. Vergaap jou aan Hemingway in sy ambulansbestuurdersuniform, in die viswaters van Idaho, saam met Fidel Castro in Kuba of in Parys, Afrika, op die stel van The Old Man and the Sea. Kyk ook na die foto’s in die CNN-fotoalbum. En moenie ophou voordat jy lank gekyk het na daardie heel laaste Associated Press-foto van ’n pragtige, hartseer oukêrel nie.

The Literary Traveler het ’n spesiale versameling essays getiteld Hemingway’s Places oor fisieke plekke wat tot literêre ruimtes aangegroei het nadat Hemingway daar gewoon en geskryf het.

Die Ernest Hemingway Foundation is gesetel in Oak Park, waar hy sy vroegste kinderjare deurgebring het. Jy kan op die Net kyk na foto’s van sy geboortehuis, en as die Hemingway-legende jou deeglik in sy greep beethet, kan jy jou rande gaan uitgee in hul virtuele winkel. Wat van een van die dasse met Hemingway-aanhalings daarop? Ek hou van die bloue wat sê: “Should we have a drink? The sun is down.” Vir Hemingway-inkopies, besoek ook The Hem Shop

En dan, voordat ons Hemingway vir oulaas weer met rus laat, lees gerus die mooi uittreksel uit The Old Man and the Sea op ’n webblad wat, interessant genoeg, gaan oor haaie in die letterkunde!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.