Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Geborg deur die Taalsekretariaat

Die taalstryd na die Anglo-Boereoorlog


JC Steyn

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Ná die Anglo-Boereoorlog moes die Vrystaat (of “Orange River Colony”, soos dit amptelik bekend was) en Transvaal Engels as staatstaal aanvaar. In die eerste jare van die twintigste eeu het die bewindhebbers ’n beleid van taalassimilasie toegepas. Dat assimilasie die oogmerk van die beleid is, blyk uit uitsprake van lord Alfred Milner, Britse hoë kommissaris vir Suid-Afrika, en EB Sargant, superintendent van onderwys in Transvaal en die Oranjerivierkolonie. ’n Tipiese uitspraak is ’n brief van Sargant op 3 Junie 1901 aan Milner: “We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish. Our military police had gathered the greater part of the child population into these camps and ... I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English is golden”.

    Milner het meermale in briewe geskryf dat daar geen sprake kan wees van gelykheid van Engels en Nederlands nie. Op 13 September 1901 skryf hy byvoorbeeld: “My idea is that the formula, ‘The presumption must always be in favour of English, with permissive Dutch where practical convenience demands it’, will take us a long way. I have no idea whatever to admit equality of languages, and I hope there will be little trouble in making English the language of the Courts, Schools and Parliament, but always with a tolerance of Dutch as long as necessary.”

    Hoewel die vredestraktaat van Vereeniging (1902) bepaal het dat “the Dutch language will be taught in public schools in the Transvaal and the Orange River Colony where the parents of the children desire it”, was die voertaal in die staatskole Engels. Twee klasse per week godsdiensonderrig is in Nederlands toegelaat, en drie klasse per week Nederlands waar die ouers dit verlang het. In reaksie daarop het Afrikaners Christelik-nasionale skole opgerig wat naas Engels ook Nederlands as onderrigmedium gebruik het.

    Afrikanernasionaliste het op die nuwe beleid gereageer. Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysleiers het, soos Zietsman dit in sy bekende werk Die taal is gans die volk stel, die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Daar was geen stryd teen Engels as sodanig nie, maar wel vir gelyke taalregte vir Engels en Hollands.

    Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem. Koerante is heropgerig en skole is gestig waarin Hollands een van die onderrigmedia was. Die historikus TRH Davenport skryf tereg dat die taal in dié tyd die sentrale simbool van Afrikaanse nasionalisme was. Die beweging het die aanmoediging en steun van Hollanders en Vlaminge geniet. ’n Praktiese versterking van die taalidentiteit was ’n tagtigduisend boeke wat van 1903 tot 1906 uit Nederland na Suid-Afrika gestuur is. Hulle is gretig gelees, en voornemende leners moes hulle name op waglyste plaas.

    Taalstryders soos Onze Jan Hofmeyr en Gustav Preller het in hul pleidooie vir verset teen verengelsing verwys na die weerstand van ander taalgemeenskappe teen assimilasie: Walliessprekendes in Engeland, Franstaliges in Kanada, die Pole in Rusland en Pruise, die Serwiërs, Boelgare, Roemene en Grieke onder Turkse heerskappy.

    Maar die groot inspirasie was die Vlaamse beweging, waaroor talle koerantberigte geplaas is. ’n Berig onder die opskrif: “Taalstrijd in Belgie” in Het Westen (1913.10.31) begin as volg: “Er valt voor Afrikaners heel wat te leren uit de strijd die hun Vlaamse stamverwanten te voeren hebben tegen onwil van tegenstanders en onverschilligheid onder de Vlamingen zelf.” ’n Ander berig, ook in Het Westen (1910.12.23), met die opskrif “Hollands als taal der wetenschap”, begin met die volgende sin: “Zoals zekere partij in Zuid-Afrika beweert, dat Engels voor ‘t onderwijs voldoende is, zo lachen sommige Belgen de Vlamingen uit, omdat zij niet tevreden zijn met uitsluitend Frans onderricht.” In die berig word gewys op verskeie Nederlandse wetenskaplikes wat al die Nobelprys verower het, en dan word bygevoeg dat die Belgiese universiteite, “trots de alleen zaligmakende Franse voertaal”, nog geen enkel Nobelpryswenner gelewer het nie. Ten tyde van die stryd in Suid-Afrika na 1910 oor die voertaal vir ’n onderwysende universiteit het die Afrikaans-Hollandse koerante telkens berigte bevat oor die stryd oor die Universiteit van Gent, en is aangehaal uit die geskrifte van die Vlaamse taalstryder Lodewijk de Raet.

    Die assimilasiebeleid in Transvaal en die Vrystaat het koste bespaar vir die owerheid, maar nie vir die verarmde burgers wat hul eie skole opgerig het nie. Het Westen se Goudstadse korrespondent berig byvoorbeeld op 9 Februarie 1906 dat baie van die ouers in Vrededorp in Johannesburg net 5 sjielings (nominale waarde tans 50c) per dag verdien en daarvan 1 sjieling per week afstaan aan skoolgeld. Geld vir die skole is verder ingesamel met basaars en konserte.

    Die skole is deels gefinansier uit geld wat in Nederland, Vlaandere en elders in Europa ingesamel is, asook die oorsese bates van die gewese Zuid-Afrikaansche Republiek, wat in die geheim uit Nederland na Suid-Afrika gebring is. ’n Deel van die geld is gebruik om ’n aantal Hollands-Afrikaanse koerante te laat herleef).

    ’n Deel van die taalstryd was noodwendig ’n politieke stryd. Dit is politici wat die taalbesluite neem.

    Ná die Anglo-Boereoorlog het Engelssprekende persone en koerante dit dikwels bepleit dat net Engels die enigste amptelike taal van ’n verenigde Suid-Afrika moet wees: die nuwe magsverhoudinge noodsaak dit, is betoog; bowendien: daar is twyfel of Afrikaans sal kan voortbestaan — en indien ’n taal gaan uitsterf, behoort dit nie kunsmatig deur wette aan die lewe gehou te word nie. Engels is die taal van beskawing en geleerdheid, die “superior” taal, en dié moet gekies word. Ten slotte is daar ook betoog dat ware eenheid amptelike eentaligheid noodsaak. Die Natal Mercury het op 20 Maart 1909 geskryf: “There can be no true union, the nation will never become one, which speaks with two voices”.

    Dit was op die ou end die argument van nasionale eenheid wat die deurslag gegee het, maar op ’n ander wyse as wat die voorstanders van Engels gehoop het. Leiers soos pres MT Steyn en genl JBM Hertzog wou alleen instem tot die unifikasie van die Britse kolonies in Suid-Afrika indien Nederlands ’n offisiële taal sou word. So sterk het pres Steyn oor die taal gevoel dat hy aanvanklik nie die sitting van die Konvensie wou bywoon nie omdat hy bang was dat dié liggaam dit sou misken. Hy het eers ingestem om te gaan na ’n versekering van genl Botha. By die begin van die sitting is petisies uit verskeie dele van die land voorgelees waarin gevra is dat Hollands en Engels gelyke regte sou geniet. Daar was onder meer petisies van die Afrikaanse Christelike Vrouwenvereniging, die Oranje Vrouwen Vereniging en die Taalbond van die Kaapkolonie.

    Die Nasionale Konvensie wat ’n grondwet vir die beoogde Unie van Suid-Afrika moes opstel, het op sy sitting van 19 Oktober 1908 die standpunt van Hertzog en Steyn aangehoor. Hertzog het gesê dat die Afrikaners nooit ’n skikking sou aanvaar wat twyfel laat oor die absolute taalgelykheid, en hulle met ’n gevoel van vernedering sou ervaar nie.

    Pres. Steyn het gesê dat hy gelykheid van die twee tale nie as guns vra nie, maar as reg. “Hollands was in die verlede op die een of ander tyd die offisiële taal van al die kolonies. [...] Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor. Voor geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons volk in ’n onderdanige posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daaraan heg nie, en in plaas van vereniging sal ons Suid-Afrika nog meer verdeel.”

    Die volgende dag (20 Oktober 1908) het die Konvensie besluit dat Engels en Hollands die amptelike tale van die Unie sou wees. Die bepaling watter tale ampstale is, is op 20 September 1909 vasgelê in die “South Africa Act / An Act to constitute the Union of South Africa”, ’n wet van die Britse Parlement. Die ampstale sou “both the English and Dutch languages” wees. In die amptelike vertaling van die “Zuid-Afrika Wet” is “Dutch” deur “Hollands” vertaal: “De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie”.

    Die erkenning van “Hollands” was van groot betekenis vir die toekoms. In 1925 is wetlik bepaal dat dié benaming ook Afrikaans insluit. Suid-Afrika het dus van 1910 af ’n taalbeleid gekry wat die teenoorgestelde is van assimilasie, naamlik pluralisme. ’n Pluralistiese taalbeleid maak voorsiening vir die erkenning van meer as taal in ’n staat. Van die 1960erjare af het ook ander Afrikatale die een ná die ander amptelike status gekry, weliswaar net ’n bepaalde gebiede in die land. Van 1953 af as is moedertaalonderwys ook vir swart leerlinge in die eerste aantal skooljare verpligtend gemaak — ’n beleid wat laat vaar is, veral ná 1994.

    Die Afrikaanse taalstryders het tot dusver hoofsaaklik van twee middele gebruik gemaak om hul doel te bereik. Die eerste was die politiek. Politieke liggame kon belangrike taalbesluite neem. So het die provinsiale rade kort ná Uniewording besluit om moedertaalonderwys in te voer. Vir Engelssprekendes het moedertaalonderwys natuurlik van altyd af bestaan, maar mettertyd kon ook Afrikaanse leerlinge dit geniet. Die tweede middel was eie instellings, soos skole, koerante en tydskrifte.

    Grondwetlike bepalings en taalwette is egter nooit voldoende om gelyke behandeling van tale te verseker nie. Dit hang van politici én van hul amptenare af hoe taalwette toegepas word. Daaroor was daar dekades lank ná 1910 ’n taalstryd — en dit is ook een van die redes waarom daar vandag ’n taalstryd aan die gang is.

    Lees ook Steyn se essay: Die taalstryd in Suid-Afrika in die negentiende eeu

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.